Kubaanse ingenieurs: Dit gaan oor meer as water en sanitasie

Deur Paul Maritz

Kubaanse gesondheidswerkers kom in April 2020 in Suid-Afrika aan. (Foto: GCIS)

Die nuus dat ’n groep Kubaanse ingenieurs twee weke gelede in Suid-Afrika aangekom het, het heelparty plaaslike mense dwars in die krop gesteek. Vir sommige is dit vreemd dat internasionale ingenieurs ingevoer word terwyl plaaslike siviele ingenieurs in groot getalle sonder voldoende werk sit – trouens, kenners meen dat ten minste 2 000 gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse ingenieurs tans werkloos is.

Ander vind dit effens komies dat ’n land waar die waterwese inmekaarstort en waar beurtwater ’n werklikheid is, genader word vir hulp. (Sodanige beurtwater behels dat sommige mense vir slegs twee uur per dag lopende water het). Daar is dan selfs nog hulle wat wonder hoe ’n regering wat skaars die rente op sy skuld kan diens, met soveel gemak R65 miljoen te voorskyn kan bring. Vir elke vraag wat gevra word, is daar vyf antwoorde uit die geledere van die departement van water en sanitasie, en al vyf weerspreek mekaar. Einde ten laaste is daar wel aan feite ’n merkbare tekort. Hierdie toedrag van sake het ’n dieper ontleding genoodsaak.

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die uitvoer van sogenaamde spesialiste deur die kommunistiese bewind in Kuba nie ’n nuwe verskynsel is nie, en ook nie beperk is tot Suid-Afrika nie (Later meer oor “sogenaamde spesialiste”). Veral in Venezuela en Brasilië is soortgelyke programme alledaags, met berigte wat aantoon dat die grootste hoeveelheid geld wat hierdie regerings vir die dienste van hierdie spesialiste betaal, inderdaad na die Kubaanse regering gaan, met die dokter of ingenieur wat uiteindelik ’n skamele bedrag van die geld sien.

Die BBC het in 2018 berig dat opgeleide dokters in Kuba selfs so min as $15 per maand gekry het in 2011. ‘n Ander bron het beweer dat ’n kardiovaskulêre spesialis, Roberto Mejides, maar $40 per maand vergoeding ontvang het terwyl hy in 2017 in Kuba werksaam was. Die teenargument is natuurlik dat hierdie geld maar net ’n bonus was, en dat al sy behoeftes reeds aan voorsien is, maar dit ontken die lae lewenstandaard van hoogs geleerdes in Kuba, en verromantiseer kommunisme onverpoosd. Mejides het tydens ’n “internasionale missie” na Meksiko heelwat meer verdien. In sy eerste jaar het hy $125 per maand verdien, in die tweede jaar $250 per maand. Teen die derde jaar van so ’n missie kry dokters $325 per maand. Hul families wat in Kuba agterbly, kry ook ’n bonus van $50 per maand (teen die huidige wisselkoers is $325 per maand R4 623,42 per maand). Jong dokters wat pas begin, se totale pakket is meer as R50 000 per maand werd, wat aandui dat lande ’n winskoop losslaan. Alhoewel die gasheerland verantwoordelik is vir die spesialis se behuising, vervoer, voeding, en dikwels selfs taallesse is, vereis die Kubaanse regering baie meer van die gasheerland as net die spesialis se salaris.

Die Time-tydskrif berig dat Kuba in 2018 omtrent $3 600 per maand per dokter ontvang het. Die dokter ontvang dus selfs in hul derde jaar minder as 10% van die inkomste wat hy of sy in Kuba se koffers inbring. Daar is ook regulasies ingestel wat swanger dokters verplig om huis toe te gaan, ten einde te voorkom dat kinders ander burgerskap kry as dié van hul ouers. Hierdie industrie bring, volgens Time, ongeveer $11 miljard na die Kubaanse koffers per jaar. In 2018 was daar ongeveer 50 000 Kubaanse dokters in 67 lande gestasioneer; ’n ander bron praat van 25 000 dokters en 30 000 verpleegsters.

Dit is merkbaar dat veral sosialistiese regerings gebruik maak van hierdie model, en dat regerings wat sosialisme verlaat, geneig is om ooreenkomste met Kuba te los. Op 30 November 2018 is “honderde” Kubaanse dokters deur Brasilië se president, Jair Bolsonaro, na Kuba teruggestuur. In daardie stadium was daar, volgens berigte, ongeveer 8 300 Kubaanse dokters in Brasilië.

Wat so ironies aan hierdie hele stelsel is, is dat Karl Marx juis die idee van kommunisme ontwikkel het omdat arbeiders volgens hom misbruik is. Mens wonder wat Marx sou maak van Kuba se huidige optrede, ’n direkte geesteskind van hom en sy vriend Friedrich Engels se Kommunistiese Manifes van 1848.

