Krisistye ontbloot karakter

Deur Monica Mynhardt

Foto: (Denis Balibouse/Keystone via AP, Pool)

Die karakter van mense, instellings en regerings word nie in krisistye omvorm nie – dit word slegs ontbloot.

Die afgelope twee maande is die wêreld se fondasies geruk deur Covid-19. Die snelle verspreiding daarvan was in ’n kort tydperk ’n wesenlike toets vir almal wat daarmee gekonfronteer is.

Die feit dat die virus die wêreld byna oorrompel het, het tot gevolg gehad dat almal genoodsaak is om met min inligting redelik vinnig groot besluite te neem.

Die beperkte reaksietyd waarmee mense gelaat is, het hulle sodoende gedwing om terug te keer na hul morele en ideologiese hardeskywe. Almal wat op hierdie pandemie moes reageer, het noodgedwonge die ware aard van hul karakter ontbloot.

China

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

China, die wieg van die virus, en hul regering se reaksie op Covid-19 is sekerlik die toonbeeld van hierdie karakterontbloting.

Op 17 November 2019 is die eerste geval van ’n pasiënt met Covid-19 aangeteken. Teen einde Desember het die provinsiale regering verskeie genoommaatskappye verbied om die virus te bestudeer en beveel om alle bewyse te vernietig.

Meer as ’n maand ná die eerste vermelde geval het die Chinese regering die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in kennis gestel. Intussen is dokters en joernaliste wat gepoog het om die uitbreking te ondersoek en ontbloot, in hegtenis geneem en ondervra.

Op 18 Januarie het Wuhan ’n ete gehou wat deur sowat 40 000 families bygewoon is. Op 23 Januarie plaas die Chinese regering Wuhan uiteindelik in afsondering, wetend dat sowat 5 miljoen mense in daardie stadium reeds die stad verlaat het sonder om getoets te word vir die virus.

Talle mense het lank reeds opgemerk dat hierdie virus China se Chernobyl is – die ramp wat uiteindelik die krake in ’n oneerlike en onmenslike stelsel ontbloot. Die Chinese regering se optrede, of aanvanklike tekort daaraan, in hierdie krisis was ’n roekelose poging om die waarheid en mense te onderdruk ten einde hul eie beeld te red. China het in ’n omvattende disinformasieveldtog so lank as moontlik vir die res van die wêreld gejok en sodoende miljoene mense wêreldwyd verdoem tot die gesondheids- en ekonomiese krisis waarin ons onsself tans bevind.

China se karakter is ontbloot as die ongenaakbare outoritêre regering wat hulle is – een wat mense as blote weggooibare getalle sien en waar individuele vryheid sonder uitsondering kwyn in die skadu van die staat.

Ons regering

Pres. Cyril Ramaphosa spreek Maandagaand die nasie toe. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Hóé ons regering gereageer het, is veel belangriker as hoe vinnig hulle aanvanklik gereageer het.

Verlede Sondag, 15 Maart, het president Ramaphosa ’n nasionale ramptoestand aangekondig met bepaalde bykomende maatreëls wat in gereedheid gebring is – die meeste daarvan regverdigbaar. Met die verloop van die week het sommige van die regulasies egter vreemd begin raak.

’n Verbod is op restaurante geplaas om alkohol ná 18:00 te verkoop of bedien, hoewel restaurante steeds ná 18:00 oop mag wees. Restauranteienaars kan ook in hegtenis geneem word indien hulle – of enige iemand in hul restaurant – die reël oortree.

Die regering het hulself ’n monopolie op kommunikasie en inligting toegeëien deur geen ander instelling toestemming te gee om inligting oor nuwe gevalle te versprei nie. Enige iemand wat fopnuus oor die virus versprei, kan tronkstraf opgedien word.

Met die prysvasstelling het die regering sonder rede by die vryemark ingemeng.

