Kroonstad wil die kroon span

(Foto: Ignite & Revive Kroonstad/Facebook)

As jy tydens die vakansie op die N1-noord of -suid ry en jy kom by Kroonstad, draai in en ry die dorp binne. Jy sal verbaas wees. Die eilande en sirkels is skoongemaak en netjies beplant met vetplante. Die strate is skoon. Daar is nie rommel wat rondlê nie. Dit vertel die storie van ʼn gemeenskap wat besluit het om self die dorp reg te ruk en dit te omskep in ʼn plek waar mense sal wil bly.

Vyf jaar gelede was dit nie so nie. Rou riool het in die strate gevloei. In ʼn verslag van die ouditeur-generaal word die munisipaliteit Moqhaka, waaronder Kroonstad val, daarvan beskuldig dat hy nie genoegsaam begroot het vir die konstruksie, opgradering en gereelde instandhouding van infrastruktuur nie. Dit is infrastruktuur wat R2 miljard werd is, maar net R35 miljoen rand is bestee aan herstel en instandhouding.

Die gebrek aan beplanning vir instandhouding en die vandalisme en diefstal van infrastruktuur by die sanitasie-aanleg het gelei tot die rioolprobleem. Die raad het ook nie bevoegde mense aangestel om die aanleg te bestuur nie. Diegene wat die gemors veroorsaak het, is nie tot verantwoording geroep nie.

Pompe wat water moes deurvoer na Kroonstad se Groblersdam het onklaar geraak en vir lank het inwoners nie water gehad nie.

Dan was daar die skandaal van die Sedtrade-padprojek. Paaie moes opgeknap word, maar swak werk is gelewer en dit het gesloer. ʼn Begrote bedrag van R46 miljoen het tot R109 miljoen gegroei. Die munisipaliteit moes die werk monitor, maar elke keer as gekla word, is gesê die subkontrakteurs is “Ace se manne” (dis nou die voormalige premier van die Vrystaat en sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, wat geskors is hangende aanklagte van korrupsie).

ʼn Woonwapark genaamd Kroonpark was glo verskeie kere benoem as een van die bestes in die land. Dit het vakansiegangers gelok om daar in te trek en ʼn paar dae te bly – natuurlik tot voordeel van die breë plaaslike ekonomie. Dit het geleidelik verval in ʼn partytjieplek vir amptenare. Gou was daar geen meer toeriste nie. Dis ʼn verlies van ʼn geraamde R10 miljoen rand ʼn jaar. En so kan die treurmare voortgaan oor Kroonstad se groot verval.

ʼn Klompie bekommerde burgers, hoofsaaklik sakelui, met André van Pletzen vooraan, het besluit dit kan nie so aangaan nie. Hulle het begin met ʼn losse versameling van mense sonder struktuur of posisies. Die visie was: “Ignite and Revive” – gee vonk en vuur aan. Wys uit wat verkeerd is en maak dit reg. Elk doen wat hy of sy kan al is dit klein goedjies wat nie geld kos nie. (Dis dieselfde soort aksie wat byvoorbeeld in Senekal ook gewerk het: Maak skoon, maak mooi, maak reg en maak groen — m.a.w. plant plante.) Jy kan begin deur rommel op te ruim voor jou eie erf of blyplek. Gou sien ander dit en begin jou voorbeeld volg. Dit kan selfs ʼn inkomsteprojek wees. Gee groot swart sakke aan werkloses wat doelloos in die strate rondloop. Elk sal R10 kry, of meer as jy wil, as hulle die sakke vol gemors, papiere en bottels terugbesorg.

ʼn Ander strategie van die groep was om luid in die openbaar uit te wys waar vergrype plaasvind. Medebelastingbetalers is gemobiliseer daarteen – soos om in die media die feite bekend te maak, die munisipaliteit te takel, klagtes by die polisie te gaan aangee en aan te dring op vervolging van korruptes en verneukers. Die munisipaliteit is tegnies bankrot. Maar terselfdertyd word gebou aan verhoudinge met die ANC-bestuur. Dit het veral in die afgelope jaar verbeter toe ʼn jonger burgemeester aangestel is. ʼn Nuwe ANC-bestuur is in November se plaaslike verkiesing verkies. Bande gaan opnuut weer gesmee word.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Die groep het gou agtergekom dat die gebrek aan gehalte-onderwys vir almal ʼn baie groot probleem was. As ouers nie tevrede is met die skoling wat hulle kinders kry nie, loop hulle voete elders. Daardie voete moet terugkom en selfs nuwe voete moet gelok word. Van die skole was net 40% tot 60% vol. Na lang onderhandelinge is besluit om van die skole te amalgameer sodat jy minstens ʼn dubbelmediumpyplyn (Afrikaans en Engels) vanaf die preprimêre fase bou. Soortgelyke geriewe word dan voorsien vir ʼn ander pyplyn met onderrig net in Engels.

Die organisasie AON (Afrikaanse Onderwysnetwerk) het betrokke geraak en sal dalk kan help om aanbouings en verbeterings te finansier. Toepassing begin aanstaande jaar. Dan word ook begin met ʼn Engelse private skool wat teen baie billike tariewe vir agtergeblewenes goeie onderwys kan bied.

Die skole onderhandel oor die gemeenskaplike gebruik van geriewe. Voorheen het Kroonstad nasionale swemmers opgelewer. Hulle het geoefen in die Olimpiese standaard swembad by een van die skole. Met die verval van die swembad is daardie talent natuurlik elders heen. Met samewerking tussen die munisipaliteit en sakelui, veral CC Chickens, is die swembad opgeknap. Vanaf 2022 sal Kroonstad weer sulke kampioene kan oplewer.

Kroonstad het nie die lys van die Solidariteit Navorsinginstituut se ankerdorpe vir Afrikaanssprekendes gehaal nie. Dit wil die groep nou regstel. Hulle mikpunt is ook om die toekenning vir die “Dorp van die jaar” te wen. As ʼn inisiatief om nuwe voete na Kroonstad te lok, beplan hulle ʼn jaarlikse kunstefees en skou.

Ander doelwitte sluit in:

  • ʼn Jaarlikse sakeman/sakevrou-dinee vir 350 tot 400 gaste.
  • ʼn Veilige speelpark vir kinders.
  • Knap Kroonpark op om weer ʼn toerisme-aantreklikheid te word.
  • ʼn Kwartaallikse manne-ontbyt vir geestelike versterking en motivering.
  • Om die samewerking van sakelui, veral die grootte Premier Milling, te verkry om beurse te gee.

Volgens die groep begin Kroonstadters van alle rasse en politieke partye hande vat, met mekaar praat en verskillende sakekamers en aktiviste-groepe stig. Hulle is passievol oor die behoud en bevordering van die kleindorpse waardes en leefstyl. Dit behels allereers saamstaan – en dít het Kroonstad bewys is moontlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.