Langenhoven se mot en Marx se kers

Argieffoto.

Argieffoto.

Die ander motte was dom en dwaas,
Maar ék sal vér van die kers af bly;
Hier vér uit die skemerte sal ek kyk,
Hier vér is dit veilig en kyk is vry.

Maar ek hoef nie van éenkant net te kyk –
Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van álkant hoe hy lyk
Om beter te sorg om nie nader te kom.

My sirkel is skeef en ingebuig,
Maar dáar ook nog, waar ek naaste was,
Het daar niks gebeur – ek maak verniet
My velling so groot en so vér van die as.

Die wieletjie draai ál vinniger om,
En die lig en die gloed word ál groter genot:
En die vellings word nouer ál rondom die as –
En die end van die wiel is die as van die mot.

Idees regeer

Hierdie bekende gediggie van CJ Langenhoven gaan oor die voorspelbare einde van menige mot wat net nie van die magnetiese aantrekkingskrag van ’n kersvlam kon wegkom nie.

Maar in die regte lewe is daar ook motte wat dink dat hulle ’n kersvlam kan ontkom deur wye en slim draaie rondom dit te vlieg. Nou twyfel ek of Langenhoven juis aan Karl Marx gedink het toe hy hierdie gedig geskryf het, maar mens weet nooit! Maar die verhaal is wel van toepassing op die kommunistiese teorie.

Karl Marx het treffend gesê dat “die idees van die regeerders, die regerende idees van die samelewing word”. Daarmee het hy bedoel dat die regeerders se idees bepalend vir elke samelewing is, en dat hulle die werklikheid probeer omskep om by hulle beeld daarvan in te pas. In die praktyk doen hulle dit deur wetgewing, regeringsbeleid, belastingbesteding, die staatsmedia, skoolhandboeke – en deur die hele samelewing daarvolgens in te rig. So word die regerende idees uiteindelik die werklikheid as die politici hulle sin kry.

Demokrasie is ’n stryd om idees, waar verskillende partye op grond van hulle sentrale idees meeding, en waar die kiesers besluit wie se beleidsidees die meeste gewig dra. Maar in Marxistiese state het regerings verder gegaan. Hulle idees moes die enigste idees word, waar dit verhef is tot ’n soort “staatsgod” wat bykans soos ’n godsdiens gewerk het.

Grondwet versus politiek

Ná 1994 is verwag dat die Grondwet die “regerende” idees in die land was. Maar die ANC het ander planne gehad, en reeds in 1997 by sy groot konferensie in Mafikeng besluit dat sy idees in die land moet “heers”. In die praktyk sou die sentrale staatsideologie wat voortaan sou heers “Transformasie” wees – ’n woord wat nie eens in die Grondwet voorkom nie.

Die ANC het terselfdertyd twee uitgesproke doelwitte met “Transformasie” gestel. Die eerste doelstelling was die omvattende herskikking van die staat en samelewing op ’n rassegrondslag volgens die beginsel van demografiese verteenwoordigendheid. So het die party die ruimte geskep vir die ANC se beleid van swart (Afrikaan-) oorheersing op elke vlak van die samelewing.

Die tweede doelstelling van transformasie het die party verbind tot die verkryging van politieke beheer oor elke setel van mag. Die beheer waarna gestreef word, is kwalitatief anders as dié van gewone parlementêre partye. Benewens die mag wat deur die stembus verkry is, moet elke magshefboom in die staat ook ingepalm word. Dit geld van die Weermag en Polisie tot by die SABC en elke denkbare instelling in die land.

Lees en glo

Hierdie besluit oor Transformasie het so vergesog geklink dat niemand hom eintlik veel daaraan gesteur het nie. Dit kon tog nie wees dat die ANC self weer die land deur ’n bepaalde rassegroep wou oorheers nie. Suid-Afrika het dan nou net ’n demokrasie geword, met die ikoniese Nelson Mandela as die versoenende gesig daarvan! Daarbenewens is aanvaar dat hoogs opgeleide en ervare wit mense “onmisbaar” vir die land is, en dat rassebeleid nou tot die verlede behoort.

Maar soos Winston Churchill tereg opgemerk het, lees wat politieke leiers sê, en glo dat hulle bedoel wat hulle sê.

Namate die land stadig agtergekom het dat die ANC sowaar bedoel wat hulle sê, het mense buite die ANC baie soos Langenhoven se mot begin reageer. Die antwoord was om “Transformasie te bestuur deur jou eie inhoud daaraan te gee” – dit was die verstekstrategie van politieke leiers, sakelui, akademici en joernaliste. Net enkele politici soos Tony Leon, denkers soos John Kane-Berman van die Institute of Race Relations, en die sosioloog Lawrence Schlemmer het gemaan dat ’n nuwe totalitêre rassebestel aan die kom is.

