Laat ons ons volk opbou

(Toespraak gelewer deur Ernst Roets op 16 Desember 2011 te Middelburg – sien hier vir nog geloftefeestoesprake.)

Foto: www.voortrekkermon.org.za

16 Desember is ’n dag waarop eerstens stilgestaan moet word voor die God van die Bybel, om aan hom dank te betuig vir die geskiedkundige gebeurtenis wat ons voorouers alleen met sy ingryping bereik het. So groot en noemenswaardig soos wat die Gelofte van 16 Desember 1838 was, moet ons ook besef dat 16 Desember oor soveel meer as net die herdenking en selfs vernuwing van die Gelofte gaan. 16 Desember is ’n dag waarop ons moet besin oor die lesse wat ons uit die verlede kan leer, die rigting wat ingeslaan moet word om ’n toekoms te vestig en belangriker, die uitdagings vir die hede.

Dit is waar ons vandag gaan stilstaan.

Die realiteit is dat daar geweldige uitdagings op al drie hierdie terreine bestaan. In die moderne Suid-Afrika is mense so opgetrek met die hede – hoe ek my rekeninge gaan betaal, hoe ek ’n probleem by die werk gaan aanspreek en wat vanaand op Desperate Housewives gaan gebeur – dat ons maklik die groter prentjie verloor. Ons sal moet besin oor die toekoms wat ons vir ons mense wil vestig en hoe om daar uit te kom. Ons sal moet fokus op die realiteite waarmee ons in die hede gekonfronteer word en wat gedoen moet word om die toekomsdroom te verwesenlik. Wat mense egter maklik vergeet is dat die realiteite in Suid-Afrika daarop neerkom dat ons verlede ook bepaalde uitdagings inhou.

Die stryd vir die verlede

Ons leef in ’n land waar die totale politieke ideologie van die regerende party gefundeer is op ’n bepaalde beeld van die verlede. ’n Beeld waarin hulle geskiedenis uit verhouding uit geromantiseer word terwyl die Afrikaners as die groot onderdrukker voorgehou word deur ons geskiedenis uit verhouding te kriminaliseer. As gevolg van die sogenaamde booshede wat Afrikaners in hierdie land begaan het, regverdig die regering bykans elke beleid wat in die afgelope 17 jaar geïmplimenteer is. Hierdie beleide word afgedwing en selfs geregverdig onder die vaandel van die Nationale Demokratiese Revolusie – ’n term waarvan ons dikwels hoor, maar waaroor die meeste van ons onseker is wat dit beteken.

Die NDR is die siel van die ANC. Dit is al selfs as hul geloof beskryf. Julius Malema het onlangs in die hof gesê dat alles wat hy doen ter bevordering van die NDR is en sy party het hom ook daarin ondersteun. Die NDR is egter nie die Malema-plan nie, maar die ANC-plan. By die onlangse “Polokwane Conference”, waar Jacob Zuma as president van die party verkies is, het een van die resolusies wat daar aanvaar is bepaal dat die NDR gebaseer is op die “skillful use of state power to pursue the goals of the NDR”. Die NDR is daarop gebaseer dat alles wat pre-1994 gebeur het boos of “evil” is en dat dit getransformeer moet word. Gevolglik is een van die eerste “pre-1994 instellings” wat verander is Geloftedag na Versoeningsdag. Met versigtige propaganda het hul daarin geslaag dat dié van ons wat vandag Geloftedag eerder as Versoeningsdag vier as immoreel beskou word.

Geloftedag word uitgebeeld as ’n dag vir mense wat nie vorentoe wil kyk nie. Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het onlangs gesê dat daar steeds te veel mense is wat nie wil versoen nie en wat op 16 Desember “hulle eie ding” gaan doen. Mens sou verwag van iemand wat werklik ’n passie vir “menseregte” het om respek te hê vir dit wat hierdie dag vir ons beteken en om inteendeel die regering te kritiseer daaroor dat hulle húl “eie ding” op minderheidsgroepe wil afdwing. Die teendeel is eintlik waar – Geloftedag is ’n dag vir gelowiges van ’n bepaalde kultuurgroep om hul geskiedenis te herdenk en om dank aan God te betuig vir die feit dat hy vir ons gesorg het. Die immoraliteit lê daarin om vir ons te sê dat ons hierdie dag moet opsê.

Die hartseer is egter dat baie van vandag se jeug reeds in hierdie argument verval het. Kinders word in die skole geleer hoe boos hulle ma’s en pa’s is en dat ons nie genoeg moeite doen om die prentjie met die feite te balanseer nie.

