Krisisberaad: Ons wil self besluit

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se toespraak tydens die Solidariteit Beweging se Krisisberaad 5 Mei 2015, Voortrekkermonument, Pretoria.

Kallie-Kriel

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Argief.

Dames en here, dit is vir my ’n voorreg om as spreker te kan optree tydens hierdie krisisberaad. Dit is veral die geval omdat die beraadgangers mense is wat nie bloot wil toelaat dat hulle en die gemeenskap waaraan hulle behoort, slagoffers van die geskiedenis word nie. Voor my sit mense wat met hul teenwoordigheid wys dat hulle wil help om geskiedenis te maak.

Hierdie beraad vind plaas teen die agtergrond dat ons die afgelope twee dekades telkens moes hoor dat die Suid-Afrikaanse Grondwet die modernste grondwet ter wêreld is wat ’n wenformule vir vreedsame naasbestaan daarstel. Talle van ons se belewenis dat die Grondwet nie oor die afgelope jare daarin kon slaag om minderheidsgemeenskappe se belange effektief te beskerm nie,  lei daartoe dat ons dit nou maar eerlik vir mekaar kan sê: “Daar is ernstige leemtes in die Grondwet”.

Natuurlik is van die regte in die Grondwet steeds bruikbaar. AfriForum en ander instellings van die Solidariteit Beweging sal voortgaan om hierdie regte af te dwing, ook met hofsake indien nodig.

Die realiteit is egter dat die Grondwet weinig beskerming aan minderheidsgemeenskappe en -volke bied.

Die internasionaal erkende beginsel dat minderhede inspraak moet hê in sake wat hulle direk raak, word geensins in die Suid-Afrikaanse Grondwet vervat nie.

Dit het tot gevolg dat ons as Afrikaner-minderheid in die huidige politieke bestel daaraan uitgelewer is dat die ANC-meerderheidsregering volle besluitnemingsmag het oor sake wat Afrikaners direk raak.

Gebeure die afgelope paar maande het weer bevestig dat die ANC nie vertrou kan word om besluite oor Afrikanersake te neem nie. Voorbeelde hiervan is onder meer die ANC se hantering van die standbeeld-debakel en Afrikaans as onderrigmedium.

Standbeelde

Die katalisator vir die standbeeld-debakel was juis pres. Jacob Zuma se uitspraak dat al die land se probleme met die aankoms van Jan van Riebeeck begin het. Daarmee het hy Afrikaners tot sondebok van ons land verklaar, wie se erfenis gevolglik geen respek verdien nie. Om verdere sout in Afrikaners se wonde te vryf, het die ANC-regering dit ook nodig geag om ’n besluit by die regering se onlangse beraad oor erfenisse deur te stoomroller, wat bepaal dat Afrikaner- en ander minderheidstandbeelde verskuif moet word na “temaparke” waar die regering die beelde “in konteks” kan plaas. Die beraad was soortgelyk daaraan om ’n paar wolwe en een skaap saam te laat besluit wat vir aandete bedien moet word.

Die “temaparke” waarheen die owerheid Afrikaner-beelde wil skuif, is niks anders nie as staatskonsentrasiekampe vir Afrikaner-beelde. Konsentrasiekampe se doel is om ongewenste elemente uit die openbare samelewing te verwyder, te isoleer en te etiketteer. Dit is presies wat die owerheid met Afrikaner-beelde wil doen.

Die regering se hantering van standbeelde verskil dalk in metodiek van die EFF se fisiese aanvalle, maar die resultaat is dieselfde: kulturele vandalisme. Ten spyte van die owerheid se siening dat Afrikaner-beelde nie in die openbaar welkom is nie, is hulle ook nie bereid om die verantwoordelikheid om na hierdie beelde om te sien, aan Afrikaners oor te dra nie. Hulle kan nie ons erfenis verwerp en dan steeds wil voorskryf nie.

Die tyd het daarom aangebreek dat Afrikaners sê: “Die ANC-meerderheidsregering kan nie met Afrikaners se erfenis vertrou word nie. Ons wil self besluit oor wat met ons erfenis gebeur en ons maak aanspraak op ’n deel van die belastinggeld wat ons aan die owerheid betaal, om na ons eie erfenis om te sien.”

