Kultuur swaai die Weste na regs

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Die afgelope tyd dui politieke gebeure dat daar in die gevestigde Westerse demokrasieë ’n politieke grondverskuiwing na regs is. Hierdie verskuiwing kan gesien word in die Brexit-stem in Brittanje, die groot ongelukkigheid oor die EU se hantering van die migrasiekrisis in Oos-Europa, en die groeiende steun vir regse partye in feitlik alle Europese state. Die opkoms van Donald Trump wat die opstand teen die gevestigde Amerikaanse gesagsorde trompetter, is nog ’n voorbeeld daarvan.

Hoewel die meeste kommentators die verswakkende ekonomie as rede voorhou, wys die omvang van die politieke swaai dat daar meer agter die verskynsel sit. Dít is die onverwagte opkoms van kultuur as ’n bepalende faktor in die Westerse én wêreldpolitiek.

Die ou Marxistiese teorie dat mense se ekonomiese “klas” hulle politieke stemgedrag bepaal, was tot ’n dekade gelede nog waar in die Weste. Die armer en ongeskoolde werkersklas van Europa het links gestem, in die hoop dat hulle deur welsyn en staatshulp bevoordeel sal word as “hulle” regerings regeer. Marx het dan ook vol oortuiging in Das Kapital gesê dat algemene stemreg neerkom op politieke oorheersing deur die (linkse) werkersklas, omdat hulle tradisioneel die oorgrote meerderheid van die bevolking gevorm het. Die sentrum-linkse sosiaal-demokrate van Europa het Marx se rewolusie-idees as té radikaal gesien. Hulle het eerder die mag gebruik om hulle ekonomiese posisie te verbeter, deur hoër belasting vir die meer welvarendes, waarmee hulle dan staatshulp vir hulself in die vorm van die welsynstelsel gefinansier het. Waar Marx die rykes armer wou maak, wou hulle eerder die armes ryker maak.

Drie veranderings

Maar daar het veral drie veranderings plaasgevind wat die politiek en die ekonomie in die Weste verander het. Die inploffing van kommunistiese state in die vroeë negentigs het hierdie ideologie se geloofwaardigheid geknou, en mense het aanvaar dat die markekonomie die enigste stelsel is wat kan werk. Tweedens het die posisie van die werkersklasse van Europa geweldig verbeter danksy beter opleiding, ekonomiese groei, nuwe tegnologie en algemene voorspoed. Die massas het die markekonomie begin steun omdat dit hulle bevoordeel en welvarend gemaak het. Die werkersklas het grootliks deel van die regser middelklas begin word, en die linkse partye moes saam met die mense verander of uitsterf. Tony Blair moes byvoorbeeld die Britse Arbeidersparty vinnig na sentrum-links verskuif om te oorleef.

Maar die deurslaggewende faktor in die politieke verskuiwing was die opkoms van kultuur as bepalende faktor in die politiek, nadat grootskaalse emigrasie van nie-Europese mense, kultuur op die voorgrond geplaas het.

Klas na kultuur

Ná die einde van die Koue Oorlog het politieke kenners aanvanklik ’n rooskleurige nuwe era van ewigdurende vrede, demokrasie en kapitalisme voorspel. Daarom het die groot aantal konflikte wat toe skielik in die wêreld begin uitbreek het, die Weste onverhoeds betrap. Prof. Samuel Huntington van Harvard Universiteit het in 1993 tot die ongewilde gevolgtrekking gekom dat daar ’n “konflik van beskawings” aan die opkom is. Hy het beweer dat kultuur die plek van ideologie as die bepalende faktor in wêreldpolitiek gaan oorneem. Die klassestryd sou volgens hom deur ’n kultuurbotsing vervang word, en lande en gemeenskappe sou hulself voortaan in kulturele “beskawingsblokke” groepeer. Die verdelingslyne sou dus nie meer wees waarin jy glo nie, maar wie jy is.

Huntington, ’n deurwinterde politieke wetenskaplike met ’n onbesproke akademiese naam, is skerp deur sowel liberales as linkses aangeval, wat geglo het dat kultuur, etnisiteit en godsdiens tot die verlede behoort, en nie meer in die hedendaagse era ’n belangrike rol sou speel nie. Huntington se verdeling van die wêreld in “beskawingsblokke” soos die Westerse Christendom, Islam, die Hindoeïsme, Afrika, die Russies-Ortodokse blok en die Chinese beskawing, het vir baie van sy tydgenote te sterk teen die bestaande denke ingedruis.

