Kovsies, Afrikaans en die konstitusionele hof se politieke onderrok

universiteit van die vrystaat kovsies

Universiteit van die Vrystaat. Foto: UV, Facebook

Daar is ’n byna goddelike verknogtheid aan die teks van die Grondwet, die menings van die hoofregter en die uitsprake van die konstitusionele hof – ’n verknogtheid wat tot ons eie nadeel lei en wat ons tot inkonsekwentheid noop om aan ons vooropgestelde opvatting van die bomenslike status van die Grondwet en die konstitusionele hof vergestalting te gee. Wanneer daar uitsprake oor korrupsie gelewer word, jubel ons en verklaar ons graag dat dit die onafhanklikheid van die regbank bevestig. Ons verklaar graag dat die konstitusionele hof – en hoofregter Mogoeng Mogoeng in besonder – ’n belangrike “teenwig” teen die regerende elite is wat seker maak dat dinge in toom gehou word.

Wat ons egter versuim om te erken, is dat die konstitusionele hof – en die hoofregter in besonder – deel van die regerende elite is en dat die Grondwet telkens deur die hof vertolk word op ’n wyse wat strook met die regerende elite se sogenaamde progressiewe idees oor die Grondwet. (“Linkse idees” is ’n meer gepaste beskrywing, aangesien dit allermins tot progressie lei.) As die konstitusionele hof deel van die regerende elite is, hoe gebeur dit dan dat sulke sterk uitsprake teen die president gemaak word?

Hierop het prof. Koos Malan reeds die antwoord gegee: In ons beoordeling van die uitsprake van die konstitusionele hof moet ons tussen twee tipes sake onderskei. Aan die een kant is daar uitsprake wat met faksiegevegte binne-in die regerende elite verband hou of wat bloot administratief of prosedureel van aard is; aan die ander kant uitsprake wat op ’n daadwerklike vertolking van die substantiewe bepalings van die Grondwet berus.

Wanneer die hof moet beslis oor ’n kwessie wat eintlik maar ’n faksiegeveg binne die regerende elite is, of waarin daar bloot gekyk moet word of die korrekte prosedures gevolg en die tersaaklike wetgewing nagekom is, lewer hulle graag uitsprake waarin die regering aan die bek geruk word – as ’t ware om hulle op koers te hou. Aan die ander kant, wanneer daar oor inhoudelike kwessies beslis moet word wat met diskriminasie, gelykheid, transformasie of ander politieke temas verband hou, dien die konstitusionele hof klokslag as ’n instrument om die politieke elite se vertolking van die Grondwet te verskans.

Die probleem wat ek egter wil uitlig, is die verbysterende swak vlak van argumentering wat in sommige uitsprake van die konstitusionele hof aangewend word wanneer politieke uitsprake geskryf word.

Die onlangse uitspraak in die saak AfriForum v. University of the Free State oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is ’n goeie voorbeeld hiervan. In dié saak is daar beslis dat die UV korrek is om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf.

Die hoofregter het op grond van sy vertolking van artikel 29(2) van die Grondwet beslis dat dit wel “doenlik” is om Afrikaanse onderrig by die UV voort te sit, maar dat hierdie doenlikheid “onredelik” is, omdat rasseverhoudinge as gevolg daarvan “vergiftig” word. As Afrikaanse studente in hul eie taal studeer, is dit ’n voortsetting van “wit oorheersing” en as Afrikaanse studente aanhou om in Afrikaans te studeer, sal dit die verwesenliking van oudpres. Nelson Mandela se “ergste nagmerries” wees.

Nou goed – asof daardie stelling nie erg genoeg is om jou wenkbroue te laat lig nie, word ’n reeks algemeen erkende drogargumente in die uitspraak gemaak voordat hierdie gevolgtrekking gemaak word.

