Kredietgraderingsagentskappe, hoekom is hulle belangrik?

skuldDie kredietgraderingsagentskap Standard and Poor’s (S&P) het onlangs Suid-Afrika se buitelandse valutakredietgradering verlaag na ʼn gradering van BBB-. Dit volg nadat ʼn ander kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings, Suid-Afrika se vooruitsigte in Junie 2014 van stabiel na negatief hersien het.

Volgens mediaberigte is die verwikkelinge vir baie Suid-Afrikaners kommerwekkend, maar hoekom moet Jan Alleman hieroor bekommerd wees?

S&P se afgradering en Fitch se hersiening van Suid-Afrika se vooruitsigte dui daarop dat die wêreld tans as’t ware uit ʼn meer onsekere beleggingsoogpunt kyk na ons vermoë om bestaande en toekomstige skuldverpligtinge na te kom. ʼn Afgradering beteken dat beleggers ons land nou as ʼn groter risiko beskou. Dit kan uiteindelik neerslag vind in ʼn swaarder belastinglas op Suid-Afrikaanse belastingbetalers.

Sou soortgelyke afgraderings van S&P en ander kredietgraderingsagentskappe voortduur, kan ʼn beduidende verlies aan oorsese beleggers dalk ons voorland wees. Dit kan ook beteken dat die Suid-Afrikaanse regering meer vir toekomstige staatskuld sal moet betaal.

Wie is die spelers en hoe werk die kredietgraderingsproses?
Die sogenaamde “groot-drie” kredietgraderingsagentskappe bestaan uit S&P, Fitch en Moody’s. S&P en Moody’s is in die VSA, terwyl Fitch vanuit beide New York en Londen bedryf word.

Eenvoudig verduidelik, is die taak van dié agentskappe om die kredietwaardigheid van instellings – meestal regerings en groot besighede – en die kans dat hulle nie hul bestaande skuld sal betaal nie, te bepaal.

Een ding wat dié agentskappe gradeer, is staatskuld. Verskillende maatstawwe word gebruik om kredietwaardigheid en wanbetalingsrisiko te bepaal. In geval van ʼn regering word S&P se buitelandse valutagradering gebaseer op die volgende tellings:

• politieke risiko en die effektiwiteit van staatsinstellings – ʼn politieke telling;
• ekonomiese groei en -vooruitsigte – ʼn ekonomiese telling;
• buitelandse likiditeit en internasionale beleggingsposisie – ʼn eksterne telling;
• ʼn land se staatskuldvlakke en fiskale posisie – ʼn fiskale telling; en,
• oorwegings van monetêre beleid en die aanpasbaarheid daarvan – ʼn monetêre telling.

Uit die bogenoemde sien ons dat die graderings van staatskuld baie te doen het met die prestasie van staatsinstellings, waarvan die belangrikste waarskynlik die nasionale tesourie en die Reserwebank is.

Volgens Fitch en S&P is hulle redes vir die onlange afgradering onder andere die langdurige staking in die platinumsektor, gebrekkige ekonomiese groei, handel- en begrotingstekorte en kommer oor Suid-Afrika se toekomstige bestuur van belastinggelde.

Gevolge vir die regering en die sekondêre mark

Volgens die nasionale tesourie het die regering se blootstelling aan oorsese skuld in 2012/-’13 op 9,3% van sy totale staatskuld gestaan. Terwyl die persentasie kleiner is as wat sommige mense dink, is dit tog ʼn belangrike bron van befondsing van die staatskuld. Die afgradering se impak op die toekomstige koste van staatskuld en toegang tot nuwe bronne van krediet is veral belangrik.

Swakker graderings kan twee dinge vir die Suid-Afrikaanse regering beteken. Eerstens kan dit tot gevolg hê dat die staat meer vir toekomstige skuld sal moet betaal. Tweedens, veral indien S&P opvolg met opvolgende afgraderings, kan dit beteken dat die regering dit moeiliker sal vind om geld op die plaaslike en buitelandse markte te leen.

S&P gee die Suid-Afrikaanse regering tans die laagste gradering (BBB-) wat steeds as ʼn aanvaarbare belegging, waarin groot pension- en beleggingsfondse volgens hulle beleggingsmandate mag belê, beskou word.

Beleggingsfondse belê gewoonlik volgens ʼn vasgestelde raamwerk wat die kwaliteitsgraad van skuld waarin belê mag word, bepaal. Die onderskeid tussen beleggingsgraad en nie-beleggingsgraad is dus belangrik.

Skuld met swakker graderings, wat soms “junk bonds” genoem word, word nie deur sulke beleggingsfondse oorweeg nie. Enige verdere afgradering sal Suid-Afrikaanse skuld as “junk” vir belangrike beleggingsfondse klassifiseer.

ʼn Gradering laer as BBB- sal beteken dat sommige fondse nie Suid-Afrikaanse skuld op hul boeke sal mag hê nie. ʼn Verdere afgradering kan ook paniek in die sekondêre mark vir Suid-Afrikaanse skuld veroorsaak. In vandag se ineengestrengelde finansiële markte, waar inligting elektronies binne sekondes die wêreld oor trek, vertoon die mark tropgedrag. Indien een belangrike belegger skrik, hardloop al die ander agterna.

Meer betaal vir staatskuld

So ʼn paniekreaksie is nie die enigste moontlike probleem nie, maar ʼn swakker gradering kan ook beteken dat die regering meer sal moet betaal aan sy toekomstige skuld. Toegang tot nuwe skuld kan ook moeilik raak.

Suid-Afrika het tans beide handel- en begrotingstekorte. Ons voer meer produkte in as wat ons uitvoer. Die staat spandeer meer as die belasting wat ingevorder word. Dit beteken dat dié tekorte befonds moet word uit geleende geld.

Die staat leen geld op die plaaslike en internasionale beurse. Rente is betaalbaar op geleende geld en ʼn regering is nie daarvan vrygestel nie. Vanweë ʼn swakker gradering, wat op verhoogde beleggingsrisiko dui, vereis beleggers gewoonlik hoër rente op skuld. Dit kan beteken dat die staat voortaan meer aan rente op nuwe skuld sal moet betaal.

Indien meer rente betaal word, bly minder geld oor vir ander staatsbesteding. Dit kan die staat onder druk plaas om belasting te verhoog.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae