Kuba kry nuwe leier, ’n einde van die Castro-era

Miguel-Diaz-Canel

Die 58-jarige Miguel Diaz-Canel, tans die president van Kuba, behoort aan ’n heel ander generasie en was nog nie eens gebore tydens Kuba se kommunistiese revolusie van 1959 nie. Foto: Fotospresidencia_sv/Flickr.com

Raúl Castro, Kuba se president sedert 2006 en opvolger van sy legendariese broer Fidel (wat in 2016 oorlede is), tree op 86-jarige ouderdom uit sy pos. Sy eerste visepresident Miguel Diaz-Canel neem by hom oor. Die bekragtiging deur die kongres was ’n blote formaliteit. Die 58-jarige Diaz-Canel behoort aan ’n heel ander generasie en was nog nie eens gebore tydens Kuba se kommunistiese revolusie van 1959 nie. Castro bly egter nog tot 2022 leier van die Kommunistiese Party en daarmee saam invloedryk. Hy sal té ambisieuse skuiwe van Diaz-Canel, wat in stryd met die kommunistiese ideologie is, kan dwarsboom.

Kuba het ook onlangs ʼn verkiesing vir die kongres (parlement) gehou, alhoewel ’n verkiesing in ’n kommunistiese eenpartystaat net ’n ritueel is met min praktiese betekenis. Die mag is in elk geval nie gesetel in die parlement nie, maar in die politburo en die staatsraad. Alle lede van die kongres is kommuniste, alhoewel daar natuurlik effense kosmetiese verskille tussen die afgevaardigdes bestaan en die nuwe kongres meer jonger lede het, maar wat op sigself nog nie veel beteken nie.

Uiterlik is die presidentskap van Diaz-Canel ’n groot verandering: ’n nuwe president wat nie Castro heet nie en deel van ’n jonger generasie is wat nie die revolusie meegemaak het nie. Van Diaz-Canel word daarom baie verwag. Die opgewondenheid kan dalk voortydig wees. Diaz-Canel het nie aangetree as ’n hervormer nie. In ’n stelsel waar Castro en sy ou (in meer as een opsig) vertrouelinge baie versigtig ’n opvolger uitgesoek het, word daar seker gemaak dat die nuwe leier in sy spore trap en nie die boot skud nie.

Mnr. Diaz-Canel, ʼn opgeleide elektroniese ingenieur, het die afgelope 30 jaar geleidelik die leer van die kommunistiese party geklim en van jeugleier na provinsiale leier na lid van die staatsraad tot visepresident gevorder. Die media probeer uit anekdotiese getuienis afleidings maak oor sy politiek, soos dat hy eerder met sy fiets as met ʼn ampsmotor rondry of soos ʼn gewone kieser in die ry staan en (anders as die ouer garde) gemaklik is met ʼn skootrekenaar. Maar iemand wat meer modern en plat op die aarde is, is egter nog nie ʼn hervormer nie. Ook Raúl Castro was teenoor sy dogmatiese broer ʼn versigtige hervormer, wat klein toegewings gemaak het sodat mense op die laagste vlak meer ekonomiese geleenthede het. Dit sluit, onder meer,  private voedselverbouing, plaaslike markte en private verhuring van gastekamers in. Die ekonomie bly egter onder staatsbeheer, soos elke aspek van die samelewing.

Indien die Oos-Asiatiese model, wat kommunistiese lande soos China en Viëtnam suksesvol bedryf deur die ekonomie te privatiseer, maar streng beheer oor die politiek te hou, vir Kuba aantreklik was, sou hulle dit al gevolg het. Kuba, anders as China, is baie kwesbaar in die globale mark omdat Kuba feitlik op geen terrein kan kompeteer nie, veral nie met sy magtige buurland Amerika wat die streek oorheers nie. Diaz-Canel moet dalk nog versigtiger hervorm as Raúl Castro, want sy status is nie so onaantasbaar soos Castro s’n nie. Niemand het Castro se verbintenis tot sosialisme en die revolusie bevraagteken nie, en sy versigtige hervormings is gesien as stappe om sosialisme te laat voortbestaan. Ook Diaz-Canel het bevestig dat hy onomwonde verbind bly tot die land se politieke ideologie.

As nuwe leier moet hy baie versigtig trap. Hy moet iets doen om die mense se ekonomiese behoeftes te bevredig en staatsbankrotskap af te wend, maar hy kan nie die behoudende magte, soos die ou garde en die weermag, daarby onrustig maak nie. Dit moet ook in gedagte gehou word dat die kommunistiese elite talle konsessies het en daarby baat dat die ekonomie onder staatsbeheer is. ʼn Vrye mark sal hulle verskansde posisie wegspoel. ʼn Struikelblok vir ekonomiese ontwikkeling is ook die stelsel van twee geldeenhede binne Kuba en die ooglopende tweeklassestelsel wat daardeur geskep word. Toeriste en almal wat met toerisme en die internasionale handel te doen het, betaal in omsetbare peso’s, gelykstaande aan die Amerikaanse dollar en dus deur almal gesoek word. Die gewone Kubane word almal in Kubaanse peso’s betaal, wat feitlik niks werd is nie. Alle ingevoerde produkte en dienste wat verder strek as die basiese benodigdhede, word in omsetbare peso’s betaal, want die wisselkoers is baie ongunstig vir die Kubaanse peso’s. Dit beteken dat mense nie eintlik kan oorleef sonder om op allerhande, meesal onwettige maniere, omsetbare peso’s in die hande te kry nie. Dit geskied veral deur handel met toeriste en beteken byvoorbeeld dat vroue hul liggaam verkoop of dat gesteelde produkte soos sigare vir die uitvoermark op die swartmark verkwansel word.

Diaz-Canel moet ook tot ʼn verstandhouding kom met president Trump van Amerika. Die Castros was aartsvyande van die VSA, maar president Obama het uitgereik na Raúl Castro en was op pad om die dekade oue sanksies teen Kuba op te hef. President Trump is meer vyandig teenoor Kuba en die versigtige ontspanning tussen die twee lande is vir eers uitgestel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ja wohl ·

UITEINDELIK, soos MUGABE na soveel jare van verwoesting weg is is CASTRO ook na soveel jare van verwoesting uiteindelik uit die kussings gelig. Hoop dit gaan nou beter daar. Hoop kommunisme word oral verslaan, alhoewel SA dink dit is ‘n nuwe gier wat kan werk.

Robert ·

MM: sekerlik moet die jaar 2022 wees (tot wanneer Raul leier gaan bly) en nie 2012

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Robert

Dankie, die fout is nou in die meningstuk reggestel.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Marthinus Willemse ·

Ek is in `n mate bly oor Trump se houding teenoor Kuba.
Nadat Obama die historiese besluit oor Kuba geneem het, het Fareed Zakaria van CNN `n onderhoud met Richard Haass gehad. (GPS, 21 Desember 2014) Haass is president van die Council on Foreign Relations (CFR), en ek is een van daardie persone wat glo dat die CFR eintlik Amerika se buitelandse beleid bepaal en vorm. Trump het juis genoem dat alle presidentskandidate agt maande voor die 2016 verkiesing deur die CFR ingeroep is en verduidelik is oor presies wat Amerika se buitelandse beleid is/sal wees.

In Haass se onderhoud met Zakaria spog hy dat die tegniek met Kuba tans die “Trojaanse perd”-model is, waardeur hulle Kuba “op `n trajeksie van húlle keuse” wil plaas, en as dit nie werk nie, “is daar nog altyd die sanksies”. Die skrikwekkendste aspek van hierdie Amerikaners, en hul inmenging in ander lande se sake, is dat hulle openlik, selfs spoggerig, daaroor is. Daar is geen skaamte nie. Morele korrupsie in aksie.

Entoesias ·

Ek sou graag die 1950’s motors in Kuba wou sien, ‘n lewendige museum. Daar moet ‘n vaardigheid wees wat respek afdwing om dit aan die gang te hou.

Gerhard ·

Komunisme hou dit aan die gang. Dit hou ook die armoede daar aan die gang. Hoe gouer die Amerikaners die regering daar tot ‘n val bring hoe beter. Dan sal dinge beter gaan.