Afrikaanse onderrig

Die afgelope maande het die ANC-regering se aanslag op Afrikaans as onderrigmedium op verskeie fronte verskerp. Ten spyte daarvan dat van die 38 universiteitskampusse in die land, slegs een kampus steeds oorwegend Afrikaans is, ag mense soos Blade Nzimande en Dan Kgwadi dit regverdigbaar om aan te dring dat die laaste Afrikaanse kampus ook nou Engels as voertaal moet invoer. Soortgelyke aansprake word ook tans gemaak dat tientalle enkelmedium Afrikaanse skole ook Engels as voertaal moet invoer.

Die owerheid probeer ons paai deur aan te voer dat hulle nie Afrikaans wil afskaal nie, maar net Engels wil toevoeg. Hiermee onderskat hulle ons intelligensie, want ons het tog talle voorbeelde van die wyse waarop Afrikaans uiteindelik uitgedruk is in instellings wat besluit het om toe te gee aan taaleise.

Binne hierdie konteks het die tyd ook aangebreek dat ons sê: “Die ANC-meerderheidsregering kan nie met Afrikaanse onderwys vertrou word nie. Ons glo beheerlig-game se magte moet uitgebrei word, sodat ons self kan besluit oor elke faset van Afrikaanse onderwys. Ons maak ook aanspraak op ’n deel van die belastinggeld wat ons aan die owerheid betaal om na Afrikaanse onderwys om te sien.”

Ons wil self besluit

Daar mag wel mense wees wat aanvoer dat die aandrang dat Afrikaners self oor sake wat hulle direk raak, moet besluit, onhaalbaar is, omdat die “ANC nie daartoe wil instem nie”.  Natuurlik sal die ANC nie nou daartoe instem nie, maar daar is talle voorbeelde wêreldwyd waar veranderinge in politieke bedelings plaasgevind het, ten spyte daarvan dat die owerheid aanvanklik daarteen geskop het. Ons moet hierdie aanspraak met energie, selfvertroue en deursettingsvermoë aanpak. Dan sal niks ons uiteindelik kan keer nie.

’n Kernelement van die opvatting dat Afrikaners self moet kan besluit oor sake wat hulle direk raak, is dat Afrikaner-selfstandigheid uitgebou moet word. As fase een kan ons selfstandigheid begin vestig, ongeag die owerheid se standpunt daaroor. Dit word gedoen deur selfstandige instellings te skep wat ons self bestuur om de facto-werklikhede te skep wat die owerheid nie kan wegwens nie. Voorbeelde hiervan wat reeds in praktyk bestaan, is onder meer die gemeenskapsveiligheidstrukture wat AfriForum landwyd vestig, sodat gemeenskappe selfstandig binne die raamwerk van die wet na hul eie veiligheid kan omsien.

AfriForum se plaaslike strukture pak talle selfdoenaksies aan om hul plaaslike gemeenskappe te verbeter. Onderriginstellings soos Sol-Tech en Akademia, wat albei deel van die Solidariteit Beweging is, bied ook reeds selfstandig opleiding met Afrikaans as onderrigmedium, terwyl die Helpende Hand selfstandig talle beursfondse bestuur vir die Afrikaanse onderrigbeen.

As tweede fase van selfstandigheid, glo ek dat Afrikaners aanspraak moet maak op die de jure-erkenning van de facto– selfstandigheidswerklikhede wat gevestig is. Dit kan byvoorbeeld insluit dat ons gemeenskapbesluitnemingsreg oor die bestaande Afrikaanse skole verkry deur beheerliggame se magte uit te brei, en dat die Erfenisstigting, as organisasie uit ons gemeenskap, die bestuur van Afrikaner-erfenisse moet behartig. Natuurlik het ons as belastingbetalers ’n billike aanspraak dat ons belastinggeld hiervoor moet kan aanwend.