Ek was onlangs in ’n debat met ’n senior lid van die ANC-jeugliga. Die debat het gedraai na die aanvalle op boere in Suid-Afrika en Zimbabwe. Die ANC-jeugliga se antwoord was dat ons nie kan kla oor die boere wat in Zimbabwe vermoor word nie, want “wat het hul in elk geval daar gemaak?”. Later in die debat het Malema se liedjies ter sprake gekom waarop hul geantwoord het dat swart persone in Suid-Afrika ’n reg het om liedjies soos “kill the Boer, kill the farmer” te sing, terwyl hul wit eweknieë geen reg het om iets soortgelyk teenoor te sing nie of selfs om op ons verlede trots te wees nie. Die grondslag vir hierdie vertrekpunt? Die aanname dat alles wat deur my voorouers in hierdie land gedoen is boos is en dat alles wat deur sy voorouers gedoen is edel, onskuldig en roemryk was. Dit is in hulle belang om hierdie skeefgetrekte beeld van Suid-Afrika se geskiedenis te versterk en daarom doen hulle moeite om dit in elke gesprek wat hulle voer te herhaal en te beklemtoon.

Daarom is dit soveel meer in die belang van ons toekoms om hierdie beeld reg te stel. Kom ons staan kortliks by enkele van hierdie voorbeelde stil.

Jan van Riebeeck

1. Van Riebeeck is na Suid-Afrika gestuur as ’n straf omdat hy ’n krimineel was

Jan van Riebeeck het sedert 1639 vir die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) gewerk, waar hy verskeie poste beklee het en regoor die wêreld gereis het. In 1651 is hy deur die VOC versoek om leiding te neem met die vestiging van die aanvanklik-Nederlandse vesting wat in die toekoms as Suid-Afrika bekend sou staan. Sy taak was om ’n verversingstasie in te rig by die Kaap die Goeie Hoop. Ons ken die geskiedenis van 6 April 1652. Van Riebeeck het tuine aangelê en groente en vrugte verbou ter voorsiening aan VOC-skepe wat by Kaappunt verby gereis het. Vleis is verkry deur middel van ruilhandel met die Khoikhoi-stamme. Vandag hoor ons egter dikwels hoe politici argumenteer dat Van Riebeeck uit Holland “geskop” is omdat hy ’n krimineel was. Hierdie stelling spruit waarskynlik uit iets wat gebeur het ongeveer 10 jaar voordat Van Riebeeck na die Kaap vertrek het. Wat wel gebeur het is dat Van Riebeeck by geleentheid die hoof van ’n VOC-handelspos in Tonkin, Viëtnam was, waar hy teruggeroep is nadat klagtes oor private handel teen hom ingedien is. Hierdie gebeurtenis, wat bykans 10 jaar voor Van Riebeeck se vertrek na die Kaap plaasgevind het, word nou so verdraai dat dit ’n baie belangrike deel van ons geskiedenis kriminaliseer. Die tragiese is dat dié wat dit beweer dikwels meer van ons eie geskiedenis weet as onsself, wat tot gevolg het dat ons dit nie met die ware feite kan weerlê nie.

2. Die Afrikaners was die enigste uitheemse volk

Om lewensvatbaarheid aan die Hollandse verversingstasie te bring, is sekere van die VOC-werknemers van hul kontrakte bevry en aangemoedig om op hul eie te boer (“vrijburgers”). As gevolg daarvan het die grense van die kolonie uitgebrei. 1688 merk die koms van die Franse Hugenote, wat vir hul lewens gevlug het vanaf vervolging deur die Rooms Katolieke Kerk. Met verloop van tyd het ander volke, wat Duitsers, Skandinawieërs, Iere en Skotte insluit, hul in die Kaap gevestig en het later as die “Boers” of die “Cape Dutch” bekend gestaan. In 1707, ongeveer 50 jaar sedert die koms van Van Riebeeck, is die woord “Afrikaner” vir die eerste keer gebruik toe Hendrik Biebouw die bekende woorde gesê het: “Ik ben een Afrikander”. Hy het dit gesê om sy lojaliteit en begrip van tuishoort teenoor Afrika en Suid-Afrika uit te druk en dat hy nie meer as ’n Europeer beskryf kan word nie. Afrikaners het wel ’n Euro-etniese oorsprong, maar ons beskou onsself nie as Europeërs nie, maar as Afrikaners. As ’n groep wat in Afrika woon, wie se tuisgrond, geskiedenis en monumente in Afrika is, en wat ’n toekoms in Afrika wil maak.