Hoe het hierdie Kubaanse “huurspesialis”-program dan tot stand gekom?

Die Kubaanse rewolusie het van 1953 tot 1959 geduur, en teen die einde daarvan was Fidel Castro aan die stuur van ’n kommunistiese Kuba. Mediese wetenskappe was ’n kernbestanddeel tot Castro se regering van Kuba, juis omdat die sosialistiese diktator, soos baie sosialiste ná hom, gratis mediese dienste wou lewer. Hy het wel dadelik besef dat daar nie iets is soos gratis mediese dienste vir almal nie, iemand moet altyd daarvoor betaal. Omdat niemand in Kuba meer daarvoor kon betaal nie, moes ’n ander plan beraam word. Die oorskot dokters het ’n geleentheid tot inkomste gebied, en is reeds in 1962 as diplomatieke en finansiële instrument aangewend.

Nadat Algerië in 1962 onafhanklikheid van Frankryk verkry het, was daar ’n skielike tekort aan mediese personeel. In 1963 daag 56 Kubaanse dokters in Algerië op, gereed om die dokters wat terug is Frankryk toe, te vervang. Met ’n bevolking van 11,2 miljoen en 90 000 dokters, spog Kuba met die hoogste per kapita-hoeveelheid dokters ter wêreld – dit klink wel indrukwekkend, maar die reputasie van hierdie geleerdes se opleiding word histories heel dikwels in twyfel getrek. Alhoewel die ANC se hooggeplaastes dikwels na Kuba gaan vir behandeling, behoort dit eerder op die gehalte van ons staatshospitale sleg te reflekteer, as wat dit misverstaan word as bewys van wêreldklas mediese dienste in Kuba.

Die program van goedkoop Kubaanse spesialiste is dus nie nuut nie, alhoewel spesialiste dalk eerder tussen aanhalingstekens geskryf moet word. Armer lande hoef dikwels nie te betaal vir die dokters nie, maar ontvang dit as teken van politieke welwillendheid van Kuba af – dit is dus ’n wyse om diplomatieke bande te versterk.

Kuba is, soos reeds genoem, veral bekend vir hierdie tipe verhouding met links-leunende lande. Ná Venezuela se sosialistiese rewolusie in 1998 is ’n verhouding begin waar Venezuela olie en kontant aan Kuba verskaf, en Kuba dokters en ander hoogs opgeleide persone na Venezuela stuur. Ten opsigte van ingenieurs kom dit voor asof dit aansienlik minder gewild is in Brasilië en Venezuela, maar dit is nie die eerste keer dat dit in Suid-Afrika gebeur nie.

In 2015 het Ace Magashule, destydse premier van die Vrystaat, 37 ingenieurs uit Kuba na Suid-Afrika laat kom onder sy Cuban Technical Advisers-program, wat die belastingbetaler uiteindelik meer as R80 miljoen gekos het.

Ook in daardie geval is die kwalifikasies van die meerderheid Kubaanse ingenieurs van die begin af nie aanvaar deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika nie. In 2019 het die DA aangevoer dat geen arbeid aangetoon kan word as die vrug van hierdie ooreenkoms nie. Munisipaliteite het ongeveer R600 000 per jaar, asook verblyf, behuising, vervoer en sekuriteit betaal vir die dienste van hierdie ingenieurs. Soos minister Lindiwe Sisulu dit tans ook doen, is daar nie na hierdie ingenieurs verwys as ingenieurs nie, maar eerder as tegniese adviseurs, met verskeie Kubane wat by die DA gekla het daar nie veel werk vir hulle was nie. Die Kubaanse ingenieurs het ook, volgens ’n onlangse berig, in Suid-Afrikaanse media slegs R8 000 per maand ontvang, nadat R50 000 aan hulle beloof is. Die meerderheid van die geld is dus, soos in die geval van die mediese programme, na die Kubaanse regering gestuur.

Ten opsigte van die huidige krisis is daar ook ’n duidelike slang in die gras, met die president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Raadgewende Ingenieurs (Savri) wat gesê het dat daar nog 40% kapasiteit in die Suid-Afrikaanse ingenieursmag is. ’n Tekort is daar dus nie. Solidariteit kon dadelik met 132 spesialiste se name vorendag kom wat die werk van hierdie 24 kon doen, wat die bestaande kapasiteit onderskryf – hierdie lys word ook by die dag langer, namate meer mense na vore tree.

Die gevolgtrekkings tot dusver is voor die hand liggend: Kuba ondersteun sy sosialisme deur middel van ’n uitverhuring van spesialiste, wat teen ’n fraksie van hul waarde vergoed word. Hierdie spesialiste dien sekerlik op baie plekke ’n doel, maar in die geval van Suid-Afrika en ingenieurs is hierdie doel op etlike punte erg vertroebel. As dit dan duidelik voorkom asof hierdie ingenieurs se poste deur plaaslike persone gevul kon word, en dat min tot geen moeite gedoen is om plaaslike spesialiste te plaas nie, dan moet die vraag gevra word: Waarom?

