Krisisberaad: Meneer die President, ons sal ons nie laat uitvee nie

Danie-Langner

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK. Foto: Argief.

Hierdie toespraak is gelewer deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, tydens die Solidariteit Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.

Afrikaners staan vandag in die beskuldigdebank van die geskiedenis.

  • Historiese name van stede en strate word uitgewis.
  • Kultuurgoedere wat nie gebreek, gesteel, verlê, vernietig of oorgeneem word nie, word verwaarloos.
  • Afrikanergeskiedenis word in skoolhandboeke herskryf.
  • Afrikanerkinders moet glo hulle voorouers was ’n mislukking.
  • Afrikanerkinders moet glo hulle voorouers was kriminele wat ’n misdaad teen die mensdom gepleeg het.

Die strategie is duidelik: neem oor en wis dan minderhede se verlede uit.

Dié soort hantering van geskiedenis is ’n klassieke gevallestudie van kulturele imperialisme. Die doel van die ANC se kulturele imperialisme is duidelik: Afrikaners se historiese selfbeeld, kulturele selfvertroue en trots moet vernietig word. Deur Afrikanergeskiedenis te kriminaliseer, word diskriminerende regeringsbeleide en plundering van staatsbates deur korrupsie vergoeilik.

Meneer die President, my mense is nie ’n mislukking nie. My mense het in dié land ’n voetspoor van hoëfunksieprestasies en hoëfunksiebesluite wat strek oor 300 jaar. Daar is baie wat hul mond uitspoel oor wat Afrikaners kwansuis gesteel het, maar kyk eerder wat het Jan en sy nasate na hierdie kontinent gebring:

  • die Romeins-Hollandse reg;
  • demokratiese tradisie;
  • voedselsekerheid deur moderne landboumetodes;
  • wêreldklas-universiteite;
  • infrastruktuur met meer fabrieke, teerpaaie en spoorlyne as in die hele Afrika saam;
  • die mees gevorderde bankwese in Afrika;
  • uitnemende skole;
  • hospitale;

Elkeen van hierdie hoëfunksiemonumente maak my trots.

Ons hou vandag ’n krisisberaad oor die krisis waarin u regering ons pragtige land en sy uitsonderlike gemeenskappe gedompel het. Ons geskiedenis wys dat krisisse ons nie skrikmaak nie. Krisisse maak ons sterker.

Afrikaners het die krisis van Britse imperialisme met onderskeiding geslaag en ons sal ook die kulturele imperialisme van u regering met onderskeiding slaag.

Meneer die President, die krisis wat u geskep het, het Afrikaners reeds gehelp om die volgende te doen:

  • om anderkant die ou regs/links/KP/NP-verdelingslede van die vorige eeu te tree en opnuut saam te werk;
  • om ou Afrikaner-instellings af te stof en nuwes te stig wat uitnemend presteer;
  • om as kultuurgemeenskap te herontdek dat daar meer is wat ons saambind as wat ons verdeel;
  • om ’n nuwe Afrikaner-middelgrond te skep;
  • om vandag steeds onbeskaamd trots Afrikaner te wees.

Krisisse het nog altyd vir Afrikaners die geleentheid gebied vir selfverwerkliking. NP van Wyk Louw het gesê ons is ’n volk met baie jeugde – ’n volk wat in elke krisis die verantwoordelikheid aanvaar om vry en regop te loop, om met verbeelding die klipbanke van ou denke af te breek, sodat die skoon water van helder dink en doen weer die woestyn kan bevrug.

Ons is vandag minder, maar sterker met betrekking tot die volgende aspekte:

  • uitnemende instellings
  • selfdoenplanne
  • uitvoervermoë

Ons geskiedenis wys dat Afrikaners baie vinniger as wat mense kan brand, breek, vernietig of beskuldig, nuwe momente kan skep en nuwe monumente kan bou.

  • Ons staan nie in ’n hoekie en hoop op die genade van ander nie.
  • Ons fokus nie op ’n reaktiewe taalstryd nie, maar skep taalstrategieë vir nuwe groeifases van Afrikaans.
  • Ons staan nie in die engtes van stagnerende politieke ingenieurswese nie; ons werk vir kulturele vryheid waar alle gemeenskappe self kan besluit.
  • Ons isoleer nie onsself nie, maar beweeg, ontgin, orden, skep en bou die hele Afrika vol.
  • Ons werk en sorg vir ons gemeenskap, maar streef na goeie verhoudinge met alle gemeenskappe en werk graag saam aan ons gemeenskaplike belange

Dit is vir sommige moraliste ’n stokperdjie om vanuit hul akademiese ivoortorings en huise van glas Afrikaners te etiketteer as regs, benepe, verstok, oudmodies en eksklusief. Hulle vind dit tot vervelens toe nodig om Afrikaners met ’n polities korrekte moralisme te kapittel. Hulle is egter siende blind vir hul eie blindekolle, naamlik dat hulle met ou woorde en ou konsepte en ou kaarte en ou denke van ’n vorige eeu oplossings vir die 21ste eeu wil vind. Selfs al verfoei hulle dit, bly Apartheid hul enigste kompas vir die toekoms. Dit is al waaroor hulle kan dink en skryf en praat. Dit is presies ook die rede waarom hulle self geen positiewe momente kan skep nie en self geen nuwe monumente kan bou nie. Verf kan afwas, openbare beelde kan met doringdraad beveilig word, vandale kan tronk toe gaan, maar die skade en die breekwerk wat die selfaangestelde polities korrekte moraliste ter ondersteuning van die ANC-beleid aan Afrikaanse monumente van uitnemendheid gedoen het, is feitlik onherstelbaar. Dink maar net aan wat die afgelope maande by die Pukke, Tukkies ander plekke met Afrikaans gebeur. Dit is ’n tragedie. Dit is om van te huil.

