Krisisse bring ook oplossings na vore

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

The monumental tragedies of the 20th century should leave us with a sobering sense of the threats to any society. But humanity’s ignorance of history leaves them free to be frivolous — until the next catastrophe strikes, and catches them completely by surprise.”

“Beleef ons nou die swaar tye waarvan die oumense vertel het?”, vra ’n moedelose vrou in April toe haar besigheid dreig om te sink. Haar vraag het my laat dink. Is die huidige krisis werklik ’n “eens in ’n leeftyd” gebeurtenis, of is dit maar hoe die lewe is? Is dit regtig ’n “groot herset” wat alles gaan verander? Is daar historiese lesse waaruit ons kan leer?

Is daar hoop om hierdie krisis te hanteer?

Dit is so dat elke krisis uniek is, en hoe dit elke mens raak of vir daardie persoon die ergste is. Die slegte nuus uit die geskiedenis is dat daar maar altyd krisisse is. Die goeie nuus is dat krisisse nie nét sleg is nie, en dat dit selfs tot ongelooflike hoogtepunte lei.

Om hierdie punt te verduidelik, kan enige historiese era gebruik word. Maar kom ons neem ’n eeu gelede as voorbeeld, en kyk na die slegte én die goeie om lesse vir vandag te leer. Dit is insiggewend om, byvoorbeeld, die eerste twee dekades van die vorige eeu, met die eerste twee van hierdie eeu met mekaar te vergelyk. Dan word dit duidelik dat staatkundige bedelings, swak regerings, globale pandemies, ekonomiese krisisse en selfs verwoestende oorloë nie die mensdom se skeppende gees kan blus nie. Inteendeel, dit kan ons selfs tot hoër hoogtes aanvuur.

Oorlog en omwenteling

In die jaar 1900 was die Anglo Boereoorlog in volle swang, met die wêreldmag van destyds wat met hul konsentrasiekampe en verskroeideaardebeleid op ’n ongekende skaal verwoesting aangerig het. Dit lei tot grootskaalse armoede en Afrikaner-plakkerskampe in en om stede. Prof. David Welsh van die Universiteit Kaapstad (UK) skryf in sy The Rise and Fall of Apartheid: “After 1902 the Afrikaners of the defeated republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”

In 1902 is die Boererepublieke as kolonies by die Britse Ryk ingelyf, en is Afrikaner-instellings oorgevat of vernietig. In 1907 het die voormalige republieke selfregering gekry, danksy die versiende Britse onderminister van kolonies, Winston Churchill. In 1910 kom Suid-Afrika as koloniale skepping tot stand toe die Britte hul “besittings” onder een sambreel saamvoeg. Dis die derde staatkundige bedeling in ’n dekade.

Oorloë en Siektes

Die ANC word in 1912 gestig. In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit, wat tot ’n gewelddadige rebellie van Republikeine lei toe die Botha-regering (genl. Louis Botha) aan die Britse kant toetree, skaars 12 jaar ná die konsentrasiekampe.

Met die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 bring terugkerende soldate die Groot Griep met hulle saam. Dis baie gevaarliker as Covid-19 en 300 000 mense sterf binne ses weke in die eerste golf. Destyds was dit ’n verbysterende 6% van die bevolking. Daar’s ook ’n ekonomiese krisis, wat die inflasiekoers verdubbel en duisende mense werkloos maak. Groot stakings deur swart werkers vind terselfdertyd plaas. Daar’s harde diskriminasie teen Afrikaners in die werkplek. Die historikus Dan O’Meara skryf hieroor in sy boek Volkskapitalisme: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialis’ interests. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Appointment and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

Al hierdie faktore saam met die onsimpatieke Smuts-regering, lei tot die groot en bloedige Mynwerkerstaking van 1922. Dit speel weer ’n groot rol in die destydse NP se oorwinning in 1924.

Goeie nuus en hoop

Al hierdie groot gebeure oorheers die nasionale toneel vir twee dekades, en baie daarvan lei tot grootskaalse lewensverlies, ekonomiese verwoesting en menslike leed en lyding. Tog is daar terselfdertyd ’n minder opsigtelike ontploffing van skeppende energie onder Afrikaners. Dit begin aanvanklik klein, beskeie en ongesiens, maar toon mettertyd ’n groter- en ’n blywende uitwerking as die meeste hoofopskrifte.

Skeppende energie:

  • Eugene Marais se “Winternag” verskyn in 1905, en bewys dat Afrikaans ’n hoëfunksietaal kan wees;
  • Die Vrouefederasie word in 1904 gestig, en vervul vir dekades lank ’n onmisbare rol in die versorging van weeskinders, bejaardes en armes;
  • Die Burger word in 1915 gestig, en is die begin van Naspers – vandag ’n wêreldreus;
  • In 1917 vind die Helpmekaar-kongres plaas, en lui ’n era en kultuur van selfhelp deur gemeenskapsorganisasies in wat vandag nog voortduur. Dit was ook die begin van ’n proses waardeur ’n staat binne die koloniale staat opgebou is. So is groeiende Afrikaner-vryheid van onder af op elke gebied gebou – tot dit later van bo af erkenning gekry het;
  • In 1918 word Santam, Sanlam en Avbob gestig, wat die begin van Afrikaners se ekonomiese bemagtiging was en waarmee die land opgebou is; en
  • Afrikaans word amptelik erken in 1925, wat die modernisering van die taal versnel waardeur Afrikaners daarna kan moderniseer.

ANC- en Covid-krisisse

Suid-Afrika is nou al ’n dekade lank in ’n verdiepende krisis, ná jare lange swak en korrupte ANC-regering die land stuk-stuk laat verval het. Hierdie krisis is verdiep en vererger deur die uitbreek van die wêreldwye Covid-19-pandemie. Dit het die land se ekonomie verder verswak en tot selfs groter werkloosheid gelei. Dit lyk of dit verdere politieke radikalisering van die ANC aan die hand werk, wat steeds ’n Nasionale Gesondheidstelsel op die land wil afdwing terwyl hulle nie eens in ’n krisis één entstof betyds kan betaal en versprei nie.

Die geskiedenis van die eerste twee dekades wys dat die groot gebeure wat die koerantopskrifte uitskreeu, gereeld van verbygaande aard is. Politieke rampokkers soos Magashule maak korttermynnuus, maar nie langtermyngeskiedenis nie. Grootpraters soos Malema sê en lawaai baie, maar bereik niks. Rassehaters soos Lesufi bring niks tot stand nie, maar vuur Afrikaners aan om ’n kulturele infrastruktuur op te bou en staatsbestand te word. Harde inperkings en rampspoedige regulasies leer weer die noodsaak van vryheid. Kortom, krisisse – nes swak regerings – kom en gaan, maar bly nie staan.

Die kuns om die groter prent te sien of verstaan, is om na die klein, maar blywende gebeure te soek wat werklik die gang van die geskiedenis bepaal. Dit kan herken word deur te kyk na die tydlose waardes wat dit voortdryf en suksesvol maak, soos helpmekaarenergie, gemeenskapskrag, selfdoen, vryheid, en die dryfkrag om iets blywends op te bou wat groter is as jyself.

Die geskiedenis wys dat krisisse maar altyd gaan voorkom, ongeag die land, era of plek waar jy bly. Hierin het ons nie ’n keuse nie. Ons kan net kies hoe ons daarop reageer, en dít maak al die verskil.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.