Kosovo bewys ingewikkelde pad na selfbeskikking

kosovo-vlag

Die amptelike landsvlag van die Republiek van Kosovo, die jongste land in Europa. Foto: En.wikipedia.org

Blou en geel vlaggies, tydelike verhoë waar kunstenaars optree en ’n groot teenwoordigheid oorsese joernaliste was van die tekens onlangs in Pristina, die hoofstad van Kosovo, dat hierdie land, een van die jongste in die wêreld, iets het om te vier.

Op 17 Februarie 2008 het Kosovo die jongste land in Europa geword. Dié streek se onafhanklikheidsverklaring van Serwië het wye steun in veral Westerse lande geniet en 112 lidlande van die Verenigde Nasies erken vandag Kosovo as ’n onafhanklike land. In Europa erken 23 van die 28 lidlande van die Europese Unie Kosovo se onafhanklikheid. Tog is die status van Kosovo, tien jaar ná onafhanklikheid, nie ’n uitgemaakte saak nie, met Serwië wat dit steeds ontken en Kosovo wat nog nie daarin kon slaag om lid van die Verenigde Nasies te word nie omdat beide Rusland en China hul aansoek teengestaan het.

Kosovo het ’n ryk geskiedenis en is oor die afgelope een duisend jaar deur onder andere die Romeine, die Bisantyne, die Bulgare en die Serwiërs beheer. Vanaf die vyftiende tot die vroeë twintigste eeu is Kosovo deur die Ottomaanse Ryk beheer en het grootskaalse Islamisering plaasgevind wat ook verduidelik waarom meer as 96% van die burgers van Kosovo vandag Moslems is.

Kosovo het, soos die grootste deel van die Balkan, gedurende die twintigste eeu oorloë en kommunistiese oorheersing beleef en die stryd tussen Kosovo se Albaniërbevolking en Serwiërs het in die Kosovo-oorlog van 1998 tot 1999 tot grootskaalse bloedvergieting aanleiding gegee.

Hoewel die reg tot selfbeskikking sekerlik vir die Albaniërs van Kosovo ’n sterk argument en die nodige regverdiging om onafhanklikheid te kon verklaar, gegee het, is talle kwessies oor die grense van Kosovo, die regte van die Serwiese minderheid in Kosovo en die verhouding tussen Serwië en Kosovo nog onopgelos.

Baie Serwiërs beskou Kosovo as die hart van Serwië en talle belangrike Serwiese kulturele en geloofsterreine is in Kosovo geleë.

Hoewel Kosovo oor die afgelope tien jaar redelike stabiliteit en ’n gemiddelde ekonomiese groei van vier persent per jaar beleef het, het die land ernstige uitdagings soos die emigrasie van top geskoolde jongmense, werkloosheid onder die jeug van sowat 50% en hoë vlakke van korrupsie.

Volkere soos die Albaniërs van Kosovo, die Katalane van Spanje en die Koerde in Sirië, Irak en Turkye het die reg tot selfbeskikking net soos talle andere volkere reg oor die wêreld. Terwyl Kosovo se stryd om onafhanklikheid die afgelope tyd seker bo-aan die lys van suksesvolle pogings staan, bevestig die afgelope tien jaar se gebeure ook die kompleksiteit van selfbeskikking.

Geen finale oplossing is nog vir Kosovo gevind nie. Voorstelle word gemaak dat lidmaatskap van die Verenigde Nasies aan Kosovo toegestaan kan word, mits die land die noordelike streek waar baie Serwiërs woon aan Serwië afstaan. Maar sal dit nie die klein Serwiese minderheid in Sentraal Kosovo dan nog meer blootstel nie? En hoe gemaak met eeue-oue terreine wat vir Serwiërs bykans heilig is?

Die onafhanklikheid van Kosovo is belangrik vir selfbeskikking, maar wat die Balkan, Midde-Ooste en groot dele van Afrika bewys, is die problematiek van grense wat nie met kultuursensitiwiteit daargestel is nie. In al hierdie streke maak kolonialistiese en na-oorlogse grense van talle volkere ontmagtigde minderhede. Hierop is meer omvattende antwoorde nodig. ’n Kreatiewe ontlonting van die Kosovo-vraagstuk oor die volgende paar jaar mag dalk ook vir ander volkere help antwoorde bied.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris du Plessis ·

