Kuns in gemeenskap

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Wanneer ʼn mens van kuns en kultuur praat, sweef ʼn Afrikaner se gedagtes maklik na skaapbraai op die kermisgronde, tombola, sakresies, waatlemoenoorlog en verhoë met op en wakker musiek.

Sommige waag dit selfs om na ʼn toneelstuk te gaan kyk. Nog ʼn kleiner groepie gaan kyk na skilderye en beeldhouwerk in ʼn museum of galery en hier en daar lees iemand selfs ʼn Afrikaanse boek.

Vir sommige, sal bogenoemde dalk na ʼn afgewaterde definisie van kuns en kultuur lyk. Maar as opsomming van sommige van die algemene beskouings en belewenis van kuns en kultuur, is dit nie te ver uit die kol nie.

Verdiep jy jou in die Westerse kuns en kultuur van 100-500 jaar gelede, is sekere kontraste ten opsigte van die huidige toedrag van sake redelik opvallend. Vergelyk jy groot geeste van ouds – Shakespeare, Tolstoi, Goethe en selfs NP van Wyk Louw se taalgebruik en die diepte van hul peiling met die van Danielle Steele, Wilbur Smith of JK Rowling, is die kontras opvallend. Dieselfde gebeur wanneer ʼn mens die musiek en komplekse ritmes van Mozart, Verdi en Bach met die Beatles, Madonna of Chris Chameleon vergelyk.

Die doel van hierdie opstel is om die saak te stel dat kulturele uitnemendheid in die Westerse beskawing in vele gevalle gestagneer het en in sekere gevalle regresseer het. Ek wil die redes vir die waarnemings waarop hierdie aanname gebaseer is verken en ten slotte die verbeelding prikkel in die rigting van praktiese oplossings.

Wat het dan gebeur?

Die snelle, ongeëwenaarde tegniese, ekonomiese en sosiale ontwikkeling van die afgelope twee eeue het gebeur.

‘n Voorstelling van die industriële rewolusie (Foto: PrismaArchivo/Leemage)

Die industriële rewolusie van die 18de en 19de eeu het daartoe gelei dat die lewensomstandighede van groot massas westerlinge in ʼn kort tydjie, drasties verbeter het. Die beskikbaarheid van water, die verwerking van afval, elektrisiteit en die menige praktiese toepassings daarvan, die binnebrandmotor, sanitering en mediese vooruitgang – dit alles het die lewe van die gemiddelde Westerling in ʼn betreklik kort tydjie aansienlik vergemaklik.

Reeds vóór die enorme vooruitgang wat deur die industriële revolusie teweeggebring is, moes mense al die basiese dinge doen wat ons vandag nog doen: eet, ploeg, plant, was, klere maak, pendel, siek word, herstel, bou. Al hierdie dinge is egter meer moeisaam verrig, en meestal met meer beskeie uitkomste.

Boonop het die meerderheid van die Westerse beskawing onderhewig aan ʼn feodale stelsel geleef, wat beteken het dat mense al hierdie dinge vir hulleself moes doen terwyl hulle steeds die oorgrote meerderheid van hulle tyd moes toewy aan hulle meesters. Werksure was uitmergelend en mense het jaarliks slegs die klein hoeveelheid heilige vakansiedae vir hulleself gehad. Die vraag is dan: ‘Waar het mense die tyd gehad vir verdieping in kuns en kultuur?’. Die antwoord is: ‘Nêrens’.

Die ironie is dat dit onder andere juis hierdie ongelyke, en, gemeet aan vandag se verwagtinge, ongewensde sosiale bestel was wat die uitnemendheid van kuns bemagtig het. Waar tot 30 bediendes die huishouding van ʼn welgestelde landheer moes versorg en in stand hou, het hierdie landheer die tyd gehad vir ʼn verdieping in kuns wat vir slegs ʼn klein elite beskore was – sy bediendes het seer sekerlik geen tyd daarvoor gehad nie. As sodanig was die teikengroep vir hierdie kuns noodwendig die hoogste vlakke van die samelewing, wat oor die hoogste opvoeding en opleiding beskik het, onder wie die mees gesofistikeerde sosiale interaksie plaasgevind het met ʼn hoogs verfynde en enorm uitgebreide orde van protokol, gedragsvoorskrifte, gebruike en sosiale rituele waarvoor daar vandag weinig begrip van of vermoë tot bestaan.

Die kuns moes spreek tot hierdie beskawingsvlak en dit was hierdie beskawingsvlak wat die kuns onderhou het en kan in ʼn groot mate die uitnemendheid van gesofistikeerdheid en vaardigheid van daardie kuns verklaar. Die uitdaging is dus om in die hedendaagse, minder gestratifiseerde samelewing ruimte te skep vir die omstandighede vir die bevordering van uitnemendheid, sonder om die meerderheid van die mensdom te verdoem tot ʼn sukkelbestaan.