Met die lees van die uitspraak het ek in ’n stadium begin om ’n kollys op my rekenaar by te hou van al die drogargumente wat deur die hoofregter gemaak word ter stawing van sy gevolgtrekking dat Afrikaanse onderrig by die UV wesenlik afgeskaf moet word. Teen die tyd dat ek deur die uitspraak gewerk het, het ek twee en ’n halwe bladsye vol punte getik!

Sonder om elke punt in detail te behandel, lig ek enkeles uit om die hoofpunt te illustreer:

  1. Benadering tot die hofsaak

Die eerste kwessie is die polities geïnspireerde wyse waarop die ganse hofsaak benader word. In paragraaf 1 tot 20 word gevleuelde woorde oor die boosheid van apartheid gebesig, asook oor die verband tussen Afrikaans en onderdrukking, die UV se uitfasering van Afrikaans as deel van ’n “grondwetlik geïnspireerde transformasionele agenda”, die feit dat ons almal “skaamteloos Suid-Afrikaans” moet wees en dat meertaligheid tot rasseskeiding lei. Ná 20 paragrawe word daar in paragraaf 21 twee sinne aan AfriForum en Solidariteit se argument gewy, waarin daar slegs gesê word dat die aansoekers nie gelukkig is nie en dat baie wit en swart Afrikaanse studente in Afrikaans wil studeer. As die uitspraak ’n aanduiding van die hoofregter se toegepaste redenering is, beteken dit dat die hoofregter hom bloot in die verbygaan aan die argumente gesteur het wat deur AfriForum aangevoer is.

In die saak word daar swaar op die uitspraak in die destydse Ermelo-saak gesteun as stawing van die beslissing dat Afrikaans afgeskaf moet word. Daar is egter ’n wesenlike verskil tussen die Ermelo- en die UV-saak. Die Ermelo-saak het oor die verandering van ’n skool se taalbeleid van enkelmedium- na parallelmediumkeuse gehandel. Die argumente wat aangevoer is om Hoërskool Ermelo meertalig te maak, word deur die hoofregter aangehaal ter stawing daarvan dat die UV uitsluitlik Engels moet wees.

In die minderheidsuitspraak wys regter Froneman egter uit dat daar nie in die stukke voor die hof aangevoer is dat alle, die meeste of ’n wesenlike komponent van die Afrikaanse studentegemeenskap hulself aan rassistiese gedrag skuldig maak nie. Tog is dit die indruk indien ’n mens die hoofregter se uitspraak lees, wat ’n groot aandeel in sy motivering het oor waarom Afrikaans afgeskaf moet word. As dit wel gebeur, wil Froneman weet, waarom is die oplossing nie bloot om die rassiste te dissiplineer nie? Waarom moet ’n taal as onderrigmedium afgeskaf word om beweerde rassisme stop te sit? So asof die hoofregter se beweerde rassiste skielik hul houding gaan verander indien hulle gedwing sou word om in ’n ander taal te studeer. Daar word ook geen poging deur die hoofregter aangewend om ’n verband tussen Afrikaans as onderrigmedium en hierdie beweerde rassisme te bewys nie.

  1. Politieke onderrok

Die hoofregter maak dit duidelik in sy uitspraak dat hy sterk politieke menings oor hierdie kwessie het en dat sy politieke menings hom as ’t ware lei in watter rigting die Grondwet vertolk moet word.

