Kundigheid gee hoop aan toekomstige geslagte

Ruïnes van die eens magtige Maja-gemeenskap

Kennis is mag. In enige denkbare situasie, of dit nou persoonlike konflik, ’n werksaansoek, ’n besigheidsonderhandeling of ’n militêre operasie is, die persoon met die beste kundigheid, kennis en inligting, het die hef in die hand.

Soortgelyk aan die ou beginsel van “geld maak geld”, is die beginsel dat diegene met kennis of kundigheid ook ’n groter vermoë het om meer te bekom.  Die wat nie kennis het, of toegang daartoe het nie, vind dit moeiliker om dit enigsins te bekom. Kennis verteenwoordig dus ’n potensieel kragtige versneller tot sukses en geleenthede, maar daarteenoor ’n potensieel hoë toegangsbeperking (“barrier to entry”) tot geleenthede vir die wat dit nie het nie.

Op ’n onlangse besoek aan Mexiko het hierdie beginsel my getref tydens ’n plaaslike gids se verduideliking van die ondergang van die eens magtige Maja-kultuur in die Yucatán-skiereiland van Mexiko.

Die Maja-kultuur was ’n uiters gevorderde kultuur wat uitnemend presteer het, veral op die gebied van handel, wiskunde en sterrekunde. Dit het oor die bestek van bykans 2 000 jaar ’n dominante rol in die Sentraal-Amerikaanse streek gespeel – relatief gesproke dus ’n meer invloedryke en langlewende mag in die streek as die Romeinse of Griekse kultuur. Die Maja-kalender is tot vandag die mees akkurate kalender – dit is meer akkuraat as die Gregoriaanse kalender wat ons tans in die Westerse wêreld gebruik. Die Majas het ook strukture en stede, wat vandag nog bewonder word, deur merkwaardige ingenieurswese ontwikkel. Seker die beste voorbeeld hiervan is Chichen Itza, een van die nuwe sewe wonders van die wêreld. Die Majas het ook uitgebreide en onafhanklike hiërogliewe ontwikkel wat met die Griekse hiërogliewe vergelykbaar is.

Een van die mees tergende geskiedkundige geheime wat steeds deur talle historici oor die wêreld bestudeer word, is hoe die kennis van die Majas tot niet gegaan het. Dit wat ons vandag van die Majas weet, is eers rondom 1823 tydens argeologiese opgrawings ontdek. Die Majas leef vandag steeds in die streek ten spyte van die Spaanse verowering. Die Spanjaarde het weliswaar groot hoeveelhede geskrifte verbrand in die tyd van die verowering en die onderwerping van die Majas aan die Katolieke Kerk. Die Spanjaarde het egter, luidens historiese geskrifte, die Majas se geboue en stede as ruïnes ontdek en dit nie self vernietig nie. Die ryk van die Majas in sy glorie het met die aankoms van die Spanjaarde lankal nie meer bestaan nie.

Die mees waarskynlike teorie oor die verval van die Majas se kennis is die volgende: Die Maja-gemeenskap het uit verskillende sosiale ordes bestaan. Sekere families het ’n opperklas gevorm – hulle was leidende sterrekundiges, ingenieurs en wiskundiges. Dan was daar die burgerklas wat hoofsaaklik in eenvoudige huisies gewoon het. Die opperklas het grotendeels die indrukwekkende godsdienstige en seremoniële geboue en strukture van die Maja-stede bewoon en het alleen die reg op die gebruik van en toegang tot hierdie hoofsaaklik seremoniële strukture gehad. Die kundigheid van die opperklas is binne familiekonteks en dissiplines aan volgende geslagte oorgedra.

Die gewone burgers het nie toegang tot hierdie orde gehad, of ’n geleentheid gehad om daartoe toe te tree nie. Die teorie oor die rede vir die verval van die Majas is dat die burgerklas teen die opperklas in opstand gekom het en dat die opperklas amper uitgeroei of verdryf is. Gevolglik is die kennis wat die opperklas gehad het, uitgewis. Vandag, alhoewel Maja-afstammelinge steeds in dieselfde area woon, ken geen van die mense die taal of skrif van hul voorsate nie. Dieselfde lot het die Egiptiese ryk getref.

Uit hierdie geskiedenis (moontlik net ’n teorie) kan daar seer sekerlik baie gesprekspunte geneem en gedebatteer word. Die punt wat my die meeste opval, is die kernbelangrikheid van die behoud van kennis en kundigheid vir die voortbestaan van ’n gemeenskap. Dieselfde beginsel is vandag steeds net so geldig en veral van belang vir die voortbestaan van ons Afrikaanse gemeenskap en die breër Suid-Afrikaanse nasie.

Ten spyte van die verlies van ’n enorme hoeveelheid kundigheid oor die afgelope aantal jare, het ons gemeenskap en land steeds kundigheid van top- en wêreldgehalte. In die Afrikaanse sakekonteks is die posisie van mense soos Marius Kloppers (bedryfshoof van BHP Billiton, die grootste mynboumaatskappy ter wêreld), dr Johan van Zyl (bedryfshoof van Toyota SA en een van slegs vyf nie-Japannese senior bestuurslui wat direk aan die direksie van Toyota verslag doen) en vele ander Suid-Afrikaans-opgeleide, Afrikaanse sakelui wat senior internasionale bestuursposisies beklee, asook vooraanstaande Afrikaanse sakelui van wêreldgehalte wat in Suid-Afrika werksaam is, bewys van die wêreldklas-kundigheid wat bestaan. Hierdie verskynsel is ook geldig ten opsigte van verskeie terreine en dissiplines.

