Jaar na jaar op 10 Oktober bring mense in herinnering die lewe en nalatenskap van president SJP (Paul) Kruger. Nie omdat hy as mens vereer sou wou word nie – daarvoor was hy te nederig. Nie omdat hy vandag vereer word as mens nie, maar doodgewoon omdat sy nalatenskap as leier so geweldig was en daarop gebou kan word. Dit waarvoor hy gestaan het, kan nie gering geskat word nie en is daarom, selfs in 2020, steeds aktueel. As ʼn mens aan Paul Kruger dink dan hoor jy die woorde vryheid en onafhanklikheid, kragtig en rotsvas. Dit is wie hy was en waarvoor hy gestaan het. Onwankelbaar. Daarom is dit juis goed om soms so ʼn bietjie stil te staan en terug te kyk.
Sy begrafnis
Dit was op ʼn Vrydag, 16 Desember 1904, wat die kerkklokke in Pretoria om 06:00 die oggend die boodskap verkondig het dat op hierdie dag oom Paul begrawe sal word. Voor sy huis in Kerkstraat, drie groot letters aangebring: RIV – Rus IN Vrede. Later sou in menige Afrikanerhuise ʼn portret hang met die woorde: “Zijn stof rust in vreden, zijn werken volgen hom na”.
Op daardie dag van sy begrafnis sou dit generaal De Wet wees wat sê: “Sy dade spreek nog, sy dade leef nog, ja, sal eers nou leef vir ons as ons reg wil waardeer wat God ons in hom gegee het”.
Die vraag is: Wat is die werke wat hy vir ons nagelaat het en wat na sy dood nog sou spreek? Wat was die sogenaamde werke van sy hande waaraan ons vandag nog terugdink en vorentoe bou? Wat het hom besonders gemaak? Wat het gemaak dat 15 000 mense daardie dag opdaag vir sy begrafnis en bykans 200 jaar na sy geboorte hy steeds so as model gebruik word vir leierskap en integriteit ten spyte van soveel pogings deur soveel mense om sy nalatenskap te diskrediteer?
Die antwoord op hierdie vrae is nie kort nie. Daar is baie redes. ʼn Mens staan voor die feit dat hy onwrikbaar was in sy geloof, onverskrokke in sy dade en eerlik en vol integriteit in sy wandel. Sy leer en lewe was ʼn getuienis van krag en teenwoordigheid, van betroubaarheid en ʼn karakter wat nie ʼn millimeter terug sou deins van waarvoor hy staan nie. By geleentheid (in die tyd van TF Burgers) was hy bereid om eerder sy amp neer te lê as om een van sy beginsels waarvoor hy staan op te offer.
Dit is juis oor hierdie karaktereienskappe wat Paul Kruger, geken deur nederigheid, besondere toekennings behaal het, naamlik 63 gedenkpennings en medaljes oor ʼn tydperk van 70 jaar. Hy is beslaan met ses Ridder Grootkruis-ordes (Portugal, Nederland, België, Monaco, Pruise en Frankryk). Die leiers van die wêreld het gemaklik erken – hy is een van die grootstes. Vir die mense van sy republiek was hy maar net “Oom Paul”. Die een wat saam getrek het met die Potgieter-trek, wat die Tarka nagelaat het, hy was teenwoordig by Vegkop, geleef in die tyd van die Bloukransmoorde, twee Vryheidsoorloë – in kort, feitlik elke groot gebeurtenis in die geskiedenis van Suid-Afrika tydens sy leeftyd.
Op 14 Julie 1904 sterf hierdie geliefde groot leier wat na homself net verwys het as ʼn skaapwagter. Titels en eer was nie vir hom voorop nie. Vir hom was die beginsels: vryheid en geloof. As ons in 2020 op 10 Oktober so oomblik stilstaan in ʼn deurmekaar en onderstebo wêreld is daar waarskynlik baie sin om so ʼn bietjie te leer uit die lewe van Paul Kruger. Ons kyk terug op seker een van die uitdagendste jare in baie dekades. ʼn Koronakrisis wat vrees by mense inboesem, ʼn grendelstaat wat ons kom lam lê het, politieke onreg en ekonomiese onsekerheid wat om ons is. Vaste sterk samelewingstrukture wat inmekaarstort.
Die lewe van Paul Kruger leer ons om vorentoe te kyk en kragtig te hoop en te werk. Ons bring in herinnering sy dapperheid, sy onverskrokkenheid, sy uithouvermoë. En ons leer dit aan en ons leer dit aan ons kinders.
Ons bring in herinnering sy beslistheid, sy besluitneming, sy hoop en moed. En ons leer dit aan en leer dit aan ons kinders.
Ons bring in herinnering sy liefde vir ʼn eie taal, ʼn eie bestaan, ʼn eie vryheid. En ons leer dit aan en leer dit aan ons kinders.
Ons bring in herinnering sy leierskap. En ons leer dit aan en leer dit aan ons kinders.
