Laat ons vry wees vir onsself

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Die bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus, prof Danie Goosen, lewer ’n paar jaar gelede in ’n toespraak ’n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ’n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hulle beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ’n redding. Grense maak ’n woning, ’n egte tuiste, moontlik.

Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat see-gerig is gefokus daarop om vry VAN iets te wees, terwyl land-gerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.

In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ’n see-gerigtheid eerder as ’n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ’n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.

Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.

Hierdie land-gerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme, en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ’n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.

Tog het elke mens ’n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ’n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat in ontstuimige tye nêrens het om na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?

Die see-gerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die land-gerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy op pad is en het ’n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.

Volgens Goosen is nog ’n onderskeid tussen die see-gerigte en land-gerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie, dan doen ’n sterker wordende staat dit. Vir die land-gerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.

Die Katalane se huidige strewe na onafhanklikheid is ’n voorbeeld van land-gerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer land-gerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vír onsself eerder as ván onsself.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

V ·

Dankie Jaco. Sober verwoording van ‘n eiewaan dronk samelewing. Soos die engelsman se: “If you stand for nothing, you will fall for anything…” Die mens wil my voorkom is niks meer as ‘n produk van sy sosiale identiteit nie. Maw. Wie en wat hy hom/ haarself beskou binne ‘n samelewing en die rangplek wat hy/sy “verdien” agv die toedigting van ander mense. Jesus het gelukkig vir ons kom leer wie eerste wil wees, moet laaste wees… Dank die Here vir Sy wysheid en lig.

John ·

Die Nuwe Orde-beweging wat veral deur George Soros onderskryf en onderhou word, is deurspek van die sg see-mentaliteit waar alle grense… alles… vernietig moet word vir die tot standkoming van ‘n vervelige eenvormigheid waarin niks anders, uniek of opwindend en mooi sal wees nie en almal kan kom en gaan en maak soos hul wil. Interessant dat die skatryk multi-miljarder, Soros (nie sy eie naam nie), ‘n gebore Hongaarse Jood wat na die Weste gevlug het, niks voel vir andersdenkendes, sy geboorteland of Israel nie ook nie vir enigiets wat struktuur skep en/of sielsverrykend is nie. Hy haat Trump en verklaar homself glo openlik ‘n ‘godjie’ omdat dit hom sodoende help om by sy ‘volle positiewe’ te bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.