Kom ons kyk nou na die swart volk:
• Bronne is dit eens dat die Xhosas afkomstig is van swart volke wat uit die noorde na Suid-Afrika geïmigreer het (waarskynlik van Wes-Afrika);
• Die Sotho’s het ongeveer in die 15de eeu na Suid-Afrika getrek;
• Die geskiedenis van die Zoeloes keer terug na ongeveer 1670, toe ’n man met die naam Malandela en sy vrou, Nozinja, twee seuns gehad het: Qwabe en Zoeloe (beteken “lug”). Qwabe het jaloers geword en ’n sluipmoord op sy broer beplan, maar Nozinja het tot Zoeloe se redding getree en hom weggeneem. Sy opvolgers was Punga, Mageba, Ndaba, Jama en Senzangakona, wie se vrou, Nandi, geboorte geskenk het aan die bekendse Zoeloe van alle tye, Shaka. Malandela se voorgeslagte was nie inheems aan Suid-Afrika nie en het ook vanuit die noorde hierna getrek;
• Volgens vroeë verslae deur die Portugese het die Tsongas in 1554 in Mosambiek gewoon. Hul voortbestaan is by geleentheid deur Nguni-indringers bedreig, waarna hul suid gevlug het oor die Limpoporivier en hul in Suid-Afrika kom vestig het;
• Daar word beweer dat die Kgalagadi-groep van die Tswanas die eerste Tswana-groep was om die binneland van Suid-Afrika te betree;
• Bronne oor die geskiedenis van die Vendas leer dat hulle vanuit die noorde, oor die Limpoporivier na Suid-Afrika getrek het en hul in die Nzhelele-vallei gevestig het;
• Die enigste volk wat as ’n eg-inheemse volk van Suid-Afrika beskou word is die Boesmans, wat volgens sekere bronne al 40 000 jaar lank in die Suid-Weste van Suid-Afrika woon. Die Khoikhoi het ongeveer 2000 jaar gelede vanuit wat vandag as Mosambiek staan na Suid-Afrika getrek, waar hul die San gevind het. Die beskrywing “hottentotte” is nie as ’n neerhalende woord gebruik nie, maar om te verwys na hul taal wat soos “hot” en “tot” geklink het. Daar is vandag net ongeveer tienduisend Boesmans in Suid-Afrika oor.

Afrikaners is dus net so inheems aan hierdie land is soos enige ander volk, met die uitsondering van die Boesmans. Om te beweer dat Afrikaners uitheems is en nie hier hoort nie is ’n growwe ontkenning van die geskiedenis.

3. Die Boere het noord getrek en almal in hul pad uitgeroei

Die Boere het meer geword en die grense van die Kaapkolonie is uitgebrei totdat dit die Visrivier bereik het. In die 1830’s is die Groot Trek, hoofsaaklik deur twee faktore ontketen: Britse oorname aan die Kaap en voortdurende aanvalle deur die Xhosas. 12 000 boere het Noord getrek met die hoop om ’n veilige toekoms in Afrika te vestig. Die bewering dat die Boere links en regs alles in hul pad uitgeroei het is geheel en al onwaar. Inteendeel – hul het deurgaans probeer vrede maak, vedrae gesluit en ooreenkomste bereik.

Daar was baie veldslae tydens die Groot Trek, maar dit was telkens die Boere wat aangeval is en hulleself moes verdedig. Die slag van Vegkop is ’n voorbeeld hiervan. Ja, die Boere het ook soms uitgegaan om dood te maak, maar dan was dit telkens in die vorm van strafkommando’s wat uitgevoer is in reaksie op aanvalle op sagte teikens deur die Zoeloes. Die beste voorbeeld hiervan is die Bloukrans-moorde, waar honderde vroue en kinders uitgeroei is. Die bekende prent in die Voortrekkermonument van die baba se kop wat teen ’n ossewawiel stukkend gekap word het hier plaasgevind. Selfs met die strafkommando’s was die doel nooit om uit te roei nie, maar om af te skrik en dit was elke keer gedoen in reaksie op aanvalle deur ander.

4. Die Boere het die mense van hul grond beroof (nasionalisering)

Hierdie argument word veral deur dié geopper wat vir grondhervorming skree. Die argument is dat grond “terug gevat” moet word omdat die Boere dit “gesteel” het. Hul gaan egter baie verder as dit. Die nuwe argument is dat die eiendomsklousule in ons grondwet geskrap moet word, sodat die staat die reg het om enige eiendom vanaf “wittes” te vat en dit vir “swartes” te gee. Wat die diefstal van grond betref kan ’n mens stilstaan by die voorbeeld van Piet Retief en Dingaan. Retief het uit sy pad gegaan in sy geloof dat ’n ooreenkoms met Dingaan getref kan word om grond vanaf die Zoeloes te koop. ’n Traktaat tussen Retief en Dingaan is gesluit waarvolgens die Voortrekkers grond vanaf die Zoeloes kan koop, in ruil vir die terugbring van beeste wat deur die Tlokwas vanaf die Zoeloes gesteel is. Retief het sy deel van die ooreenkoms nagekom en kort daarna bykans 70 000 beeste vir Dingaan gebring. In ruil daarvoor is Piet Retief, sy seun en ongeveer 100 van sy manne lewendig deur Dingaan afgeslag. Kort daarna het die Slag van Bloedrivier plaasgevind, wat die rede is waarom ons vandag hier bymekaar is.