Feit bly staan dat Kosovo wel onafhankliheid gekry het, ten spyte van oorweldigende struikelblokke.
Die rede is dat die internasionale reg en internasionale gemeenskap dit moontlik maak vir volke wat ondedruk word deur hul eenheidstate om selfbeskikking en selfs onafahnkliheid te kan kry.
Afrikaners kan dieselfde doen. Daar is reeds voorstelle gemaak wat aan alle internasionale regskriteria voldoen om vir Afrikaners onafhankliheid te kan bewerkstellig. Die probleem is egter dat Afrikaners nie die nodige wil toon om hulself te wil regeer nie. Sogenaamde afrikaner organisasies wat voorgee dat hulle Afrikaners se belange bevorder is ongelukkig self vas gevang in die miete van n reenboog nasies en doen alles in hul vermoë om die multikultirele RSA te maak werk …. come hell or high water. Die probleem is egter dat sulke organisasies nie Afrikaners meer en meer verstrengel met n bestel wat hulle ondergang te doel het.
Dit is nie so gekompliseerd om selfbeskikking of selfs onafhankliheid te kry as wat voorgegee word nie. Ek vermoed dat daar eerder n gebrek aan kennis is om dit te kan realiseer, maar dit word verskuil agter ‘komplikasies’.
Die groot vraag is waneer Afrikaners en Afrikaner orgainsasies die moed gaan bymekaar skraap om die sogenaamde ‘komplekse’ probleme rondom selfbeskikking/onafhankliheid aan te spreek ……. dis tog te maklik om net terug te sit en eerder die versierings om Afrikaners se probleme rond te skuif terwyl jy geld verdien daaruit …. Dit gaan nog te lekker, terwyl die tyd uitloop.

JC ·

Baie, baie waar wat jy daar se Chris. Jou kommentaar spreek van ingeligtheid en wysheid.

Fanie ·

Chris, jy het duidelik nie die artikel begryp nie. Die 90% Albaniese Moslems het selfbeskikking gekry, nie die 10% Serwiese minderheid nie. Toegepas op SA: die bevolking van SA het selfbeskikking gekry, ‘n verspreide minderheid het nie so ‘n absolute reg nie- veral nie met kunsmatige grense nie. Afrikaners het soos enige ander volk so reg, maar die probleem is met die inwerkingstelling. Afrikaners het nie ‘n natuurlike ‘Albanië’ wat net erken kan word nie. Dink jy die VN, Trump, Kersvader of die Illuminati gaan die ANC met kernbomme dreig om vir ons iets te gee wat nie bestaan nie? Hou op nagmerries droom en bou eerder prakties aan iets wat later erkenning sal moet kry.

humor ·

Chris stem 101% saam. Dit wat jy noem wil ons as Afrikaners nie graag hoor nie, maar dit is feitelik. Ongelukkig is die Afrikaner deur al die jare deusuur met internasionale volkere wat geensins die gees,ideale en strewes van die Afrikaner adem nie.

JC ·

Baie, baie waar wat jy daar se Chris. Jou kommentaar spreek van ingeligtheid en wysheid.

Nouja = Markus Senekal ·

Ek is jammer om weereens die draer van slegte nuus te wees, maar die meerderheid Afrikaners stel nie belang in selfbeskikking nie. Slegs die self beskikking van sy eie lot en direkte familie. Nie kollektiewe selfbeskikking nie. Dis jammer, maar ongelukkig ‘n ongemaklike feit waarmee wys mee omgegaan moet word om verdere vervreemding onderling tussen Afrikaanse Caucasiers te verhoed.

Gerhard ·

Die probleem wat Afrikaners in die gesig staar t.o.v selfbeskikking is dat behalwe vir ‘n paar woonbuurte, Afrikaners nerens ‘n meerderheid is nie . Selfs dit sal nie meer vir lank so wees nie. Dit beteken dat voor daar eers gepraat kan word van selfbeskikking moet daar eers ‘n bevolkings verskuiwing plaasvind. M.a.w die enigste werkbare plan was nog altyd ‘n baie moeilike plan, dit is die idee waarop Orania oorspronklik gebou was. Dit is die rede waarom daar nog so min mense is wat dit ernstig opneem. Onglukkig lyk dit of die meerderheid gaan sit en wag totdat dit heeltemal te laat is. Ek weet nie of jy iemand moet jammer kry as hy sit en wag totdat dit te laat is om iets te doen nie.

Kenner ·

Ons moet die populus se honger vir grondhervorming gebruik as geleentheid vir samesprekings vir selfbeskikking. Daar is geen manier wat hierdie land volhoubaar is nie, ons moet op ons regte vir selfbeskikking aandring.

Johann ·

Ek het nie’n bepaalde probleem met selfbeskking vir Afrikaners nie. Ek het nog nie ‘n bewys kon opspoor watter spesifiek area in SA is afgebaken vir die doelstelling. Ek dink die meeste Afrikaners sien nie kans om noual afstand to doen van hulle regte tot op die laaste oomblik wanneer dit meskien te laat gaan wees. Die toestand in ons land teenoor die wittes gaan nie sommer verdwyn nie en met die infasering van regstellende aksies t.o.v. werksgeleenthede noual gaan dit nog moeiliker maak, want met selfbeskikking is daar nog nie so ‘n struktuur in plek nie.

Nico K ·

Die kommentare hierbo gee almal dieselfde oplossing met dieselfde probleem. ‘n Eie gebied vir die Afrikaner, maar waar? En dit is hoekom dit nooit plaasgevind het nie. Ek lees onlangs weer ‘n berig van 1993 waar iemand uit die KP geskop is omdat hy ‘n volkstaat ondersteun het. Dit was teen KP beleid. In 1993! Geen wonder die KP het irrelevant geword nie. Ek glo dat dit kon werk as hulle die Wes Kaap groter onafhankliheid gegee het. Dit kon werk. Maar dit is nou te laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.