‘Lamont lewer goeie uitsprake’ – Malema

Daar is drie groepe kommentators wat die afgelope drie weke kommentaar gelewer het op die uitspraak van Regter Colin Lamont in die haatspraak-verhoor van Julius Malema –

  • Die wat die hele uitspraak gelees het;
  • Die wat net die finale hofbevel gelees het; en
  • Die wat net koerantberigte en ander kommentators se weergawes oor die hofbevel gelees het.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van Afriforum.

Ongelukkig is laasgenoemde groep – die sogenaamde kitskommentators – skynbaar ’n baie groot groep en skynbaar is hulle ook baie uitgesproke.

Die feit is dat Regter Lamont nie sommer oornag ’n uitspraak geskryf het nie. Die uitspraak wat verlede week gelewer is, was die resultaat van nege dae van ondervraging en kruisondervraging in April, en ’n verdere twee dae van regsargumente, in Mei deur van ons land se beste advokate.

In wese het Regter Lamont  ʼn interdik verleen teen die sing van die haatliedjie “Dubula iBhunu” deur Malema en die ANC.

Interdikte word elke dag in howe verleen. Interdikte word ook dikwels geminag, maar die minagting van interdikte deur sommige was nog nooit ’n rede vir howe om te besluit om nie meer interdikte te verleen nie.

Die verklaring van die lied tot haatspraak het ook nie nuwe regsgrond gebreek nie. Trouens, Regter Lamont se beslissing is die voortsetting van ’n verskeidenheid hofbeslissings en ander relevante beslissings oor dieselfde of soortgelyke liedere en krete en bevestig bloot die duidelike voorskrifte van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Diskriminasie.

  1. Die Menseregtekommissie het in 2003 die dreunsang “Kill the Boer, kill the farmer” tot haatspraak verklaar;
  2. Die uitsaai klagtekommissie het die haatliedjie AmaNdiya van die musikant Mbongeni Ngema wat teen die Indiërgemeenskap gemik is in 2002 verbied;
  3. In April verlede jaar het die Pretoriase Hooggeregshof ’n tydelike interdik teen “Dubabla iBhunu” toegestaan;
  4. In April vanjaar het Waarnemende Regter Leon Halgryn beslis dat “Dubala iBhunu” neerkom om aanstigting om moord te pleeg.

Juridies is daar dus niks fout met regter Lamont se uitspraak nie.

In al die gevalle hierbo is die uitsprake deur gerespekteerde regslui begroet met ’n rou woede van diegene wat graag die haatspraak wou voortsit en dit as deel van hulle “erfenis” wil vier. Ngema het destyds in sy reaksie op die Uitsaaklagtekommissie-uitspraak gekla dat daar oorlog verklaar word teen wat hy as die African race bestempel.

’n Briefskrywer in Rapport skryf die week “die ANC ontbloot sy siel” deur die wyse waarop hy reageer op regter Lamont se uitspraak.

Die ANC as regerende party van almal in Suid-Afrika besluit dat dit vir die organisasie kosbaar is om ’n liedjie te sing waarin beweer word –

  • dat Boere honde is,
  • dat Boere verkrag, en
  • dat Boere geskiet moet word.

Trouens, die ANC is bereid om na die hoogste howe te gaan om daardie “reg” te verdedig. Die organisasie gebruik op bedenklike wyse sy vernaamste koalisievennoot, Cosatu om die hofbevel openlik te minag en te ondermyn. Inderdaad het die ANC die afgelope twee weke sy siel aan Suid-Afrika openbaar soos nog nooit tevore nie.

’n Swetterjoel kitskommentators, van wie weinig die hele hofuitspraak gelees het, wat nog te sê die hofverrigtinge gevolg het, besluit om die ANC se optrede te regverdig en Regter Lamont te verguis.

Die beste getuigskrif van Regter Lamont se hantering van die saak is deur niemand anders nie as Julius Malema self tydens sy kruisondervraging gegee:

AfriForum se advokaat Martin Brassey het vir Malema op die voorlaaste dag van die verhoor gevra na wie die woord iBhunu verwys as hy die haatliedjie in hedendaagse konteks gebruik. Malema het gesê dit verwys na “donker magte” en mense wat transformasie teenstaan, wat steeds die ekonomie oorheers en steeds armes uitbuit.

