Kultuur swaai die Weste na regs

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Die afgelope tyd dui politieke gebeure dat daar in die gevestigde Westerse demokrasieë ’n politieke grondverskuiwing na regs is. Hierdie verskuiwing kan gesien word in die Brexit-stem in Brittanje, die groot ongelukkigheid oor die EU se hantering van die migrasiekrisis in Oos-Europa, en die groeiende steun vir regse partye in feitlik alle Europese state. Die opkoms van Donald Trump wat die opstand teen die gevestigde Amerikaanse gesagsorde trompetter, is nog ’n voorbeeld daarvan.

Hoewel die meeste kommentators die verswakkende ekonomie as rede voorhou, wys die omvang van die politieke swaai dat daar meer agter die verskynsel sit. Dít is die onverwagte opkoms van kultuur as ’n bepalende faktor in die Westerse én wêreldpolitiek.

Die ou Marxistiese teorie dat mense se ekonomiese “klas” hulle politieke stemgedrag bepaal, was tot ’n dekade gelede nog waar in die Weste. Die armer en ongeskoolde werkersklas van Europa het links gestem, in die hoop dat hulle deur welsyn en staatshulp bevoordeel sal word as “hulle” regerings regeer. Marx het dan ook vol oortuiging in Das Kapital gesê dat algemene stemreg neerkom op politieke oorheersing deur die (linkse) werkersklas, omdat hulle tradisioneel die oorgrote meerderheid van die bevolking gevorm het. Die sentrum-linkse sosiaal-demokrate van Europa het Marx se rewolusie-idees as té radikaal gesien. Hulle het eerder die mag gebruik om hulle ekonomiese posisie te verbeter, deur hoër belasting vir die meer welvarendes, waarmee hulle dan staatshulp vir hulself in die vorm van die welsynstelsel gefinansier het. Waar Marx die rykes armer wou maak, wou hulle eerder die armes ryker maak.

Drie veranderings

Maar daar het veral drie veranderings plaasgevind wat die politiek en die ekonomie in die Weste verander het. Die inploffing van kommunistiese state in die vroeë negentigs het hierdie ideologie se geloofwaardigheid geknou, en mense het aanvaar dat die markekonomie die enigste stelsel is wat kan werk. Tweedens het die posisie van die werkersklasse van Europa geweldig verbeter danksy beter opleiding, ekonomiese groei, nuwe tegnologie en algemene voorspoed. Die massas het die markekonomie begin steun omdat dit hulle bevoordeel en welvarend gemaak het. Die werkersklas het grootliks deel van die regser middelklas begin word, en die linkse partye moes saam met die mense verander of uitsterf. Tony Blair moes byvoorbeeld die Britse Arbeidersparty vinnig na sentrum-links verskuif om te oorleef.

Maar die deurslaggewende faktor in die politieke verskuiwing was die opkoms van kultuur as bepalende faktor in die politiek, nadat grootskaalse emigrasie van nie-Europese mense, kultuur op die voorgrond geplaas het.

Klas na kultuur

Ná die einde van die Koue Oorlog het politieke kenners aanvanklik ’n rooskleurige nuwe era van ewigdurende vrede, demokrasie en kapitalisme voorspel. Daarom het die groot aantal konflikte wat toe skielik in die wêreld begin uitbreek het, die Weste onverhoeds betrap. Prof. Samuel Huntington van Harvard Universiteit het in 1993 tot die ongewilde gevolgtrekking gekom dat daar ’n “konflik van beskawings” aan die opkom is. Hy het beweer dat kultuur die plek van ideologie as die bepalende faktor in wêreldpolitiek gaan oorneem. Die klassestryd sou volgens hom deur ’n kultuurbotsing vervang word, en lande en gemeenskappe sou hulself voortaan in kulturele “beskawingsblokke” groepeer. Die verdelingslyne sou dus nie meer wees waarin jy glo nie, maar wie jy is.

Huntington, ’n deurwinterde politieke wetenskaplike met ’n onbesproke akademiese naam, is skerp deur sowel liberales as linkses aangeval, wat geglo het dat kultuur, etnisiteit en godsdiens tot die verlede behoort, en nie meer in die hedendaagse era ’n belangrike rol sou speel nie. Huntington se verdeling van die wêreld in “beskawingsblokke” soos die Westerse Christendom, Islam, die Hindoeïsme, Afrika, die Russies-Ortodokse blok en die Chinese beskawing, het vir baie van sy tydgenote te sterk teen die bestaande denke ingedruis.

Kultuurkonflik

Namate die skerp toename in etniese en godsdienskonflik soos in Joego-Slawië nadat die einde van die Koue Oorlog die wêreldkaart “ontvries” het, het kenners weer begin dink. Dit was veral die toenemende konflik tussen die Weste (veral die VSA) en die Moslemwêreld, botsings tussen Indië en Pakistan, die konflik tussen Rusland en die Weste, en die voortslepende geweld in die  Midde-Ooste wat mense weer na Huntington se denkraamwerk laat kyk het. Maar hierdie gebeure het ook na Europa oorgespoel, veral ná die toename in Moslem-emigrasie mense so van kultuurverskille bewus gemaak het dat dit ’n bepalende faktor in die politiek begin raak het.

