Kruger-herrie: ‘Lank voor apartheid was hy geliefd onder swart én wit’

paul-kruger-320x448ʼn Herrie het losgebars nadat ʼn foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat langs ʼn kartonfiguur van Paul Kruger staan, wyd op sosiale media versprei is.

Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het op Twitter teen die foto uitgevaar en gesê Dreyer is ʼn “toevoeging tot die DA se rassistiese brigade”. Die ANC se reaksie het wyd kritiek ontlok. Die algemeenste argument was dat Kruger allermins ʼn dissipel van apartheid was; inteendeel, Kruger was president lank voor die apartheidsbedeling en was geliefd onder swart én wit – tot só ʼn mate dat swartmense hom die bynaam Mamelodi, wat “die fluitende man” beteken, gegee het.

Die Pretoria-township met dié naam is dus ironies genoeg na Kruger genoem. Willie Spies het in ʼn gedenklesing oor Kruger wat hy op 10 Oktober 2012 in Potchefstroom gelewer het, beklemtoon waarom Kruger sy plek in Suid-Afrika se geskiedenisboeke verdien. Maroela Media publiseer met Spies se vergunning dié toespraak:

Sewende Paul Kruger-gedenklesing

Paul Kruger self sou waarskynlik nie veel erg gehad het aan ’n gedenklesing in sy naam nie. Hy sou dit waarskynlik afgemaak het as “mense-verheerliking” soos wat hy gedoen het met die tallose heildronke wat op hom ingestel is wanneer hy deur die elite van Europa tydens sy besoeke aan die vasteland onthaal is.

En wanneer die rykes van die wêreld sjampanjeglasies geklink het op dié groot man uit Afrika, dan het hy net ’n glas melk of ’n glas water gevra.

Maar wat het Paul Kruger “groot” gemaak?

Was dit sy geleerdheid? Kan nie wees nie, want hy het nie formele skool- of universiteitsopleiding gehad nie.

Was dit sy militêre vernuf en mag; was dit sy heldedade? Of is dit sy impak in die lewens van mense wat dekades ná sy tyd steeds gevoel kan word?

Groot mense is gewone mense wat in ongewone tye buitengewone dinge doen.

Jong dae

As jong man was Paul Kruger deel van die Groot Trek en het hy eerstehands die avontuur en hartseer van die Voortrekker-era ervaar, dit was immers die norm vir al sy tydgenote. In Oktober 1836 het hy die slag van Vegkop saam met die Potgieter-trek beleef. In Februarie 1838 was hy nog ’n 12-jarige seun. Hy het egter sy herinneringe aan die gebeure by Bloukrans en Moordspruit jare later soos volg  verwoord:

Ek was toe nog maar ’n seun van 12 jaar oud, maar ek herinner my die moord van Piet Retief nog goed. Elke gebeurtenis van daardie dae staan in my geheue gegrafeer en ek sal dit nooit vergeet nie … dit was heeltemal in die vroegte, so omtrent dagbreek toe ons skote gehoor het. Eers dag ons dit is saluutskote wat afgevuur word by die terugkeer van Piet Retief, maar toe dit ligter word, het ’n perderuiter by ons aangejaag gekom en die verskriklike tyding gebring dat een klompie mense byna heeltemal uitgemoor is deur die Zoeloes – behalwe vir ’n paar wat ontvlug het.

…God het ons gebede verhoor en uit die hande van die vyande verlos … maar watter verskriklike tonele het ons nie in die ander laer gesien nie. Daar het die lyke van ons mense gelê wat deur ʼn ander afdeling van die Zoeloe-leër vermoor is en in hulle bloed gebaai het. Die veld was wit van die vere wat die moordenaars uit die beddegoed van die waens geskud het. Daar was skape wat lewendig oopgesny is en manne, vroue en kinders op die gruwelikste wyse gefolter, vermoor, deursteek en keelaf gesny. Die aasvoëls wat – soos hulle vertel het – so ʼn Zoeloe-impi orals gevolg het, het reeds begin om die dooies te verskeur. Daar het moeders dood gelê asook sterwendes nog met die kleintjies aan die bors gedruk. Ander het met verstyfde arms hulle kinders, deurboor met assegaaie wat die lyke aanmekaar gehou het, omklem. Baie lyke is op die verskriklikste manier mishandel en geskend, en klein kindertjies het gelê waar die barbare hulle neergegooi het, nadat hulle die harsings teen die wawiele uitgeslaan het.

