Lakmoestoets vir ANC

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

In die chemieklas op hoërskool het ons geleer van ’n lakmoesproef. Dis wanneer iets wat lyk soos ’n stukkie papier in ’n vloeistof gesteek word. As die vloeistof suur is, verander die papiertjie se kleur na rooi; as die vloeistof alkalies is, verander dit na blou.

Dié lakmoesproef word ook dikwels in oordragtelike sin gebruik: Dis wanneer iemand of ’n instansie deur sy gedrag (in teenstelling tot sy woorde) laat blyk na watter kant hy beweeg.

Die ANC was die afgelope weke in só ’n lakmoesproef betrokke. Ek praat van die Ace Magashule-geval.

Magashule is tans die ANC se sekretaris-generaal en was vroeër premier van die Vrystaat. In daardie hoedanigheid, so het die Openbare Beskermer (OB) twee weke gelede ná ’n ondersoek bevind, was hy betrokke by die Estina-skandaal.

Estina was ’n frontmaatskappy van die berugte Guptabroers en hul projek om die Suid-Afrikaanse staat – toe nog onder leiding van die destydse pres. Jacob Zuma – vir hul eie verryking te kaap. Magashule en sy Vrystaatse regering, was die OB se bevinding, het geld vir die projek geskenk, geld wat in die Guptas se sakke beland het en nie by die armes uitgekom het nie, die mense wat deur die projek bevoordeel moes word. Dis eintlik maar ’n ander woord vir korrupsie en (opsetlike?) politieke nalatigheid – na bewering ten bedrae van R287 miljoen.

’n Paar weke voor die OB se verslag het Magashule in die hof verskyn op 21 aanklagte van bedrog, geldwassery en korrupsie. Dit moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat pres. Cyril Ramaphosa vroeër in die jaar bepaal het dat ANC-amptenare wat van korrupsie aangekla word, uit hul poste moet tree totdat ’n hof oor hul skuld besluit het. Dis amper soos die beleid van die meeste kerke, waarvolgens ’n predikant wat van wangedrag beskuldig word, in sy/haar amp “gestuit” word totdat dit blyk dat hy/sy skuldig is of nie.

Dis op sigself ’n goeie benadering. Op papier – en ons almal weet dat papier geduldig is. Die ANC se eie Integriteitskommissie het aanbeveel dat Magashule opsy staan. Maar die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het die kommissie bevind, is bang vir hom.

Want ondanks die feit dat Magashule formeel in die hof aangekla is en die OB uiters negatiewe bevindings teen hom gepubliseer het, is hy steeds formeel die ANC se sekretaris-generaal. Die rede, lyk dit, is eenvoudig: As sekretaris-generaal en lid van die party se top-ses is hy polities ’n magtige man met baie invloed.

En, kan ’n mens gerus maar vermoed, hy weet waar die ANC se spreekwoordelike lyke begrawe lê. As die ANC sy papierbeleid oor korrupsie te nougeset op hom toepas, kan hy besluit om in ’n klipharde gesang los te bars – en dit lyk of die party doodsbenoud daarvoor is.

Vroeg in die nuwe jaar moet die NUK sy eerste vergadering van 2021 hou. Magashule se naam verskyn sonder twyfel hoog op die agenda. Dis dan dat die lakmoestoets gedoen word. Gaan die NUK sy eie beleid toepas en Magashule – al is dit tydelik – in sy amp “stuit”, of gaan hy die man beskerm?

Eintlik sou ’n mens nie daaroor moes twyfel nie. ’n Politieke party, veral een wat ’n land regeer, moet genoeg morele integriteit hê dat hy, al is dit ook hoe moeilik, die regte ding sal doen. Veral omdat alle openbare skynwerpers op die NUK-vergadering gerig sal wees.

Maar die regte besluit is in die ANC se geval nie so vanselfsprekend nie. Die party het immers ’n lang geskiedenis van korrupsie, selfverryking en magsmisbruik agter die rug.

In sy boek External Mission: The ANC in Exile, 1960-1990 wys die Britse historikus Stephen Ellis (sedertdien oorlede) hoe korrup die ANC-leiding reeds in die jare van ballingskap was. Daar is ook ’n klomp getuienis van hoe die beweging se leiers in dié jare hul mag misbruik en kritiese vrae en geluide genadeloos doodgedruk het.

Nou moet ’n mens seker, soos die Prediker sê, nie alte regverdig wees nie, want niemand is sonder sonde nie. Ook onder die NP-regering was daar magsmisbruik en korrupsie. Maar die eerste tekens van korrupsie het pas in die laaste dekade of twee van die NP-bewind kop uitgesteek. By die ANC was dit van die begin af daar – en dis aangevul deur ’n warrelwind van ondoeltreffendheid en onbekwaamheid, ’n dodelike kombinasie.

In die heel eerste jare van die ANC-regering, sê maar terwyl pres. Nelson Mandela aan die roer van sake was, was die party se natuurlike neiging tot magsmisbruik en korrupsie relatief beperk (wat egter nie dieselfde is as afwesig nie). Maar sy opvolger, pres. Thabo Mbeki, was ’n ideologiese Afrika-nasionalis wat klaarblyklik gemeen het Afrikane ís nie korrup en onbekwaam nie. Dus mag sulke wantoestande nie erken word nie.

Onder Zuma is alle dergelike aansprake openlik laat vaar. Waar Mbeki sy kop in die sand gesteek het, het Zuma geesdriftig aan alle wantoestande deelgeneem, soos blyk uit die getuienis wat voor die Zondo-kommissie oor hom en sy regering gelewer is.

Ramaphosa, dit moet van hom gesê word, wéét wat die probleem is en wat daaraan gedoen moet word. Maar hy word beperk deur ’n kultuur van magsmisbruik, korrupsie en onbekwaamheid in die ANC.

Sedert sy bewindsoorname is hy in ’n verbete magstryd met die korrupte vleuel van die ANC betrokke. Dat hy tot dusver sy eie leierskap van die party kon behou, is waarskynlik al klaar ’n prestasie, maar hy is nog ver verwyder van ’n duidelike oorwinning oor Magashule-hulle.

Die eerskomende NUK-vergadering kan ’n belangrike rol in die geveg speel. Dan kan dit blyk of die papierstrokie blou of rooi word. Of miskien word dit blou met rooi strepe. Met ander woorde, dat die probleem wéér nie aangepak word nie. En intussen ly die hele Suid-Afrika – en dit in die grootste pandemie van die afgelope eeu – onder ’n hopeloos onbekwame en korrupte regering. Arme land!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.