Lang en moeilike pad van herstel lê in Irak voor

Irak se vlag. Foto: Pixabay

Volgende maand sal kiesers in Irak kan besluit of eerste minister Haider al-Abadi tot ’n tweede termyn verkies moet word. Verlede maand was dit presies vyftien jaar sedert die Amerikaanse inval in Irak in Maart 2003.

Volgende maand se verkiesing en die gebeure van die afgelope vyftien jaar kan nie apart van mekaar gesien word nie. Daar is vandag steeds vyfduisend Amerikaanse soldate in Irak en dit is nog net enkele maande sedert die land se regering in Desember 2017 verklaar het dat die Islamitiese Staat-terreurgroep verslaan is.

Groot dele van Irak is oor die afgelope 15 jaar verwoes. Volgens berekeninge van die Wêreldbank en die Irak-regering is minstens agt-en-tagtig miljard Amerikaanse dollar nou nodig om die sewe provinsies wat die ergste deur oorlog geraak is, weer funksioneel te kry. Hierdie bedrag verwys nie na die volle herstel aan infrastruktuur nie, maar net na die fondse wat nodig is om funksionele regering weer moontlik te maak en die land se belangrike olie- en gasinfrastruktuur te herstel.

Intussen word daar ernstige vrae in aanloop tot die parlementêre verkiesing op 12 Mei oor die voortdurende betrokkenheid van die Amerikaanse weermag en oor die roete om te volg met die heropbou van Irak, gevra. ’n Mosie wat die regering verplig om ’n tydraamwerk vir die onttrekking van buitelandse soldate daar te stel, is op 1 Maart in die parlement goedgekeur. Die Soennietiese minderheid van provinsies in die weste en noorde het die mosie teengestaan, maar Sjiïete uit die suide en ooste het oorweldigend ten gunste daarvan gestem.

Terwyl duisende vlugtelinge deesdae na Irak terugkeer, winkelsentrums, koffiewinkels, parke en biblioteke heropen en daar in groot dele van Irak weer relatief veilige omstandighede heers, is daar ook ongelukkigheid onder ’n groot deel van die land se bevolking.

Die Sjiïtiese meerderheid het vir lank gewens vir die dag wat Saddam Hoesein, ’n Soennietiese diktator, onttroon kon word. Die manier waarop dit egter in 2003 gebeur het en die domino-effek wat tot vyftien jaar se chaos en swaarkry aanleiding gegee het, het egter meegebring dat ’n groot deel van die Sjiïtiese bevolking baie negatief oor die Amerikaanse teenwoordigheid in Irak is.

Daarmee saam is daar wydverspreide korrupsie in Irak. Terwyl Soennietiese gebiede deur die oorlog met die Islamitiese Staat verwoes is, het armoede in die oorweldigende Sjiïete Basra-provinsie, waar die meeste van Irak se olie ontgin word, skerp toegeneem. Dwelmmisbruik het sodanig toegeneem dat die regering onlangs soldate na Basra moes stuur om wet en orde te probeer herstel.

Nadat die Irak-weermag, in samewerking met die Amerikaners, in 2010 Al-Kaïda verslaan het, was daar heelwat hoop op ’n beter toekoms vir Irak. Kort daarna het die Islamitiese Staat op die voorgrond verskyn en chaos het gevolg.

’n Mens kan dus verstaan dat die mense van Irak sukkel om baie optimisties oor die toekoms te wees. Volgende maand se verkiesing sal een stap in ’n lang pad van herstel vir Irak wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

jaco ·

Dis mos die land waar Christene weggejaag en doodgemaak is en steeds vervolg word omdat hulle glo van dieselfde geloof is as die Westerse lande wat Irak in 1991 en 2003 aangeval het.
Heel ironies, het Sadam Hoessein Irak se Christene heel goed behandel.

Eish ·

Die Weste se selfaangestelde polisie, die VSA, het die vermoë om die lande wat binnegeval word, in groter chaos te los as voor sulke invalle.

Gerhard ·

Dit het in ‘n groot mate te doen met die verskil in denkwyses tussen Demokrate en Republikeine. Die een begin iets en die ander los dit om ten gronde te gaan.

Gerhard ·

Hopelik het Trump meer insig as sy voorganger en sal nie voor die tyd tent opslaan sodat hy net later moet terugkom om ‘n groter gemors te kom regmaak nie. Dit daar gelaat ek dink dit is baie duidelik as die Amerikaners meer geleidelik hulle mag afgeskaal het sou dit vandag baie beter gegaan het.

Marthinus Willemse ·

Drie van my nefies werk met tussenposes vir die Amerikaanse regering in Irak. Die Amerikaners se bomme en missiele is van so `n swak gehalte, dat `n groot persentasie nie ontplof nie. Hierdie gevaarlike goed lê die land vol, wat soos `n rommelhoop lyk. Hulle moet opgespoor, gekarteer, en deur sappeurs vernietig word. (As oud-sappeur kon ek ook `n kontrak kry, maar ek sukkel tans met hartversaking, en sal nie `n dag in daardie hitte oorleef nie.) En dan praat ons nie eens van die gebruikte uraan (depleted uranium) wat die Amerikaners in hul ammunisie gebruik, en ernstige radiasiesiektes veroorsaak nie.

John ·

Trump is ingebreek danksy die sluwe taktiek van die Pentagon & kie en dit gaan die wereld duur te staan kom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.