Hoewel hierdie tonele in enige mens se wese ingegraveer sou word en dit vir Kruger sekerlik vir die res van sy lewe sou bybly, het hy nooit bang, moedeloos of haatdraend geraak nie.

Geloof en menseverhoudinge

Kruger was besiel met ʼn diep Christelike geloof en ʼn passie vir die kerstening van ongelowige volkere in die ou Transvaal.

Dalk was sy medewerking in die stigting van die Gereformeerde Kerke aanvanklik ʼn verdelende faktor. Sy kerkverband is gereeld deur sy politieke vyande teen hom gehou. Kruger het egter deur sy lewenswyse sy Christelike lewensbeskouing gestand gedoen en dit sou bydra tot sy verenigende rol as leier van die Transvalers. Pres. Kruger het nooit geskroom om die Woord te verkondig nie. Maak nie saak of dit nou aan Moshoeshoe of Rhodes of sy eie burgers was nie.

In sy biografie oor Paul Kruger vertel sy biograaf DW Kruger van Oom Paul se besondere verhouding met ’n swart evangelis, Dawid.  Kruger het soos volg van dié evangelis vertel in sy gedenkskrifte:

Ek het hom leer ken as ’n Christen. Hy het onder die swart volkere gearbei deur die evangelie te verkondig. Hier was nog geen sendeling nie en baie van die swartes wou hom doodmaak en dan het hy na my gevlug vir beskerming. Ek was kommandant. Hy het gevra om by my te woon. Omtrent tien dae het hy by my gebly. Een môre vroeg het hy wenende by my gekom en gesê: ‘Meneer, ek sal tog maar loop’.

Ek vra hom, ‘Waarheen?’ en hy sê: ‘Om die boodskap van Jesus onder die swart mense te gaan vertel. Ek weet nie wanneer die Here sal kom nie, vanaand of môre en hier lê ek. Wat sal ek sê as die Here môre kom?’ Toe hy dit gesê het, het hy bitterlik geween en haastig geword.  

Kruger het aan hom gesê: ‘Die swartes wil die Bybel nie hê nie. Hulle sal hulle nie bekeer nie en jou doodmaak.’

Maar hy het net gesê: ‘Meneer dit is nie my werk om hulle te bekeer nie. Dis die Here se werk. Ek moet maar net vertel. En as ek dit nie doen nie, wat sal ek sê as Hy kom?

‘Ek weet nie hoe gou Hy sal kom nie. My tyd is kort.’

Kruger vertel dan dat hy besonder verleë en skuldig gevoel het oor sy eie ontrouheid. Hy het vir Dawid gegroet en gesê:

‘Gaan heen in vrede, die Here sal jou help.’

Dit was nie net die boodskap van Kruger aan ’n getroue swart evangelis nie – dit is ook die boodskap aan Afrikaners vandag – en dit was waarskynlik die leuse waarmee hy so getrou vir sy mense gewerk het.

Al was daar gereeld botsings met die stamhoofde het hulle agting en respek vir Kruger gehad.

Mamelodi (die fluitende man) was sy noemnaam onder swart mense en die verwysing deur sommige swartes na hom as hulle “pa” bevestig Paul Kruger se houding dat hy ʼn verantwoordelikheid teenoor almal in Suid-Afrika gehad en aanvaar het.

Politieke en militêre betrokkenheid

Kruger was reeds aktief in die Transvaalse politiek in sy middel-20’s en hy het sy politieke tande geslyp in die harwar van die 1850’s se broedertwis. Kruger se toetrede tot die openbare lewe was nie uit ambisie of eiewaan nie – hy het hom telkens beroep op die vestiging van wet en orde in die Republiek onder die veglustige burgers.

Kruger se vroegste bydrae was egter sy militêre rol. Die onstabiliteit in ZAR het ʼn fisieke gevaar vir die Boere ingehou aangesien Tswana-stamme onder leiding van onder andere Scehele en Gasibone en die Pedi-stamme van Makapan en Sekoekoeni  andere telkens tydens die harwar in Afrikaner-geledere uitgebuit het.

Die plunder- en moordtogte het aan die jong luitenant en latere kommandant van Rustenburg die geleentheid gebied om deur sy dade naam te maak onder vriend en vyand.

Kruger se betrokkenheid by die regering was van só ʼn aard dat hy oor ʼn tydperk van 20 jaar hom telkens van die een grensgebied na die ander van die ou Transvaal sowel as die Vrystaat moes haas om vrede te herstel.