Met Suid-Afrika se Covid-19-gevalle wat in ’n kwessie van agt dae sesvoudig vermeerder het, het president Ramaphosa Maandagaand ’n toestand van afsondering aangekondig – wat verreikende sosiale, maatskaplike en ekonomiese gevolge vir ons land gaan inhou.

Hulle gaan ook poog om dié maatreëls met behulp van die polisie, metropolisie en weermag af te dwing.

President Ramaphosa het regtens uitgewys dat lande wat die vinnigste die mees drastiese stappe gedoen het, die grootste sukses met inperking van die virus gehad het. Die fout wat die regering egter gemaak het, was om die maatreëls van sterk, ontwikkelde lande op ons land te kom toepas. In ’n land waar ’n verontagsaming van wet en orde die norm is, en die ekonomie reeds op die randjie van die afgrond gestaan het, was daar dalk beter opsies om te oorweeg.

Ramaphosa kon eerder lande soos Japan en Suid-Korea se voorbeeld gevolg het. Hulle het:

  • kwesbare groepe geïdentifiseer en onder verpligte kwarantyn geplaas;
  • toetsstasies op groot skaal beskikbaar gestel en sodoende opsporing en isolering gedoen waar werklik nodig; en
  • die land en ekonomie in ander opsigte toegelaat om aan te gaan soos normaal.

Dit was dus moontlik om ’n roete te volg waar meer strategiese en minder ekonomies ingrypende stappe toegepas word.

Dit is vir geen wêreldleier ’n maklike taak om besluite rakende hierdie virus te neem nie – ook nie vir ons president nie. Ramaphosa neem natuurlik die besluite wat hy dink in ons almal se beste belang gaan wees. Die hantering hiervan is egter só belangrik dat dit met gesonde kritiek ontleed behoort te word – in enige land met enige president.

Daar is wel een aspek van die regering se hantering hiervan wat ongetwyfeld veroordeel moet word.

Die regering kon hulself nie help om letterlik tot lewe en in dood aan transformatisme vas te klou nie. Hulle hulpfonds om klein-, medium- en mikro-ondernemings finansieel by te staan, bevat in die fynskrif rassekwotas. Die departement van kleinsakeontwikkeling het dit ewe mooi probeer verwoord as finansiële hulp wat “geografies en demografies verteenwoordigend” gaan wees. Die departement van toerisme was meer blatant met die vereistes dat 70% van besighede wat bygestaan gaan word, swart eienaarskap moet hê.

Selfs in krisistye is die regering nie bereid om hul eie landsburgers bo hul ideologie te kies nie. Hierdeur het die ANC ’n duidelike boodskap verkondig dat hy burgers sal ondersteun in krisistye, maar slegs onderworpe aan een of ander kwota.

Hoewel Covid-19 alle gemeenskappe gaan raak, is die regering bereid om net sommiges by te staan.

Alhoewel ons regering met mooi woorde en slinkse wetgewing die afgelope 25 jaar probeer voorgee het asof hulle inklusief en demokraties is, kon hulle nie daarvan ontsnap om in hierdie krisistyd hul ware rasbehepte, totalitêre aard te ontbloot nie.

Ons hoofstroommedia

‘n Verlate hoofweg in Kaapstad Vrydagoggend. Foto: (AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Ons hoofstroommedia het oor die afgelope paar weke weereens bewys wat ons lank reeds weet – hulle is nie die waghond van die publiek nie, maar eerder die skoothond van die regering.

Talle van die stappe en maatreëls wat die regering oor die afgelope tyd ingestel het, is werklik verreikend, nienoodsaaklik en gaan moontlik onsuksesvol wees. Met byna elke aankondiging wat die regering gemaak het, het die hoofstroommedia hulle geprys.

Met die aankondiging dat diegene wat fopnuus hieroor versprei, in hegtenis geneem kan word, het die hoofstroommedia die regering geprys. Die feit dat restauranteienaars agter tralies kan beland, word vir bogenoemde oortredings geprys. Die instelling wat waak moet staan oor vryheid van spraak en denke, het die regering aangemoedig om dit in te perk.

