Kuba: Fidel Castro, einde van ʼn era

fidel-castro-brealtv

Argieffoto: Fidel Castro

Een van die langblywendste leiers van die 20ste eeu, Fidel Castro, is verlede Saterdag in die ouderdom van 90 oorlede. Hy was amper 50 jaar aan bewind, van die gewelddadige magsoorname in 1959 tot sy aftrede in 2008.

Fidel Castro is in 1926 gebore as die buite-egtelike kind van ʼn welvarende grondbaron en ʼn huishulp (met wie Fidel se pa ná sy geboorte getrou het).

Castro het skoolopleiding by ʼn Katolieke skool ontvang, maar dit het geen indruk op hom gemaak nie en hy is later, op universiteit in Havana, waar hy in die regte studeer het, deur kommunistiese denke beïnvloed. Hy het ook deelgeneem aan studentebetogings teen die korrupte destydse bewind. Hoewel Castro met ʼn vrou uit die elite getrou het en probeer het om met ʼn regspraktyk ʼn goeie bestaan te voer, was hy in wese ʼn politieke aktivis en het al meer betrokke geraak by kommunisme.

Hy het ondergronds te werk begin gaan en ʼn beweging gevorm met die doel om die regsgesinde bewind van die diktator Fulgencio Batista gewelddadig omver te werp. Sy eerste poging in 1953 het misluk en hy is veroordeel en toegesluit, maar reeds twee jaar later is hy weer vrygelaat as deel van ʼn algemene amnestie. Castro het intussen van sy vrou geskei en heeltemal op die kommunistiese revolusie gefokus. Hy het na Meksiko uitgewyk en daar saam met Che Guevara en ander die omverwerping van Batista beplan, wat in 1959 ná ʼn lang uitgerekte stryd geslaag het.

Castro se magsoorname word gereken as klassieke revolusionêre oorlogsvoering, en die toeval was verskeie kere aan sy kant. Sy geheime vaart met ander mede-revolusionêre op die nou legendariese motorjag “Granma” (“Ouma”) van Meksiko na Kuba, waar hy die leiding oor die verflenterde guerrillamagte in die Sierre Maestra-bergreeks oorgeneem, hulle tot ʼn gedissiplineerde strydmag omvorm en tot ʼn oorwinning oor die troepe van die VSA-gesteunde diktator Fulgencio Batista gelei het, lees vandag soos fantastiese fiksie uit ʼn ander era. Castro was egter ʼn genadelose oorwinnaar en het talle Batista-aanhangers tereggestel en opgesluit, vele ander moes na die VSA vlug.

Hy het onverpoos voortgegaan om Kuba volgens die kommunistiese lees te omvorm: nasionalisering van die ekonomie en verandering van vrye mark na ʼn plan-ekonomie, onteiening en opheffing van persoonlike grondbesit, verbod op enige politieke party behalwe die kommunistiese een en beheer van elke aspek van die samelewing. Euwels van die vorige bewind, soos korrupsie, misdaad en prostitusie, is tydelik uitgeroei (maar veral korrupsie en prostitusie vier vandag weer hoogty in Kuba).

Toe in 1961 ʼn aanval van uitgewekene, anti-kommunistiese Kubane vanaf die VSA (en met logistieke steun deur die VSA), die sogenaamde Varkbaai-inval, afgeweer kon word, was Castro se posisie nasionaal en internasionaal sterk gevestig. Die mislukte Varkbaai-inval is nes die vaart met die “Granma” deel van Kuba se revolusionêre mitologie.

Dit was nie vir Castro genoeg om sy eie land totaal te omvorm volgens ortodokse kommunisme nie, hy wou ook meedoen aan die wêreldrevolusie. Castro was ʼn gedugte teenstander van die VSA, ʼn belangrike eksponent van internasionale kommunisme en ʼn getroue bondgenoot van die Sowjetunie. As enigste volwaardige kommunistiese land in die westelike hemisfeer was Kuba van onskatbare waarde vir die kommunistiese blok tydens die Koue Oorlog.

