Laat ons wedersyds sensitief wees

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Blykbaar moet ʼn mens deesdae dubbel versigtig wees om nie op etniese tone te trap nie.

Sommige van Leon Schuster se flieks is onlangs van Showmax se aanlyn aanbod verwyder omdat hy sy gesig donker verf en die rol van ʼn bruin of swart persoon speel. Dit staan bekend as blackfacing en word as ʼn uiting van rassisme beskou.

Die wyse waarop rassisme tot uiting kom, is dikwels ʼn ingewikkelde, veelkantige saak wat uit verskillende perspektiewe beskou moet word.

Allereers: Sake soos blackfacing (en, belangrik, woorde soos “h*tn*t”, “k*****”, “n*gg*r” en “Boer”) kan van twee kante benader word. Enersyds, hoe word die gebruik van sulke woorde erváár, maar andersyds, hoe word dit bedóél?

Om behoorlik agter die kap van die byl te kom, kom ons kyk na die begrip “Boer”.

ʼn Paar jaar gelede het pres. Cyril Ramaphosa byvoorbeeld luidens berigte gesê mense moet vir die ANC stem, anders kom “die Boere terug om ons te oorheers”. Hoe het hy dit bedoel?

Agterna het die ANC wal gegooi met die verduideliking dat hy nie spesifiek na die Afrikaners verwys het nie, maar na die apartheidstelsel as sodanig. Dis glo hoe die begrip in die struggle-tyd gebruik is, is gesê.

Dit kan so wees, maar die feit bly staan dat hy “Boere” as ’n negatiewe, beledigende woord bedoel het. Met ʼn bietjie moedswilligheid kan ʼn mens selfs iets van rassisme daarin lees.

Die ander kant van die saak is dat ek dit persoonlik nie as beledigend ervaar nie. Ek het grootgeword met “Boer” as erewoord. Toe ek op die laerskool was, wou ons dikwels “Boere en Rooinekke” speel, maar ons wou almal Boere wees; jy het gesukkel om enigiemand te kry wat gewillig was om – al was dit maar net vir ʼn paar minute – die rol van Rooinekke te speel.

Dit was hoe ons gesosialiseer is. En dus, tot vandag is ek trots op die begrip Boer en kan g’n Ramaphosa of enigiemand anders my met die gebruik daarvan verneder nie.

Nou kyk ons na die ander kant van die munt. Laat ek ʼn persoonlike verhaal vertel.

Jare gelede het ek ʼn bruin kollega gehad. Hy is intussen dood en sy naam is onbelangrik. Ons was goeie vriende. Hy het soms die spot gedryf met “die Hotties” en “die Boere”. Toe dog ek: As hý dit kan doen, kan ek ook. En toe spot ek saam oor “die Hotties” en “die Boere”.

Maar dit was ʼn fout. Ná ʼn paar keer kom ek agter die man raak koel en afstandelik met my. Ek het nog gevra of ek dan iets verkeerds doen, maar hy wou nie daaroor praat nie, en kort daarna is hy in ʼn motorongeluk dood.

Een van sy bruin vriende het later verduidelik dat dit anders is as die bruin mense spottenderwys na hulself as “Hotties” verwys as om dit uit ʼn “Boer” se mond te hoor.

Suiwer logies en klinies bekyk maak dit geen sin nie. Maar as jy moeite doen om in iemand anders se vel te kruip (metafories gesproke) wek dit tog begrip.

Waar “Boer” vir my ʼn erebegrip was, is my vriend grootgemaak met “h*tn*t” as skelwoord wat deur wittes vir bruines gebruik is. Dit was bedoel as vernederende skelwoord, en is as sodanig ervaar. Wanneer ʼn bruine dit oor homself gebruik het, was dit ʼn manier om die pyn van vernedering te verwerk. Wanneer ék dit gebruik het, het dit al die onaangename herinneringe en konnotasies weer opgeroep.

Ek het inderdaad iets soortgelyks gelees oor Amerikaanse swart mense en die woord “n*gg*r”. Swart mense verwys soms spottenderwys na hulself as “n*gg*rs”, maar die “whiteys” moet wegbly daarvan; dan is dit rassisties.

