Lesse te leer uit die Schweizer-sage

Betogers by die Laerskool Schweizer-Reneke. Foto: ANA

Deur dr. Theuns Eloff

Die politieke debat en sosialemedia-oproer oor die eerste skooldag by Laerskool Schweizer-Reneke het nog nie bedaar nie. Die doel van hierdie artikel is nie om aan die debat vanuit die duidelik party-politieke of ideologiese invalshoek van die meeste kommentators deel te neem nie. Die vraag is: Wat het hierdie gebeure veroorsaak en wat kan almal hieruit leer?

Maar eers die konteks en die feite:

Daar is verskeie laerskole in Schweizer-Reneke. Daar is egter net een Afrikaanse laerskool. Die hoërskool is ʼn dubbelmediumskool (Afrikaans en Engels). Ten spyte van die feit dat die beheerliggaam besluit het dat dié laerskool se taal Afrikaans sal wees, neem hulle van tyd tot tyd nie-Afrikaanssprekende kinders in – uit die goedheid van hul hart, want dit verg ekstra moeite. Die ouers van hierdie Setswana-kinders weet dat dit ’n Afrikaanse skool is, maar aanvaar dit so, omdat hulle weet hul kinders sal goeie onderrig ontvang. Soms kan van hierdie kinders nie Afrikaans óf Engels praat nie – slegs Setswana. Anders as wat die politici in Mahikeng of die mense in Sandton wil hoor, is daar in die Noordwes Provinsie (en in talle ander landelike provinsies) kinders wat glad nie Engels magtig is nie.

En dis ook wat hier gebeur het. ’n Klompie swart kleuters is deur die skool aanvaar, al kan hulle nie Afrikaans óf Engels praat nie – op vyf jaar is hulle slegs Setswana magtig. Die grootste deel van die res van die klas is Afrikaanssprekend en kan nie Engels of Setswana praat nie. Hoe sal die eerste skooldag in graad R onder hierdie omstandighede verloop? Die juffrou, wat nie Setswana magtig is nie, bring haar Setswanasprekende huishulp skool toe, om te help om te tolk en sodat die Setswana-leerders kan verstaan wat van hulle verwag word – en om hulle tuis te laat voel tussen hul ander maatjies (wat hulle nie regtig kan verstaan nie, en andersom).

In die loop van die dag word foto’s van die graad R-klasse geneem en vir die ouers op ’n WhatsApp-groep geplaas – om hulle gerus te stel dat dit goed gaan. ’n Hele paar foto’s word geneem – in die meeste foto’s is daar geen skeiding tussen die kinders nie, hulle sit en staan vrylik rond. Een foto wys dat die vier swart kleuters by hul eie tafel eenkant sit. Onderwyseres X neem foto’s in onderwyseres Y se klas.

Die ouer van een van die swart kleuters ontvang die foto waar hulle eenkant sit. Sonder om die verduideliking van die skool se kant af te aanvaar, stuur hierdie ouer die foto die sosialemediawêreld in: “Dis rassisme!” Die ander foto’s wat ’n ander kant van die prentjie skilder, word egter nie deur die ouer aangestuur nie. ’n Ander ouer, wat reeds geruime tyd ’n kind in die skool het (en wat later in ’n TV-onderhoud op Eyewitness News verskyn) doen navraag oor die foto. Die onderwyseres se antwoord, dat dit aan die begin van die dag gedoen word om die kinders eers tuis te laat voel (hulle kan immers Setswana met mekaar praat), waarna daar vrylik beweeg en geleer word, stel hom tevrede. Hy ken immers die onderwyseresse en weet dat hulle die kinders se beste belange dien. Sy ouer seun het volgens hom ’n goeie basis by die skool ontvang – en geen rassisme ervaar nie.

Die foto wat deur die ouer die sosiale media ingestuur is, versprei soos ’n veldbrand. En blitsvinnig is al wat ’n politieke party op die rassismeperd. Die EFF stuur lummels wat nie ouers is of enige belang by die skool het nie, om die skool binne te dring en allerhande eise te stel. Selfs die DA se provinsiale jeugleier klim op die rassismeperd. Nadat die polisie aanbeveel dat die skool liewer moet sluit, word kinders, (wit en swart) getraumatiseerd huis toe gestuur en ouers breek die skoolheining in vrees vir hul kinders se veiligheid.

Die LUR arriveer en met groot selfbelangrikheid praat hy die polities-korrekte taal en skors (sommer van die verhoog af) onderwyseres X – wat die foto geneem het, nie onderwyseres Y wie se klas dit was nie. Hy doen dit nadat hy die skoolhoof gevra het wie die foto geneem het. Daar is sterk sprake dat die skoolhoof en die onderwyseres in wie se klas die foto geneem is, ook geskors gaan word – die hoof omdat hy die LUR kwansuis “mislei” het oor watter onderwyseres verantwoordelik was. Teen die tyd van die publikasie van hierdie artikel, het dit nog nie gebeur nie, waarskynlik omdat die LUR met Solidariteit se hofstukke gekonfronteer is. En so duur die ongelukkige sage voort – met onnoembare skade aan kinders, ouers, opvoeders en rasseverhoudinge oor die algemeen.

Wat het verkeerd gegaan?

