Kreeftegang of swanesang ?

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Jeannette Gnade

Sedert 1994 met die ANC se bewindsoorname was daar ʼn stelselmatige agteruitgang in die party en gevolglik ook in die regering. Die ANC se top-leiers het al by verskeie geleenthede erken dat korrupsie endemies word en dat openbare bronne geplunder word deur ʼn proses wat gou die naam “tenderpreneurskap” gekry het. Dié proses is gou opgevolg met wat vandag algemeen bekend staan staatskaping.

Dit is ironies dat die ANC een van die eerste entiteite was wat dié euwels geïdentifiseer het, maar so min gedoen het om dit te verwyder of minstens hok te slaan. Wat die vraag laat ontstaan: Was dit reeds te laat om die stortvloed te keer? Trouens, die blaam is aanvanklik subtiel, maar later openlik verskuif na die sogenaamde nalatenskap van apartheid. Toe daar besef is dat dié regeringsbestel lankal dood is, het die regeerders apartheid se voorloper, kolonialisme, begin blameer.

Gedurende die skuldspeletjie het selfs Jan van Riebeeck die blaam gekry vir goed waarvan hy onmoontlik kon geweet het.

Intussen het die ANC al hoe meer wegbeweeg van die gewone mense in die land, wat die armes, die werkendes, die werkloses en die kundiges insluit. Niemand is vandag seker oor die dag van môre nie. Dit is asof die staat almal se raison d’etre – die rede vir ons bestaan – vernietig of minstens erg verniel het. Niemand glo meer in die oppergesag van die Grondwet nie. Politiek het ʼn vloekwoord geword en minderheidsgroepe twyfel aan hulle eie herkoms.

Soveel vir die retoriek van nie-rassigheid. Meerderheidsgroepe is ook nie meer seker oor hulle toekoms nie. Mense word vermoor, beroof, besteel en verneder soos nog nooit tevore nie.

Dit is dán wanneer ons weer troos en versterking vind in Petrus se woorde: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

En is Petrus se woorde nie waar nie. ” Dwarsdeur die hele wereld ” en dit geld ook vir alle tye hier in SA.

johann de Jager ·

dankie Jeanette. Ek wonder wat oorl. Steph Basson se opinies hieroor sou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.