Kultuurkonflik

Namate die skerp toename in etniese en godsdienskonflik soos in Joego-Slawië nadat die einde van die Koue Oorlog die wêreldkaart “ontvries” het, het kenners weer begin dink. Dit was veral die toenemende konflik tussen die Weste (veral die VSA) en die Moslemwêreld, botsings tussen Indië en Pakistan, die konflik tussen Rusland en die Weste, en die voortslepende geweld in die  Midde-Ooste wat mense weer na Huntington se denkraamwerk laat kyk het. Maar hierdie gebeure het ook na Europa oorgespoel, veral ná die toename in Moslem-emigrasie mense so van kultuurverskille bewus gemaak het dat dit ’n bepalende faktor in die politiek begin raak het.

Linkse vaarwel

So het ’n Nederlandse en ’n Vlaamse Sosioloog byvoorbeeld hul navorsing oor die verskynsel gepubliseer in die boek getiteld Vaarwel aan die linkse werkersklas. Daarin het hulle gesaghebbend aangetoon dat die tradisionele werkersklas in ’n politieke grondverskuiwing hulself by die middelklas skaar en vir sentrum-regse partye begin stem. Daarbenewens het die sterk opkoms van regse partye, onder meer in Frankryk, België, Switserland, Brittanje, Oostenryk en Nederland, die sentrum-regse partye gedwing om te “verregs” om die regse partye te probeer stuit. Marxistiese samesweringsteorieë oor die verdrukking van die werkersklas het nou plek begin maak vir vrese oor kulturele “verswelging” en die gevare wat ’n toekomstige “Eurabië” vir tradisionele Europeërs mag inhou. Maar die regse partye groei steeds, ten spyte van die wydverspreide mediasensuur en teerkwas-verwysing na hulle almal as “verregs”.

Liberale paradoks

Die Europese liberale tydsgees wat net die staat en individuele menseregte erken en identiteit en kultuur ontken, loop hom al meer vas teen ’n bevolking wat bekommerd raak dat hulle Westerse leefwyse in gedrang begin kom. Die liberale paradoks laat homself ook al meer geld. Dit is waar liberale partye massa-emigrasie voorstaan, maar hierdie immigrante dan liberale beleidsrigtings soos vroueregte en gay-huwelike en die sekulêre demokrasie verwerp. Die vlaag terreurvoorvalle in Europa plaas ook groot druk op die liberale aannames dat immigrante soomloos Westerse waardes sou aanvaar en hulself sou laat inlyf. Baie Moslem-immigrante verwerp die liberale ideaal van inlywing by die meerderheid as ’n voorbeeld van Westerse meerderwaardigheid, en bly lojaal aan hulle godsdienstige en kulturele identiteite. Daarom vervreem die Westerse deelname aan konflikte teen Moslemgroepe in lande soos Irak en Sirië baie van die nuwe aankomelinge in Europa.

Maar die politieke verskuiwing bring ook nog ’n Huntington-waarneming na vore, naamlik die groeiende verwydering tussen die “internasionalistiese elite” en die “nasionalistiese massa” in Westerse lande. Dit kan tot een van twee uitkomste lei. Die groei in die regse partye kan daartoe lei dat hulle meer gematig raak namate die middelgrond-kiesers hulle ondersteun, of dat die sentrum-regse partye al verder na regs leun ten einde hulle steun te behou. Maar albei uitkomste is ’n aanduiding van die verskuiwing na regs.

Die Moslem-migrasie is besig om Europa vir altyd te verander. Net die tyd sal leer of Huntington se “konflik tússen beskawings” sal uitloop op ’n “konflik ín beskawings”. Miskien is die oplossing dat die meerderwaardige liberale idee dat die Moslems moet verwesters laat vaar word, en dat Europa terugkeer na ’n Europese identiteit met uitgebreide voorsiening vir minderheidsregte aan die permanente Moslembevolkings.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jcwf ·

”Tony Blair moes byvoorbeeld die Britse Arbeidersparty vinnig na sentrum-links verskuif om te oorleef”

Ja, is dit so? En watter rol het die 1% daarin gespeel? Die banke, die Amerikaanse neocons, die wapenindustrie?

En watter reaksie is daarop nou? Die SNP in Skotland wat beide die ‘Red and Blue Tory parties’ (Labour én Conservative) verdring het? Die occupy-beweging? Bernie Sanders?

