Kultuur in Suid-Afrika – wat gaan onder die oppervlak aan?

Ernst van Zyl.

Ek het in 2020 ʼn reeks op my YouTube-kanaal begin, waar ek onderhoude voer met Suid-Afrikaners oor wat hulle kultuur vir hulle beteken, hulle kultuur se mites, simbole, kernwaardes en helde, die kulturele belangrikheid van hul taal, die stand van hul kultuur in die 21ste eeu, en meer.

Dié reeks van agt episodes sluit tot dusver die volgende in: Afrikaners, Zoeloes, Tswanas, Suid-Afrikaanse Engelse, Tsongas, Suid-Afrikaanse Portugese, Xhosas en Suid-Afrikaanse Indiërs, met nog ander wat sal volg. My hoofdoel was om die verskillende uiteenlopende kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika ten toon te stel en om ʼn beter begrip daaroor te bewerkstellig vir sowel internasionale as plaaslike gehore. Die reeks het sover fassinerende insigte gebied oor wat deur verskillende kulture in hierdie hoekie van Afrika as belangrik geag word, sowel as voor watter struikelblokke hulle tans te staan kom.

Een van die belangrike dinge wat ek hieruit wys geword het, is dat die meeste Suid-Afrikaners steeds baie kultuurgeoriënteerd is, ten spyte van die analise wat ʼn mens gereeld in korporatiewe media lees of by ʼn paar prominente politieke kommentators hoor. My gaste het sonder uitsondering aangedui dat hulle ʼn diep liefde het vir hulle kulturele geskiedenis, taal, tradisies, erfenis en simbole.

Nie een van hulle het neerhalend na hulle kultuur verwys, of daaroor gepraat as iets wat ʼn beperking plaas op hulle vermoë om hul potensiaal te bereik nie, of as ʼn struikelblok wat in die pad staan van hulle karakterontwikkeling nie. ʼn Sentiment wat al my gaste in gemeen gehad het, was dat hulle kultuur ʼn integrale deel vorm van hulle ontwikkeling as mens, sowel as hulle identiteit en morele grondslag. Op die vraag of hulle kultuur hulle lewens verryk, was elkeen se antwoord oorweldigend positief.

Party politieke teoretici mag jou dalk laat dink dat kultuur en tradisie as ʼn las gesien moet word vir die individu en dat dit ʼn beperking plaas op iemand se vermoë om ʼn vol, vry lewe te lei. My reeks onderhoude het die teendeel aangedui. Dit laat ʼn mens tot die gevolgtrekking kom dat baie van hierdie antikultuurteorieë eerder slegs in so ʼn teoretikus se gedagtes bestaan en nie die werklikheid weerspieël nie.

Soos my kollega Ernst Roets dit stel: “Goeie teorieë word ontwikkel in ʼn poging om die wêreld te verstaan. Slegte teorieë word ontwikkel om aan die wêreld voor te skryf hoe dit moet wees.”

Een van die dinge wat ek my gaste vra is om een van die grootste struikelblokke te identifiseer waarvoor hulle kultuur te staan kom – veral wat die jeug in die 21ste eeu aanbetref. Feitlik almal noem verstedeliking as een van die grootste bedreigings tot hul kultuur. Baie Suid-Afrikaners wat na die groot stede verhuis, vind dat die verbintenis wat hulle met hulle kulturele wortels het erg skade ly of selfs verbreek word. In hoëdigtheid stedelike omgewings is hulle omring deur mense uit ʼn groot verskeidenheid kulturele agtergronde. Omdat groot stede in Suid-Afrika gewoonlik ver geleë is van die plattelandse kulturele hartlande van meeste van die land se kulture, is daar ʼn goeie kans dat nuwelinge ʼn kulturele minderheid gaan wees of kultureel geïsoleerd gaan wees in hul nuwe omgewing. Daar is ʼn gebrek aan kulturele raakpunte en dinge wat hulle met hul tuis- en grootword-omgewing vereenselwig, en daar is ʼn risiko dat hierdie ontwortelde individue vinnig sal deel word van ʼn stedelike skare ontworteldes.

As ʼn mens in ag neem dat kultuur vir baie mense ʼn sosiale en morele kompas is, soos wat duidelik te sien is in my reeks, hoe presies moet ons opstaan vir die behoud daarvan in ʼn tyd wanneer aanvalle op kultuur, gemeenskappe en tradisies algemeen geword het? Hoe veg ons vir iets so oud en selfs antiek soos kultuur, in ʼn wêreld waar almal toenemend druk ervaar om “vordering” na te jaag en tred te hou met die jongste tegnologie of sosiale modes?

