Kraai kommunisme koning?

Deur Monica Mynhardt

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: @KhuselaS/Twitter

Ná afloop van president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die verlenging van die staat van afsondering was daar ’n merkbare verandering in die gemoedere van mense.

Met die aanvanklike aankondiging van die drie weke lange afsondering was die oorweldigende gevoel een van versigtige optimisme. President Ramaphosa is as held en vreeslose leier gesien. Hoewel onseker oor hoe die drie weke by die huis sou wees, het die meeste mense tot ’n meerdere of mindere mate hul lewe gehoorsaam tot stilstand gebring.

Soos wat die regering bepaalde maatreëls begin aankondig het met betrekking tot die afsonderingstaat, het meer mense skepties oor hul hantering daarvan begin raak. Die militante houdings van amptenare soos minister Bheki Cele, die arbitrêre aard van talle maatreëls en die regering se konstante weerspreking en lompe terugkibbel was moeilik om mis te kyk. Regulasies rakende taxi’s, kindersorg en noodsaaklike dienste is deurentyd verander, met al minder logiese regverdigings daarvoor.

Ten spyte van die aard van die regulasies het een ding duidelik geword – die regering het nie die vermoë om dit af te dwing nie. In middelklasgebiede is maatreëls nagekom weens selfpolisiëring en in arm gebiede het mense aangegaan soos normaal ten spyte van polisieteenwoordigheid.

Met die aankondiging van die verlenging van die afsondering en gepaardgaande maatreëls het dié twee groepe op verskillende maniere teenoor die afsondering verander.

Armer mense het besef dat hongerte binnekort hul voorland is en dat die regering se beloofde kospakkies waarskynlik nie binnekort gaan opdaag nie. Die middelklas het steeds in hul huise gebly, maar het weens die bykomende maatreëls ’n gemoedsverandering ondergaan.

Aanvanklik het president Ramaphosa gesê dat die verlenging met ’n gepaardgaande verslapping van sommige maatreëls geïmplementeer sou word.

Ten spyte van effense verslapping plek-plek het die regering egter sommige maatreëls verskerp. Hierdie het ingesluit:

  • Biltongwinkels mag nie meer oop wees nie; en
  • Supermarkte mag nie meer voorbereide maaltye soos gaar hoender verkoop nie.

Die vraag is dan nou hoe presies hierdie maatreëls konstruktief bydra tot die bevegting van Covid-19. Die regering se hantering van die krisis het aan die begin van die afsondering stilweg en stadigaan vrae laat opduik oor moontlike verskuilde motiewe agter sommige van die maatreëls. Die meeste van die aanvanklike maatreëls is buitendien futiel gemaak deur groot getalle mense wat dit verontagsaam het. Ten spyte van die regering se ooglopende onvermoë om die regulasies af te dwing, het hulle verbete daaraan bly vasklou.

Met die verlenging van die afsonderingstydperk was hulle egter slim genoeg om op die regte plekke selfs onredeliker maatreëls in te stel – in die middelklas.

Met dié nuwe maatreëls is dit nie eens meer nodig om te bespiegel oor die regering se motiewe daaragter nie. Hulle het duidelik besluit om ’n magstryd te voer teen die deel van die bevolking wat wel aan hul reëls gehoor gee – selfs wanneer hulle hoegenaamd nie daarmee saamstem nie.

Die feit dat die regering oor meer as helfte van hul land nie beheer het nie, plaas ons in die absurde situasie waar informele handelaars handel mag dryf, maar biltongwinkels nie. ’n Gelisensieerde winkel met bestaande gesondheidsmaatreëls mag nie oop wees nie, maar iemand wat op die hoek van die straat sit en vrugte verkoop, mag wel. Die punt van die saak is nie dat die biltongwinkel noodwendig meer rede het om oop te wees nie. Die punt is eerder dat die regering aan hulself die prerogatief verleen het om met hul eie politieke belange en vooroordele ongevraagd te bepaal wie en wat werklik noodsaaklik is.

Die feit dat die regering op ’n onderduimse wyse gepoog het om die maatreël oor gaar kos daar te stel sonder om regulasies daarvoor uit te vaardig, spreek boekdele van hul houding hieroor. Eers nadat Sakeliga hulle by ’n hofstryd hieroor ingesleep het, het hulle uiteindelik regulasies uitgevaardig om daarvoor voorsiening te maak.

(Foto: pixabay)

Dit is belangrik om vir ’n oomblik stil te staan by die absurditeit daarvan dat supermarkte nie meer gaar hoenders mag verkoop nie. Iemand wat buitendien ’n supermark sou besoek en met ander mense in kontak sou kom, se risiko bly presies dieselfde – hetsy hulle gaar of rou produkte sou aankoop. ’n Duideliker vergestalting van die regering se magstryd teen die middelklas sal ’n mens moeilik kry. Eerder as om bloot vas te kyk in die gaar hoender as sodanig, is dit nodig om na die simboliek daaragter te kyk.