Die hoofregter voer aan dat Afrikaans uitgefaseer word weens die uitvoering van ’n grondwetlik geïnspireerde transformasie-agenda en dat die onderliggende waardes van die Grondwet dit noodsaak dat Afrikaanse studente by die UV nie meer in Afrikaans mag studeer nie. Wanneer die Grondwet bepaal dat moedertaalonderrig redelikerwys doenlik moet wees, erken die hoofregter dat dit doenlik is om Afrikaanse onderrig by die UV voort te sit, maar verklaar hy dat “aanneemlikheid tot gelykheid moet uitbrei, asook na ’n behoefte om die siektes van ons skandelike apartheidsverlede te genees … En dit is slegs haalbaar as die uitoefen van die reg om in ’n taal van eie keuse onderrig te word nie ’n gevaar vir rasseharmonie is of onbedoeld tot rasse-oorheersing lei nie.” Hy versuim egter om rasseharmonie en rasse-oorheersing te definieer, of om aan te voer dat dit inderdaad die geval by die UV is, of – belangriker nog – wie se siening van rasseharmonie en rasse-oorheersing aanvaar moet word. As daar nie aan ekstremistiese anti-wit rassiste se eise voldoen word nie, is dit baie maklik vir diesulkes om op opportunistiese wyse op die afskaffing van Afrikaans aan te dring deur te beweer dat dit rasseharmonie benadeel. Dit blyk dat die hoofregter in hierdie strik getrap het. Dit is duidelik in die uitspraak dat “wit Afrikaner”-studente met agterdog bejeën word wanneer hulle vra om in hul eie taal te studeer, terwyl die sentiment van ekstremistiese anti-wit rassiste sonder vraagteken onderskryf word wanneer daar geëis word dat Afrikaans afgeskaf word.

Daar is ook ’n probleem met die politieke retoriek wat in die uitspraak gebruik word. Terme soos “ons mense” om na swart mense te verwys en die herhaalde verwysing na “wit oorheersing” is maar enkele voorbeelde hiervan.

  1. Anti-Afrikaner-inslag

Die hoofregter maak in die uitspraak geen geheim daarvan dat hy ’n bepaalde irritasie met “wit Afrikaners” het nie. Ten spyte van die feit dat die uitspraak nie oor Afrikaners gaan nie, maar oor Afrikaans, word herhaaldelik na Afrikaners in die uitspraak verwys.

Hy sê byvoorbeeld: “Of wit Afrikanerstudente ’n respek vir die waardigheid van swart medestudente in hul daaglikse interaksie oor die jare heen toon en of ’n geloofwaardige of noodsaaklike verband gemaak is tussen rassegesegregeerde klasse en die rassespanning waarna verwys word, sal die universiteitsgemeenskap beter weet.” Dié opmerking is uiters onvanpas. Nie net is dit irrelevant ten opsigte van die saak nie, dit is ook ’n geykte debatstaktiek wat aangewend word om agterdog oor jou opponent te skep sonder om enige bewyse daarvoor te lewer. Die stelling dra nie tot die uitspraak by nie en die enigste doel wat hiermee bereik word, is om ’n hou teen Afrikaners by die uitspraak in te werk.

Daar word by meer as een geleentheid in die uitspraak na die rassisme van “wit Afrikaners” verwys. Geen sweempie is sigbaar oor die rassisme wat by die UV teen wit mense gepleeg word nie. Geen uitlating word gemaak oor wit studente wat aangerand of met die dood gedreig word bloot op grond van hul wit vel nie. Die uitspraak wek die indruk dat “wit Afrikaners” die enigste mense is wat hulle aan rassisme skuldig maak en dat hulle op die een of ander manier gestraf moet word hiervoor. Die oplossing is dan om Afrikaans af te skaf. Asof dit die probleem wat die hoofregter skets, sal oplos.

Dan gaan die hoofregter verder deur nie bloot uitspraak te lewer oor hoe die reg vertolk moet word nie, maar deur ’n aanslag van stapel te stuur op dié wat hy op grond van sy selektiewe waarneming as rassiste beskou. Hy sê: “Dit sal onredelik wees om slaafs aan ’n taalbeleid vas te klou wat bewys is om die praktiese antitese te wees van regverdigheid, haalbaarheid, inklusiwiteit en die remediërende aksies wat nodig is om rassisme en sy neigings uit hul gemaksone te ruk.” Uit die uitspraak is dit duidelik dat hy hom slegs met wit rassisme bemoei.

  1. Inkonsekwentheid

In die redenering wat die hoofregter tot die gevolgtrekking lei dat Afrikaans afgeskaf moet word, is hy in ten minste vier opsigte grof inkonsekwent.