5. Die Afrikaner is die argitek van apartheid

Die naam apartheid is in 1948 vir die eerste keer gebruik toe die Nasionale Party aan bewind gekom het, maar die Afrikaners was verseker nie die argitek hiervan nie. Reeds met die anneksering van die Kaapkolonie, voor die Groot Trek, het die Britte begin om paswette te implimenteer. Dit is eintlik ironies dat, voordat Brittanje gekom het, was daar in die Kaap nie eers ’n verbod op huwelike tussen wit en swart nie, wat dan nog van woongebiede op grond van ras. Met die anneksasie van Natal het Brittanje ook daar begin om paswette af te dwing. Dit was om te verhoed dat swartes in húl gebiede inbeweeg of in verskillende distrikte sonder toestemming van die Britse regering beweeg. Lank voor die vestiging van die Boererepublieke was swartes nie na donker in Britse strate toegelaat nie en is hul verplig om te alle tye pasboekies te dra. Dié beleid is uiteindelik in wetgewing opgeneem in die vorm van die Franchise and Ballot Act van 1892 en die Natal Legislative Assembly Bill van 1894. Die General Pass Regulations Bill van 1905 het swart stemreg verbied, hul beperk tot bepaalde gebiede en die pasboekstelsel in wetgewing opgeneem. Ander apartheidswette wat deur Engeland op Suid-Afrika afgedwing is, is:

• Asiatic Registration Act (1906)
• South Africa Act (1910)
• Native Land Act (1913)
• Natives in Urban Areas Bill (1918)
• Urban Areas Act (1923)
• Colour Bar Act (1926)
• Native Administration Act (1927)
• Native Land and Trust Act (1936)
• Representation of Natives Act (1936)
• Asiatic Land Tenure Bill (1946)

Al hierdie dokumente is voor 1948 deur Engeland op die wetboeke van Suid-Afrika geplaas. Ongelukkig was dit die Afrikaners wat die naam “apartheid” uitgedink het en volgens die ANC sal ons vir die volgende 300 jaar daarvoor gestraf word. Tensy ons verantwoordelikheid vir ons eie toekoms te aanvaar.

Hierdie is maar vyf leuens oor ons geskiedenis. Ter wille van tyd sal ek nie langer daaroor uitbrei nie, maar daar is honderde leuens oor ons geskiedenis wat daagliks vertel word, waarvan die meeste handel oor die tydperk tussen 1948 en 1994.

Ons moet vir ons kinders ’n suiwer en gebalanseerde beeld van die geskiedenis leer. Dit is nie nodig om propaganda te pleeg of om in reaksie hierop ons eie leuens uit te dink en as die waarheid voor te hou nie. Daar is genoeg in ons geskiedenis om op trots te wees. Ons hoef ook nie, soos die aanhangers van die NDR oor die donker kolle in ons geskiedenis te jok nie. Ons hoef nie apartheid en alles wat daarmee gepaard gegaan het te verdedig nie, maar ons moet dit minstens aan die jeug verduidelik.

Bloukransmoorde

Een van die belangrikste wat aan die volgende geslag oorgedra moet word, nie net omdat dit in ons belang is nie, maar omdat ons ’n Gelofte aan God hieroor gemaak het, is die gebeure van 16 Desember 1838. Dit was nie ’n uitgaan-en-moor-dag nie. Dit was ’n dag wat gevolg het op die Bloukrans-moorde – sekerlik die gruwelikste dag in Suid-Afrika se geskiedenis. Daar is nie een gebeurtenis uit die “bose” pre-1994 wat met die wreedheid van die Bloukrans-moorde vergelyk kan word nie – nie die 16 Junie Soweto-opstande nie, nie Sharpeville nie, nie Mandela se gevangesetting nie. Geloftedag was die gevolg van ’n strafkommando wat uitgegaan, nie om te moor nie – dit was nie die doel van die strafkommando’s nie – maar om hulleself te verdedig. Die fokus van die Gelofte was dat God ons vyand op daardie dag in ons hand moes gee sodat ons as ’n volk kan oorleef.

Die stryd in die hede

’n Jaar of wat gelede was ek in gesprek met ’n SASCO-jeugleier. Sonder dat hy dit besef, het hy die kern van jong Afrikaners se probleem in ’n neutedop saamgevat. Hy het vir my gesê: “We may be poorer than you, but we are smarter.” Ek het begin lag en gedink hy vertel ’n grappie, maar toe verduidelik hy vir my:

• Van kleins voed hulle ouers hulle kinders op in dit waarin hulle glo. Wanneer hulle saans om die tafel sit, praat hulle oor die geskiedenis, apartheid en politiek. Wanneer ’n standaard-Afrikanergesin egter om die tafel sit (indien hulle om ’n tafel sit), praat hul oor geld, sport en vakansies. Wanneer hierdie kinders eendag by die huis uitstap en mekaar op universiteit ontmoet is die een in staat om sy standpunt te stel en in sy doel te slaag en die ander nie. Hulle rolmodelle is Oliver Tambo, Nelson Mandela, Albert Luthuli, Peter Mokaba en Chris Hani, maar ons jeug verval maklik in rolmodelle soos Hanna Montana, Lady Gaga en die aantreklike outjie van Twilight.