John ·

Mnr Buys het ‘n belangrike punt beet. Hierdie kwessies laat mense ongemaklik in hul stoele sit want dit beteken ‘n terugkeer na die antieke tye toe oorloe gevolg het sodra kulture gebots. Dit is ook nie die eerste keer dat Moslems Europa betree nie. Vantevore het bloedige gevegte lande tot oorgawe gedwing. Verskeie kruistogte word ook deur Christene na Jerusalem onderneem wat destyds onder Moslem-beheer was (en steeds ‘n kwelpunt bly tot op hede). Hoekom meen die Europeers nou dat die Moslems hulle vir altyd soos soet en dankbare burgers sal gedra in ruil vir ‘n dak oor die kop? Godsdiens en kultuur is verweef. Selfs in Afrika word die Christelike geloof ‘aangepas’ met bygelowe en rituele en in ‘gevaarlike’ tye wanneer volke bedreig voel spring die ingebedde kulturele-gegewe weer pennetjie-regop in die mense se gemoed. Die nuwe vlae aanvalle deur enkelinge van ander kulture, selfs tweede-geslag burgers, laat die Europeers verbaas en hulle soek allerhande redes daarvoor, behalwe om erkenning te gee aan die bestaan van sulke diep ingeburgerde/oorgeerfde kulturele dryfvere.

Kaufman ·

Hopelik lees Nederlandse leiers hierdie kommentaar, en hopelik versprei dit na ander leiers. My boodskap is dat “regte” partye hulself moet posisioneer as positiewe kultuurbouers wat op die positiewe aspekte van europese kultuur fokus, dinge wat uniek maar positief aan hul tradisionele plaaslike kultuur is. Dit is om nasionalisme as positief te vertoon, en nie as “konservatief” of “outyds” nie. Hul moet ook sorg dat hul nie as verregs gesien word nie. Dit is baie belangrik dat regse bewegings hulself moet posisioneer as nie verregs nie en om die volk op te lei om te onderskei tussen regs en verregs radikaal.

politicus ·

Ja, opinie-artikelen op Maroela Media en ook het ‘Nieuwscommentaar’ van Herman Toerien worden zeker gelezen door Nederlandse politici. Sommige artikelen worden dan weer verder gedeeld, vooral onder christendemocraten vanwege de christendemocratische toon van de artikelen.

Kaufman ·

Dankie vir die terugvoer. Ik denk dat wij en de nederlandse veel nauwer moeten samenwerken .

Ray ·

Die “swaai” na regs is soos alle vorige sosiale skuiwe, ‘n weldeurdagte manipulasie deur die geldmag beheerde pers. Die sosiale konflik word versigtig bewerkstellig as dekmantel vir die volgende stel veranderinge wat hulle wil teweeg bring. Enigeen wat nie skepties is oor hierdie verwikkelinge nie, is ook verdag.

Fanie ·

Ray ou maat, if you are not paranoid, don’t think they are not out there trying to get you. Hmmmm

wringer ·

Baie dankie vir ‘n skitterende artikel Flip Buys!! Na my mening die noukeurigste samevatting van die huidige verwikkelinge wat ek nog raakgelees het…

Theuns ·

Flip dit is ‘n uitstekende artikel maar ek kan nie help om te dink dat kulture dan eintlik n goeie ding is nie want kulture soos die christelike , joodse, moslem en hindoe gelowe staan in die pad van moondhede wat wat hulle grondgebiede wil uitbrei. Ons sien bv dat Turkye met sy 98% Islam geloof oorheersing in die pad staan van Rusland wat weer die Balkan state onder sy beheer wil bring en na die weste wil uitbrei. Turkye ondersteun ook vir ISIS en Rusland weer vir Sirie wat hoofsaaklik Christen gelowig is. Rusland se bevolking is in teenstelling Russies Christelik Ortodoks(75%) n Mens sou dink dat dit betreklik maklik vir Rusland sou wees om die Krim(86% Christelik) en die Oekraiene (97% Christelik) onder Russiese invloedsfeer sou kon bring maar dit is nie so maklik nie soos ons weet deur die onlangse gebeure daar? Afrika is sowat 45% Christelik en 40% Islam(Moslem) China hang offisieel Ateisme aan alhoewel hulle ook Hindoe is. Die vraag is hoe oorkom Rusland die weerstand van gelowe(Kulture) om sy invloedsfeer uittebrei. In my opinie doen Rusland die volgende:
1. Rusland maak asof hy alle gelowe ondersteun!
2. Rusland laat toe dat volke hulle self regeer!
3. Rusland bevorder verdeeldheid deur anti Westerse Propaganda
Wat dink jy Flip? Dit lyk maar vir my ‘n deurmekaar spul.

