‘Kuratorskap’: Die towenaar wat jou eiendomsreg laat verdwyn

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Deur Morné Malan

Dink vir ʼn oomblik aan iets wat jy baie graag wil hê – ʼn fisieke voorwerp. Sien dit voor jou geestesoog en dink daaraan hoeveel jy daardie item sal geniet. Beredeneer dit en oortuig jouself dat jy dit dalk net nie op hierdie oomblik vashou nie omdat iemand dit tans sommer namens jou vashou.

Geluk! Jy is nou net soveel in besit van daardie denkbeeldige voorwerp soos wat die “begunstigdes” van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (Mineral and Petroleum Resources Development Act – MPRDA”) in besit van minerale rykdom is. Tog, artikel 3 van hierdie einste stuk wetgewing verduidelik soos volg: “Mineral and petroleum resources are the common heritage of all the people of South Africa.” Die Vryheidshandves en die departement van minerale hulpbronne bevestig albei dat die eienaarskap van die minerale rykdom onder die grond aan die mense as geheel oorgedra sal word.

Sien? Dit behoort eintlik aan jou. Dit is dan mos heeltemal iets anders as jou denkbeeldige besit van daardie ander voorwerp. ʼn Wet sê dat hierdie rykdom aan jou behoort. Verskoning, ek het eintlik net die eerste helfte van artikel 3 aangehaal. Die tweede helfte lui: “… and the State is the custodian thereof for the benefit of all South Africans” (eie beklemtoning). Wat beteken dit dat die staat die bewaarder of kurator (“custodian”) van hierdie rykdom is? Wel, dit beteken maar net dat hulle namens jou hierdie dinge bestuur – dit is joune – jy het net geen sê oor wat daarmee gedoen word nie en die staat hou dit sommer namens jou.

Dit is hoe die regering oor baie verskillende bates redeneer. Wanneer ook al jy ʼn politikus hoor sê dat iets aan alle Suid-Afrikaners of aan die “mense” behoort, herinner jouself net daaraan dat hul hiermee eintlik bedoel dit behoort aan die staat. As hulle sê dat die land weer aan die “mense” teruggegee moet word, dan word dit in dieselfde trant bedoel as wat die “mense” die minerale besit. Herverdeling bestaan altyd uit twee stappe: Stap 1: Neem die besittings weg van diegene wat het; Stap 2: Gee dit gaan diegene wat dit nie het nie. Regerings – en veral ons sʼn – is besonder goed met die eerste stap, maar sukkel dikwels om die tweede te voltooi.

In die saak Agri SA v Minister for Minerals and Energy het die konstitusionele hof beslis dat die regering bates van persone kan wegneem by wyse van ontneming (“deprevation”) sonder dat dit noodwendig neerkom op onteiening (“expropriation”). Die betekennisvolle onderskeid hier is dat die regering nie nodig het om enige vergoeding te betaal om bates te ontneem nie. Onthou, hulle neem nie besit weg nie, hulle bestuur maar net hierdie belangrike bate namens jou.

In die mynbou het dit tot gevolg gehad dat alle regte om te kan myn oorgeplaas is van die eienaar van die betrokke stuk grond na die regering. Dit wil sê, die regering kan beslis wie die reg mag kry om te kan myn, wat die kriteria daarvoor is, hoe hulle dit mag doen, of hulle toegelaat word om daardie reg aan ander te verkoop, ensovoorts.

Dink daaraan in terme van jou motor. Die regering sê dat jou motor aan jou behoort, maar jy moet steeds aansoek doen om met jou motor te kan ry. In die aansoek moet jy motiveer hoekom jy die reg moet hê om met jou motor iewers heen te kan ry en hoe jy gaan verseker dat jy jou motor tot voordeel van alle Suid-Afrikaners bestuur. Moontlik sal daar van jou verwag word om ten alle tye minstens een swart persoon saam jou in die motor te hê om te mag ry. Later mag jy dalk besluit dat dit bloot net nie die moeite werd is nie, en dat jy maar eerder net die motor wil verkoop. Hiervoor kort jy ook toestemming, want die regering moet eers beslis of die verkoop van die motor in die openbare belang is en of dit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners is. Natuurlik geskied al hierdie administratiewe prosesse telkens teen ʼn fooi en die koste om motor te bestuur word besonder hoog. Hierdie voorbeeld mag dalk absurd klink, maar dit is nie so ver verwyderd van wat in werklikheid in die mynwese gebeur het nie – en wat dikwels dreig om in landbou te gebeur. Die regering kan dit nie langer bekostig om bates te onteien nie, en daarom plaas hy homself in die rol van “bewaarder” wat deur kuratorskap sake bestuur.