Ek wil ook beweer dat die opkoms van ʼn verskeidenheid weergawes van die vryemarkstelsel verdere druk op die uitnemendheid van kuns geplaas het. Die winsmotief het ʼn enorme invloed op hedendaagse kuns en die eenvoudige waarheid is dat omset uitgebrei kan word deur inklusiwiteit en dat groter inklusiwiteit behaal kan word deur ʼn verlaging van sekere standaarde, ten einde groter, meer algemene toeganklikheid te bewerkstellig.

Don Quixote op die perd Rosinante en sy skildknaap Sancho Panza op sy muil (Foto: Bianchetti/Leemage)

Aansluitend hierby, die feit dat toenemende globalisering van die kultuur-ekonomie ondermynend inwerk op die verskeidenheid van nuanse en perspektiewe waartoe die mensdom in sy uiteenlopende tradisioneel kulturele verwysingsraamwerk in staat is. ʼn Vinnige oorsig van die top tien musiektreffers van drie lande op elke kontinent die afgelope 50 jaar sal die prentjie besonder duidelik maak: die treffers begin al hoe meer na mekaar klink en beweeg terselfdertyd verder weg van ʼn herkenbare, spesifieke kulturele identiteit.

Die ontwikkeling van mediategnologie skep inderdaad ook bepaalde uitdagings vir die uitnemendheid van kuns.

Vir die massas wat nie kon lees of skryf nie was Cervantes se Don Quixote (vandag, 400 jaar later steeds gereken as een van die belangrikste romans in die geskiedenis van Westerse literatuur) buite die kwessie. Hoewel die drukpers nagenoeg 100 jaar voor die verskyning van Don Quixote uitgevind is, was hierdie magtige uitvinding aanvanklik meestal toegewy tot die druk van Bybels en ander religieuse geskrifte. Selfs teen 1900 het my stoere boere voorvaders hoofsaaklik slegs een boek (die Bybel) in die huis gehad, wat dan met moeite en nie deur elkeen in die huis nie gelees kon word.

Die tegnologie om boeke te druk bestaan, maar die moderne Westerling se tyd word bewysbaar in ʼn groter mate toegewy tot katjies op Facebook of twee sin menings op Twitter en dergelike sosiale media aanbiedinge.

Tolkien se Lord of the Rings-trilogie het binne die eerste 70 jaar na sy verskyning 150 miljoen eksemplare verkoop, waarvan ʼn groot deel ná die verskyning van Peter Jackson se gelyknamige lokettreffer-rolprentreekse. Dit is egter beduidend dat daar telkens binne etlike maande na die bekendstelling van die rolprente ʼn groottotaal van meer as 500 miljoen kaartjies vir die rolprent verkoop is.

Die Mona Lisa is minder as 100 jaar na die uitvinding van die drukpers geskilder, maar daar moes nog byna 300 jaar gewag word vir die uitvinding van die tegnologie om hierdie skildery op groot skaal te druk. Die enigste manier om dit destyds te kon beleef was in eie persoon, dus, vir weinig beskore. Vandag weet miljoene westerlinge hoe die Mona Lisa lyk, en ʼn groot aantal van hulle het dit al in lewende lywe besigtig.

Slegs 40 jaar gelede, met ander woorde glad nie te lank gelede nie, toe ek ’n kind was, was ʼn visuele beeld van jou gunsteling-popkunstenaar ʼn skaarste, en sou jy dikwels na musiek geluister het van mense wie jy die voorkoms van nie ken nie. Vandag sal ʼn groter meerderheid Westerlinge Eminem se foto uit ʼn versameling van tien blanke kletsrymers kan identifiseer as wat hulle sy musiek uit ʼn soortgelyke versameling sal kan identifiseer.

Hierdie skuif na ʼn beklemtoning van die visuele sintuig en die oorheersing van die visuele sintuig in die kunslewering geskied binne die beperkte raamwerk van beskikbare vrye tyd vir kunsbelewing noodwendig ten koste van ander sintuie, met ʼn uiteindelike inperking van die volle vermoë van menslike sintuiglike belewenis, oftewel die kunsradar, as gevolg.

Een groot verskil tussen die rol van kuns en kultuur van destyds en die hedendaagse, is dat hedendaagse kuns en kultuur ’n baie sterk klem op vermaak plaas. Die kuns van Michelangelo, Da Vinci en Wagner het dit nie slegs ten doele gehad om te vermaak nie, maar ook om te geestelike en/ of filosofiese en/ of kognitiewe sintuie te stimuleer tot verdieping en oordenking. Let op welke deel van jou liggaam gestimuleer word deur die dansmusiek van Minaj se “Anaconda” (dit lê gewoonlik in die laer dele van die onderlyf, hetsy om die genitalieë in beweging te kry of die braakrefleks te ontketen) en die dansmusiek van Strauss (’n vinnige walsie sal vanaf die hart boontoe begin werk). Die verbruikerskultuur moedig tydelike bevrediging aan, ten einde weer en weer en weer ’n plaasvervanger te kan bemark en te verkoop, terwyl die geestelike en filosofiese kultuur strewe na ’n kwalitatiewe vergenoegdheid wat nie noodwendig deur kwantiteit aangespoor word nie.