In die eerste plek (soos reeds uitgewys) word die probleem van wit rassisme opgeblaas, terwyl die probleem van swart rassisme botweg geïgnoreer word. Die oplossing vir wit rassisme is dat Afrikaans afgeskaf moet word (dit is ten minste deel van sy argument). Indien dit wel so is, kan daar netsowel aangevoer word dat die oplossing vir swart rassisme sou wees om Engels af te skaf.

Die tweede punt berus op my eie bespiegeling oor wat die hoofregter in ander omstandighede sou beslis. Daar word aangevoer dat Afrikaanse klasse rasseskeiding tot gevolg het. Rasseskeiding is só sleg dat dit beter is om vir die Afrikaanse minderheidsgemeenskap te sê dat hulle nie meer in hul eie taal mag studeer nie (natuurlik in stryd met byna alle VN-voorskrifte oor moedertaalonderrig). Ek is egter bitter nuuskierig wat die hoofregter se standpunt sou wees as Afrikaans die meerderheidstaal en Engels of selfs Tswana of Sotho die minderheidstaal was. Sou die hoofregter dan gesê het dat hierdie swart studente in die belang van rasseharmonie eerder in Afrikaans moet studeer? Ek twyfel! Dit is niks minder as dubbele standaarde ten koste van Afrikaans nie.

Die derde punt hou met die tweede verband. Die hoofregter maak herhaaldelik twee kernargumente om sy uitspraak vir die afskaffing van Afrikaans te regverdig, wat loodreg in botsing met mekaar is. Aan die een kant voer hy aan dat Afrikaans tot rassesegregasie lei en dat dit afgeskaf moet word om te verhoed dat dit wit studente in die een klas sit en swart studente in die ander klas (wit Engelse studente blyk irrelevant te wees in hierdie argument). Aan die ander kant voer hy aan dat Afrikaans afgeskaf behoort te word omdat die meeste wit Afrikaanse studente in elk geval in Engels studeer. Volgens sy eie vertolking van die situasie is daar dus nie rassesegregasie nie, maar moet Afrikaans afgeskaf word om rassesegregasie stop te sit.

Die vierde punt is die ou ironie van die “English only”-beleid in die naam van dekolonisering. Daar word in die uitspraak aangevoer dat Afrikaans histories bevoordeel is en as gevolg daarvan tot ongelykheid lei. Gevolglik moet onderrig uitsluitlik in Engels plaasvind (met die uitsondering van Teologie, Onderwys en tutorklasse). Engels is egter die een taal wat selfs nog meer as Afrikaans “bevoordeel” is. As die probleem werklik is dat sekere tale bevoordeel is, is die oplossing om ander tale op te hef en nie om die status van die bevoordeelde tale af te breek nie.

Die punt is gemaak dat die uitspraak op ’n bepaalde vertolking van die Grondwet berus. My argument is dus nie noodwendig dat die uitspraak van die konstitusionele hof ongrondwetlik is nie. Die punt is gemaak dat die Grondwet uiteenlopend vertolk kan word en dat die vertolking daarvan deur die konstitusionele hof om die agenda van die regerende elite te verskans aan die orde van die dag is. Dit is egter ’n ander saak, wat met die nodige erns besef moet word. Die probleem hier is dat die konstitusionele hof, in sy poging om aan die agenda van die regerende elite gehoor te gee, homself aan roomskeppery, ad hominem’s, non sequitur’s, inkonsekwente redenering en verskeie ander drogargumente skuldig maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Riaan ·

Puik!!Jy slaan die spyker op die kop. As n Kovsie wat slegs n paar jaar terug daar klaar studeer het, het die hoofregter geen idee wat op kampus aangaan nie. Daar is plek vir almal, Afrikaans en Engels. En almal het tog respek vir mekaar se taal. Dink hy moet self gaan kyk wat aangaan!!