Die gaar hoender simboliseer ’n bepaalde gemaklike, materieel welvarende en finansieel stabiele lewe – een van die middelklas. Die regering se retoriek van die afgelope 25 jaar in ag genome, assosieer hulle die middelklas met wit mense en arm massas met swart mense. Wit mense kan, volgens hulle, bloot nie arm wees nie, en swart mense het permanent ’n ekonomiese agterstand. Met die verbod wat die regering op gaar hoender plaas, stuur hulle ’n boodskap wat lui: “Indien almal nie kan hê nie, mag julle ook nie hê nie.” Hierdie verbod spreek van die regering se bevestiging daarvan dat hulle beheer oor die middelklas kan handhaaf.

Daar is hoegenaamd geen logiese motivering vir die instelling van hierdie maatreël nie, maar in die lig van die regering se ideologiese geskiedenis maak dit egter sin. Hoewel geen betrokke party prakties iets hierby baat nie – selfs nie die regering nie – is die feit dat die vermoë wat hulle het om iets van die middelklas te ontneem, genoeg rede is om dit te doen.

Een van die maniere waarin die kommunistiese utopie waarna Marxiste op soek is, keer op keer vergestalting vind, is nie dat almal in gelykheid ewe veel het nie, maar eerder dat almal ewe min het. Hierdie is ook die presiese mentaliteit agter dié ideologie – dit is beter dat almal in armoede ewe min het as wat mense in rykdom ongelyk is.

Dit gaan dus nie bloot oor gaar hoender nie. Dit gaan eerder oor die feit dat ons regering nie net die behoefte het nie, maar ook die wilskrag om lukrake magsvergrype toe te pas waar hulle kan. Daar waar hulle die geleentheid het, sal hulle nie skroom om sonder enige rede, sonder enige prosedures onsinnige reëls op ons af te dwing wat ons vryheid inperk nie. Waar hulle ook al uitgevang word in dié totalitêre optrede, korrigeer hulle dit bloot stilweg en gaan net voort asof hulle niks verkeerd gedoen het nie. Die regering is uiters gemaklik daarmee om elke liewe aspek van ons lewens te beheer – dit wat ons eet, of ons mag rook, wat ons mag sê en waar ons mag gaan.

Een van die mees prominente eienskappe van oorgroot en magshonger regerings is dat hulle al meer na mag gryp namate hulle misluk om dit te handhaaf. Ons regering is so ook tans in ’n posisie waar hulle strategies na mag gryp daar waar hulle weet hulle dit sal kan kry. Die ongelukkige slagoffer hiervan is, ironies genoeg, die deel van die samelewing wat hulle beste moontlike kans op herstel na die krisis sou wees – die middelklas.

Rahm Emanuel, voormalige burgemeester van Chicago, is bekend vir sy stelling dat ’n mens nooit ’n ernstige krisis moet vermors nie. In die chaos van ’n pandemie het ons regering trou by hierdie woorde gehou en die huidige krisis ook tot hul eie voordeel aangewend.

Nou staan ons te midde van ’n verbod op gaar hoenders en kyk hoe kommunisme koning kraai.

  • Monica Mynhardt is ‘n navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Raadslid

Monica, hierdie is uitstekende werk. Baie goed geskryf.

Willem

Monica vir president. Wat jy in die artikel kwyt raak is alles waarheid gebaseer op feite

david

UItstekende stuk Monica…! Jy gebruik hoenders–gaar of nie, om te illustreer waarteen sommiges van ons al jare waarsku..! Eens op ‘ n tyd was daar ‘n kenner van kommunisme, ‘n polisie spioen wat die SAKP/ANC in die sestigs binnegesypel het .Dit was juis sy inligting wat gelei het na die bekende Rivonia verhoor, waar die SAKP ‘n lelike hou gekry het. Sy naam was Gerard Ludi. So plus minus tien dae voor die 1992 REFERENDUM (die groot JA/NEE stemmery) waarsku die einste Ludi in ‘n brief in die Citizen : “don’t vote Yes, you don’t know who you are dealing… Lees meer »

AndrewL

Absoluut in die kol. Ek het al op verskeie platforms my mening uitgespreek oor die proses wat die regering toepas om ons onder ‘n slawe juk te plaas. Dit sluit in BEE, Nasionale gesondheidversekering, herverdeling van grond, die voortdurende pogings om GEPF geld vir ander aspekte as pensioen vir lede aan te wend.

Die wyse waarop die regering rassisme aanwakker, gaan nog aanleiding gee dit openbare geweldpleging, terwyl die feite van geweld teen blankes (plase, besighede ens) reeds bestaan.

Ongelukkig gaan dit nie net oor die middelklas nie, maar wel die wit middelklas.

Pieter

Baie goed geskryf met goeie insig en vergelykings. Soos met die 9/11 ramp het Amerikaners baie van hul privaatheid weggegee. Oppas dat ons nie dieselfde doen nie, kyk hoe waarsku Afriforum teen die nuwe polisiestaat. Chaos is by tye baie handig, ook om vinnig ‘n R37 miljoen se 40km wasgoedlyn tussen Zimbabwe en Suid Afrika op te rig en te skep.