Die belangrikste ding om ingedagte te hou, wanneer ook al jy ʼn gesprek voer met enigiemand wat simpatiek staan jeens die beginsel van herverdeling – of dalk as jy self al gedink het dit is nie so slegte idee nie – is dat wanneer die staat sê hul gaan iets opdeel, aan die mense gee of anders ter wille van alle Suid-Afrikaners bestuur, dan wat hul eintlik bedoel is: “Solank as wat julle alles vir ons gee, ons al die besluite neem en ons deel het aan die wins, dan sal ons seker maak dat almal meer gelyk is – belowe.” Soos voormalige president van die VSA, Ronald Reagan, gesê het: “The nine most terrifying words in the English language are: ‘I’m from the government and I’m here to help’.”

Die probleem is nie ʼn dat die ANC ʼn slegte regering is nie, hoewel dit sonder meer die geval is. Die probleem is dat oormatige staatsmag noodwendig tot korrupsie lei. Wanneer ook al daar ʼn handjievol individue is wat die mag het om besluite oor miljarde rande se projekte te neem, soos in die mynwese, dan sal daardie individue altyd deur die sisteem na korrupsie omswaai. Die antwoord is nie om ander individue in daardie pos te plaas nie; die antwoord is om die mag waaroor die bekleër van daardie pos beskik, te verminder. Die samelewing het baie meer beheer oor die sukses van private maatskappye as wat hulle oor die regering het. Wangedrag in private maatskappye raak dikwels onmiddellik die maatskappy se sak. Watter denkbare gevolge is daar sover vir die magdom foute van staatsamptenare?

Moet dus nie staat maak op die staat nie. Maak staat op diegene om jou. Gemeenskappe tree op ter wille van die mense in die gemeenskap. Daar is baie meer aanspreeklikheid onder lede van kleiner groepe as wat daar in ʼn groter land is. Staatsinmenging in private sake, veral wat eiendomsreg betref – ongeag wie dit doen – is opsigself sleg. ʼn Blote verandering van leier sal geensins ʼn goeie resultaat waarborg nie.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Ja, ons kom nou n al n paar jaar met dit saam. Ek sien geen manier daaruit nie aangesien dit deur die meerderheid verkies word. Staatsinmenging in private sake kan nie gekeer word indien dit die wil van die meerderheid is nie. Diegene rondom ons kan net so min doen daaraan. Bietjie stof opskop en dien as weerligafleier vir emosie wat met verlies gepaard gaan. Daar is nie salf te smeer aan die verrotting nie. Afrika – intellektuele tradisies noem sommiges dit.

John ·

‘n Skelm kom altyd tot die gevolgtrekking dat wat ander het ook aan hom behoort. Sodra sy brein gespoel is (soos geldwas mos werk) begin die ratte andersdom draai. Allerhande planne, ideolgiee, terme en apparate word dan nadergetrek om hierdie nuwe strategie te maak werk. Gestorte bloed kry ook ‘n nuwe betekenis. In SA word ‘n stadige dood vir wit bevolking en hul besittings gekies as metode van oorlogvoering ooreenkomstig die ANC se pikante styl om die wereld te flous en te laat glo die terroriste-groep is bloot ‘n kinderkrans-uitstappie met hul leiers… gespel lyers… lieflike wesens of ‘liewe heksies’… en so word ons in stadige aksie uitgewis…

Oom Piet ·

Wydverspreide Nasionaliseering was wettiglik gedoen onder Mbeki leierskap, met vergoeding deur voorgesette vryemark verhandeling van okkupasie gebruik en vrug regte, insluitend omgewings faktore.

Na ondergrond Nasionalisering moes alle myners heraansoek doen vir Nuwe Myn “Lisensie” Regte, asook afstand doen van myngrond vir HOP behuising.

Alle grond en alle verbeterings hoeookal verbind was Genasionaliseer deur die “Municipal Property (Rental) Rates Act of 2004″, geimplementeer voor 2008.

Gewysigde Besigheids Wet, het alle geregistreerde besighede Genasionaliseer met verpligte indiening van Statutere Verslae en Geouditeerde Finansieele State oor hoe goed die besigheid beheer en bedryf word, namens die Staat.

Finansierings skulde is omskep in ” Collateralized Debt Obligations (CDO’s)” wat (menigmaal) AAA gesertifiseerd verdiskonteer verhandel was vir kontant.
Verhandeling van die onderliggende Staat bate, onwettig.

EFF kraai Nasionaliseer, President Zuma giggel en herhaal kalm, dis gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.