In sy bekende ekspedisie in 1858 teen die Basotho-rowerbendes het hy die leidende rol gespeel om Moshoeshoe by die vredestafel te kry. Uiteindelik was dit hierdie diens wat daartoe gelei het dat hy in 1864 as kommandant-generaal as lid van die uitvoerende raad van die ZAR aangewys.

Ná die onsuksesvolle presidentskap van MW Pretorius (1860’s) was Kruger aanvanklik nie geag as presidentsmateriaal nie en het die Transvaalse burgers hulle gewend tot die verligte “gentlemen” TF Burgers. Burger se presidentskap sou uiteindelik uitloop op die anneksasie van die ZAR. Ironies was dit die anneksasie van die Transvaal deur Theophilus Shepstone op 12 April 1877 wat Kruger as onbetwiste leier onder Boere geledere gelaat het.

Politieke nalatenskap

Kruger het nie weggeskram van die moedelose situasie nie en het gedurende die volgende vier jaar met groot moeite en leierskap die Transvaalse Afrikaners georganiseer en de facto beheer oor die ZAR geneem. Hiervan is die gebeure ná Paardekraal ʼn duidelike voorbeeld. Dat die Eerste Vryheidsoorlog die republiek herstel het is ʼn feit, maar dit was Kruger se voortreflike politieke vernuf teenoor die Britse imperialiste wat daardie onafhanklikheid in stand gehou het oor die volgende 18 jaar.

Dit is nie net sy onbaatsugtige diens teenoor die Transvaalse republiek wat hom laat uitstaan nie, maar ook die Christelike waardegedrewe wyse waarop hy die ZAR se onafhanklikheid verkry en verdedig het. Die wyse waarop Kruger vriend en vyand hanteer het getuig hiervan.

Die ZAR se versoenende reaksie op die lede van die Jameson-inval, deur hulle nie ter dood te veroordeel nie maar te begenadig, is ’n duidelike voorbeeld hiervan.

Kritiek dat Kruger soos vandag se heersers onbeskaamd in die regbank ingemeng het, is kwaadwillig. Wat onthou moet word is dat regter Kotze (wat teen Kruger in ʼn vorige presidentsverkiesing gestaan het) ʼn uitspraak gelewer het wat effektief die 1881-grondwet nietig verklaar het. Die uitspraak het die ZAR-regering sonder ’n grondwet en sonder ’n volksraad gelaat. Kruger het by Kotze gepleit om die volksraad geleentheid te gee om gebreke in die wetgewing reg te stel. Hierdie versoek is nie ongewoon nie indien in ag geneem word dat die hedendaagse Suid-Afrikaanse grondwet ook ’n bepaling het wat dit moontlik maak vir die grondwetlike hof om aan die parlement geleentheid te gee om ongrondwetlike bepalings in wetgewing reg te stel ten einde krisisse te vermy.

Eers maande later en ná onsuksesvolle “mooipraat” is Kotze ontslaan. Nogtans was dit te laat aangesien Kotze se uitspraak stukrag aan Brittanje se veldtog teen Kruger gegee het.

Daar is verskeie menings oor Paul Kruger rol as president, maar dit is baie duidelik dat hy ʼn enorme bydrae gelewer het tot die latere ekonomiese ontwikkeling van Suid Afrika. Hiervan is die bosboubedryf in Mpumalanga, die Nasionale Krugerwildtuin, wat sy naam dra, die Delagoabaai-spoorlyn asook die vindingryke wyse waarop hy nyweraars na die ZAR gelok het, sprekende voorbeelde.

Vir 50 jaar het Kruger ononderbroke sy mense gedien, sy land opgebou en die fondasie gelê van wat later die Republiek van Suid Afrika sou word.

As staatsman het hy die Boere-saak op die internasionale agenda geplaas en deur sy politieke vernuf, gedryf deur sy Christelike waardebeskouing, het hy menigmaal spanning tussen die republieke en Brittanje ontlont, soveel so dat hy meer as een keer die wêreld aan sy voete gehad het.

Niks getuig meer hiervan as die triomfantlike verwelkoming wat hy in Europa ontvang het toe hy uit Afrika moes vlug nie.

Slotsom

Daar was ʼn tyd voor die oorlog toe Paul Kruger van Kaapland tot by die Soutpansberg as die onbesproke vader van die Afrikanervolk geag is. As ʼn mens sy lewe beoordeel en sy opleiding en die konteks waarin hy geleef het in ag neem, swel jou bors van trots.