• Die tweede rede waarom hulle volgens hom slimmer as ons is, is omdat hulle meer kinders kry. Moderne samelewing is gebaseer op die wil van die meerderheid. Daar is dus ’n baie basiese formule as jy jou eie toekoms wil beheer – sorg dat jy die meerderheid is. Hy sê vir my dat, wanneer dit met sy mense sleg gaan, maak hulle ’n punt om meer kinders te kry, maar wanneer dit met ons mense sleg gaan, maak ons ’n punt om minder kinders te kry.

• Die derde rede waarom hy sê hulle slimmer as ons is, is omdat hulle oor die vermoë beskik om hulle mense te mobiliseer. Afrikaners is geneig om hulleself te onttrek en hoë mure rondom hulle huise te bou. Die ironie is dat, terwyl ons onsself onttrek en mure bou, is groepe soos die Jong Kommuniste Liga besig om onder die vaandel van die NDR veldtogte te voer om daai mure te vat, deur die klousule in die grondwet wat eiendomsreg verseker te skrap. Een van die redes waarom ons teëspoed ervaar is omdat ons onsself van die nasionale debat onttrek en toelaat dat ander hul agendas op ons afdwing. Baie Afrikaners het reeds geëmigreer. Die wat nie die land verlaat het nie, het na binne geïmmigreer deur hulleself te onttrek. Ek sê nie: “moenie mure bou nie”. Moet net nie dink dat hoë mure vir jou kinders ’n toekoms gaan gee nie.

Die tema van generasiegapings is die laaste tyd baie bestudeer. Daar is bevind dat elke generasie uniek is omdat hul beïnvloed word deur die unieke omstandighede wat plaasvind wanneer hul grootword. Die navorsing is baie interessant, maar vir vandag gaan ek by die jongste generasie – die sg. “millennium generasie” – stilstaan.

Drie eienskappe van hierdie generasie is dat hul daarop ingestel is om die wêreld ‘n beter plek te maak, dat hul oor die algemeen skepties is oor wat vir hul vertel word en dat geloofwaardigheid vir hul uiters belangrik is. Dit is die generasie van môre!

Oor my generasie kan ek met selfvertroue sê dat baie van ons werklik daarop ingestel is om ‘n verskil te maak. Die gebrek aan begronding kan hierdie generasie egter nog kortwiek. Vir jare hoor ons hoe mense kla oor gesinne nie meer saam eet nie en daar nie meer oor dieper onderwerpe gesels word nie. Ek sien dikwels dat jongmense wat uit behoudende huise kom, nie in staat is om vrae oor hul geskiedenis te antwoord nie.

Dit is ’n probleem wat van beide kante aangespreek moet word. In die eerste plek moet ons as jongmense die ouer generasies respekteer. Ons moet besef dat daar duisende lewenslesse is wat by hul geleer kan word. Ons moet weet dat ons nie die wêreld sal verander en nie doeltreffende leiers sal word as ons nie uit die verlede neem wat daaruit geneem kan word en by ons ouers leer wat geleer kan word nie.

Tweedens moet die ouer generasie, en in besonder dié wat kinders het, meer met hul kinders oor ernstige sake praat. Daar is geen beter plek vir ‘n jongmens om te leer as om te luister na wat hul ouers te sê het oor kwessies soos die Gelofte nie. Ons is op soek na rolmodelle. Jongmense wil meer van hul ouers hê as kos en sakgeld. Ons wil leer wat nodig is om suksesvol te wees en die wêreld te verander.

Die bekende militêre strateeg, Sun Tzu, is beroemd vir sy woorde:

“Know your enemy and know yourself and in a thousand battles you will never be defeated.”

Ons moet besef dat ons vyand nie die ANC is nie. Ons vyand is ons eie apatie en gebrek aan begronding. As ons die “vyand” wil bestudeer moet ons vasstel wat ons kan doen om ons eie apatie en interne immigrasie aan te veg. Mense is apaties omdat hulle hoop verloor het. Mense het hoop verloor omdat hulle nie meer weet wat om te doen nie. Ons het leuenstoel-Afrikaners geword. Ons sit agteroor en kritiseer almal wat rondom ons is, maar huiwer om self hand aan die ploeg te slaan.