Die beeldhouwerk van Michelangelo Buonarroti die “David” in die Akademie vir Beeldende Kuns in Florence, Italië op 10 Augustus 2018. (Foto: RENATO ESPOSITO / Controluce / Controluce via AFP)

Vir ʼn verdere, en vir hierdie doel laaste, rede vir die uitnemendheid van die kuns van weleer ten opsigte van hedendaagse kuns moedig ek die leser aan om die volgende te oorweeg:

As liefhebber van die geskiedenis, waarvan oorlog een van die grootste faktore is, is ek gereeld verstom deur die verskynsel van jong mans wat in hulle duisende, tienduisende en selfs honderde duisende jillend op mekaar afstorm en die dood vierkantig in die oë staar. In die hedendaagse sosiale klimaat is dit haas ondenkbaar dat ʼn mens sulke groot getalle jong mans sal kan bymekaarmaak om op ʼn slagveld tot die dood toe te veg. Hoewel ek dit nie betreur nie, wonder ek nietemin oor die redes vir die destyds oënskynlike minagting van die dood, nie net deur die samelewing nie, maar deur die individuele houer van daardie lewe self, en hoe dit vergelyk met die skynbaar hedendaags ongeëwenaarde hoogskatting van die lewe. Tye verander, die lewe verander, maar die dood is egter die groot gelykmaker en konstante, want dit was destyds net so finaal soos vandag.

Of was dit?

Ek wil teenintuïtief aanvoer dat dit juis nie was nie.

Westerse Christene verklaar graag geloof in die onsterflikheid van die siel en die ewigheid van die hiernamaals – ʼn ewigheid wat vir die getroue gelowige boonop ʼn salige ewigheid is. Maar dit verg bloot ʼn pistool teen die kop tydens ʼn kaping om die onderliggende oortuiging van sterflikheid en die finaliteit van die dood spartelend na vore te bring.

Die Westerse beskawing verkeer reeds ʼn geruime tyd onder ʼn sekulêre bestel. (Ek gebruik doelbewus die woord ‘onder’, eerder as ‘in’, omdat ook sekularisme voorbehoude van gedrag en denke handhaaf wat in die praktyk in selfs die mees liberale gemeenskappe soms as dwang en dogma manifesteer). Die stelselmatige verwydering van die idee van ʼn god as werklikheid, plaas ʼn steeds groter wordende druk op die soewereiniteit van die mens, en in die lig van sy onvermydelike onderworpenheid aan die finaliteit van die dood, ʼn groter druk op sy vermyding van die naderende dood, waarvan die vrees vir lyding en vernedering die waarskuwende sintuig is.

En dan, ʼn besonder subjektiewe gewaarwording: die kreatiewe proses gedy deur oorgawe, vreesloosheid, die magiese uitdaging wat durf om die onsin van die rasionele te verklaar en die volle omvang van die onvervatbare te poog. In weerwil van die assosiasie van verkramptheid met die religieuse paradigma, is daar binne die geestelike verwysingsraamwerk toegang tot moontlikhede wat binne die streng sekulêre bestel ontoeganklik is.

Hoe gaan ʼn mens dan te werk om te verhoed dat die relatief skielike omwenteling van die afgelope eeu in die menslike kunsbelewenis en kunslewering steeds lei tot ʼn stelselmatige verarming en vereenvoudiging van menslike kultuur?

Sakeman wat Leonardo da Vinci se Vitruvian Man verteenwoordig (Foto: FANATIC STUDIO / SCIENCE PHOTO L / FST / Science Photo Library via AFP)

In die natuurwetenskap word dit algemeen aanvaar dat biodiversiteit beduidend is van ʼn gesonde ekologie – hoe meer verskeidenheid, hoe sterker is die ekologie bestand teen siekte, droogte, indringers en die oorheersing van ʼn enkele spesie. Desondanks is daar tans ʼn globale neiging na monokulturalisme, wat ook internasionaal in die politieke diskoers gesteun word. Hierdie diskoers word ook gevoer met woorde soos ‘diversiteit’ en ‘inklusiwiteit’, waarvan die praktiese gevolg direk teenoorgesteld ten opsigte van die woord se betekenis uitspeel. Dit is in belang van die gesondheid van die menslike kulturele ekologie om gemeenskapsidentiteit te bevorder en instellings vir die skepping, onderhoud en, indien nodig, veilige hawe daarvan te skep.

