Kultuurskatte is opgesluit in Geloftedag, sê Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr Foto: Reint Dykema, Solidariteit

SSteve Hofmeyr Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Steve Hofmeyr

Gasheer en gasvrou op Voorbegin, MSVS, motorfietsentoesiaste en natuurlik elkeen wat moeite gedoen het om hier te wees: Vandag is die viering van dit wat nie van jou vervreem kan word nie. Die kultuurgoed wat nie van jou weggeneem kan word nie. Nie deur wetgewing nie, nie deur regerings nie, nie deur boelies nie en nie deur meerderhede nie, nie deur kommuniste nie en nie deur mymerende presidente nie.

Desember 1838 op die Klein-Tugelaoewer oorwin 470 Voortrekkers 10 000 impi’s waarvan sowat 3 000 sneuwel. Later sou een Trekker aan sy wonde beswyk. Sowaar, dis moeilik om dit nie as ʼn wonderwerk te aanskou nie. Dit sou nie die eerste of laaste keer wees dat enorme oormagte kom oorlog soek by hierdie klein volkie, en dit dan kry nie. Dit sou nie die eerste of laaste keer wees dat enorme oormagte kom bloed soek by hierdie klein volkie, en dit dan in gallonne kry nie.

Tot en met 1952 was Geloftedag bekend as Dingaansdag. My ouers noem dit nog so.
Ek is soos jy. Ek is nie ʼn teoloog nie. Ek staan verstom vir twee dekades in wat voel soos God se volslae afwesigheid. Alles tuimel in mekaar. Ek bid. My wêreld kantel, my finansies faal, my kultuur is weggesaboteer, my kerk skeur, my laaste Afrikaanse universiteit brand. Ek bid. Die telefoon lui. Ek antwoord om te hoor dat my kollega, twee plase links, wreed vermoor is. Ek bid weer. Ek vra God vir troos. ʼn Bietjie verligting. Wat stuur Hy? ʼn Droogte. Nie enige ou droogte nie. Die droogste droogte in 50 jaar.

Ek weet eintlik steeds nie wat om van ʼn Almagtige te verwag op só ʼn dag nie. Ek val op my knieë in hierdie tyd van nood. Ek glo u doen ook. Ek vertrou dat God goed is en op sy eie tyd sal omsien op sy eie manier. Ek het nie verwagtinge teen sy wil in nie, en selfs al sou die Almagtige teen my kies vandag, kies ek Hom.

Maar ek sê jou wat. Ek weet iets. Ek weet wat om van myself te verwag. Ek weet wat om van my mense te verwag. As man van my woord, uit ʼn kultuur met beginsels en ʼn volk van inbors. Daar, by hulle, lê my verwagtinge. Ek gee nie op op my God nie, omdat dit lyk of Bloedrivier se oorwinnings ons die afgelope 115 jaar nooit weer beskore was nie. Ons vergeet dat daar hoogs moontlik nie ʼn enkele oorlog en enkele nood was waarvoor ons voor die aanvang nie gebid het vir ʼn goeie uitkoms nie. Ons het tog baie van daardie ook verloor. Hieroor het ek nie vreemde verwagtinge van my God nie en sal my skaar by sy tyd en sy wil, en sy uitkomste in hierdie uitmergelende tye waar dit voel of die wêreld weer draai teen hierdie klein, dinamiese volkie.

Die EFF maak nie onversoenende geluide om die Afrikaner te antagoniseer nie. Ons is polities onbenullig. Hulle weet dit. Hulle doen dit om swart stemme by die ANC af te rokkel. Malema stel Zuma voor die ultimatum om byvoorbeeld “Die Stem! te verwyder uit die nasionale volkslied of Afrikaans te verwyder uit universiteite, of Paul Kruger van Kerkplein. Is dit wat hy wil hê? Nie regtig nie.

Ons weet eintlik nie wat de hel ons president wil hê nie. Maar Malema wil hê die ANC moet huiwer of nee sê. Dit sal die ANC laat lyk of hul wittes en Afrikaners goedgesind is, en dit is presies waar die EFF die ANC wil posisioneer. Dis ʼn taktiese speletjie. Ek is jammer om te sê dat ons reaksie vir die swartes daar buite ʼn kantlynsaak is. Indien nie ʼn grap nie. Want hulle ken ons. In ons christelike goedhartigheid het ons ons al vantevore ontferm oor ander volke en ʼn volbloed alleenheerskappy vir hulle prysgegee. Sommer gratis. As Kersvader nie so bietjie overdressed was nie, sou ek kon sweer hy is ʼn Boere-Afrikaner. Want ons deel goeters uit. Nie enige goeters nie. Soewereiniteite, geslaagde infrastruktuur, opvoeding en dienste, vooruitstrewende ekonomieë; en ons gee ons erfenis op ʼn fraai skinkbord weg. Pasella. Hulle ken ons, man. Op ʼn klein koppie in Orania staan daar tiental standbeelde wat hulle verwyder het sonder ʼn piep uit hierdie liefdevolle, verdraagsame Boervolk.

