Kriminele, korruptes, kaders en kapers floreer in ʼn beleid vantoegeeflikheid en onderhandeling

Fotografiese afdruk van eerste minister Neville Chamberlain wat sy en Adolf Hitler se gesamentlike resolusie ‘Nooit weer met mekaar in oorlog moet gaan nie’ lees. (Foto: Ann Ronan Picture Library / Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Neville Chamberlain, Britse premier in die 1930’s, het probeer om die opkomende bedreiging van Nazi-Duitsland te voorkom deur ʼn beleid van toegeeflikheid en onderhandeling te volg. Hierdie beleid het uiteindelik gelei tot die Tweede Wêreldoorlog en daarom word Chamberlain dikwels gekritiseer vir sy besluite en strategieë.

Deur die versoening- en paaibeleid (Appeasement) is Hitler toegelaat om Duitse grondgebied ongehinderd uit te brei. Die beleid van Neville Chamberlain, word allerweë beskou as ʼn swakheid wat nie die toets van tyd deurstaan het nie.

President Ramaphosa volg nie soseer ʼn beleid van toegeeflikheid en onderhandeling, versoening en paai nie. Inteendeel, dit is onduidelik watter tipe beleid mnr. Ramaphosa enigsins voorstaan. Wat wel duidelik is, is dat mnr. Ramaphosa homself al meer vervreem van sy ondersteuners sowel as diegene wat hom ʼn kans wou gee. In 2019, mnr. Ramaphosa se glorietydperk net nadat hy president geword het, het meningspeilings op daardie stadium aangedui dat 8% wit kiesers vir die ANC sou stem. Hoe hoog die Ramaforie op die stadium was, is dat amper 23% van wit kiesers aangedui het dat hulle mnr. Ramaphosa ondersteun. Die steun is nie onlangs getoets nie, maar dit sal waarskynlik ʼn lae enkelsyfer wees.

Vandag is dit Vryheidsdag. Dit het sy ontstaan in ʼn Nasionale Akkoord wat die gevolg was van onderhandelinge tussen voormalige vyande en die verkiesing van 27 April 1994, wat 29 jaar gelede plaasgevind het. Vryheidsdag sou onder normale omstandighede ʼn dag tot viering wees, maar dit is egter nie en die rede moet gesoek word in die steeds verslegtende verhouding tussen die burgerlike gemeenskap en die regering.

Daar gaan feitelik nie ʼn dag verby wat die enorme skaal en omvang van korrupsie en diefstal uit die staatskas nie iewers in die media gerapporteer word nie. Nie alleen word gemeenskappe van broodnodige ontwikkelingshulp ontneem nie, maar word die hart van ons demokrasie deur die oënskynlik ongebreidelde misdadigheid en kriminaliteit uitgeruk. Die indruk is dat die laaste kaders nou die laaste bietjie van beskikbare bronne in die staatskas plunder en die buit verdeel, eerder as om dienslewering te bewerkstellig. Ons staatsondersteunde instellings vou die een na die ander, terwyl Eskom spook om ligte aan te hou. Ons buitelandse beleid is aan flarde en afgevaardigdes moet inderhaas na die Weste reis om bande te behou.

Midde in dit alles is die stem van die president doodstil en word die beleid van “appeasement” of versoening gevolg om die ANC se interne faksies uitmekaar te hou. ʼn President van ʼn beginselgedrewe party en ʼn leier met ruggraat sou lankal die sweep geklap het met die ANC in Gauteng en Lesufi se toenadering met die EFF.

Regoor die wêreld is vertroue tussen die burgerlike samelewing en hul regerings en
verkose verteenwoordigers ʼn belangrike element van goeie regering (“good governance”). Net so is dit ook al in die internasionale politiek bewys dat in die afwesigheid van vertroue, word die burgerlike samelewing sinies oor hul politieke stelsel en word afvallig met die bestaande orde. As dit nie sigbaar aangespreek word nie kan wydverspreide en intense wantroue uiteindelik oorgaan in ʼn teenreaksie teen die politieke bestel.

Die ANC se antwoord hierop is om meer en meer ongrondwetlik op te tree en sluit ons aan by baie van die nuwe en ongekonsolideerde demokrasieë van die wêreld waar mense skepties en sinies staan oor politici. Dan word vertroue bitter moeilik herstel. Wantroue tussen die huidige regering en die burgerlike samelewing is waarskynlik op dieselfde vlakke as in apartheidsjare.

Die antwoord is in die redelike stemme wat al meer na vore tree en in die media en die howe en burgerlike instellings al meer sigbaar word. Interessant is die kommentators wat die ANC vir lank goedgesind was en wat net so bekommerd is oor gevaarlike beleidsrigtings en gebrekkige dienslewering en net so begerig is dat korrupte amptenare en politici, sonder aansiens des persoons, vervolg word.

Kriminele, korruptes, kaders en kapers floreer in ʼn beleid van toegeeflikheid en onderhandeling, versoening en paai. Dit het die Stalingrad-taktiek van mnr. Zuma ons duidelik gewys met die aanhou uitstel van sy verhore.

Om die burgerlike samelewing se vertroue weer te bou is die volgende nodig: meer deursigtigheid, beter beheer deur verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, en dan veral strenger en groter respek vir die regstaat en die openbare belang. Onder die faksionele paaibeleid-ANC gaan dit nie gebeur nie. Trouens daar word al meer weggekalwer aan die vereistes deur opsigtelike gebrek aan optrede, aksies en enige sigbare sanksie. Dié ANC se faksiepaaibeleid het Suid-Afrika duur te staan gekom.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.