Waarom is dit vir die Suid-Afrikaanse regering so belangrik om spesialiste, en dan spesifiek Kubaanse spesialiste, ten alle koste aan te stel?

Die geskiedenis van die ANC en Kuba moet oorweeg word. As waardevolle bondgenoot van die MPLA, die party tans aan bewind in Angola, het Kubaanse soldate ’n rol gespeel in die stryd van Cuito Cuanavale in 1988 wat, volgens minister Maite Nkoana-Mashabane (wat tussen 2009 en 2018 minister van internasionale betrekkinge en samewerking was), die pad na onafhanklikheid vir Namibië gebaan het.

Kubaanse gesondheidswerkers kom in April 2020 in Suid-Afrika aan. (Foto: GCIS)

Geleerde historici sal van haar lees van die feite verskil, maar nietemin is die punt dat die ANC Kuba dus as bondgenoot in die stryd teen apartheid beskou. Kuba was een van die eerste lande wat genormaliseerde bande met Suid-Afrika gesluit het ná die 1994- demokratiese verkiesing, met normale diplomatieke bande wat reeds op 11 Mei 1994 daargestel is. Minister Nkoana-Mashabane gaan wel verder, en stel op 8 Desember 2016 dat Kuba die ruggraat van Suid-Afrika se bevryding was “ondanks sy eie uitdagings”. Pieter-Louis Myburgh se Gangster State van 2019, ’n boek oor die vermeende misdaadnetwerk van Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, word daar verskeie uitstappies gemeld wat Magashule en sy trawante na Kuba geneem het, feitlik altyd op Jan Taks se rekening, en dikwels vir “politieke opleiding”.

Die band tussen die ANC en Kuba was dus nog nooit neutraal nie. Suid-Afrika het sedert 1994 in die meeste gevalle ten gunste van Kuba gestem by die Verenigde Nasies, vernaamlik op die kwessie van ekonomiese sanksies deur die VSA. Presidente Mandela, Mbeki en Zuma het sedert 1994 ook almal toesprake en huldeblyke aan Kuba en sy regeerders uitgedeel asof dit basaarpoeding is. Al hierdie toesprake is aanlyn beskikbaar. Ook die huidige skandaal word reeds uit ANC-geledere verdedig en geprys. Die toespraak van ’n bejaarde ingenieur, Ramón B Vega Laugart, wat deel van hierdie groep uitmaak, het verlede week oor sosiale media versprei – duidelik as teenvoeter vir die vrae oor die waarde wat hierdie ingenieurs toevoeg. Laugart het dalk baie jare se ervaring, maar het hy meer ervaring as die kombinasie van ingenieurs wat nie vir hierdie take gekies is nie? Sekerlik nie.

Die gevolgtrekking kan eenvoudig maar net wees dat sosialistiese bondgenote bymekaarstaan in die naam van rewolusie, en dat ons ’n deel van Kuba se huidige ekonomiese las moet dra. Die gevolgtrekking kan verder wees dat hooggeplaaste ANC-lede hierdie verhouding in stand hou omdat daar vir hulle persoonlike voordele betrokke is, alhoewel dit eers ná ’n halwe eeu van hofprosedures bewys sal kan word.

Miskien is dit alles maar net so eenvoudig soos dit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7
Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

7 Kommentators

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
David

Hierdie ingenieurs moet ons seker kom leer hoe beurtwater werk…

Michael

Kuba het vir die ANC gehelp, Nou wil hulle geld sien. Dit is eenvoudig so.
Die ANC het teen die uitbuiting deur die wit man geveg. Noudat dit Kubane is wat deut hulle regiering uitgebuit word swyg hulle. En dan kom nog al die mense tussen in wat geld in hulle eie sak laat verdwyn. Ek hoop maar net dat Solidariteit dit openlik maak as hull dan met Lindiwe Sisulu gaan praat.

Karel

Slegs onder een voorwaarde sal ek werk vir die regering doen. Eers ten volle betaal, dan werk.

Marius

Paul ek dink hierdie mensehandel is deel van iets baie groter. Daar vloei die laaste tyd net heeltemal te veel geld Kuba toe. Die werkers kry peanuts maar waar haan die groot geld? Na die sukkelende Kubaanse ekonomie of terug na die sukkelende ANC/SAKP? Forensiese ondersoeke is hier nodig oor vloei van geld en oor waarde van hierdie moderne slawe-arbeid.

Smiley

In Bloemfontein pronk Fidel in al sy glorie voor die eens pragtige CR Swart gebou. Die gebou is ook herdoop as die Fidel Castro gebou.