Vir Kruger was die Bybel sy lewenshandleiding; die wil van die volk, sy meester; wet en orde ononderhandelbaar en onafhanklikheid sy doelwit.

Meer as 130 jaar later is Kruger net so relevant soos in 1880. Studente dra sy gesig op T-hemde, hy ontlok steeds debat en is hy ʼn rolmodel vir ons huidige omstandighede.

Nooit, voor of ná hom, was daar nóg so ʼn Afrikaner soos Paul Kruger nie. Die groot impak wat hy gehad het op ons lewens is vandag nog te siene. Hierdie impak is eintlik maar net die lang skadu van die lewe van ʼn baie groot Afrikaner.

In Julie 1904 het die eensame Kruger in ’n huis langs die Clarens-meer in Switserland met sy eie hand ’n laaste boodskap aan sy mense geskryf – aan die inhoud van die boodskap kan mens aflei dat hierdie groot man geweet het dit is sy laaste boodskap:

…van ganser harte dank ek almal wat bymekaargekom het om te beraadslaag oor die hede en die toekoms, en aan hul ou Staatspresident gedink het en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie. Want wie vir hom ʼn toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesenlik.

Dit is waar: Veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval.

Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê. Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat daardie eenheid, daardie eendrag by u heers.

Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde ‘verdeel en heers’ nie, en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikanervolk van toepassing sal wees nie.

Dan sal ons nasie en ons taal bly staan en bloei.

Wat ek self nog daarvan sal sien of belewe, lê in die hand van God. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterwe nie.

Ek het geleer om te berus op die bittere gedagte dat ek my oë in die vreemde as ʼn balling sal sluit, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwante en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van die Afrikaanse grond wat ek seker nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ʼn eie nasie sien ontwikkel het.

Maar daardie bitterheid sal versag word solank ek die oortuiging mag bly koester dat die werk wat eenmaal begin is, voortgesit word.

Want dit hou my staande: die hoop en die verwagting dat die einde van daardie werk goed sal wees. Mag dit so wees!

Uit die diepte van my hart groet ek u en die hele volk.

Geteken: SJP Kruger

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Thuunda ·

Sal nog ‘n Kruger-leier vir ons opstaan en lei in ons tyd van nood?

Barry ·

WOW….WOW…WOWW!!!! Dis al wat ek kan sê!Wat ñ wonderlike man was dit net nie gewees nie & wat het hy net nie begin en nagelaat vir ons nie!Absoluut ñ merkwaardige man gewees!Ons kort vandag so ñ leier soos hy.Dankie Pres.Paul Kruger vir jou wonderlike werk en vir die wonderlike Christelike voorbeeld wat jy vir ons gestel het.

Jan ·

Ongelukkig het die Afrikaner volk nooit op Paul Kruger se waarskuwing van “verdeel en heers” ag geslaan nie.

Sarie ·

100% seker dat Naspers nooit hierdie artikel sal plaas nie.

Pieter ·

Elke mens en sy dade moet tog in perspektief met die era waarin hulle geleef het geplaas wrd. Ons doen dit tog elke dag as ons die Bybel interpreteer. Nou is dit vir my interessant dat Paul Kruger so uitgesonder word. Miekien kan die CancER dus ook vir ons hul opinie gee oor die ander rassiste soos bv Karl Marx, Che Quevera, Mahatma Ghandi en vele ander wat letterlik aanbid word.

Johann Marx ·

As ek ‘n rassis is omdat ek myself laat afneem langs ‘n foto van Paul Kruger, is ek dan ‘n terroris as ‘n foto van myself laat afneem langs ‘n foto van Nelson Mandela?

Hannes Pretorius ·

Ek is trots op my geskiedenis As ek Paul Kruger of enige persoon vanuit die Afrikaanse geskiedenis wil gedenk en die Anc hulle as rassiste wil beskou, dan is ek seker maar ook n rassis. Gee nie om wat die Anc dink nie. My geskiedenis is daar om ook gedenk te word

Carl Muller ·

Lees The Dark Stream van Leon Rousseau asook Lost Trails of the Transvaal van TV Bulpin. Paul Kruger was ‘n groot ondersteuner van nepotisme en het sy vriende bevoordeel. Hy het wette verander om hom te pas en selfs oor terug gedateer. Hy het toegelaat dat sy raadslede omgekoop word. My oupa het hom na die grens geneem toe hy gevlug het en hy het ons goud saamgeneem. In my oe is hy maar net so ‘n groot skelm soos Zuma.

