Kuberoorlogvoering en kernwapens: ʼn Gevaarlike kombinasie

Argieffoto: Pixabay

Hoe raak kuberoorlogvoering die waarskynlikheid van kernoorlog? Soos met elke ander tegnologiese ontwikkeling, het die ontwikkeling van kubertegnologie beide voordele en nadele teweeggebring.

Enersyds, die mens het oombliklik en sonder veel inspanning toegang tot ʼn wye verskeidenheid dienste (dink aan die bankwese, aanlyn inkopies en dies meer); andersyds, kubertegnologie verskaf net nog ʼn ruimte (bykomend tot dié van die fisiese) waarin (kuber)misdadigers kan floreer.

Kubermisdaad is aan die orde van die dag. Rekenaars met toegang tot die internet word elke 39 sekondes deur ʼn kuberkraker aangeval, ʼn feit wat ʼn daadwerklike uitwerking op die besteding van state en maatskappye tot gevolg het. Na beraming sal daar teen 2021 wêreldwyd meer as $6 biljoen (“trillion”) aan kuberveiligheid bestee word.

Bykomend maak terreurgroepe dikwels, en sonder veel inspanning, gebruik van die kuberruimte om hul propaganda te versprei. State, op hul beurt, gebruik dikwels kuberaanvalle of -wapens om ʼn spesifieke uitkomste in ʼn ander staat teweeg te bring. Hier kan ons wys op die beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse presidensiële verkiesing van 2016 of, selfs meer ernstig, die gebruik van kuberwapens deur die Verenigde State van Amerika (VSA) en Israel in ʼn poging om die ontluikende Irannese kernwapenprogram te saboteer.

Die kuberruimte en, by implikasie, kuberoorlogvoering bied ook bepaalde (én gevaarlike) uitdagings vir pogings om kernoorlog te vermy. Kuberoorlogvoering, meen sommige kerndeskundiges, skep gevaarlike gronde vir eskalasie tussen kernwapenstate (hierna: kernstate).

Op welke manier verhoog kuberoorlogvoering die waarskynlikheid van kernoorlog? Die sukses van ʼn strategie van kernafskrikking berus op die verwesenliking van drie vereistes: een, kernstate se tweede slaanmagte moet onkwesbaar wees; twee, kernstate se tweede slaanmagte moet van vroeë afvuring in reaksie op moontlike valse waarskuwingseine ontkoppel word; en drie, kernwapenfasiliteite (spesifiek: bevel-, beheer- en kommunikasiefasiliteite) moet goed onderhou word en onkwesbaar wees vir per abuise afvuring en vyandige penetrasie.

Dit word toenemend moeilik om laasgenoemde vereiste te verwesenlik, veral in die lig van die ontwikkeling van kuberwapens. Elke kernmag, skryf Michael Klare, bestaan hoofsaaklik uit vier komponente: kernwapens, vroeëwaarskuwingradars, lanseringsfasiliteite, en die amptenare (gewoonlik presidente of eerste ministers) wie verantwoordelik is om die besluit oor die gebruik van kernwapens te bekragtig al dan nie.

Hier is die probleem: elk van dié komponente word deur uitgebreide kommunikasienetwerke en dataverwerkingsisteme verbind, beide afhanklik van die kuberruimte. Vroeëwaarskuwingstelsels monitor en analiseer die moontlike lansering van missiele deur ʼn vyandige kernstaat. Hierna word data oor werklike bedreigings spoedig aan besluitnemers gekommunikeer, wie dan besin oor ʼn moontlike reaksie al dan nie. Die besluit om kernwapens te lanseer word gevolglik aan lanseringfasiliteite gekommunikeer, wat op hul beurt aanvalsvektore aan wapensisteme verskaf. Elk van dié skakels in die kernsiklus vind plaas in die kuberruimte, en dit is juis hiér waar kernstate poog om swakpunte uit te buit.

