Landbou en die verbruiker

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash)

Die TLU SA (die destydse Transvaalse Landbou-unie) is sedert 1897 daar vir kommersiële boere, inderdaad as familieboerderye. Daar word altyd gesê dat indien ’n mens beplan vir die toekoms, dit noodsaaklik is om ook terug te kyk.

Wyle president Paul Kruger het nie verniet gesê dat jy uit die verlede moet neem wat goed is om in die toekoms daarop te bou nie. Ondervinding se waarde in strukture bring ‘n bepaalde vastigheid waarop die hede aandag kan kry.

Die waarde van ondervinding kan nooit gering geskat word nie. By TLU SA word dit júís ervaar. Die bydraes en insette deur die jare word deurlopend getoets aan die werklikhede en eise van die hede.

Die karakter en etos van ’n organisasie is van kardinale belang om te bepaal wat die koers sal wees. Meer belangrik egter is die grondslag waarop die organisasie sy bestaan baseer. Vir TLU SA staan geloof in die drie-enige God vas verwoord in sy grondwet en ook manifes.

TLU SA het gewis tred gehou met die veranderings van die tyd. Tegnologiese ontwikkeling word optimaal ingespan om beter kommunikasie te bewerkstellig. Soos die tyd aanstap, word daar telkens opnuut besef dat die belangrikste en mees suksesvolle kommunikasiemedium steeds die hou van vergaderings is. Die wyse waarop juis die voetsoolvlak se leiers in hoër strukture hul insette kom gee, verskaf die geleentheid om die verskillende omgewings se werklikhede en behoeftes aan te hoor en sodoende die organisasie se standpunte te slyp. So bly die organisasie aktueel en gefokus.

Vir TLU SA is die verbruikers nog al die jare die belangrikste rolspelers in die landbouomgewing. Dit is immers die markte wat ons geproduseerde voedsel koop en vir elke boer ’n bestaansrede gee om te volhard in ons produksieproses.

Die landbouwaardeketting het verskeie rolspelers waarbinne elk ’n bepaalde doel het. Dit is ’n geïntegreerde ketting en elke skakel daarin is belangrik. Elk van hierdie rolspelers is inderdaad ook verbruikers. Ten einde die proses deur te voer om voedsel op die verbruiker se tafel te sit, is daar ’n reeks aksies wat moet plaasvind. Elkeen van die insetverskaffers se rol is belangrik.

Hierdie proses is vraaggedrewe (komende van verbruikers) en entrepreneurs wat bereid is om die risiko te neem, sal na vore tree om die bepaalde behoefte wat in die produksieproses bestaan, te laat verwesenlik. Ons dink hier, onder meer, aan die instansies wat finansiering beskikbaar stel. Met landbouskuld van by die R200 miljard is finansiering een van die belangrikste aspekte. Met die Landbank wat ’n wesenlike rol in dié verband gespeel het en nou ernstige probleme ondervind, gaan daar in die tyd vorentoe groot uitdagings vir beskikbare en bekostigbare finansiering vir die landbouer wees.

Vir enige produsent, afhangende waarmee daar geboer word, is verskillende implemente, gereedskap en hulpmiddels nodig om suksesvol te kan boer. Maak net ’n draai by enige koöperasie en stap deur die rakke om vinnig te sien watter soort produkte boere gebruik. ’n Verskeidenheid insetmiddele word benodig, soos byvoorbeeld saad, kunsmis, brandstof, veemedisyne en chemikalieë. Vir elkeen van hierdie produkte is daar verskaffers nodig – almal deel van die waardeketting.

Buiten vir die insetkant kry ons ook die verwerkers en verspreiders van voedsel. Deur al die jare is daar dikwels debatte gevoer oor die noodsaaklikheid van al hierdie rolspelers. Wat wel ’n feit is wat niemand kan betwis nie, is dat die markkragte deurlopend hierdie prosesse evalueer vir sukses. Diegene wat nie winsgewend aan die bepaalde vraag voldoen nie, word baie vinnig deur die mark beoordeel en uitgefaseer.

In hierdie verband het TLU SA die Pretoriase Boeremark begin om juis die produsent en die verbruiker nader aan mekaar te bring. Die mark gaan van krag tot krag en word beskou as een van die “moet besoek”-plekke in Pretoria.

Hierdie produksieproses met al sy fasette behoort ongehinderd sy gang te gaan. Tydens die inperking was dit byvoorbeeld die geval dat ’n boer nie ’n bepaalde koeëllaer vir sy stroper in die hande kon kry nie, as gevolg van die verbreking van hierdie waardeketting deur die inperkingsmaatreëls. Dit was so hittete of hy het sy hele sojaboontjie-oes verloor. Ander boere het hand bygesit om die saak te beredder.

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Die belangrikheid van voedselsekerheid is gedurende die inperkingstyd opnuut beklemtoon. Suid-Afrika se kommersiële boere presteer buitengewoon goed in uiterste omstandighede, vergeleke met ander lande in die wêreld. Ons landboutoestande word as marginaal beskou en van tyd tot tyd is ons steeds een van min netto uitvoerders van voedsel. Met ’n verstedelikingsyfer van 68% in Suid-Afrika besef ’n mens opnuut die belangrikheid van die skakel tussen kommersiële produsente en verbruikers.

Deur al die jare het TLU SA hierdie kommersiële boere as familieboerderye verteenwoordig. Die belangrikheid daarvan is deur al die jare besef as daar in ag geneem word wat die bydrae van landbou en hul families in die landelike gemeenskappe is. Die feit dat daar familieboerderye is, beteken dat landelike gemeenskappe se dorpies kon gedy. Skole, kerke en die gemeenskapslewe, soos kultuur- en sportstrukture, is aan die lewe gehou. Daarmee saam het besighede ook oorleef.

Die hartseer waar hierdie families om welke rede ook al die plase begin verlaat het, is onmiddellik in die plattelandse dorpies ervaar. TLU SA se struktuur maak by uitstek daarvoor voorsiening dat die onderskeie familieboerderye in ’n gemeenskap kan hande vat en saam hul distrikte stabiliseer as ’n kollektiewe eenheid, binne die Boereverenigings- of Boere-unies-verband.

Familieboerderye is die basis van kommersiële boere. Deur al die jare het die band tussen hierdie familieboerderye en die verbruikers die basis gevorm van ’n ekonomiese grondslag vir die platteland. TLU SA het deurlopend hierdie boere bygestaan deur middel van ’n werkswyse waar daar opwaarts en afwaarts gesamentlik probleme geïdentifiseer is en dan riglyne saamgestel is oor hoe die kwelpunt aandag kan kry. Die gesamentlike insette van al die lede landwyd slyp en verbeter deurentyd die beste optrede om ’n gegewe situasie te kan hanteer.

Die band tussen TLU SA se lede (die familieboerderye as kommersiële boerderye) en die verbruikers is deur al die jare gevestig as die twee belangrikste skakels in die voedselketting.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Landbou, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Alles waar en vals. Afrikaners, soos alle grootse volke struikel onder verwaandheid en meerwaardigheid jeens… wie? Nee nie Afrika se Hillbrow nie, maar hul eie naaste: broers, susters bure. Groot familieboerye klink ekonomies die beste opsie om vir die… gepeupel kos te gee en goudmunte in te katrol, maar die siel ly skade. Ryk Afrikaners is van die verwaandste en onaangenaamste mense op aarde. En as ons ons grond verloor, moet ons dalk ons binnekamer opsoek (op soek) vir ‘n antwoord.