Ons ry dan deur die strate van Tshwane, in Januarie Masalela af tot in Solomon Mahlangu. Die hemel hoor my, nie eers die swartes weet wie dié twee here was nie. Ons dink nie twee keer daaraan dat ons borge is van die NDR elke keer as ons ons GPS update na die nuwe dorp, straat en stadsname nie. Ek stop by die verkeersligte daar en vra die swart straathoeksmouse wie Solomon Mahlangu was. Wat antwoord hulle? “No… Please” (dan hou hulle ʼn leë handjie uit).

Ek sien Totius is ook nou verhuis as ʼn versoeningsgebaar. Onrusbeheer. Dit is wat versoening is. Onrusbeheer. Wat anders is transformasie? Onrusbeheer. Wat anders is equality en representivity? Dis onrusbeheer. Wat is RA, SEB en ander rassistiese voorkeurbehandeling? Dis onrusbeheer. Jy doen onrusbeheer as jy werk met die onredelike verwagtinge van beskawinglose, bloeddorstige kulture. Ons is die Vader Kersfees van Onrusbeheer.

Ons is dieselfde goeie, onbaatsugtige christenkinders wat ons was toe ons hierdie land op ʼn skinkbord, met ʼn duifpatroontjie om, oorhandig het aan kommuniste, Marxiste, sosialiste en terroriste. Ons Nuwe Testamentiese verdraagsaamheid maak ons samesweerders van die moordenaars en verkragters van ons ouers, ons kinders en ons eggenote; van ons taal, ons kultuur en ons Gelofte. Ons het ons Gelofte verkrag. Want ons is sulke goeie mensies. So het ons onsself afgevee van die tafel af. Ons is gesink deur ons eie goedbedoelde verdraagsaamheid en verlamming.

Ek is nie meer seker dat ons verdien dat God ons hoor nie.
Onrusbeheer. Dit was hoekom ʼn paranoïese wêreld hierdie oorgawe-verdraagsaamheid begin preek het. Dit was ʼn teenvoeter vir wêreldoorloë en konflik. Nie lank nie of die Oostenrykse filosoof Karl Popper sien die eerste slang in die gras. Hy noem sy teorie die verdraagsaamheidsparadoks, wat so verwoord kan word: Hoe verdraagsaam moet verdraagsames wees teenoor onverdraagsames wat verdraagsames wil uitwis? Of eenvoudiger: moet verdraagsames dan die einde van verdraagsaamheid verdra.

Puik vraag. Onbeantwoord. Daar is teoloë wat sê: Ja, broer, dit is die kern van Christus se boodskap. Maar vir wie gaan die teoloog dit preek as daar niemand oor is om dit te hoor nie?

Ek staan gereeld stil by monumente en standbeelde reg oor Suid Afrika. Ek vat ʼn knipmessie saam en trek die onkruid uit wat so aanhoudend deur die klipwerk breek. Soos ek binne biblioteke en boekwinkels die stemme van skrywers hoor, voel ek by monumente die asems van die slagoffers aan, meesal vroue en kinders. Ek het ʼn spesiale aanvoeling daarvoor as Boerkind. Dis soms ʼn las, soms ʼn straf. Weg is die voorreg om my op ʼn eiland weg te isoleer, want ek sweer hulle volg vir my soontoe.

Dis ʼn ander asem, die laaste asem wat ʼn kindjie uitasem as ʼn assegaai deur haar nek skeur. Dis ʼn ander asem, dié van die vrou wie se laaste blik op die lewe, so deur die buskruit en roet en stof, dié van haar kinders is wat val en haar man wat sy dolk uittrek, want die kruitvat is leeg. Ek lewe met daardie spoke. Elke dag. Dis ons verhaal. Dis ons geselskap.