Benewens inspraak oor skole en erfenisse bestaan daar internasionaal tientalle ander voorbeelde van terreine waarop minderhede inspraak kan kry oor sake wat hulle direk raak. Dit sluit in inspraak oor kulturele sake tot gebiedsgebonde inspraak.

Daarom is ek ten gunste daarvan dat hierdie beraad aan ’n taakspan opdrag sal gee om ondersoek in te stel na internasionale voorbeelde van hoe minderhede inspraak verkry oor sake wat hulle regstreeks raak, en werkbare voorstelle te maak vir die plaaslike implementering van selfstandigheid en gemeenskapsfederalisme.

Kom ons rol ons moue op en skep self vir ons en ons kinders ’n toekoms. Ons voorgeslagte het dit al gedoen – ons kan dit weer doen!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Kallie Kriel

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Ek steun die werk wat gelei het tot hierdie beraad en waaroor dit gaan.

Ek is egter baie bekommerd oor een aspek:

In die artikel van Prof Giliomee elders in hierdie uitgawe meld hy dat Pres Steyn die Afrikaners beskryf het as “‘n volk van gesinne en families”.

Ek sien in alles wat oor hierdie beraad geskryf word slegs ‘n drang na institusionalisering. Die oergrond waarin die wortels van die volk gegroei het word vervang deur iets volksvreemd soos die instellingsfilosofie van die Franse Marxis Debray – die kultuur moet deur instellings gedra word.

Maar daarmee vergeet ons dat die gesin (soos in vele internasionale instrumente van menseregte erken word) die basiese eenheid van elke samelewing is. En dat die gesin die oerinstelling van alle instellings is.

Dit het die Afrikaner geweet tot in die tyd van Pres Steyn.

Geïinstitusionaleerde magsblokke gaan ons voortbestaan nie in die lang termyn verseker, as ons die wortels van ‘n volk verwaarloos en ontmagtig nie.

Francois Blaauw ·

Ons moet waak daarteen om die Afrikaner te reduseer tot ‘n blote minderheidsgroep in ons optrede en aksies . Laat ons ons Godgegewe reg om as volk te bestaan naas ander volke , bevestig in ons al ons doene en late, redenasies en DENKE veral. Dankie vir al die goeie werk mede-Afrikaners.

Johan ·

Ons is n minderheidsgroep en klaar. In die VSA het juis sulke minderheidsgroepe baie sukses behaal deur dit te erken en dan aanspraak te maak op billike behandeling. Ons is Afrikaans, n wit ras en n minderheidsgroep in SA. En terloops dis hoe ons geklassifiseer word ook so ons moet DIT so gebruik.

Hentie van der Westhuizen ·

Baie dankie vir die wonderlike voorreg om die nuus gratis te mag ontvang. Julle het ‘n puik nuusblad. Sal dit egter moontlik wees om nie in die vroeë oggendure, net na 4:00 die nuus te Epos nie. Ons selfone is al kontakmiddele wat ons in die huis het. Kan dit dus nie afskakel nie. Is op die bedkassie en 4:00 is vroeg om die Eposgeluid te hoor!! So teen 6:00 is darem ‘n meer “genaakbare” tyd, aangesien ons dan opstaan om gereed te maak vir werk. As dit enigsins moontlik is, sal dit so waardeer word. Met dank. Seën op jul onbaatsugtige werk!

Dewald Alberts ·

Ek stem volkome saam met Leendert Van Oostrum, Dit wil vir my voorkom dat alle vrae en kwellinge bloot opeindig as punte van bespreking deur kommitees, wat keer op keer vergader en by die tyd wat antwoorde ter tafel gelê word diè spesifieke kwessies reeds op die agterkant van die agenda lê. Dit voel so asof daar nie daadwerklik op grondvlak enigsins riglyne of motivering is nie, waar is die wyses en die oues van dae binne die gemeenskappe? Wat het geword van die kultuur van om die wysheid te deel en werkskepping te kweek? Of het ons as Afrikaners reeds oorgegee aan die kultuur van bakhand in `n ry staan en wag vir `n meëvallertjie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.