Eish ·

Dankie vir die perspektief op die uitspraak. Dit is werklik insiggewend. Skokkend om te verneem dat die hoofregter van die konstitusionele hof, se uitspraak, nie noodwendig ongrondwetlik is nie, maar dat die aangeleentheid verskillend vertolk kan word. Dié aspek verklaar dan ook vir my waarom regeringsleiers regters en hoofregters aanstel. Om hul beleid deur die wetsvertolking te bevoordeel.
Wel, na 23 jaar weet ons as Afrikaanse kaukasiërs presies hoe die wind waai en behoort ons sover moontlik te onttrek uit die onvriendelike omgewing van die regstelsel en liefs ons bronne aan te wend om ons eie op te bou. Synde die uitspraak van die hoogste hof kom, is dit nou n gevestigde regsbeginsel neem ek aan.
Dit is suiwer wraak wat ons tans ervaar.

JC ·

Oplossing=Akademia. Kom ons maak ‘n broodnodige paradigmaskuif weg van die verstikkende (en ook sukkelend, en op die rand van ‘n afgrond) staatsentiteite af, na die privaatsektor, waar Afrikaanse onderrig en Afrikaans SAL floreer.
‘n Graad verkry by Akademia gaan een van die dae uiters gesog en hoog aangeskrewe wees, terwyl ‘n graad verkry by die staatsentiteite nutteloos gaan wees.

Vra meer van Akademia ·

Kan Akademia asb hul kursusmateriaal uitbrei van BCom na ander vakgebiede ook en ook senior akademici aanstel. Dosente met slegs ‘n B of Hons-graad boesem nie baie vertroue in nie. En kan daar meer satellietkampusse wees asb.

Waar’s die Wiskunde, Fisika, Informatika, Joernalistiek, Politieke wetenskap kursusse?

Eish ·

Stem saam met vra meer van Akademia.
Ons moet nou by die spoeg en plak stadium verbykom en prokureurs, geoktroïeerde rekenmeesters, dokters ens oplei. Daar is werklik tans uitstekende Afrikaanse mensemateriaal by universiteite beskikbaar wat ek oortuig is, hul huidige mistroostige omstandighede wil vaarwel toeroep.

John ·

Hierdie uitloop is reeds kort na 1652 deur slinkse Engelse besetters begin grawe en die joppie is volgehou tot vandag toe sodat die vrot watertjies kan deurspoel in die akkertjies wat deur die eeue ons in SA se lewens moes voed. ‘n Stink stroom vol aaklige gediertes het so lewe gekry en vandag sit ons daarmee opgesaal… die swart merrie van verdriet op ‘n dolle vaart wat die wa na die afgrond saansleep. Die skuim staan om haar bek, maar niemand keer nie en uiteindelik val almal na die vlammende hel waarbinne alle dwaashede uiteindelik beland.

Markus ·

Mnr Roets. Hou asb op praat en skryf en preek aan diegene wat reeds bekeer is. M.a.w. stop preaching to the converted. Neem die saak na die Internasionale Geregshof. Luister ook na al die versoeke t.o.v. Akademie ens.

Disselboom ·

Ernst sê waar dinge, en ontleed goed; as ons dit alles uit die oogpunt beskou dat daar ‘n eerlike onderhandelde “skikking” was wat die nuwe Suid-Afrika tot stand gebring het. As dit beoordeel word as ‘n oorgawe aan een-mens-een-stemoorheersing en in wese oorgawe van blanke mag aan swart, dan was daar ‘n oorwinning en die oorwinnaar oefen sy mag uit, soos dit na enige oorlog gaan. Dan maak die hofuitsprake – wat die regterlike gesag wat deur die oorwinnaar aangestel is reflekteer- sin; maar dan help dit nie meer om te ontleed en te kritiseer nie: die geveg sal aangeknoop moet word as jy dinge wil verander.

Adri ·

Daar het die totale gebrek aan oordeelsvermoe ook tot in die hoogste hof deurgewerk.