As ek jou vra wat het Roelf Meyer en FW de Klerk weggeteken in 1992 met hul leuens oor die ja en nee stem, sê hulle my die wit alleenheerskappy was nie volhoubaar nie. A, ek ken dit. Dit is … onrusbeheer. Maar die apartheidbewind is nie eers 4 gram van die 10 ton geskiedenis wat uitgegooi is nie. Met die oorgawe aan swart kommunistiese beheer het ons nie net die Nasionale Party en bietjies Verwoerd in die drein afgespoel nie. Wat van die res van ons geskiedenis? Wat van die vyf Oosgrensoorloë, en die kinderasempies daar; wat van die manmoedige Trekboere, die Voortrekkers daarna; wat van die Vrystaatse Boere wat al vroeg in die 19de eeu van hul grond afgejaag is om dit kastig aan die Griekwas te oorhandig, met ʼn oog op die diamant. En … onrusbeheer. Waar is die asems van die gesinne by Bloukrans en langs die Boesmanrivier, nou weg in die wind, waar die asems van Piet Retief se geselskap onder die knopkieries by Umgungundluvu, waar die Gelofte aan ons God alleen dan uit dankbaarheid dat daar vir ons ook ʼn oorwinning kon wees oor die oormagte by Bloedrivier; waar die bravade van die Wenkommando; waar die woorde van Louw Wepener: As ons broers, by gevaarlike plekke kom, sal ek julle nie toeroep “Gaan burgers” nie, maar “Kom burgers, laat ons dan sterf soos helde, nie lafaards nie”?

Waar is die oorwinning by Bronkhorstspruit, ou Colley se twee nederlae? By die eerste een niks geleer nie, toe beset hy mos Majuba. ʼn Handjievol Boere onder Joubert skiet die Kakies uit hul Empire-verhewenheid. Colley is daar oorlede. Net toe die Brit reken hy weet hoe werk die kommando’s – hulle sit mos altyd daar in die koppies, soos by Majuba – staan die Boer vlak voor hom op uit die loopgrawe van Magersfontein en skiet die kakiekomkommer uit hom uit. Waar is die Jameson-oorwinning, waar is die Sandrivier, Pretoria- en Londen-konvensie, waar is die ink in pleitversoeke aan die konings en koninginne wat oor ons moes kom omsien.

Ek is nog nie eers deur die tweede Vryheidsoorlog nie.

ʼn Mens sou dink dat ons die handboek kon skryf oor taktiek om die vyand te uitoorlê.
Joubert, De la Rey en Cronjé se groot bydraes tot militêre vernuf was nie net hul magasyne en rooklose kruit nie. Republikeinse gevegstaktiek behels dat jy laag lê en nie skiet voor die vyand enkele meters voor jou voorste linies staan nie. Intieme oorlog. Jy kyk jou vyand in die wit van sy oë.

Dan is daar mobiliteit, guerrillaoorlog. Ons het dit ontdek. Ons het dit vervolmaak. Hier is ons vandag ook, ons slaan dekking, ons wag die vyand in in defensiewe stellings.

Nou hoekom doen ons nie wat Kruger, Joubert en De La Rey gedoen het nie? Vra jy my. Hoekom nie? Omdat niks meer dieselfde is nie, niks behalwe God nie. Jy sal jou metafore moet ken om die ANC in te pas in die plek van die Empire, die koningin in die plek van Zuma. En wat sal jy sê, waar is die slagveld en hoe lyk ons wapens en ons patrone. Dit vra ek my God af en dankie tog vir God, want lyk my daar is net een konstante, en dis Hy. Niks van die res lyk vir my dieselfde nie.

Napoleon het gesê: Vat my wapens, maar los my met die vlag, en ek sal hierdie veldslag wen. Daar is jou eerste wapen. Jou simbole. Jou monumente. Jou geheuenis. Jou geloftes.

“Die Stem”, byvoorbeeld, is magtige Boervolk- en Afrikaner-simboliek. Meer as ʼn vlag is dit ʼn ritueel, wat dit moeilik maak om weg te vat. Dit grief die ander volke asook die verraaiers en manteldraaiers in ons midde want dit is een pragwapen van verset. As ek “Die Stem” sing hoef ek baie goed nie te verduidelik nie. Hulle kan vlae en standbeelde en straat- en dorpsname verwyder, maar dis moeilik om die woorde oor ons tong vir voor te skryf, omdat dit onmoontlik is om die klop van ons hart te reguleer en die kombers van ons trots af te ruk oor die kultuurskatte wat dit dek.