Die belangrikste les wat ek geleer het oor “wat om te doen”, kan ek met nog ’n storie vir jul verduidelik…

‘n Paar jaar gelede het die PAC se jeugbeweging ’n reuse protesaksie op Tukkies gehou. Hulle het ingestorm en slagspreuke geskree, klasse ontwrig, vensters gebreek en selfs ’n meisie aangerand. Die betoging was teen die verhoging van klasgelde en vir die afskaffing van Afrikaans. ’n Jaar na die betoging was ek saam met een van hulle leiers op Tukkies se studenteraad. Ek vra toe vir hom waarom hulle nie net met die rektor gaan praat het nie. Waarom is dit nodig om die kampus af te breek? Hy sê vir my: “It is clear to me that you know nothing about politics. You don’t understand the balance of forces.” Die les van die “balance of forces” is een van die goed wat hulle ouers van kleins af rondom die etenstafel vir hulle leer. Dit werk as volg: As hulle onmiddellik na die rektor gegaan het en oor hul besware met die rektor gepraat het, sou die rektor na hulle geluister het (dit is nou indien hulle ’n afspraak kon kry) en waarskynlik niks gedoen het om hul te help nie. Maar as hulle die kampus afbreek, klasse ontwrig, mense aanrand en die volgende dag oral in die media is, bel die rektor hulle en vra vir ’n afspraak. Dan sal die rektor sorg dat iets gedoen word om hulle tevrede te stel sodat hulle moet ophou om swak publisiteit vir die universiteit te skep. Die verskil tussen hierdie twee scenarios is dat die “balance of forces” met eersgenoemde in die rektor se hande was, maar deur al hierdie goed te doen het hulle die “balance of forces” gevat en hulleself in beheer van die situasie geplaas. Hierdie basiese les is die kern van hulle totale werkswyse.

Ons moet hierby leer en dit ook toepas. Dit beteken nie dat ons vandalisties hoef te wees nie. Ons moet net besef dat dit nie help om by die regering te bedel nie. Mooi vra gaan ons nêrens bring nie. Ons moet ons eie toekoms skep en wanneer ons met die regering praat moet ons beding en nie bedel nie. Die verskil tussen bedel en beding is dat jy beding as jy ’n magsbasis het. ’n Magsbasis kan ons net kry deur die publieke steun te werf, die ware boodskap oor wie Afrikaners is die buiteland in te stuur, mense te mobiliseer en beheer oor ons eie lot te neem, in plaas daarvan om te hoop dat die regering iets vir ons sal doen. Die rede waarom AfriForum en Solidariteit vandag al soveel suksesse behaal het, is omdat hulle strategiese besluite neem en die les van die “balance of forces” in hul optrede toepas.

Om strategies te wees vereis ook dat ons die morele hoëgrond altyd moet behou en gebalanseerd moet wees in dit wat ons doen en sê. Ons kan onsself nie ook skuldig maak aan die verbuiging van geskiedenis nie. Ons moet besef dat daar ’n reuse vooroordeel teenoor ons mense is en dat ons moeite moet doen om die persepsies wat daar oor ons bestaan te verbreek. Jy hoef nie ’n ekstremis te wees nie. Al wat ons moet doen is om goed beredeneerde en suiwer argumente te gebruik.

Ons moet doelgerig wees, maar ook takties wees. Ons moet Afrikanerskap soos ’n handelsmerk hanteer. Daarmee bedoel ek nie dat ons dit goedkoop moet maak of met ’n verkoopsproduk moet vergelyk nie, maar dat ons, soos ’n goeie entrepreneur, dit moet beskerm, bemark en bevorder. Dit moet iets wees wat modern is, wat eerlik is en wat met waardes geassosieer word – in ons geval Christelike waardes. Afrikanerskap moet met nederigheid, sagmoedigheid, dinamieka en integriteit geassosieer word. Mense moet hulle openlik daarmee wil assosieer.

Die toekoms

Wat die toekoms betref:

• Ons moet besef dat ons toekoms net in ons eie hande lê.
• Ons moet besef dat, hoe meer ons onsself van die nasionale debat onttrek, hoe meer is ons besig om ons eie toekoms te vernietig.
• Ons moet besef dat hoë mure nie ons kinders ’n toekoms sal skep nie.

Ons toekoms is ons verantwoordelikheid en ons moet daardie verantwoordelikheid aanvaar. Ons moet besef dat ons nie ons lot aan ’n regering wat ons nie goedgesind is, kan oorlaat nie. Terselfdertyd moet ons besef dat ons dit nie alleen kan doen nie en dat alles in God se hande is. Totius het gesê dat ons moet bid met die wete dat alles van God afhang, maar dat ons moet werk asof alles van onsself afhang. Dit is ook ’n baie Bybelse benadering om te volg, want die Woord leer vir ons dat ons twee goed moet doen: Ons moet werk en bid.

Wat die werk betref kan ons baie by die Jode leer. In ’n tyd wat hulle swaar gekry het, het hulle hul aandag en energie op een voorafbepaalde plan gevestig. Hierdie plan was eenvoudig: dit was die vestiging en versterking van eie instellings. Ons moet ons eie instellings sterker maak. Elke Afrikaner moet lid wees van en betrokke wees by minstens een organisasie wat ten doel het om vir ons mense ’n toekoms te skep. Dit hoef nie AfriForum te wees nie, solank dit net iets is. Ons moet onsself sterk maak, want hoe sterker ons is, hoe beter kan ons vir ons mense beding.