Haan ·

Sjoeh Gerhard. Mag jy nooit n uitvoerende politieke amp beklee nie.

Gerhard ·

Beste Haan. Kuba sal beter af wees as dit gebeur. Enige regdenkende mens besef dit. Om ‘n euwel soos komunisme in ‘n land tot ‘n einde te bring is nie ‘n onreg wat plaasvind nie.

nico k ·

Ek wil graag vir Marthinus wat die Amerikaners so kritiseer vra: Sal jy in Kuba gaan bly? Dink jy die mense daar geniet dit om so arm te wees? Hoekom immigreer jy nie liewer soontoe nie.

Marthinus Willemse ·

Nico, Amerika is besig om in duie te stort. As jy CNN en DStv kyk sal jy dit miskien nie weet nie, maar die werklikheid lyk so: Elke aand, in New York, slaap 60 000 mans, vroue en kinders, wit, swart, pienk, op sypaadjies. Brue tuimel in, treine ontspoor weens gebrek aan instandhouding, Chicago is `n spookdorp, malls staan toegegroei onder die bossies en gras, daar is betogings, armes betaal meer belasting as superrykes, `n vrou wat $2,60 aan `n bank geskuld het se huis is teruggevat. En in Sirië onlangs is meer as $100 miljoen bestee aan missiele. [Alles hierbo is op die internet beskikbaar, maar nie by CNN, MSNBC, Bloomberg, nie.]

En nou wil hulle die Kubane tot slawe van hulle morele korrupte omgewing maak.

Ek ken van armoede. Ek het al kos uit `n asblik uitgehaal en geëet, en vir nege jaar in `n motorhuis gebly. Al hoekom ek nou op die internet is, is omdat my broer in Oktober oorlede is, en ek `n ou rekenaar en `n ou USB-modem geërf het, sodat ek ook die nuus kan lees. Jy sal verbaas wees om te weet dat ons armes nie begeertes het om ryk te wees nie; net om in liefde met mekaar, met net genoeg kos om liggaam en siel aanmekaar te hou, te leef. En voor jy sê dat ons geen ambisie het nie: ons leef nou soos Jesus geleef het. Die gierigheid en gespoggery is deur armoede uitgewerk.

Gerhard ·

Marthinus Willemse. Ek dink jy lees die verkeerde “nuus”. As daar 60 duisend mense in NY se straat woon is dit omdat hulle 1. nie wil werk nie, 2. nie wil leer nie, 3. heel moontlik onwettig in die land is. Die VSA is op kapitalisme gebou, jy kry nie ‘n gratis saamry geleentheid nie. Verder is daar Rusland waar 15% van mense onder die broodlyn leef maar hulle regering het geld om in Sirie en Oekraïne te gaan oorlog maak om hulself en diktators te verryk.

Marthinus Willemse ·

Gerhard, my suster het DStv, en ek hou daarvan om die Nederlandstalige Vlaamse nuus, Het Journaal, te kyk. Baie van die dinge wat ek hierbo noem, soos die 60 000 mense, is deur hulle joernalis in die VSA in `n insetsel gewys. En nee, dit is nie onwettige immigrante en lui mense nie. Party het grade, maar kry nie werk nie, want Amerikaanse maatskappye “outsource” take na lande waar die produkte goedkoper gemaak kan word, soos bv China. Dit is waarom Donald Trump vandag president is. Die verarmdes het vir hom gestem, want hy het belowe om werksgeleenthede weer terug te bring.

In 2014 het Princeton Universiteit `n verslag bekend gestel, waarin gesê word dat Amerika lankal nie meer `n demokrasie/kapitalistiese land is nie; dit is nou `n oligargie. Regering deur die rykes, vir die rykes, slegs tot voordeel van die rykes.

Oor die Oekraïne: Obama het op Vox erken dat hy `n staatsgreep in Kiëf op 21 Februarie 2014 “gefasiliteer” het. (Victoria Nuland het aan Christaine Amanpour op CNN erken dit het hulle $5 biljoen gekos.) En toe stuur hy 300 lede van die 173rd Airborne Brigade in; dieselfde eenheid wat die Vietnamoorlog moes begin. Maar Rusland het nie gebyt aan die oorlogsaas nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.