Koste van Irak-oorlog moeilik geregverdig

Irak se vlag. Foto: Pixabay

Hierdie week is dit vyftien jaar sedert die Verenigde State van Amerika besluit het om sonder ’n formele oorlogsverklaring Irak binne te val en ’n oorlog teen dié land se regering te begin. President George W. Bush het op 20 Maart 2003 in ’n televisie-uitsending aangekondig dat Amerika met aanvalle op teikens binne Irak begin het met die doel om die weermag in Irak te ontwapen, om die mense van Irak te bevry en om ’n internasionale bedreiging deur Irak te verhoed.

President Bush en sy regering het die grootste deel van hul motivering vir die oorlog gebou op die veronderstelling dat Irak, onder die diktator Saddam Hoesein, besig was om wapens van massavernieting te vervaardig. Tweedens het hulle beweer dat die regering van Hoesein met Al-Kaïda in Irak saamwerk. Vandag, vyftien jaar later, is dit duidelik dat Irak nie besig was om wapens van massavernietiging te ontwikkel nie en dat daar ook nie samewerking tussen die Hoesein-regering en Al-Kaïda was nie.

Hoewel die aanvang van die oorlog vir die Amerikaners baie suksesvol was en Bush reeds op 1 Mei, minder as ses weke na die begin van die oorlog, kon verklaar dat die grootste aanvalle tot ’n einde sou kom, het moeilike jare voorgelê.

Ná die val van die Ba’ath-regering van Saddam Hoesein is ’n groot leierskapsvakuum in Irak gelaat en kon Al Kaïda van Irak, ’n onderafdeling van die internasionale terreurorganisasie Al-Kaïda, ’n verwoestende veldtog van geweld teen veral die Sjiïete-meerderheid en die Koerde in die noorde van Irak begin.

Teen Januarie 2007 het die situasie in Irak sodanig versleg dat president Bush besluit het om meer as twintigduisend ekstra Amerikaanse soldate na Irak te stuur. Barack Obama het die onttrekking van Amerikaanse magte uit Irak deel van sy verkiesingsveldtog in 2008 gemaak en in Desember 2011 het die laaste Amerikaanse soldate Irak verlaat.

Ná die onttrekking van Amerikaanse soldate uit Irak het die Islamitiese Staat van Irak en Sirië (Isis) sy terreurveldtog teen Sjiïete Moslems in Irak opgeskerp. Teen 2014 het Isis groot stede in die weste en noorde van Irak beheer en moes ’n enorme internasionale poging van Westerse, Midde-Oosterse en ander lande soos Rusland geloods word om dié groep se skrikbewind in groot dele van Irak en Sirië tot ’n einde te bring.

Vandag vyftien jaar later verkeer Irak steeds in ernstige chaos. ’n Swak regering waarin korrupsie hoogty vier is ’n realiteit in Irak en daarmee saam moet mense saamleef met swak of totaal afwesige dienste, armoede en voortslepende sektariese geweld.

Bykans ’n halfmiljoen mense het tydens die Irak-oorlog hul lewens verloor. Dit reken nie in die honderde duisende mense wat weens indirekte gevolge van die oorlog gesterf het nie. Volgens navorsing van die Watson Instituut van Internasionale Studies by die Brown Universiteit het die Irak-oorlog Amerika $1.7 biljoen (“trillion”) gekos.

Saddam Hoesein was ’n diktator wat baie mense in Irak onderdruk het. Dit is egter moeilik om te motiveer hoe die chaos, lewensverlies en koste van die afgelope 15 jaar se gebeure in Irak geregverdig kan word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rynhardt ·

Pres.Bush van die VSA en Tony Blair het openlik gelieg vir die wereld toe indruk gewek was dat Irak wapens van massavernietiging vervaardig het.Selfs intellegensie verslae was gedokter om hul aksies vir oorlig te regverdig.Dit het net gegaan oor olie om die nuwe wereldorde en sy gierige olie-baronne gelukkig te hou,ongeag die sterftes wat mag voorkom in Irak,Brittanje en VSA.Tydens verhore in Brittanje en talle getuienis navore gekom oor Blair se leuens.Hy word nog deur talle Britte vandag gehaat, want hy word geblameer vir Britte se kinders wat onnodig in Irak gesterf het.Dan praat ons nie eens van al die kinders wat in bomaanvalle gesterf het in Irak nie.Albei voormalige leiers van Brittanje en VSA, is nog steeds vry terwyl hulle vir oorlogmisdade teen die mensdom aangekla moes gewees het.Geregtigheid was met mening gesystap!?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.