Daarom wil ek vandag ’n vierpunt-plan voorstel. Die plan is taamlik eenvoudig:

1. Raak betrokke by die debat en neem standpunt in oor die bestaande realiteite;
2. Vestig ons energie op die skepping en versterking van eie instellings;
3. Raak by die internasionale debat betrokke en breek die persepsies; en
4. Doen begronding en spandeer meer kwaliteit-tyd met die jeug.

Al hierdie goed is belangrik, maar die eerste stap is om ons eie apatie stop te sit en hand aan die ploeg te slaan. Hoe langer ons onsself onttrek en weier om betrokke te raak, hoe meer raak ons deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Daar is vandag baie organisasies wat baie goeie werk doen, maar die belangrikste werk is iets wat nie deur enige organisasie gedoen kan word nie – dit is die taak van die ouers. Hierdie werk is om diepte en begronding te gee aan ’n volgende generasie leiers wat ’n passie het om die wêreld te verander. ’n Generasie wat net daarin sal slaag om vir hulle mense ’n toekoms te vestig as hulle weet waarheen hulle op pad is, waarom hulle vandag bestaan en waar hulle vandaan kom.

Op hierdie noot wil ek afsluit met die woorde wat Genl. C.R. De Wet, 95 jaar gelede, op 3 Desember 1916 gesê het:

“Ons staan op die punt om óf ’n groot volk te word, óf om op te hou as ’n volk bestaan. Laat ons dus werk terwyl dit dag is. Laat ons ons volk opbou.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Niel ·

Baie insiggewend, my wens is dat mense minder apaties en meer relevant en betrokke sal wees. Dis net jammer dat daar steeds uitsprake deur sekere mense gemaak word wat die blanke demoniseer en dit word ter harte geneem deur mense wat nie hulle eie opinies kan vorm nie en oop is vir enige propaganda.

‘n mens wonder soms hoe suid afrika vandag sou gelyk het sonder die “bose” setlaars se invloed?

Franco ·

“n Baie goeie toespraak Ernst. Ek wil graag net die volgende drie punte maak:

Eerstens: Die slag van bloedrivier word ongelukkig vandag as ‘n konfrontasie tussen rasse uitgebeeld. Dit word gedoen vir ‘n spesifieke agenda. Die feite is egter dat daar ‘n Britse Offisier, Alexander Biggard met Zoeloes wat teen Dingaan was, asook kleurlinge wat saam met die boere getrek het, in die laer was. Dit was dus nie ‘n konflik tussen rasse gewees nie maar wel ‘n konflik tussen goed en kwaad. Dingaan het die lewe van baie van sy eie mense, voortrekkers asook sy halfbroer Shaka geneem. Na sy mag gebreek is na die slag van bloedrivier, is die bose mag ook verbreek. Ons moet nie toelaat dat die geskiedenis verdraai word en sodoende teen ons gebruik word om verdeeldheid en haat aan te blaas nie.

Tweedens: Ek is baie trots op die voortrekkers en hulle ongelooflike prestasies en glo dat hulle erkenning van ons en ons nageslag moet kry. Dit is so eenvoudig soos dit – as hulle nie oorleef het nie sou ons nie eers hier gewees het nie. Daarom kan ek nie glo dat ons geskiedenis soms met ‘n traak my nie agtige houding, as niks of outyds afgemaak word nie. Dit is ons plig om dit vir ons kinders te leer. As iemand dit wil reduseer tot ‘n gewone slag waar die boere die voordeel gehad het, stel ek voor dat so ‘n persoon gerus die statistieke van die slag van Isandlwana met die van bloedrivier vergelyk.

Die gelofte is egter ‘n bewys van dankbaarheid aan ons God vir sy genade op daardie dag en dit is al. Dit moet nie vermeng word met ‘n vereering van mense nie.

Laastens: As die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) so belangrik vir die regering is, moet ons miskien weet wat dit behels. Hoe dit ons sal raak en dat ons so gou moontlik van die volstruis mentaliteit ontslae moet raak. Ek het die volgende gesegde onlangs op http://www.ihr.org gesien, “A solid understanding of history has long been the best guide to comprehending the present and anticipate the future.” As hulle praat van revolusie is die beste plek om te begin ‘n goeie kennis van die Franse Revolusie, want dit word deur dieselfde mag aangeblaas.

Partyforever ·

The NDR – National Democratic Revolution which is supposed to be something like the October Revolution in Russia – that some or even many of them still believe in shows their level of idiocy. The real problem is most of them aren’t skilled or knowledgeable in mathematics and science. They hear ideas and subscribe. Do not check the economic facts.