Die hoofstroommediamasjien het aan hulself die taak toegeëien om ons daarvan te oortuig dat president Ramaphosa die held is wat Suid-Afrika gaan red en weer op koers kry vir die reënboogprojek. Sodoende het hulle hulself nog altyd blindgestaar teen die ideologiese werklikhede en geskiedenis van die president en sy party. Hulle het geglo dat die ANC voor Ramaphosa bloot ’n leierskapprobleem ondervind het, eerder as ’n ideologiese een.

In hierdie krisistyd waar almal juis die regering aanspreeklik moet hou vir hul besluite, is die media besonders onkrities oor enige van die voorgestelde maatreëls.

Totalitarisme word nie met geweld gebring nie, maar met applous. Ons media is besig om te staan en kyk hoe die regering met elke maatreël wat hulle instel, stadigaan aan ons vryheid en toekoms wegkalwe.

Ons

Die voorsienbare toekoms gaan uitdagend wees. Hoe ons aan die ander kant daarvan uitkom, gaan van elkeen van ons afhang. Ons gemeenskapstrukture is tans die beste georganiseerd wat dit nog ooit was – ons is in ’n goeie posisie om hierdie onwelkome krisis te hanteer.

Hierdie krisis gaan elkeen van ons se karakter ook ontbloot. Mag ons karakter, wanneer dit na vore kom, spreek van braafheid, betroubaarheid en medemenslikheid. Mag ons ons heil in die gemeenskap en geborgenheid in mekaar vind in die komende tyd.

Mag ons nou, meer as ooit vantevore, mekaar ondersteun. Mag ons die swakkes in ons gemeenskap staande hou deur die krisis, sodat ons ná afloop daarvan saam vorentoe kan beweeg.

Mag ons karakter toon dat ons sterk en innoverend is – geharde pioniers wat nog altyd in die aangesig van uitdagings letterlike berge kon versit.

  • Monica Mynhardt is ‘n junior navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frank ·

Darem een ding wat darem vals is en nog meer versprei gaan word, is dat dit NIE ‘n mensgemaakte virus is nie. ‘n Navorsingsinstituit het min of meer onweerlegbaar bewys dat dit natuurlike en nie mensgemaakte virus is. (Hulle het die “ruggraat” van die virus ontleed en dit is inderdaad uniek en deur natuurlike proses gemuteer. Niemand kan tans “god speel” en so iets skep nie en nog net wat reeds bestaan manipuleer, wat noodwendig ‘n nie-unieke “ruggraat” tot gevolg sal he.

Cherokee ·

Frank, ek lei af dat jy nie in jou eerste sin sê wat jy wil sê nie. Dat jy inderwaarheid jouself teëspreek.

Frank ·

Dalk bietjie beter lees? Daar word valse nuus versprei dat dit mensgemaakte virus is en ek wys bloot uit dat darem DIT wel valse nuus is. Nerens het ek gese enigiets in die artikel is vals nie en eintlik andersom

Johan Venter ·

En Covid-19 tref nie onderskeid tussen ras nie, weet nie van ideologie af nie.

Frank ·

Ek het nou al verskeie artikels en goed opgelees oor die artikel en kom tot die redelike gevolgtrekking dat daar inderdaad ‘n “Wuhan annual mass banquet” vir 40 000 FAMILIES gehou was, die infeksie tussen hulle en res van bevolking versprei het en deur die 5 miljoen reisigers tot met afsondering, die res van die wereld in. Dit is ook min of meer in lyn met die vreemde verskynsel dat daar meer gevalle in 1ste wereld lande en meer gegoede plekke is as gewoonlik andersom, aangesien sulke reisigers in teenstelling met arm bevolking geld het vir reis en veral die 40 000 FAMILIES in die hoer inkomste groep (en dus verblyf) sou val.