Ons moet ook ‘n alternatief vir die spul he. My oupa het altyd gese “Soveel tale ben jy magtig soveel male ben jy Man”. Dit is ironies dat hulle die taal van kolonialiste so omarm.

Wys weer hulle het geen alternatief uit hulle self nie.

Rupert Ashford ·

Akademia – julle tyd het gekom…moenie die geleentheid laat verbygaan nie.

Elizabeth ·

Anders as baie ander mense wat saam met ons hierdie land bewoon, kon Afrikaners nog altyd uit die modder opstaan. Ek stem saam: daar behoort nou private universiteite opgerig te word met senior personeel wat ‘n wye verskeidenheid studierigtings aanbied. Ek doen ‘n beroep op instansies wat tradisioneel Afrikaanse universiteite finansiël gesteun het, om dié steun te onttrek en dit eerder te bestee op Afrikaanstalige private organisasies. In hierdie land sal ons net geholpe raak as ons onsself help soos in die verlede. Die fout wat ons net nie weer moet maak nie, is om anderstaliges toe te laat om in te skryf wat ons dan later wil dwing om aan hulle vereistes te voldoen nie. Hulle kom op ONS voorwaardes.

Jerry ·

Ernst is reg deur die konstitusionele hof te beskuldig dat hulle gehoor gee aan die agenda van die regerende elite. Hierdie bevinding van Ernst is tog nie n verrassing nie, dit is die realiteit en hoe gouer Afri-Forum dit besef hoe beter kan hulle na die belange van hulle lede om sien. Tans rig Afri-Forum meer skade aan as wat hulle goed doen deurdat hulle nie die dinamika van n multi rasse demokrasie verstaan nie. Die skuld vir die skade wat nou aangerig is aan Afrikaans moet voor die deur van Afri-Forum gele word omrede hulle n aanvegbare saak probeer verdedig met n houding wat geen empatie toon teenoor andere. Afri-Forum ontbloot homself ook as n forum wat, soos en wanneer dit hom pas, halwe waarhede aan hulle lede opdis. Hierdie skrywe van Ernst is n goeie voorbeeld van n halwe waarheid omrede hy nie eenkeer aanhaal van wat Regter Johan Froneman eintlik gese het “vergeefs soek n mens in die applikante se eedsverklaring enige erkenning van die kompleksiteit van taalregte van andere en die ongelyke behandeling van onderdrukte mense van ander rasse in die verlede, wat nog te se van die huidige voortsetting van hierdie historiese bevoorregting. Hierdie gebreke bevestig die karikatuur van die Afrikaners as hardvogtig en mense wat min omgee vir andere. Die applikante moet ook hand in eie boesem steek oor die wyse waarop hulle taalregte probeer beskerm; bevorder hulle die saak van Afrikaans of benadeel hulle dit” Halwe waarhede veroorsaak wanpersepsies en grens aan misleiding

Therese van Schalkwyk ·

‘n Skitterende uiteensetting van hierdie mees tragiese hof-besluit rakende die UOVS.
Magtelose woede laat menige trotse oud-Kovsie sprakeloos.

Theuns ·

Daar is net een manier om die blikslimmes reg te sien. Bepaal wat die witmense se bydrae tot die staatskas is en weerhou betaling van watter aard dit ook al mag wees! Dit sal “hulle” tweekeer laat dink!!! Staak ook alle investeering in die ekonomie. En belangrik, weier om Engels te praat en praat liewers enige van die ander landstale.
Groete

theo ·

is daar naas die konstitusionele hof se uitspraak, ‘n ander manier om UV te dwing om afrikaans te gebruik of is dit die einde??
groet

Dejager Booysen ·

Ek dink ons praat hier nie net van ń politieke onderrok wat uithang nie.Dit is eerder ń politieke bo-rok,onderrok panty en sokkies!
Hierdie vlak van regspleging was tot redelik onlangs iets wat mens met Zimbabwe se howe geassosieer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.