Kernwapenfasiliteite is derhalwe uiters afhanklik van die kuberruimte. Hoewel state daadwerklike pogings aanwend om kernwapenfasiliteite teen kuberaanvalle te beskerm, kan géén onderneming wat só afhanklik van rekenaars en die kuberruimte is geheel en al onkwesbaar vir aanvalle gemaak word nie. Hoekom nie? Sodanige fasiliteite gebruik veelvoudige toestelle en uiteenlopende sagteware (wat natuurlik gereeld opgedateer moet word), met beide die toestelle en die sagteware wat moontlike kontakpunte vir sabotasie uitmaak. Wat meer is, die vervaardiging, vervoer en installasie van elektroniese komponente verskaf bykomende kontakpunte vir sabotasie.

Voorts is kernwapenfasiliteite (en ander militêre fasiliteite) verder afhanklik van die kragnetwerk, wat op sigself kwesbaar vir sabotasie is en dikwels veel minder beskerming geniet. Almal is dit eens dat die VSA, Rusland, China, Iran en Noord-Korea dikwels aanvalle loods op beide die kragnetwerk en kritieke militêre infrastruktuur van hul vyande. Trouens, daar word vandag wyd aanvaar dat die kernwapenfasiliteite van kernstate daagliks vir moontlike swakpunte gemonitor word en, meer kommerwekkend, dat dié fasiliteite in alle waarskynlikheid reeds met skadelike programmatuur besmet is. Na verwagting is dié programmatuur tans onaktief en sal dit geaktiveer word ten tye van ʼn krisis met die doel om die vyand se kernwapenfasiliteite lam te lê. Die feit dat state weet dat hul kritieke kernwapenfasiliteite met skadelike programmatuur besmet is, skep heelparty scenario’s wat die risiko van eskalasie tot kernoorlog verhoog.

Twee scenario’s is veral relevant hier. Die eerste scenario, ʼn uiters gevaarlike een, ontstaan weens die gebruik van kuberwapens tydens die aanvang van ʼn krisis tussen kernstate ten einde die kernwapenfasiliteite van ʼn opponent lam te lê. ʼn Kernstaat wat só ʼn aanval ervaar, sal waarskynlik glo dat meer vernietigende aanvalle (beide deur konvensionele en kernwapens) spoedig sal volg en, te midde van die vrees dat hulle hul kernarsenaal kan verloor, besluit om hul kernwapens onmiddellik te lanseer.

Interessant genoeg, state hoef slegs te glo dat hul kernwapenfasiliteite met skadelike programmatuur besmet is ten einde die risiko van eskalasie te verhoog. Waarom? State wat glo dat hul kernwapenfasiliteite met skadelike programmatuur besmet is, sal geneig wees om die inligting wat deur vroeëwaarskuwingstelsels verskaf word, te verwerp. ʼn Valse waarskuwingsein (soos uitgewys deur vroeëwaarskuwingstelsels) sal dus as ongeloofwaardig uitgemaak word, met leiers wat gevolglik kies om hul kernwapens te lanseer weens die vrees dat hul kernarsenaal uitgewis kan word.

Die tweede scenario het as vertrekpunt ʼn reeks kuberaanvalle en teenaanvalle op kritieke nasionale siviele infrastruktuur. Dink veral hier aan die wyse waarop wedersydse kuberaanvalle die ekonomiese en finansiële sisteme, kragsentrales en vervoernetwerke van kernstate kan lamlê. Aanvalle van dié aard, veral gedurende ʼn ernstige krisis, kan maklik oorgaan tot kinetiese (fisiese) aanvalle, waartydens kuberaanvalle op siviele infrastruktuur tot militêre teikens eskaleer. In só ʼn situasie, meen kernpessimiste, is die eskalasie tot kernoorlog ʼn byna onafwendbare stap.

Bogenoemde is slegs twee van verskeie scenario’s wat wys op die gevaarlike verhouding tussen die kuberruimte en kernoorlog. ʼn Wapenwedloop in die kuberruimte is reeds ʼn geruime tyd aan die gang, maar die pas van dié wedloop het in onlangse tye versnel. Hoewel state sal poog om doeltreffende verdedigingsisteme teen toekomstige kuberaanvalle daar te stel, is dit (soortgelyk aan die gebruik van missiele in oorlogvoering) veel makliker en goedkoper om aan te val as te verdedig.

Dat dit maklik is om kuberaanvalle van stapel te stuur en, hierteenoor, moeilik is om daarteen te verdedig, verhoog die waarskynlikheid van kernoorlog dramaties.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.