Waarskynlik die grootste uitdaging vir die Afrikaanse gemeenskap is om aan toekomstige geslagte toegang tot kundigheid te gee te midde van ’n toenemend kritieke tekort aan tersiêre opleidingsgeleenthede in die land. Kennis en kundigheid is ’n kragtige middel tot selfbemagtiging en om ’n bydrae tot ’n beter toekoms vir die Afrikaanse gemeenskap, en daardeur vir die land, te lewer. Toegang tot en die oordrag van kundigheid en kennis is waarskynlik die sterkste nalatenskap wat enige gemeenskap aan sy toekomstige geslagte kan gee. In ’n wêreld wat na kennis smag, gee kennis hoop aan diegene wat dit het of kan verkry.

Enersyds kan hierdie behoefte aan kundigheid en kennis bevredig word deur die stigting van tersiêre onderriginstansies wat toegang tot kennis aan Afrikaanse kinders sal verseker. Daar is talle besielende voorbeelde van inisiatiewe en projekte wat hierop fokus. Die moeiliker uitdaging is hoe om die bestaande kundigheid van senior Afrikaanse besigheidslui, wetenskaplikes, wiskundiges, medici, onderwyskundiges, ensovoorts (ook afgetrede kundiges) beskikbaar te maak en terug te ploeg in spesifiek die Afrikaanse gemeenskap asook in die breër samelewing.

Een moontlikheid is die stigting van ’n forum soortgelyk aan The Elders wat ten doel het om die kundigheid, wysheid en leierskap van voormalige wêreldleiers beskikbaar te stel in die konteks van internasionale krisisse. Daar is groot welwillendheid by baie top-Afrikaanse kundiges om hul kundigheid op sulke forums te deel, maar beskikbare tyd is ’n groot uitdaging. Daar moet dus gekyk word na kreatiewe maniere om hulle kundigheid te ontsluit. Hier kan senior kundiges aan die einde van hul loopbane, of kundiges wat reeds afgetree het, ’n belangrike rol speel.

Gegewe die toenemende uitdaging betreffende die vaardigheidstekort in ons land, en veral die belangrikheid van kundigheid en kennis as ’n meganisme om hoop vir toekomstige geslagte van die Afrikaanse gemeenskap en die res van die land te verseker, moet die skep van kennis en kundigheid asook die herinvestering van bestaande kennis en kundigheid ’n topprioriteit van die gemeenskap wees.

Geen gemeenskap, volk of beskawing, nie eens die magtige Majas of die Egiptenare, was bestand teen die verlies van hul kennis en kundigheid nie. Die Afrikaanse gemeenskap en die land sal nie hierdie lot ontsnap as kennis en kundigheid nie bewaar, gekoester en uitgebrei word nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bernard Du Plessis

Meer oor die skrywer: Bernard Du Plessis

Bernard is ‘n senior vennoot by die regsfirma Edward Nathan Sonnenbergs Inc. (ENS) in Johannesburg en medehoof van die firma se nasionale belastingpraktyk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gemsbok ·

Dankie vir ‘n baie prikkelende artikel. Ek dink dit spreek ‘n groot waarheid aan.

Hoewel ‘n mens se besittings van jou af weggeneem kan word deur krediteure, misdaad of moedswillige regerings, kan niemand jou van jou kundigheid ontneem nie en daarom is kundigheid die beste versekeringspolis vir kos op die tafel.

Die aspek wat ek egter van nader sou wou bekyk op grond van die voorbeelde van die Maja’s en Egiptenare is die rol van volksaffiniteit en veral die gebrek daaraan wat volke ten gronde laat gaan.

Wanneer volksgenote nie aangetrokke tot mekaar en hul kultuur is nie, hetsy as gevolg van uitbuitende klassestelsels of ‘n persepsie van minderwaardigheid teenoor ander volke of kulture, kan blote kundigheid nie die volk red nie.

In sulke omstandighede, van gebrekkige volksaffiniteit, word kundigheid eerder ‘n kaartjie wat die houer toelaat om die volk te verlaat, as wat dit bydrae tot die volk se ontwikkeling en groei.

Baie van vandag se internasionaal-suksesvolle Afrikaanse sakelui lewer nie meer insette tot die ontwikkeling en groei van die Afrikaanse gemeenskap nie, want hulle is in proses van assimilasie elders.

Pieter Herman ·

Dankie vir ‘n baie insiggewende artikel.

Die skrywer se gemaklike skryfstyl en vergelykings met die Maja kultuur, is skitterend gedoen.

Die uitdaging is nou die oordra van kundigheid aan jonger leiers, opkomende sakemanne, studente en die bree sakesektor.

Wat van ‘n jaarlikse “mighty men ” konferensie vir Afrikaanse sakelui/ studente en belangstellendes ?.

Die uitdaging is groot .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.