Inderdaad is die era van Kruger verby met sy dood. Maar solank as wat sy nasate sy dade in gedagtenis hou en op dieselfde geloof bou en vorentoe dink, is ons nie sonder ʼn toekoms nie. Mag die strewe na vryheid ons nie verlaat nie.
Sommer vir interessantheid ʼn paar bykomende tydlyn-feite:
- 1850 – Hy samel handtekeninge in om beswaar te maak teen die aanstelling van ʼn militêre leier deur die Volksraad.
- 1851 – Hy word veldkornet van sy gebied, ʼn belangrike posisie in die jong Transvaalse Republiek.
- 1851 – Hy is deel van die onderhandelinge om onafhanklikheid van die republieke wyd te erken.
- 1852 – Hy is teenwoordig in die stuit van ʼn ekspedisie teen die Tswana-leier, Sethele. In daardie jaar, Maartmaand, organiseer hy die versoening tussen Pretorius en Potgieter.
- 1854 – Hy neem deel aan die Mankopane- en Mokopane-veldtogte.
- 1855 – Hy help om die Grondwet op te stel vir die republiek.
- 1857 – Paul Kruger dien as adviseur vir die eerste president van die Transvaalse Republiek, MW Pretorius.
- 1858 – Hy oortuig MW Pretorius om die gesag van die Republiek teen Schoeman te handhaaf.
- 1858 (Junie) – Hy besoek die Basoeto-hoof en sluit ʼn vredesooreenkoms.
- 1859 – Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika word gestig en hy is een van die eerste lidmate.
- 1863 – Hy word aangestel as kommandant-generaal.
- 1864 – Hy moet ʼn botsing hanteer tussen Viljoen se landmag en sy staatsmagte.
- 1869 – Hy verslaan Mapela en beding ʼn vredesooreenkoms.
- 1874 – Hy word benoem as ʼn nie-amptelike lid van die uitvoerende raad van die Volksraad.
- 1882 – Kruger wen oortuigend met die eerste verkiesing in 10 jaar.
- 1883 – Hy word aangewys as president en kondig onmiddellik ʼn beleid van onvoorwaardelike Christelikheid aan.
- 1883 – Hy hanteer die finansiële krisis van die ZAR met ʼn konsessiebeleid en hy stel ook ʼn nuwe onderwysbeleid voor.
- 1888 – Hy word herverkies as president.
- 1893 – Hy word ʼn derde keer tot president herverkies.
- 1898 – Paul Kruger word vir die vierde keer tot president herverkies.
As hy net normale stemreg vir die uitlanders gegee het, sou daar geen oorlog gewees het nie – ‘n oorlog waarin 27000 vroue en kinders in konsentrasiekampe dood is. Die meeste uitlanders sou in elk geval vir Piet Joubert gestem het. Transvaal sou onafhanklik gebly het.
Jy verklaar ook nie met skaars 40 000 weerbare mans oorlog teen die grootste empire in die wêreld nie. Vooraf moet jy mos nou weet dit gaan misluk.
As van Riebeeck nie in 1652 geland het nie was jy nie nou hier nie.
As hulle nie by Vegkop die moed en geloof gehad het om n oormag aan te vat nie was hy nie president nie.
As as as…..
Het jy die moed om vandag teen die oormag op te staan met geloof en te doen wat reg is?
Werk die nageslag uit wat daardie 27000 kon gehad het as hulle nie in konsentrasiekampe dood is nie. Ons sou maklik 2 tot 3 miljoen meer mense vandag gewees het
Jaco
Het jy enige bewyse vir die stellings wat jy bo maak?
Of is dit alles duimsuig?
‘As die hemel val sal ons almal blou kepsies dra?’
Mag ons inderdaad wyle President Paul Kruger se advies volg om dít wat goed en mooi is uit ons verlede te soek en ons toekoms daarop te bou. Dankie vir ‘n boeiende artikel oor ‘n onverskrokke man wat nooit moed opgegee het om die beste vir almal in ons gesogte land te beding nie. Kom julle, laat ons planne maak en tot aksie oorgaan waar ander te treurig is of duidelik ander, onderduimse agendas het.
Nou toe, die eerste kommentaar toon die ware teenstelling van die ware Afrikaner, een wat Oom Paul gehoop het ons nie sou wou wees of word nie. In die nuwe papbroek-groep hoor ons: Ja-broers, kom ons gee maar in; kom ons speel maar saam; vergeet van Afrikaans as die regering so sè; wees die minste en buig die knie, sommer al drie, want ek Slapjan dink die Bybel stem saam; as jok in is, dan jok ons; en as daar gered moet word, laat die ander dit doen, ek pas my twee huise op en vir ekke…
Daar is hanskakies en dan is daar ons…
Watter staats man. Kort so n president weer.
Lees Oom Paul se biografie. Beter leesstof as Wilbur Smith. Werklik ‘n GROOT man in alles wat hy gedoen het.
https://maroelamedia.co.za/ongekategoriseerd/paul-kruger/