Linkse vaarwel

So het ’n Nederlandse en ’n Vlaamse Sosioloog byvoorbeeld hul navorsing oor die verskynsel gepubliseer in die boek getiteld Vaarwel aan die linkse werkersklas. Daarin het hulle gesaghebbend aangetoon dat die tradisionele werkersklas in ’n politieke grondverskuiwing hulself by die middelklas skaar en vir sentrum-regse partye begin stem. Daarbenewens het die sterk opkoms van regse partye, onder meer in Frankryk, België, Switserland, Brittanje, Oostenryk en Nederland, die sentrum-regse partye gedwing om te “verregs” om die regse partye te probeer stuit. Marxistiese samesweringsteorieë oor die verdrukking van die werkersklas het nou plek begin maak vir vrese oor kulturele “verswelging” en die gevare wat ’n toekomstige “Eurabië” vir tradisionele Europeërs mag inhou. Maar die regse partye groei steeds, ten spyte van die wydverspreide mediasensuur en teerkwas-verwysing na hulle almal as “verregs”.

Liberale paradoks

Die Europese liberale tydsgees wat net die staat en individuele menseregte erken en identiteit en kultuur ontken, loop hom al meer vas teen ’n bevolking wat bekommerd raak dat hulle Westerse leefwyse in gedrang begin kom. Die liberale paradoks laat homself ook al meer geld. Dit is waar liberale partye massa-emigrasie voorstaan, maar hierdie immigrante dan liberale beleidsrigtings soos vroueregte en gay-huwelike en die sekulêre demokrasie verwerp. Die vlaag terreurvoorvalle in Europa plaas ook groot druk op die liberale aannames dat immigrante soomloos Westerse waardes sou aanvaar en hulself sou laat inlyf. Baie Moslem-immigrante verwerp die liberale ideaal van inlywing by die meerderheid as ’n voorbeeld van Westerse meerderwaardigheid, en bly lojaal aan hulle godsdienstige en kulturele identiteite. Daarom vervreem die Westerse deelname aan konflikte teen Moslemgroepe in lande soos Irak en Sirië baie van die nuwe aankomelinge in Europa.

Maar die politieke verskuiwing bring ook nog ’n Huntington-waarneming na vore, naamlik die groeiende verwydering tussen die “internasionalistiese elite” en die “nasionalistiese massa” in Westerse lande. Dit kan tot een van twee uitkomste lei. Die groei in die regse partye kan daartoe lei dat hulle meer gematig raak namate die middelgrond-kiesers hulle ondersteun, of dat die sentrum-regse partye al verder na regs leun ten einde hulle steun te behou. Maar albei uitkomste is ’n aanduiding van die verskuiwing na regs.

Die Moslem-migrasie is besig om Europa vir altyd te verander. Net die tyd sal leer of Huntington se “konflik tússen beskawings” sal uitloop op ’n “konflik ín beskawings”. Miskien is die oplossing dat die meerderwaardige liberale idee dat die Moslems moet verwesters laat vaar word, en dat Europa terugkeer na ’n Europese identiteit met uitgebreide voorsiening vir minderheidsregte aan die permanente Moslembevolkings.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jcwf

”Tony Blair moes byvoorbeeld die Britse Arbeidersparty vinnig na sentrum-links verskuif om te oorleef”

Ja, is dit so? En watter rol het die 1% daarin gespeel? Die banke, die Amerikaanse neocons, die wapenindustrie?

En watter reaksie is daarop nou? Die SNP in Skotland wat beide die ‘Red and Blue Tory parties’ (Labour én Conservative) verdring het? Die occupy-beweging? Bernie Sanders?

John

Mnr Buys het ‘n belangrike punt beet. Hierdie kwessies laat mense ongemaklik in hul stoele sit want dit beteken ‘n terugkeer na die antieke tye toe oorloe gevolg het sodra kulture gebots. Dit is ook nie die eerste keer dat Moslems Europa betree nie. Vantevore het bloedige gevegte lande tot oorgawe gedwing. Verskeie kruistogte word ook deur Christene na Jerusalem onderneem wat destyds onder Moslem-beheer was (en steeds ‘n kwelpunt bly tot op hede). Hoekom meen die Europeers nou dat die Moslems hulle vir altyd soos soet en dankbare burgers sal gedra in ruil vir ‘n dak oor die kop?… Lees meer »

Kaufman

Hopelik lees Nederlandse leiers hierdie kommentaar, en hopelik versprei dit na ander leiers. My boodskap is dat “regte” partye hulself moet posisioneer as positiewe kultuurbouers wat op die positiewe aspekte van europese kultuur fokus, dinge wat uniek maar positief aan hul tradisionele plaaslike kultuur is. Dit is om nasionalisme as positief te vertoon, en nie as “konservatief” of “outyds” nie. Hul moet ook sorg dat hul nie as verregs gesien word nie. Dit is baie belangrik dat regse bewegings hulself moet posisioneer as nie verregs nie en om die volk op te lei om te onderskei tussen regs en verregs… Lees meer »

Ray

Die “swaai” na regs is soos alle vorige sosiale skuiwe, ‘n weldeurdagte manipulasie deur die geldmag beheerde pers. Die sosiale konflik word versigtig bewerkstellig as dekmantel vir die volgende stel veranderinge wat hulle wil teweeg bring. Enigeen wat nie skepties is oor hierdie verwikkelinge nie, is ook verdag.

Fanie

Ray ou maat, if you are not paranoid, don’t think they are not out there trying to get you. Hmmmm