Laat brand jóú fakkel van hoop

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Hierdie bydrae het twee vertrekpunte.

Die eerste is dat daar goed gebeur in ons wêreld. Sommige daarvan is positief en opbouend, ander is sleg, hartseer en teleurstellend. Dit wil vir my voorkom asof daar tans meer slegte dinge gebeur as goeies. Lewensverlies, trauma, konflik en pyn is aan die orde van die dag.

Dit veronderstel verder dat God iets te sê het oor wat in ons wêreld gebeur. Hy is nie soos die lied “From a Distance” betrokke nie, maar daadwerklik en intens.

Soos Jesus destyds na die aarde gekom en Hom met ons gebrokenheid geïdentifiseer het, kom Hy vandag nog deur die Heilige Gees om, te midde van gebrokenheid en onsekerheid, te leer en te lei.

Dis insiggewend – Jesus (destyds) kom na ʼn stukkende, sonde geaffekteerde en getraumatiseerde werklikheid en bied sý antwoord op die uitdagings wat daarmee saam gaan, aan. (Die verhouding tussen die Jode en Romeine was op breekpunt. Daar was reeds groeperinge wat die Romeinse juk met geweld wou afwerp. Een van Jesus se dissipels het juis vroeër aan ʼn weerstandbeweging behoort.)

So, Jesus, wat is U antwoord, teenvoeter, oplossing en perspektief op die omvattende nood wat mense in Israel beleef?

Sy antwoord: ʼn verrinneweerde man aan ʼn kruis.

Hoe kan dit wees? Hoe help dit hoegenaamd, sou ʼn mens kon vra. Hoe teleurstellend, sou ander kon reageer!

Ons het darem verwag dat U ons, in ons oortuiging dat hierdie ongeregtigheid nie langer kan voortduur nie, sou sterk. Ons het verwag dat U ʼn militêre vleuel op die been sou bring. Een wat die heersende orde met geweld sou omvergooi. Ons het verwag dat U die strate sou invaar en protesoptogte sou lei, opruiende toesprake sou maak, meermale mense in hegtenis neem om verhoor te word vir publieke onrus en opstokery.

Jesus, is U seker dis die antwoord op ons problematiek, is dit nie effe naïef en selfs laf nie?

Jesus se antwoord – Gee jou lewe, lê dit af, neem my juk op julle, my las is lig en my juk is sag.

Draai die ander wang. Betaal aan die keiser wat die keiser toekom.

Here, U behoort samesprekinge met die “Romeinse” owerheid te voer. Hulle te oortuig dat die belastings wat hulle hef, onbehoorlik is.  Hulle teregwys vir die brutale geweld waarmee hulle gesag afdwing. Hulle te waarsku dat ʼn opstand besig is om te broei. U moet na die vyand toe gaan en met hulle gaan praat voor dit te laat is.

Jesus sê nee, kom julle bymekaar. Ek het ʼn woord vir julle. Julle moet jul vyande liefhê.

Dis verraad, sou mense kon sê. Wat ʼn teleurstelling. Wat ʼn fiasko. Wat ʼn krisis!

Ek probeer nie die problematiek waarmee ons daagliks gekonfronteer word, geringskat nie. Ek sê nie dat onderhandelinge nie moet plaasvind en dat mense nie rede het om ongelukkig en onseker te wees nie. Inteendeel. Ek is dankbaar en bly dat daar mense is wat ons konteks ter harte neem en alles in hul vermoë doen om geregtigheid te laat seëvier. Ons bid vir hulle.

Ek vra doodgewoon – as Jesus vandag vir die eerste keer na hierdie getraumatiseerde en onseker werklikheid moes kom, wat sou Hy gedoen het en wat sou sy boodskap wees vir ons generasie, land, mense?

Jesus sou doodgemaak word. Waarom? Omdat sy boodskap die mees revolusionêre boodskap van alle tye is.

Sy boodskap is meer ingrypend en aangrypend as menslik gesproke die mees gevaarlike boodskap wat uitgebasuin kon word.

Mense het in Jesus se tyd weggestap van sy raad. Dit was net te simplisties, teleurstellend en te revolusionêr om te verwerk. Hulle het Hom die rug toegekeer en brommend hul misnoeë te kenne gegee. Hul opsomming was: Die man leef in ʼn droomwêreld.

Sedertdien het die grootste weerstandsbeweging van alle tye tot stand gekom. Dit strek oor die lengte en breedte van ons aarde. Dit verower koninkryke en verander stelsels. Dit bring hoop en genesing. Die metodiek is steeds dieselfde: Lê jóú lewe af. Dien mekaar.

Het Hy dit nie net vir die Jode alleen gedoen nie?

Nee, Pinkster het die boodskap in sy volle reikwydte laat deurbreek. Sy lewe vir die hele wêreld. Van oral oor het hulle gekom. Fakkels van hoop aangesteek en van daar die toekoms ingestap.

Revolusionêre in die ware sin van die Woord. Liefdes-terroriste.

Kan dit wees dat God ons in so ʼn tyd met dieselfde raad bedien?

Daaroor moet elke leser self besluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Pragtige boodskap…
en dan, heel op die laaste, ” Daaroor moet elke leser self besluit.”
Nèè dominee, nèè!

Jerry ·

Die Afrikaner wat die wee van Jesus volg is nie leierloos nie en raak dus nooit moedeloos nie. Jesus se wee bring hoop en goedheid wat jou volg tot aan die einde van jou dae. Die besluit wat Jannie se elke leser self moet maak is seker die maklikste besluit wat n gelowige mens met rotsvaste beginsels kan maak. Kom ons stap saam met Jannie met fakkels van hoop die toekoms tegemoet!

Cornelia ·

‘n Wonderlike Heilige Gees geïnspireerde boodskap! Op elke Woord rus ‘n Amen! Die Waarheid maak ons vry. Waak dan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.