Eerstens dink ek dit is belangrik om Suid-Afrika te beskou deur ʼn realistiese lens van hoe dinge werklik is, eerder as deur ʼn idealistiese lens van hoe ons, of ander mense, wil hê dit moet wees. In Suid-Afrika sal die meeste mense hulleself allereers beskryf volgens hul kulturele identiteit, geloof of taal voordat hulle na hulleself sal verwys as ʼn Suid-Afrikaner. As jy wil weet wat ʼn Zoeloe, Xhosa of Afrikaner is, gaan jy ʼn hele lys karaktereienskappe, waardes, oortuigings, tradisies en geskiedkundige feite en verwantskappe hoor. As jy iemand vra wat dit beteken om ʼn Suid-Afrikaner te wees, sal die antwoord moontlik beperk wees tot die feit dat die persoon binne die grense van Suid-Afrika woon, die Springbokke ondersteun en daarvan hou om vleis oor ʼn oop vuur te braai.

Miljoene mense in Suid-Afrika beoefen steeds tradisies wat honderde, selfs duisende jare ouer is as wat die land self is. GK Chesterton het gesê as ʼn mens ʼn heining raakloop, moet jy jouself eers afvra waarom dit in die eerste plek gebou is, in plaas daarvan om dit net dadelik af te breek. Donald Kingsbury het iets soortgelyks bedoel toe hy gesê het: “Tradisie is ʼn stel oplossings waarvan ons die probleme vergeet het. As ʼn mens die oplossing weggooi, gaan die probleme terugkom. Soms het die probleme gemuteer of verdwyn. Gewoonlik bestaan dit steeds, nog net soos wat dit altyd het.”

ʼn Mens moenie verplig word om trots te wees op jou kultuur nie, maar diegene wat voel dat hul kultuur vir hulle ʼn doel gee, hulle trots maak en vir hulle leiding gee, moet gerus wees in die wete dat hulle so mag voel. Wees versigtig vir diegene wat alles wil wegmaak wat ouer is as die huidige sosiale en morele toedrag van sake. Hulle tree op onder die vals veronderstelling dat hulle eie generasie uiteindelik die eerste is wat van beter weet as hulle voorouers, presies net soos wat elke ander generasie voor hulle ook naïef geglo het.

Hoewel kultuur en tradisie beslis nie skelwoorde of vloekwoorde is nie, is dit ook nie heilig of onaantasbaar nie. ʼn Kultuur wat nie in staat is om introspeksie te doen, aan te pas of homself te vernuwe nie, is gedoem om te stagneer en selfs te versteen. Die pad vorentoe vir gemeenskappe in Suidelike Afrika moet gegrond wees op ʼn kreatiewe benadering wat bou op betroubare en bewese waardes. “Soek die beste uit die verlede en bou die toekoms daarmee,” soos Paul Kruger gesê het.

Gun ander gemeenskappe dieselfde geleentheid om trots te wees op hul kulturele erfenis, waardes en tradisies. Moenie jou eie kultuur op ander gemeenskappe probeer afdwing nie, selfs al is jy oortuig dat jou eie kultuur die antwoorde op die goeie lewe uitgepluis het en dat dit vir jou slagoffers se eie beswil sal wees. Deur die verloop van ons streek se geskiedenis het beterweterige imperialisme die vryheid en bestaan van vele kultuurgemeenskappe bedreig en onderdruk, juis vanweë die onkunde oor al die verskille wat elke kultuur uniek maak, asook ʼn miskenning van die belangrikheid daarvan. Kom ons wees dus minder voorskriftelik en meer nuuskierig oor die verskillende kulturele gemeenskappe rondom ons. Ons kan sodoende waarskynlik iets waardevol oor onsself wys raak in die proses en meer leer oor hoe ander gemeenskappe hierdie hoekie van die donker kontinent verlig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

“Moenie jou eie kultuur op ander gemeenskappe probeer afdwing nie,”

Verskeie mense van ander kulture het gese dis presies DIT wat die Westerse wereld doen, en nie wil hoor ons doen nie. Ons kultuur is wetsgehoorsaam en behoudend, bouend en aanhang van Romeinse Reg. Die ander kulture in ons land is nie so nie, en hulle voel ons het die land ingekom en almal aan ons wette en maniere onderwerp.

Volgens my is die enigste oplossing dus eie lande waar elke kultuur dan kan leef soos hulle wil. Want tans word hulle nie-wetsgehoorsame, afbrekende en misdadige kultuur op MY afgedwing en ek word geen keuse gegee nie.

B-Man ·

Ons moet ook versigtig wees dat ons nie ook die ander se “slagoffer”-kultuur aanneem nie, Nettie.

annie ·

Een van die grootste, indien nie die grootste probleem nie vir Afrikaners, is kultuurdiefstal of kultuur-‘delete’. Liberaliste en menseregters maak of als wat Afrikaners het en is, eintlik onwettige bekom is. Dan na-aap en oordonder ander weer Afrikanerskap as sou hul eintlik die egte ware jakob wees en ons saam maar eintlik onder hul moet dien. Afrikaners is nie amper Indies, amper Sjinees, amper Zoeloe of amper Kleurling nie. As ons nie ongee nie, gaan ander vir ons dit besluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.