  • ’n Ouer sien ’n foto en maak ’n verkeerde afleiding, aanvaar nie die verduideliking nie en stuur dié foto die sosiale mediawêreld in – sonder konteks, sonder feite – vir altyd.
  • Politieke partye sien die een foto, toets nie die feite of kry nie die konteks nie en spring dadelik met verontwaardigde politieke korrektheid op die rassismeperd, en buit die situasie vir partypolitieke gewin uit.
  • Die geagte LUR, wie se werk dit is om onderwys en kinders voorop te stel, kom gejaagd en belangrik by die skool aan, vra links en regs staccatovrae en skors verkeerdelik (hy werk nie vir die departement nie) die verkeerde onderwyseres met groot oortuiging en selfvoldaanheid.
  • Die beheerliggaam, vir redes wat nie duidelik is nie, stem hiertoe in en laat weet die (verkeerde) onderwyseres (wat ’n werknemer van die beheerliggaam is) dat sy geskors is hangende ’n ondersoek.
  • Die media (ten minste aanvanklik) toets nie die feite of verstaan nie die konteks nie en berig wyd en syd oor die beweerde rassisme by ’n wit skool. Later publiseer sommige media-organisasies wel die ander foto’s.
  • Nóg die politieke partye, nóg die LUR erken die bestaan van die foto’s wat ’n ander prentjie gee. Wie wil tog die rassismeperd afsaal met die feite?

Wat kan ons (wit en swart, Afrikaans en Setswana) hieruit leer?

  • Ouers van alle kinders in enige skool: Moenie op sosiale media iets uitstuur waarvan jy nie die feite getoets of die konteks verstaan het nie. Jy doen nie net skade aan jou eie kind(ers) nie, maar ook aan ander ouers se kinders, die skool en die gemeenskap.
  • Politieke partye, moenie skoolsituasies vir partypolitieke gewin probeer uitbuit nie – hou julle daar uit! EFF, hou op om jul rassismegedrewe boelies na skole te stuur om kinders te intimideer.
  • die LUR, kry eers die feite en verstaan die konteks voordat jy hooghartig op jou rassismeperdjie spring. Leer oor prosesse, goeie maniere en gewone beskaafdheid. Moenie jou kollega in Gauteng probeer naboots of selfs oortref nie, jy kan in die hof jou rieme styfloop. Onderwys is nie jou eie koninkrykie nie – dis ’n openbare diens vir kinders, wit en swart, waaroor jy nie in jou selfbelangrikheid kan baas speel nie. Luister ook sommer wat een van die swart ouers oor jou “skorsing” op Eyewitness News gesê het: dat jy die saak buite verhouding opgeblaas het, dat jy die skorsing moet terugtrek en dat jy die onderwyseres om verskoning moet vra. Gaan dink daaroor na.
  • Beheerliggaam, maak seker dat julle beter kommunikeer oor hoekom julle – sonder die regte prosesse – jul eie werknemer skors, net omdat die politieke boelie van Mahikeng so sê.
  • En ten slotte aan alle onderwysers, veral onderwysers in Afrikaanse skole: weet dat julle in ’n oogwink onder die wêreld se vergrootglas kan kom. Wees dus dubbeld versigtig hoe julle werk en wat julle na “buite” kommunikeer, maar hou terselfdertyd aan met jul onbaatsugtige diens aan al die kinders van ons land…

Aan alle Maroela Media-lesers: Dis maklik en verstaanbaar om kwaad te word as goeie bedoelings so gruwelik en wreed skeefgetrek en uitgebuit word. As verantwoordelike landburgers, Afrikaners en Christene is ons enigste opsie om die regte dinge te bly doen, en nie van koers af gedwing word deur politieke boeliery nie. En laat ons die organisasies ondersteun wat sulke onregte wil regstel en vir die saak van onderwys in Afrikaans wil werk.

  • Theuns Eloff skryf in sy hoedanigheid as voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Hy is ook uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannelie

Absoluut niks het verkeerd gegaan nie…..pasop net om “iets” te doen net voor ‘n politieke verkiesing, want dit is die ammunisie waarmee hul ons wil looi.

alida

Daar is niks om te leer nie. Die vrou het haar werk gedoen. Hoekom moet gedurig op eiers loop dit is bog.

Werner

Dankie vir ‘n goeie artikel. Net ‘n voetnota oor tale/plekname in Afrikaans: Sommige tale en plekname het Afrikaanse vertalings, ander het nie. Nieu-Seeland is ‘n voorbeeld van ‘n pleknaam met ‘n Afrikaanse naam, Perth is ‘n voorbeeld van een wat nie ‘n Afrikaanse naam het nie. Dieselfde met tale. Ons praat nie van Espanol nie, maar Spaans. So ook is daar vir die meeste inheemse Afrika-tale ook Afrikaanse name. Setswana is Tswana in Afrikaans. So ook is isiZulu Zoeloe in Afrikaans. Ons het pragtige plek- en taalname in Afrikaans, maar dit gaan verlore raak as ons dit nie gebruik nie.

Nugter denke

Ek sien hoekom Afrikaanse skole die beste matriekuitslae het is omdat daar nog onderwyseres is soos Elana Barkhuizen.

honourble member

Niks het verkeerd gegaan by daai skool. Daar het n rassis op loop gegaan met fotos sonder dat die regte feite gekry is…