In 1962 het Castro amper ʼn wêreldoorlog ontketen, toe hy Russiese kernwapens op Kuba wou laat stasioneer, in die VSA se agterplaas. Die Amerikaanse president John F Kennedy het egter ʼn spreekwoordelike streep in die sand getrek en die skema is laat vaar. Daarna het Castro hom in die 1960’s en 1970’s veral op die verspreiding van kommunisme in die Derde (oftewel Ontwikkelende) Wêreld, spesifiek in Afrika, toegespits. Angola het sy basis geword, nadat daar in 1975 ʼn kommunistiese regering aan bewind gekom het, van waar hy Suidwes-Afrika (nou Namibië) en uiteindelik Suid-Afrika wou oorneem en daar was ook pogings om Kongo deur kommunistiese guerrillas oor te neem. Dit is ook in daardie tyd waar die noue bande tussen Kuba en die ANC gevorm is, wat maak dat Suid-Afrika Kuba vandag nog op talle maniere ondersteun.

Die hervormings van Mikhail Gorbatsjof in die Sowjetunie in die laat 1980’s en die afskaf van kommunisme in die hele Oos-Europa het Kuba onkant betrap. Sonder die ondersteuning van die Oosbloklande sou Kuba lankal onder die ekonomiese druk van die VSA geswig het, en toe die internasionale kommunistiese steun weggeval het, het Kuba bitter swaar gekry. Uithouvermoë, die onderdrukking van enige opposisie, ook in eie geledere, en terugval op eie hulpbronne, asook nuwe buitelandse vriende soos Venezuela, Sjina en Suid-Afrika, het gesorg dat Kubaanse kommunisme in die era ná die Koue Oorlog kon oorleef. Saam met Noord-Korea is Kuba die enigste land waar kommunisme nog feitlik onveranderd voortduur. Toe Fidel Castro in 2008 uitgetree het en die mag aan sy jonger broer Raoul oorhandig het, het die nuwe leier ʼn paar klein toegewings op ekonomiese terrein gemaak, sonder om die wese van die kommunistiese bewind enigsins aan te tas.

By alle respek vir sy leierskap-eienskappe en sy langdurigheid moet egter nie vergeet word nie dat Fidel Castro ʼn genadelose diktator was, sy land ekonomies geruïneer het en tot die laaste oomblik aan ʼn uitgediende ideologie vasgeklou het, toe feitlik alle ander voormalige kommunistiese lande tot almal se voordeel polities en ekonomies hervorm het. Ook die onderdrukking van Christene en van enigiemand wat nie die ortodokse kommunistiese partylinie wou volg nie, en die opsluiting, selfs martelings en teregstellings van teenstanders moenie vergeet word nie.

Dit is gevaarlik om die beeld van Kuba as gasvrye, sonnige en pragtige land met mooi, vriendelike en vrolike mense, wat deesdae miljoene toeriste trek met sy strande, musiek, ou geboue en so meer (en prostitusie) op gesigwaarde te vat en te vergeet watter prys die Kubane moet betaal vir die obsessie van die Castro-familie met ortodokse kommunisme asook hulle eie magsbehoud.

Castro se dood sluit ʼn era af, maar omdat hy reeds geruime tyd nie meer polities aktief was nie, afgesien van ʼn onderhoud of koerantartikel so nou en dan, behoort dit min invloed op die land se politiek te hê. Eers wanneer sy broer Raoul sterf, sal daar waarskynlik politieke skommelinge kom wat die huidige stelsel drasties kan verander.

  • Die skrywer het Kuba in 2013 besoek en sy ervarings beskryf in die boek Wierook en Sigare wat by Kraal Uitgewers te koop is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Nico ·

Raoul se vise-president is radikaal kommunisties en hy is jonk. Gaan nog dekades van kommunisme in Kuba hê.

Lance ·

Klink of eff van sy beginsels wil volg …nasionaliseer en goed vat wat hulle nie voor gewerk het nie ….en kyk net hoe vooruitstrewend is cuba vandag …hehe dis n groot gemors !

Johanna Botha ·

Sien op tv die anc wil in Gauteng en die Kaap Fitale Gastro se lewe of sy beginsels gedenk ….kan mens dit glo ….

Herman G ·

Ek hoop Maroela het ‘n verdere artikel oor Castro en die Grensoorlog, veral die laaste fase waar hy sy troepe tot teen aan die SWA grens gestuur het. Volgens party waarnemers (nie net linkses nie) het hy die generaals van die SAW soms met ‘n slap riem gevang. Sal regtig meer hiervan wil hoor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.