Hulle kan etiketteer, moraliseer, kapittel soveel soos hulle wil, maar die waarheid is dat Afrikaners trotste, oopkop, gemaklike, verantwoordelike, hardwerkende, middelgrondsoekende, vredeliewende mense is. President Steyn het gesê ons is ’n volk van gesinne en families. Ons is mense wat ons verantwoordelikheid teenoor die land en al sy mense sal nakom.

Ons sal ons verantwoordelikheid teenoor ons kinders nakom. Meneer die President, u en die kulturele imperialiste moet kennis neem dat ons nie ons geskiedenis sal oorlaat aan die grys middelmatigheid van ’n gewaande, polities korrekte professionele neutraliteit nie.

  • Ons sal die pen opneem en boeke skryf.
  • Ons sal artikels publiseer.
  • Ons sal op verhoë staan en ons groot stories en heldeverhale vertel.
  • Ons sal ons geskiedenisstories op internet en sosiale media versprei.
  • Ons sal ons geskiedenis terugvat.

Nie met arrogansie of selfverheerliking nie, maar met eerlikheid.

Ons storie, geskryf oor drie eeue, wys duidelik ons is bouers, nie brekers nie. Ons skep momente en bou monumente. Elke monument is ’n uitroepteken van:

  • ons intellektuele prestasies;
  • ons identiteitstradisie;
  • ons aristokratiese ideale;
  • ons geloofsvertroue in God wat voorsien.

Om momente te skep en monumente deur selfdoenaksies te bou, is deel van ons historiese DNA. Vandag is ’n moment. Deur ons selfdoenaksies word hier reeds nuwe monumente vir ons nageslag gebou.

As jy iets wil uitvee, dan moet dit stilstaan, dan moet dit staties wees, sodat jou uitveër die stilstaande lyne kan uitvee. Ons denke en dade is elke dag aan die roer en aan die beweeg. Jy kan nie ’n bewegende perd op galop uitvee nie.

Nie Willem Adriaan van der Stel, Milner, Lord Roberts óf Kitchener het ’n groot genoeg uitveër gehad om ons selfdoenmonumente uit te vee nie.

Meneer die President, u sal ook ontdek ONS SAL NIE UITGEVEE WORD NIE!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faan ·

En ja, mnr die president, ons sal ons ook nie laat oorrompel word deur u en u meelopers nie. Ons sal hierdie land nie verlaat nie, want ons is hier gebore en dit is ook ons land. Ons antwoord op Sy roepstem en ons sal offer wat Hy vra, want ons is Sy kinders. Dit is ons voorvaders wat die land gemaak het wat hy was en wat u en u meelopers binne ‘n ommeseintjie in die gemors geplaas het wat hy vandag is. Ek sien op die nuus dat u meelopers vandag in die parlement groot gewag maak van die sg. vordering wat gemaak is om o.a. water en krag aan soveel mense te voorsien. Indien u en u meelopers en hulle se meelopers nie soveel geld gesteel het oor die afgelope 20 jaar nie, sou daardie vordering seker 3 maal meer wees en sou ons ook nie met die lee staatskas gesit het wat ons nou het nie. Sonder u en u mede diewe sou die land kon brek met die vordering wat gemaak is en sou u kon verstaan wat dit beteken om op te bou. Ek moet u gelukwens. U en u meelopers het, net soos ou Bob van Zim, u eie land binne ‘n ommesein in ‘n ashoop omskep. U beweeg nie waar ons beweeg nie. U sien nie die bedelaar op die straathoek nie. U sien nie die man wat jou smeek vir ‘n werk net om te eet nie. U sien nie die mense wat verdwaas staan na ‘n plaasaanval of huisbraak nie. Unsien nie die hartseer van ouers wie se kinders nou in ‘n ander land moet gaan woon omdat hulle nie meer welkom in hulle eie land is nie. Wat sal u dan nou daaroor omgee? Solank u net in Nkandla kan gaan wegkruip wanneer u aftree. Het u vergeet dat dit die mense van hierdie land is wat belasting betaal, wat u finansier om so te steel? Meneer die president, u en die gespuis wat hierdie land so plunder sal nie vir lank meer so kan aangaan nie. Dit is ons land en ons toekoms en die toekoms van ons kinders en omdat ons Afrikaners se DNA so is dat ons omgee vir wat ons s’n is sal ons nie gaan le nie. Ons sal altyd ‘n manier kry om te oorleef en vooruit te gaan. Met ons land en met ons nasie, sal dit wel wees, God regeer!

Jean ·

Ek sien die oorsaak van die krisis hier bo. “antwoord op Sy roepstem. Offer wat Hy vra.” is toe nooit op God van toepassing nie. My hele lewe lank dit mis gekyk. Ek sien ons volkie het tog wel iets om van te bekeer..

Tharina ·

Baie dankie iemand staan op vir die Afrikaners. Moeg daarvoor dat ons soos honde behandel word, ons is die mense wat belasting, water en ligte, erfbelasting betaal, maar die ANC sorg net vir hulle self, het ook nie saak met hulle eie mense nie, solank hulle mense net vir hulle kan stem. Hulle koop hulle mense ook om met T-shirts en bier en R100 om vir hulle te stem, dit is lag van so regering!!

Johan ·

Ons behoort belasting korting te kry (of weerhou) om v ons eie skole, medies, sekeriteit, ens te betaal..100% volgens wat die regering spandeer.

Hein Stander ·

Gevleulde woorde Mnr. Lagner die boodskap word duidelik oorgedra. Veral die paar woorde geleen uit Langhenhoven se mooiste lied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.