As mens bietjie verder kyk, is feitlik al die lande (en plekke) wat ergste geraak is, hoofsaaklik lande/plekke wat aantreklik is vir toeriste, soos ryk Chinese….. Wat nie so maklik met “arm” mense meng nie en dus verder die lae groeikoers in arm plekke kan verklaar.

Frank ·

Wat ek baie graag sal wil weet, is HOEVEEL van die internasionale mense wat dood is, is Chinese. Die persentasie sal nogal baie insiggewend wees want logika se dit moet grootliks Chinese wees (reisigers na/van Wuhan) en as dit andersom is met lae persentasie, suggesteer dit moontlike teenmiddel wat ook kan aandui dat Wuhan nie nou skoon raak NET weens issolasie nie.

Hoe nou? ·

Nugter ontleding. En van vandag af sluit Sjina hul landsgrense vir alle uitlanders, uit vrees vir ‘n 2de golf, na hulle ander lande, soos Italië, beskuldig het van rassisme toe hulle aanvanklik dieselfde wou doen. Hoofstroom media hier is stil oor die oorsaak, maar gelukkig is daar joernaliste met sterk karakter en integriteit in ander lande wie nou hard en duidelik uitroep vir die verbanning van “wet markets” wêreldwyd en weier om stil te bly daaroor. Al word hulle deur ‘n spul aangeval met “nou is nie die regte tyd nie”, want nou is juis die regte tyd.

Sterling ·

Uitstekende artikel Monica! Stem 100% saam dat ons regering wou Sjina-gehalte autoritere maatreëls instel, maar sonder Sjina-gehalte vermoë.

Ook het die ware rasse-beheptheid van die regering weereens na vore gekom. Nou is nie die tyd om ‘n idiologie na te jaag nie.

Om die hande van die gemeenskap herhaaldelik weg te klap wanneer hulle uitreik om te help, gaan maak dat die regering sonder enige vennote op plaaslike bodem sit.

Ek hoop dat die gemeenskap weereens, soos teen E-toll, sal saam staan en mekaar ondersteun teen onregverdige beleid. Dat die gemeenskap die morele hoë grond sal inneem en nie swak beleid / maatreëls te gebruik as ‘n verskoning om hul eie grondslag of karakter te verontagsaam nie.

Mag ons elkeen in hierdie tyd, ons eie rol in die gemeenskap ondersoek en aanpas om ‘n sterker gemeenskap te vorm. Een wat meer as net idiologie of die verlede as dryfveer gebruik om voorentoe te gaan. Eerder ‘n gemeenskap gebou op Christen beginsels, wat waarde die hiernamels in dra

Therese ·

Briljante artikel!

Heeltemal reg. Japan en Suid-Korea, asook Taiwan, hanteer die virus-krisis soos dit intelligente nasies betaam. Die ganse ekonomie van hul lande word nie verfomfaai met oorhaastige, dwase besluite wat deur opposisie-partye en voor-oppie-wa joernaliste op hul afgedwing word nie.

Westerse regerings het om die waarheid te sê die laaste tikkie respek wat ek vir sómmiges gehad het verloor met die polities-gedrewe besluite. Die G7 het nie genoeg ruggraat tussen die lot van hulle om dit ‘n Wuhan-virus te noem op Mike Pompeo se heeltemal korrekte aandrang nie.
Die astronomiese ekonomiese gevolge van hierdie drama is nie genoeg om die Weste tot aksie te dwing, en China tot verantwoording te roep om toekomstige tragedies te verhoed nie!

Stof ·

Die gerugte en mense se reaksies daarop, het inderdaad al vele ware karakters ontbloot.
Ek glo dat in elkeen van ons se adresboek, daar na dese name is wie se satus verander is van vriend, na kennis.
En dan is daar ook hulle wat altyd maar ewe op die agtergrond was, wat nou in opregtheid die tweede en derde myl loop, en direk opgegadeer is van kennis, na vertroueling.
Mag jy ook een van hulle wees, wie se status in elkeen wat na aan jou hart is, se adresboek, opgegradeer is van kennis, na gewaardeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.