Brassey vra toe vir Malema of die howe deel van daardie “donker magte” is, waarop Malema te kenne gegee het dat daar wel regters in Pretoria is wat transformasie teenstaan.

“En hierdie hof Mnr. Malema, is hierdie hof deel van die donker magte” vra Brassey toe. “Nee, u edele hierdie regter is ’n progressiewe regter. Hy luister na almal en het na almal se getuienis gevolg. Ons vertrou dat hy ’n goeie uitspraak sal lewer.”

Malema was reg. Regter Lamont het ’n goeie uitspraak gelewer. Dit was ’n uitspraak wat na alle kante toe sny. Dit was ’n uitspraak wat net soveel kritiek lewer op die gebruik van kwetsende taal teenoor swart as teenoor wit. Dis ’n uitspraak wat Suid-Afrikaners oproep tot medemenslikheid, verdraagsaamheid, bedagsaamheid en ordentlikheid. Dit ’n uitspraak wat van Suid-Afrikaners vra om mekaar as broers en susters te begin erken en as sodanig op te tree.

Die ANC se rou woede teenoor die uitspraak ontbloot inderdaad die siel van die organisasie. Wanneer Regter Lamont die week verlof tot appèl verleen aan die ANC sal die ANC weereens die geleentheid kry om sy siel te ontbloot aan ons land se hoogste howe. Die organisasie kan die geleentheid kry om aan die Appèlhof en dalk selfs die Konstitusionele Hof te verduidelik waarom hy so graag wil sing dat die Boere honde is, dat die Boere verkragters is en dat die Boere geskiet moet word.

AfriForum het reeds aangedui dat indien die uitspraak in die Konstitusionele Hof omvêrgewerp word, die organisasie hom op internasionale forums sal beroep. Dit sal aan die ANC die geleentheid bied om sy erfenisliedere in die wêreld se hoogste raadsale te gaan verduidelik. Maar met Erfenisdag om die draai is dit belangrik om na te dink oor die erfenis wat ons in Suid-Afrika vier. As ons ’n erfenis van haat vier en koester – kan ons nie verbaas wees as die nalatenskap van daardie erfenis korrupsie, geweld, wanbestuur en mislukking is nie.

Mag geregtigheid seëvier.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

driefontein ·

Ek stem saam.  Ek het die 178-bladsy uitspraak gelees.  Die opsomming van Afrikaner geskiedenis en die definisie van die Afrikaner as immoreel in die eerste paar bladsye het my dwars in die krop gesteek (maar dis seker nie die doel van die uitspraak nie), asook die verwysings na Europese faksiegevegte (vermoedelik verwys dit na die Hugenote).  Miskien kan dit tog in repliek reggestel word?  Ek lig ‘n paar uit:
a) Die invloed van die ABO en die anti-Britse gevoel rol is negeer.
b) Toe die ANC gevorm is, het Koning Edward VII die Suid-Afrikawet van 1910 geteken en die land was onder Briste beheer.  Die regering teen wie daar opstand was, was ‘n Britse een (en die gepaardgaande redes).
c) Die eerste wette wat afgedwing was, was nie die van die Republiek nie, maar die van die Unie.  Die uitspraak laat ‘n 50 jaar vakuum in die rol van die Afrikaner.
d) Die ANC se gewapende stryd was nie beperk tot persone in uniform nie.
e) Die WVK-proses en die Afrikaner se deelname aan die versoeningsproses is negeer.
f) “There has been little physical violence in the process” ondermyn die impak van pogings tot volksmoord, hoewel die uitspraak later die sneeubal-effek erken ens.
Wat ek egter nie verstaan nie, is die opposisie partyleier se nuusbrief oor hoe die uitspraak die grondwetlike reg tot vryheid van spraak onregverdiglik inperk, daarom verkeerd is en beperk moes wees individuele gevalle van lastereise.  Miskien kan iemand hierop lig werp?

Louis du Plessis ·

In jou metodiese samevatting van die uitslag in hierdie saak, swyg jy – omdat jy so beskeie is – oor jou éie rol.  Veels geluk Willie met die soveelste, vaardige en deurslaggewende hofstryd wat jyself vir ons almal se regte gevoer het! 

Anoniem ·

Haha, uitstekend!

Die punt oor oningeligte kommentaar is iets wat ek ook dikwels, oor vele sake, waarneem. Hoe lui daardie gesegde? “Daar is niks so gevaarlik soos net ‘n bietjie kennis nie.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.