Daar is ʼn behoefte aan ʼn moderne patronaatskapstelsel, waarin die kuns kan ontwikkel in afwesigheid van winsmotief, sensuur, agenda bevordering en vrees vir die oortreding van enige van die voorgenoemde. Organisasies, firmas en individue kan begrotings bewillig vir die ontwikkeling van kuns, sonder enige vooroordeel met betrekking tot inhoud, beginsel of wins. In die praktiese sin konstateer dit die risiko van finansiële uitgawes sonder vanselfsprekende geldelike wins. Maar die morele beweging tot kuns om kunswil is ʼn onkwantifiseerbare wins vir die mensdom met vele verskuilde winste in die toekoms. Sonder die patronaatskap van sy broer sou Van Gogh nooit sy kuns kon skep nie, sou die wêreld hierdie kunstenaar wat eers ruim na sy dood die aandag van die kunswêreld getrek het nie kon ken nie. Van Gogh, wat slegs een skildery in sy lewe verkoop het.

Michelangelo, Mozart, Cervantes en vele van die grootste kunstenaars van ouds was ook nie ryk nie, inteendeel. Maar hulle werk is moontlik gemaak deur borge, patronate wat na hulle basiese lewensbehoeftes omgesien het terwyl hulle gedoen het wat kunstenaars die graagste wil doen: kuns skep. Die hedendaagse fokus op die enorme rykdom van die wêreld se mees suksesvolle kunstenaars skep onredelike verwagtinge by aspirant-kunstenaars, en ontaard dan ook dikwels in ʼn kunsondermynende agent om gehalte, nuanse, onderwerp en vertolking te verlaag tot die mees algemene resepmatige standaard ten einde inname en verteerbaarheid te vergemaklik vir groter omset. Die waarheid is dat vele aspirant-kunstenaars uiteindelik, kort nadat hulle die patronaatskap van hul ouerhuise verlaat, van hulle drome afsien en in latente frustrasie middelinkomste-loopbane vind. As die moontlikheid bestaan het om dieselfde inkomste te verdien uit hulle kuns, sou hul dit gretig aangryp.

Selfportret van Vincent van Gogh (1853-1890) (Foto: Artokoloro / Quint Lox / ARTOKOLORO QUINT LOX / Aurimages)

Binne die omvang van ʼn ooreenkoms wat sodanige patronaatskap moontlik maak, sal die bevredigende balans beding moet word tussen die moontlike sukses van die kunstenaar en die moontlike verlies van die patronaat, maar dit begin met die gewilligheid daartoe en insig van die voordele daarvan. Veral musikante kan in hierdie opsig hul beskouing aanpas, omdat skilders byvoorbeeld daaraan gewoond is om hulle te skei van hul werk, wanneer dit eers verkoop is en aan iemand anders se muur pryk, maar musikante gewoond is om lewenslank hul werk te besit en voortdurend daaruit, al is dit ook hoe skamel, iets te verdien.

Wat die oorheersing van veral visuele media betref, is opvoeding die mees effektiewe teenvoeter. In ʼn samelewing waar kinders nie voor ʼn skerm neergeplak word om uit die pad te bly nie, waar leesvaardighede aangemoedig en ontwikkel word en waar soveel as moontlik visuele dinge wat ook beluister kan word eerder op die luistermedium gevoer word, sal ʼn sterker, meer inhoudelike kunskultuur ontwikkel met enorme voordele vir nie slegs die gehalte van die kuns nie, maar ook die gehalte van die mens. Ek het dit eerstehands in verskeie gemeenskappe in Europa beleef en dit is ʼn wonder om te aanskou.

Die tirannie van sensuur en die diaboliese uitwerking daarvan op die vryheid van kuns, moet hokgeslaan word. Hiervoor is dapper patronate nodig wat selfs in weerwil van hulle eie ideologieë en agendas bereid is om besit te neem van werk wat nie met hulle perspektief strook nie. Berg die kuns dan, as jy so wil, die tyd daarvoor mag dalk nog in jou leeftyd kom.

Ten slotte, en vir my persoonlik die belangrikste, sou ek die magiese, die geestelike ervaring in gemeenskappe steun, in plaas daarvan om dit konsekwent te onderdruk ter wille van die sekulêre wetenskap in ʼn wêreld van steeds minder wonder en verrassings. Want die gees se kleinste babatreë vertrek in wonder, hoop, visie en durf op die sport bo die hoogste vermoëns van wêreldse wetenskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dorothy ·

Chris, kyk bietjie op YouTube na Jonathan Pageau se video oor The end of desacralization in Art, sluit baie aan by van wat jy sê, maar net oor kuns.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.