Daar het soveel water in die see geloop. Totius se standbeeld is nou ook geskuif oor sy geskrifte glo ʼn rasseonderskeid tref. Jy moet ongeletterd wees, en níks weet van geskiedenis om nie te weet dat almal en elkeen wat voor arme Totius gelewe het tussen rasse onderskei het. Selfs slawerny, wat ons ook vandag afkeur, was wettig in ʼn ander tyd. Laat weet as jy iets uit Christus se mond hoor waar hy slawerny verbied. Hoekom het hy nie? Want dit was gemeenplase, die norme, konvensioneel vir daardie tyd. Om vandag se moraliteit op die verlede af te dwing, vir reparasies nogal, sê vir my net een ding: geletterdheid is ʼn nuwigheid in jou familie, jou gesin en jou kultuur, Afrika. En jy soek al weer ʼn shortcut na ietsie gratis.

Ek verstaan die sielkunde van kollektiewe apologie, maar dis nie regsgeldig nie. Jy kan nié jou skuld by ʼn saak voor die hof bring as jy niks gedoen het nie. Jy kan nie namens ander ʼn vonnis uitdien nie. Nie vir iets wat wettig was in ʼn vorige bestel nie. Nie van ʼn minderheid ter verdediging van ʼn duursame alleenheerskappy nie. Ten duurste gekoop. Met kontrakte, maar ook oorloë en bloed. Die voordeel wat wittes geniet het, (soms) steeds geniet, is niks anders nie as hul verdiende loon. In 17e-eeuse konteks vaar jy, land jy, maak jy fyn verstellings aan jou kompas, skets en herskets jy landkaarte, bou jy paaie, plase, infrastruktuur, geletterdheid, administrasies, ekonomieë, hospitale en universiteite. En jy doen wiskunde. Ons doen dit want dit is uiteraard voordelig. Ons doen dit want ons kulturele tradisie toets dit al baie lank en vind dat hierdie omgang met ons bronne, mineraal en verstandelik, voordelig is op vele vlakke. Omdat ons as Westerlinge lees en woeker kon ons deur etlike millennia idees toets en die sterkstes en mees betroubares daarvan uitsonder en inspan. Dis nie onfeilbaar nie, maar sommer baie ruimer as dié van groepe wat eers 80 jaar gelede leer lees en skryf het en nou die Afrosentriese model aan ons wil opdis as die beter een. Afrika-kulture en leiers veral, kom met die een hand in ʼn gebalde vuis en maak luide anti-Westerse geluide. Maar net met een hand. Want met die ander hand is hy besig om teen die spoed van lug te assimileer, te gryp, eintlik, na die vrugte van ʼn Westerse beskawing. Dekades ná die wêreld die kommunisme agtergelaat het ontdek Suid Afrika dit en skryf dit voor as redder van ontluikende ekonomieë deur volke wat vir 700 jaar nie die Magna Carta kon lees nie! Dit is ons verval! Malema verkoop stokou Marxisme as een van sy New Ideas. Hulle sal vir hom lag, ook oorsee. Maar tuis tussen die ongeletterdes sal die arme eenoogsot koning wees.

Om briek aan te slaan vir volke wat nie ʼn snars daarvan verstaan het nie, kon nooit ons verantwoordelik bo die aanspreeklikheid wees teenoor ons eie mense en kinders nie. Ons voorouers het aangeland, administrasies gevestig, hospitale en skole gebou en hulleself militêr gesterk. Die beste wat Afrika-nasies kon doen was vra: Wat de hel is dit, my kroon?

Die Derde Wêreld-agterstand kan nie op apartheid blameer word nie. Apartheid het moontlik daardie agterstand besweer, maar wees eerlik en oorweeg die oorkoepelende agterstand van jou voorvaders wat nie op ander volkere blameer kan word nie; ʼn agterstand wat voor kolonisering reeds daar was. Suid-Afrika en Afrika kan nie genees voordat daar wedersydse boetedoening is nie. Daarmee saam wil ek in jou vandag weer wakker maak die trots vir jou grootjies se presatsies. Hulle werk hard om jou dit te maak vergeet. Hoe ver kan jy jou bors uitsteek vir die kollektiewe gewoontes van jou voorvaders, die Weste, die Hollanders, die Franse en die Engelse. Het jy al ooit gehoor van ʼn kortafstandatleet wat omdraai by die wenlint en die goue medalje vir die ou gee wat vyfde, tiende of heel laaste is?

