KZN-vloede: Skole se sukses lê in gemeenskappe se hande

Nagenoeg ʼn kwart van die eThekwini-metro se 3,9 miljoen inwoners woon in 550 informele nedersettings om die stad en minstens 164 van dié nedersettings is op vloedvlaktes gebou. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Deur Melanie Buys

Bykans 630 skole is tydens die onlangse vloede in KwaZulu-Natal beskadig, 124 skole het omvangryke skade opgedoen. Brûe en paaie het weggespoel en derduisende kinders kan nie by hulle skole uitkom nie. Die staat bereken die koste van herstel van skole op R442 miljoen. Die vraag in almal se gedagtes is natuurlik: As die staat nie eers paaie in goeie tye kan instandhou nie, hoe op aarde gaan hulle onderwys in KwaZulu-Natal betyds herstel dat leerders, na Covid-inperking se onderwysverliese, nie nóg verder agter raak nie.

In Oktober 2017 het ʼn soortgelyke gebeurtenis die krag van gemeenskappe gewys: ʼn Tornado het twee skole aan die Wesrand se dakke afgeruk en ernstige strukturele skade veroorsaak. Die ouers is ingelig dat die skole tot verdere kennisgewing gesluit sou wees, maar die gemeenskap het anders besluit. Om vir die departement van openbare werke te wag, was buite die kwessie.  ʼn Week later is voldoende opruimingswerk by Laerskool Muldersdrif gedoen, sodat leerders kon terugkeer skool toe terwyl die res van die herstelwerk gedoen word. Die voorsitter van die beheerliggaam het gesê hulle was oorweldig deur soveel mense wat bereid was om te help. Die skade aan Laerskool Protearif was selfs groter, en leerders is in ʼn kerk en nabygeleë (onafhanklike) skool geakkommodeer. Skenkings en hulp het van oral ingestroom. In Januarie 2018  was al die herstelwerk voltooi en leerders was weer op hulle plek.

Hierdie verhaal van opbou en saamwerk, staan in skrille kontras met meer as 2 000 skole wat sedert die begin van die inperkings in 2020 gevandaliseer of vernietig is − veel meer as wat die vloede in KZN beskadig het of persentasie gewys tydens die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje vernietig is.

Gemeenskappe het die potensiaal om skole se grootste bondgenote, óf skole se grootste vyande te wees.

Elke skool staan in noue vennootskap met die gemeenskap wat hulle bedien. In Suid-Afrika sien ons dat sommige skole floreer, ten spyte van beperkte hulpbronne en onbevoegde onderwysowerhede.

Wanneer ouers, lede van die gemeenskap en instellings soos kerke by skole betrokke raak, baat die hele gemeenskap daarby. Volwasse deelname stuur die boodskap dat skool belangrik is en dat die werk wat leerders daar doen, die aandag en ondersteuning van volwassenes verdien.

Groter verantwoordelikheid vra eienaarskap

Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto verskaf)

Minister Motshekga doen gereeld beroep op skoolbeheerliggame, ouers en gemeenskappe om hul skole te waardeer en te beskerm. Groter selfstandigheid en inspraak lei inderdaad tot meer aanspreeklikheid en eienaarskap. Die onderwysstelsel moet dit bevestig deur meer magte en verantwoordelikhede na skoolvlak af te wentel.

Ongelukkig ervaar openbare skole jaarliks groter sentralisering en meer voorskriftelikheid deur die staat. As ʼn gemeenskap geen sê het oor hulle skool nie en geen bydrae tot die sukses van die skool maak nie, neem hulle ook nie verantwoordelikheid nie.

Gratis onderwys is dikwels verniet

Goeie openbare skole is byna almal afhanklik van skoolgeld om te oorleef. Ouers wat skoolgeld betaal, hou die skool verantwoordbaar om  ʼn opbrengs op hul belegging te lewer in die vorm van goeie onderwys.

In skole waar ouers geen skoolgeld betaal of op ander maniere betrokke is nie, voel hulle dikwels ook magteloos om op goeie onderwys aan te dring. Ouers en leerders ervaar geen aandeel in die sukses van die skool nie en voel dus ook min verantwoordelikheid om fasiliteite en hulpbronne te beskerm en te verbeter.

Ouers se bydrae tot die sukses van ʼn skool is nie net finansieel nie; grasplant op sportvelde, hulp met noodsaaklike instandhouding, sportafrigting en fondsinsameling, is net so belangrik. Mense heg meer waarde aan iets waarvoor hulle opoffer en werk.

Om standaarde te behou en skole vir toekomstige geslagte uit te bou, moet skole kan reken op die betrokkenheid, vrygewigheid en beskerming van die gemeenskap. Dit is slegs moontlik wanneer ouers en leerders voel dit is “ons skool”. Die sukses van Afrikaanse skole is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

  • Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mallie

Waar is die regering? Nou moet die gemeenskap weer pa staan.