Landbouhoewes: Wetsontwerp wemel van diskriminasie

plaashek-pexels

Foto: Pexels.

Die sakeregtewaghond AfriSake veroordeel die rassediskriminerende wetgewing wat op 17 Maart 2017 vir kommentaar in die Staatskoerant aangekondig is.

Volgens die Wetsontwerp op die Regulering van Landbouhoewes sal buitelandse grondeienaars wat beplan om landbougrond te verkoop dit heel eerste aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming (tans Gugile Nkwinti) moet bied vir aankoop. As die minister nie sou verkies om die grond te bekom nie, moet dit aan ’n swart persoon aangebied word soos uiteengesit in die Wet op Billike Indiensneming, 1998 (wetno. 55 van 1998).

Slegs hierna mag die eiendom vir aankoop aangebied word aan ’n wit persoon, wat ’n blatante vorm van direkte diskriminasie teen ’n minderheidsgroep is. Plaaslike landbougrondeienaars sal volgens die wetsontwerp verplig wees om die grond wat hulle wil verkoop eers aan ’n swart persoon aan te bied en dan aan die minister.

Die minister sal ook ingevolge die wetsontwerp mag en gesag hê om landbougrond te onteien waar ’n bedrag nie ooreengekom kan word tussen die departement en die grondeienaar nie. Die beginsel van “gewillige koper en gewillige verkoper” val dus heeltemal weg, en laat landbougrondeienaars met geen bedingingsvermoë om te verseker dat hulle ’n regverdige bedrag vir hul eiendom ontvang nie.

Ingevolge hierdie wetsontwerp sal geen wit persoon die reg tot eerste weiering soos per die beginsels van ’n vry en oop ekonomie hê om deel te neem aan die aanskaffing van enige vorm van landbougrond nie. Die omvang van hierdie wetsontwerp gaan so ver as om in te meng met die erfgoed van alle Suid-Afrikaanse burgers waar enige verkoop van landbougrond uit ’n bestorwe boedel ook aan die voorwaardes van die wetsontwerp onderhewig sal wees. Versuim om aan die voorwaardes van die wetsontwerp te voldoen, sal lei tot ’n boete of tronkstraf van nie langer nie as drie maande, of ’n kombinasie van albei.

“AfriSake sal die konstitusionele hof nader rakende die geldigheid van hierdie wetsontwerp indien dit onderteken word, omdat dit ’n skadelike uitwerking op die ekonomie, voedselsekuriteit en die beginsels van ’n oop en vryemarksisteem in ’n demokratiese samelewing sal hê. Hierdie wetsontwerp diskrimineer direk teen ’n minderheidsgroep onder die voorwendsel van grondhervorming,” sê Charles Castle, bestuurder by AfriSake.

AfriSake doen ’n beroep op die publiek om kommentaar aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming te stuur by [email protected] of [email protected] of om kommentaar per hand by Jeff Masemolastraat 184, Pretoria, af te lewer. Die publiek word ook aangemoedig om ’n brief van verlenging te teken en by die minister in te dien omdat die tydperk vir openbare kommentaar nie naastenby genoeg is om vir behoorlike openbare deelname en raadpleging voorsiening te maak nie. Hierdie brief is op AfriSake se webwerf beskikbaar by www.afrisake.co.za.

#StopNkwinti:  SMS “Land” na 32277 om ons te help in die geveg teen direk diskriminerende wetgewing.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietman ·

Hou moed…………….. FW se teenwigte gaan nog inskop. Kos gaan van nou af heelwat duurder en skaarser raak.

Ampie ·

Nog ‘n regsaksie wat konstitusionele hof toe gaan. Nog ‘n versekerde goedkeuring van diskriminasie deur dié hof.

Lampies ·

Waar is die liberaliste nou met hul kommenttaar? Dalk weet hulle hoe om hierdie klein probleempie aan te spreek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.