Ek hou van witwees. Ek moet trots mag wees daarop. Ek dink nie dis mooier as ander nie, maar ek kan nie my voorkeur hier voorgeskryf word nie. Ek kan dit wees sonder om een swart of bruin broer te verloën. En ek het baie. Ek heg miskien minder waarde aan bloedlyne en biologie as aan kultuur en kollektiewe gewoontes. Ja, miskien kan jy witwees nooit weer terugteel nie. As hy bont is, is dit dan tot daar. Hy kom nie terug nie. Maar, meer belangrik, kultuur en kollektiewe gewoontes ook nie. As hy weggeteel word, is hy weg. Dit en net dit verklaar my versigtigheid en behoudendheid. Maar die swart-wit denke, die pigmentasie en velkleur per se, is ʼn strik, ʼn red herring, want mense wil hê ons moet dom lyk.

Kyk hoe val daardie Boere nou vas by die biologie, seg hulle. Hulle doen dit om ons weg te hou van die feit dat kleur nooit alleen kom nie, dat die uitwendige maar bloot merkers is vir daardie eintlike merkwaardige verskille tussen mense en rasse en geslagte, waar die meme nie onder die gene weggesteek kan word nie, dat die diverse kollektiewe gewoontes en enorme verskille in taal en kultuur bly, selfs al word ons almal ligpers.

Die gerieflikste nuwe-millennium gonswoord is rassisme. Rassisme hier en rassisme daar. Die woord word verpopulariseer deur dié wat reken dat rasse nie bestaan nie. Maar daar kan nie rassisme wees as daar nie rasse is nie. En as daar dan verskillende rasse is, moet jy kan onderskeid tref, vergelyk. ʼn Boom word tog geken aan sy vrugte. Jy staan voor ʼn appel, of ʼn peer, of ʼn vrot appel en ʼn groen peer en jy diskrimineer. Jy gebruik dieselfde diskriminerende fakulteit om te onderskei tussen sigarette, tussen ʼn Coke en ʼn Pepsi. Jy sê: Ek soek daaardie een, maar nie daardie een nie. Dit is waarvoor jou fakulteite ingespan word. Jy doen dit eintlik elke sekonde van jou menswees. Wanneer hierdie “diskriminasie” of “rassisme” ʼn sonde word is wanneer iemand die mag het om jou keuse te beïnvloed of jou voor te skryf hóé jy moet kies en hóé jy moet dink op grond van jou velkleur.

Soos apartheid soms gedoen het en soos die ANC nou doen. Met amper drie keer meer rassewette as gedurende apartheid sê hy vir jou hierdie demokrasie sal jou straf as jy nie daardie vrot peer kies bo die peer wat jy wou hê nie. En een helfte van ons wittes koop dit. Hulle omhels daardie sotterny. Ons help daardie proses aan deur ons afwesigheid van verset, ʼn lamsakkige toenadering daartoe, ʼn gevorderde Stockholm-sindroom waar ons simpatie, teen ons gesondheid in, teen ons beterwete en teen ons voortbestaan, by die vyand witvoetjie soek. Dankie my swartbaas, sê Adriaan. En Piet. En Max. En De Vos. Wat kan ek u nog bied uit die koffers van my kinders se toekoms. My taal, die het u reeds. My monumente, my swartbaas. Daar’s min oor, maar vat en vandaliseer maar. My kultuur dan. Jong, dankie vir die enkele bladsye daarvan in my kinders se geskiedenis, maar skeur dan maar daardie bladsytjies oor Paul Kruger ook uit. Dankie, my kommunistiese grootbaas.

Is daar ʼn plan? Wel, ja. En hy is reeds in werking. Is daar ʼn oplossing en ʼn einde in sig? Beslis nie. Moenie dat politici hierdie fraai klinkklare bestemmings voor jou uitpak nie. Dis bog. Ons is meer as kniediep in die swart gat. Ek en jy weet dit. Dis kompleks, dis pynigend en as ek dit kon maak verdwyn in ʼn oogwink, het ek. Maar hierdie een gaan stamina vat, sweet en denke kos en baie ure op ons knieë verg. Die plan is reeds afgeskop. Van ons kalibreer al jare daaraan. Selfbeskikking deur selfstandigheid, oorlewing deur selfbeveiliging, opvoeding deur eie skole en universiteite, inkering tot ons werklike dilemma deur realiteit in die oog te staar, en dan ons kompas te rig na die fakkelvure van hoop, geloof en liefde. Daarmee saam ʼn nugter oog om wêreldtendense, die verloop van die liberale eksperiment, die land se verwarring en teleurstelling met sy messiaanse ANC se aanskoulike verval, wat algar in ons guns kan tel. Ek dink nie dit is al tyd daarvoor nie, maar dit kom. Die politieke landskap kan oornag verander, ontknoop in ʼn ruimte met die potensiaal om ons met ons spesifieke belange te huisves. Ek hou daardie gaping dop soos ʼn Springboklosskakel.