Gerhardt ·

Almal het foute, Kruger het ook gehad maar hy was steeds ‘n besonderse leier.

Bok-Bok ·

Saam met jou met betrekking tot die gehoe-haa oor onse oom Paul, Carl Muller. Geskiedenis word geskryf deur die oorwinnaar. Janee, daar was drooggemaak en toe gevlug dat die baadjiepante staan. Die wat agtergebly het moes die kastaiings uit die vuur krap.

Dirk Breytenbach ·

Die negatiewe beeld wat mense oor Pres. Paul Kruger versprei is gebaseer op sameswering teorie en daar sal altyd mense wees wat ‘n storie agter die storie opdis vir die waarheid. Kan mens so naief wees om te glo dat Paul Kruger ‘n hele land se skatte saam met hom op ‘n skip sou neem? As dit so was kon dit nie juis veel gewees het nie. In plaas van saamstaan verdeel ons onsself en gee vir on kritici ammunisie om ons mee aan te val en verdag te maak. So word al ons leiers deur onsself verguis en lyk ons soos ‘n bende takhare. Ek stel voor ons soek eerder die positiewe waarop ons kan bou en leer uit mekaar se foute. Dis onmoontlik dat iemand wat so dapper en diep oortuig was van sy liefde vir sy land en volk was op ‘n trein en skip sou klim met die doel om te vlug. Hy was finansieel goed af hoekom sou hy op sy bejaarde ouderdom met iemand anders se geld wou vlug? Myns insiens is dit wolhaar stories wat versprei word deur mense wat aan ‘n ongeneeslike minderwaardigheid kompleks ly. Wette word vandag nog gemaak en terug gedateer om kwessies wat die die samelewing affekteer aan te spreek.

Cathy ·

Wow. Ek is nou skoon emosioneel. Ek het al so baie tydens my kinderjare gehoor watse wonderlike man Paul Kruger was, maar nog nooit het dit my so emosioneel gemaak nie. Hy was goud vir ons nasie en ons land en ek dink dat as alle Afrikaners sy voorbeeld kan volg en nastreef, kan ons nasie weer so trots staan. Ons kan weer n leier soortegelyk aan Paul Kruger he, alhoewel hy NOOIT regtig oom Paul se skoene sal volstaan nie, glo ek dat Steve Hofmeyr aan ons bekend gemaak is sodat hy ons kan lei na die beste van sy vermoeë. Ek weet baie mense sal my seker nou oor die kole wil haal vir hierdie uitlating, maar dit is waar. Steve het dieselfde passie vir sy land, sy volk en sy taal en ook sy geloof soos wat Paul Kruger gehad het. En ek dink dit is wat ons volk weer nodig het. Dankie oom Paul, dankie wat jy vir ons land en ons Afrikaner volk gedoen het. Ek wens so jy kon nog hier gewees het om ons nog te lei.

kobus ·

Ek sien terloops, Loepold Scholdz verwys na homself in ‘n skrywe op Netwerk24 as ‘n aap, dit is geplaas, maar is Maroela so sensitief, hulle gaan nie eens hiedie kommentaar plaas nie.

Hoe kleinlik wil ons wees!

Sune van Heerden ·

Dagsê Kobus

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word. Wanneer jou kommentaar dus nie dadelik op die webwerf verskyn nie, is dit nie noodwendig afgekeur nie, dis dalk nog net nie goedgekeur nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Koos ·

Mag ons sing, ” My Japie my skapie, ek verlang na jou?” En wat as ons die J weg laat, mag ons dit dan nie sing nie?

charmiane ·

So wonder ek nou die “mense” wat nou Paul Kruger uithaal hoe weet hulle al hierdie geskiedenis? Het van hulle regtig die moeite gedoen om oor die wit boer se geskiedenis te lees? Of het iemand vir hulle vertaal? Nie een van ons wat tans in 2016 asemhaal en leef kan meer terug gaan op ons geskiedenis nie dit word ons nie gegun nie,omdat “hulle” bang is. En al was Kruger en sy manskap hoe wonderlik,hulle het toe al n paar kleintjies by diensmeisies gehad.

Evon VandenBerg Nieman ·

Ek dag President Paul Kruger is op 10 Oktober gebore. Hoekom herdenk hulle sy verjaarsdag in Januarie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.