Chris ·

Dit is `n groot jammerte dat die kinders nie meer die geskiedenis in die skool op die regte manier geleer word nie. Alles word verwronge aan hulle oorgedra. Daar is baie mense wa glo die die Gelofte vir hulle niks beteken nie want hulle se hulle was nie daar nie. Wel niemand van ons was op die berg toe God vir die Tien Gebooie oorgehandig het nie. Ek glo hierdie argument is baie arrogant. Dan aan die anderkant is dit ook ons as ouers se verantwoordelikheid om ons kinders ons land se geskiedenis te laat verstaan. Ek sidder as ek hoor wat die kinders op skool vertel word oor die geskiedenis. Dit laat mens wonder oor die arrogansie van die onderwysers in die skole.
Daar in die Noord Kaap naby Boetsap en Delportshoop is een van die grootste Geloftefees tereine, ek glo in die land, De Kuile. Daar sien `n mens jaar vir jaar hoe stroom die jongmense nog kom besoek.

anita ·

Die insiggewende stellings word waardeer, die vierpunt plan is uitstekend…maar helaas om dit toe te pas is daar geen Afrikaans sprekende meer nie…almal het soos die skrywer dit stel na “Binne geemegreer”

Hoeveel het Gelofte dag gevier soos dit hoort? of selfs onthou waar oor dit gaan, en hoeveel kinders ken daardie geskiedenis van huis uit?.

Neem die 100 jare viering van die vroue monument, die saam val met Geloftedag, daar was ‘n klein opkoms, met “slap” toesprake, gesien teen oor die Mandela begrafnis . Afrikaners op hierdie huidige tydperk in ons geskiedenis stel eenvoudig nie meer belang nie. Waarom ? gemaksugtige goeie leef wyse.

Die Engelse het ‘n onvergeetlike “holocaust”(volkmoord) gepleeg, en tot vandag weier hulle om dit te erken. In die waks museum in Engeland word geen “Paul Kruger” aan getref nie, ons was beskou as minderwaardige takhare, en word vandag nog as sulks beskou.

Hoeveel kere in die laaste 20 jaar tot met die begrafnis van Mandela het die Britse koninglikes hier op besoek gekom? het ‘n ENKELE ooit versoek om met ‘n Afrikaans sprekende verteenwoordiger te praat? nee! ons bestaan nie in hulle boeke nie. Die NG Kerk was ook nie uitgenooi vir die begrafnis van Mandela nie, as groep is ons eindelik NIKS meer nie.

Dit is bekend dat die Jappanners het skade vergoeding betaal vir die gebruik van Nederlands vroue as prostitute gedurende die oorlog. Die nasate van die slawe het eise ingedien en kry vergoeding
en die Duitsers moes aan die Jode betaal.

Waarom? kom daar nie een Afrikaner na vore en stel ‘n eis in vir die uitwissing van ons vroue en kinders/agterryers en getroue diens knegte nie? so ‘n eis kan aangewend word vir beurse of bejaarde huise. Indien iemand so iets doen…SAL DIT ‘N OPSKUDDING VEROORSAAK EN DAN SAL ONS MISKIEN NIE MEER AS MINDERWAARDE WESENS BESKOU WORD NIE. Wie
durf so iets?

Hoeveel kinders weet van die Holocaust?

Barry Hertzog het gestrewe om die Afrikaanse taal te behou en ‘n permanente plek in ons land te gee, helaas is sy standbeeld net afgesaag by die voetstuk en verwyder voor die Uniegeboue. Beelde en geskiedenis van ‘n vorige regering(ondanks apartheid) word summier verwyder, dus ons geskiedenis word uitgeroei, dit is sleg vir ‘n land. Geen Afrikaner het betoog oor die verwydering van die beeld nie, omdat geen jong persoon/ook selfs middeljare persone nie eers weet wie was Barry Hertzog nie!

Ons is ‘n leierlose groep, geen jong persooon gaan opstaan soos ‘n “Malema”(Vergeet van sy skreeu en gebreke) om ook volgelinge te kry. Die verskil tussen die Blanke/Bruin groep is dat NIEMAND enige moeite doen om van huis tot huis te loop om die inwoners bewus te maak waarvoor ‘n party staan nie, dit bly ‘n opvatting “Ons is bruin/ons is wit” ons mense gaan vir ons stem.

Hierdie pre -historiese opvatting is fataal as dit kom by verkiesings, want die ANC politiek ken hierdie swakhede van ons sogenaamde verteenwoordigers, dus wie gaan loop vir die verkiesing? of Rugby kyk? Is daar jong energieke persone die hierdie voorgestelde vierpunt plan in aksie kan stel?

As banke/bruin miderheidsgroepering is ons verlore deur ons eie apathie. Mischien moet ons Australia nader om skepe te stuur om ons op te haal, soveel van ons landgenote is reeds daar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.