Wel, ek het geen twyfel dat ek en my bruin vriend die saak oor ’n bier vriendskaplik sou kon uitpraat nie. Helaas is hy dood en het dit tussen ons bly hang, wat my hartseer gemaak het.

Iets soortgelyks geld vir Leon Schuster se blackfacing. Dis maar net die jongste voorbeeld van ʼn storm oor die saak; dit het die laaste jare herhaaldelik gebeur.

Ook hiér geld die twee kante van die munt: Hoe word dit bedóél, en hoe word dit erváár?

Ek is geen verskriklike aanhanger van Schuster nie, maar ek het ook niks teen hom nie. Hy roep eenvoudig geen sterk gevoelens by my op nie. Maar hy is ʼn tipiese satirikus. Hy dryf die spot met alles en almal. Hy spot met politieke korrektheid, hy spot met die ANC en swart mense, hy spot met wit mense en regses, noem maar op.

Dit is inderdaad die taak van ʼn goeie satirikus. Hy bied ʼn spieëlbeeld van jouself, dalk ʼn beeld waarvan jy nie hou as jy geen goeie selfbeeld het om mee te begin nie, maar nietemin.

Volwasse mense leer om daarby verby te kyk en te sien wat die satirikus werklik wil sê. Want soms is die boodskap ónder die humor regtig ernstig en die moeite werd om oor te besin. Onvolwasse mense kyk nie verder as die oppervlak nie en weier om die satirikus se boodskap te gebruik as instrument om oor hulself na te dink.

En dan kry jy kommersiële ondernemings soos Showmax wat geen snars omgee oor boodskappe – bedek of oppervlakkig – nie, wat slegs belangstel in rand en sent. Dáár het jy nou ʼn goeie voorbeeld van oppervlakkigheid.

Beteken dit alles dat ons nou maar na hartelus moet kan blackface en al die etniese skelwoorde vryelik kan gebruik?

Nee. Ons moet kennis neem van die feit dat mense van verskillende gemeenskappe dinge verskillend ervaar. Daarvoor moet ons respek hê.

Enersyds beteken dit dat ons wit mense minstens twee keer diep moet nadink voordat ons iets sê of doen wat ander mense seermaak. Andersyds beteken dit dat swart en bruin mense moet aanvaar dat nie álles wat hulle as beledigend ervaar, ook so bedoel word nie.

ʼn Paar jaar gelede het ek en ʼn ander bruin kollega saam geëet. Toe sy wil weet of ek haastig is, glip dit uit my mond: “Nee, ek is lekker los h*tn*t!” Ek het onmiddellik geskrik en ekskuus gevra. Maar sy was ʼn volwasse vrou wat kon sien ek het dit nie rassisties bedoel nie, en die saak is onmiddellik in vriendskap begrawe.

Dít is soos dit hoort. Moenie sake oordryf nie. Wees sensitief vir mekáár – na albei kante toe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Mmmm soos uitgelig, die kruks van die probleem is “volwasse mense” vs “onvolwasse mense”.

Skrywe verreken egter nie die endemiese slagoffermentaliteit wat ‘n beledeging in alle moontlike optrede en woorde sal probeer vind nie. Soos die spreekwoord se – as jy ‘n hond wil slaan sal jy wel ‘n stok kry.

Smiley

Leopold verduidelik vir my weer hoekom jou vriend na boere en hotties kon verwys maar jy nie ? Daarin le die kruks van my grief. Ons kan nie twee stelle standaarde he nie. Of jy nou omgee as iemand jou n boer noem of nie.

Elize

Hulle kan en sal nooit die kleur van hulle velle kan aanvaar nie

Chris

Beslis ‘n baie moeilike onderwerp, onverstaanbaar, vreemd en nou slegs vir sommige snaaks, is natuurlik die narre (clowns), met of sonder hul geverfde gesigte. In die verlede het hulle hoofsaaklik net vir sirkusse gewerk, nou werk alle narre (clowns) nie meer, net vir die sirkusse nie.