Een voorbeeld: as die swaar, dikgevrete, oorgewig ANC-eenpartystaat sou opskeur, sal ons ons oornag in die posisie vind van ʼn gesonder demokrasie, waar klein partye en minderheidsgroepe se insae eksponensieel vergroot. En tel vir iets. Dit is die dag wat ek partypolitiek weer sal oorweeg. Dis nou as ek oorreed kan word dat enige oplossings in Suid Afrika in die politiek lê. Ek is nie oortuig nie.

Hier is nog oplossings: Sny die naelstring wat jou afhanklik maak van staatsmasjienerie. Jy hoef nie op te pak en na ʼn volkstaat te trek daarvoor nie. Jy kan dit vanaand in jou huis begin doen. Ons het nie net patriote en doelgerigte Afrikaner-Boere nodig nie, maar slimmes ook. Verloor jou genetiese aandagafleibaarheid deur nie te val vir die klein verskille tussen ons nie. Natuurlik is daar verskille tussen Boere en Afrikaners maar dit is een fragmentasie wat ons eenvoudig nie kan bekostig nie. Braai meer. Nooi ʼn Bloubul uit. Begin oor die kole met daardie konfliksituasie, wat jou sal sterk vir die groter gevegte. Ja, braai meer. En laastens … ek het blykbaar manalleen gewerk aan die wit aanwasprobleem terwyl julle Agter elke man gekyk het! Gaan huis toe, maak kinders. Julle maak mooies.

Tot dan, is jy die leier wat jy gesoek het in ander.
Ek haal aan van Brugge en Schonees uit 1937: “Ons moes in ons eie vryheidsoorlog die onafhanklikheid van die Boererepublieke prysgee, in dieselfde stryd het ons egter die geestelike onafhanklikheidvan die hele Afrikanerdom gewen. Uit die skynbare nederlaag is die nuwe Afrikaner-nasie gebore. My bede is nie ʼn nuwe Afrikaner-nasie nie. Net om dit wat ons het, ʼn nietige klein solidariteit, te behou in hierdie stormagtige tyd.”

Dan haal ek dr. Hendrik French Verwoerd aan. Sê my hy was nie visioenêr nie: ʼn Nuwe [postapartheid] regering sou met sosialisme en staatskapitalisme eksperimenteer en dit sal die ekonomie vernietig.
Amen oubaas.
En laastens Jan FE Cilliers:
“dis ʼn graf in die gras / dis ʼn vallende traan / dis al …”
Dankie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Steve Hofmeyr

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henry

Hoennirvleis lekker Steve!
Goeie wetter, wat vir ‘n lekkerte om te lees!!!

Jodels

Baie dankie dat jy ons herinner wie en wat ons volk was…die probleem is almal wil alles net “Like” soos op Facebook of “retweet” en dan dink hulle dit is genoeg…wat min besef is dat ons gaan moet hande vuil maak en skouer aan die wiel sit om die land weer te probeer ophef…ons het ‘n volk geword wat baie kan praat maar nog minder doen… voel sommer weer lus om te gaan oplees oor my volk.

Kobus

Dankie ou Steve vir die woorde wat mens laat trots voel. Soms voel ek alleen en eensaam in my eie land want ek het gewonder of ander ook soos ek voel. Wanneer trek jy al die boere bietjie bymekaar. Msvs het hoop gegee maar dinge is nou weer stil…

Steve Hofmeyr

Dan is jy in vir ‘n joy-ride. Ons geskiedenis is in detail opgeneem in honderde en honderde boeke (wat ek ook versamel). Lekker lees. En dankie

Bert

Goed gestel Steve. Sekerlik die belangrikste vir ons voortbestaan is ons unieke kohesie. Om nie geassimileer te word nie. Om ons kultuurskatte te bewaar help met ons voortbestaan. En daarvoor salueer ek jou Mnr Hofmeyr.