Theuns ·

Net n korreksie. Die Siriese bevolking is net 10% christene. Die Siriese leier , Al-Assad, beskerm die Christene wat meestal in die stede woon soos Damaskus.

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel, Flip Buys!

Om die kookpot van wêreldpolitiek te skets sonder om ‘n spesifieke groepering of persoon te minag in die proses, is ‘n prestasie op sigself. Selfs die gewoonlik verguisde Donald Trump “trompetter” lustig saam :-)

Prof. Samuel Huntington voel na die lees van hierdie artikel soos ‘n geesgenoot en sal beslis nou onder oë gekry word. Sy 6 “beskawingsblokke” maak volkome sin en sou in die ideale wêreld, sonder meerderwaardige liberale idees, menige konflik voorkom. Niemand kon in elk geval nog sinvol aan my verduidelik waarom slégs Westerse lande hierdie obsessie met multi-kulturalisme het nie.

Wat op die oomblik dalk “minderheidsregte aan Moslembevolkings” in Europa is, kan binne ‘n paar generasies dramaties verander wanneer die miljoene Midde-Oosterse vlugtelinge in ag geneem word. Dat liberale Europeërs nie hul nageslagte die Europa gun wat hulle self tot nou geniet het nie, gaan die verstand te bowe.

Rupert Ashford ·

Goed gese Flip. Mens kan ook byvoeg dat die sosialistiese welsynstaat eksperiment in veral begin faal het met die GFC. Maggie Thatcher was toe reg toe sy gese het “sosialisme sal uiteindelik nie meer genoeg ‘ander mense se geld’ he om homself in stand te hou nie” en dit het die mense skielik met nuwe oe na globslisering laat kyk. Voeg daarby die massa moslem immigrasie en die feit dat hulle nie integreer nie en ewe skielik raak mense se persoonlike welvaart bedreig. En laastens werk al hierdie dinge mee om die profesie in Openbaring te laat waar word. Interessante tye voorwaar…

Johan 2 ·

Openbaring? Misbruik jy nou weer die Bybel as geskiedenis of waarsêer boek?

Marius ·

Ag nee wat Flip. Jy oorspeel kultuur in Europa. Dis wensdenkery. Europeërs was nog nooit so kultuurloos as wat hulle nou is nie. Dit skeel hulle glad nie. Wat hulle pla is Islam fudamentalisme wat gulle vreedsame bestaan bedreig, nie hulle kultuur nie. Ek dink nie eens die gemiddelde Europeër sal vir jou kan sê wat uniek is aan sy kultuur nie. Jy praat van klein belangegroepies, nie algemene Europese sentiment nie.

Flip Buts ·

Marius, met kultuur bedoel ek nie vlae en volksliedjies nie. Ek verwys na Westerse waardes soos demokrasie, sentraliteit van die individu, konstitusionalisme, die Rechtstaat, kapitalisme, skeiding tussen kerk en staat, sekularisme, vroue gelykheid, gayregte, kosmopolitanisme, einde van die tradisionele gesin, veiligheid, middelklas waardes ens ens. Als wat moderne Westerlinge as ‘common sense’, algemeen geldend en universeel aanvaar.,

Kaufman ·

Die woord kultuur word dikwels verkeerd verstaan. Flip is heeltemal reg.

Johan 2 ·

Ek hoop die neocons en NWO aanhangers met hul wêreld banke kan bietjie op hul plek gesit word. Voor hul die derde wêreld oorlog wat hul so graag met Rusland wil hê kry.
As die lande in die EU weer hul onafhanklikheid kan bewerkstellig sal dit n baie positiewe uitwerking in die regte rigting wees. Dan kan NAVO dalk ook weer onder beheer kom.

Vir my is dit net interessant dat die emigrante krisis wat nou die liberalisme bedreig juis veroorsaak is deur NAVO (en VSA) se onverandewoordelike optrede in die moslem wêreld.

F. van Emden. ·

Prima artikel . Er zijn momenteel enorme politieke verschuivingen aan het plaatsvinden, niet alleen in Europa maar ook in de rest van westerse wereld. Heer Buys maakt het een en ander goed duidelijk.

gatiep ·

Al wat ek sien is dat die NWO nou dringend n oorlog soek om die aandag van hulle af te kan afkry,want met Trump is hulle nou so duidelik soos daglig.
Dis nie regtig n regs of lings ding nie mense raak bevrees vir hulle toekoms met die besluite wat die NWO doen in wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.