Die ANC het sy staatsmag aangewend om uitsluitlike beslag aan die party se eie vertolking van “Transformasie” te gee, en geen ander definisie kon blywend standhou nie. Maar meer as dit, Transformasie het die statuur van ’n amptelike staatsideologie gekry, waarmee niemand mag verskil nie. Enige verskil is dadelik aangeval en gestraf op die brandstapels van die openbare mening. ’n Universiteit probeer ’n raadslid wat diplomaties krities daaroor was, uit die akademiese samelewing verban. Dit het mettertyd normaal en logies geword, en die land het begin aanvaar dat dit nou is hoe dinge werk. So het “Transformasie” uiteindelik begin regeer, deur die “treinspoor” te word waarop die land voortaan sou beweeg – ongeag die gevolge.

Nuwe vlamme nodig

Dis mislukking van Transformasie is daar vir almal om te sien, van Eskom tot die verval van groot dele van die staat, en die gesukkel van die privaat sektor onder die gewig van ’n onbekostigbare en onwerkbare beleid. Maar niemand durf verskil sonder om die duur prys van politieke verbanning tot “verregs” of pro-apartheid te betaal nie. Die land moet dan maar liewer op almal val.

Die stryd om die “Woord” te gebruik, maar die betekenis van Transformasie te versag, duur voort. Daar word gesê Transformasie by universiteite gaan inderwaarheid oor “insluiting”, “tuisvoel” en “behoort”, en nie oor ’n nuwe rasse-eksklusiwiteit nie. Maar in die praktyk word die regeerders se idees met staatsmag afgedwing, regeer dit die samelewing, en is hulle vertolking prakties die enigste wat tel. Die motte vlieg om en om en nader en nader, en kort voor lank is die end van die wiel die as van nog ’n mot.

Daarom is die oplossing nie om soos ruimtetuie om die regerende “ideeplaneet” te bly wentel nie, maar om eerder ’n alternatiewe idee te ontwikkel. Nuwe “kersvlamme” is nodig. Die idee wat die toets van die tyd oorleef het, is die woord “vryheid”. Die geskiedenis wys dat vryheid die vlam was wat alle verdrukkende stelsels nog oorwin het, selfs die magtige kommunistiese ryk. Die Grondwet beskou self “vryheid” as norm, saam met gelykheid en menswaardigheid.

Vryheid is ondeelbaar, of dit nou persoonlike vryheid, mediavryheid, ekonomiese vryheid, ’n vrye regbank of die vryheid van kultuurgemeenskappe is. Daarom is politieke vryheid sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid. Net so is gelykheid sonder kulturele gelykheid net gelykheid vir die meerderheid en beteken die stroping van ’n kultuurgemeenskap se kulturele bates soos skole en universiteite ’n aanval op hulle vryheid, gelykheid én menswaardigheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Disselboom ·

Sien Solidariteit die vryheid wat nodig is in Suid-Afrika as vryheid van die Afrikaner en ander volke of dat die Suid-Afrikaanse nasie vry van die kommunisme moet word?

Johann Marx (karl se kleinneef) ·

Transformasie – ‘n proses waar die minderheid sielsgelukkig kan meedoen aan hulle ondergang.

Chris ·

Ek stem saam dat Vryheid die enigste manier is om waarlik te leef. Die probleem is egter dat nie almal dieselfde definisie van Vryheid het nie wat konstruktiewe gesprekke bykans onmoontlik maak. Dit word vererger deur baie mense wat kommunisme en Christenskap probeer gelykstel en daardeur n perverse ideologie skep.

Dit sal miskien help as ons kommunisme probeer beveg deur uit te wys hoe dit op elke terrein Christenskap teenstaan:

Jesus het bevestig dat Hy gekom het om die Wet (10 gebooie) te vervul. Jesus het ook bevestig dat die definisie van “liefde” (n ander term met baie verskillende interpretasies) is om God se wil (die Wet) te doen. God wil ons vry maak met die 10 gebooie.

So kom ons vergelyk die Wet van God en kommunisme met n paar maklike voorbeelde:

1. “jy mag geen ander gode voor my aangesig het nie.

Kommuniste het aanvanklik probeer om God heeltemal te verbied. Dit het nie gewerk nie, en nou is hulle besig met die ander aanslag: Alle gode is gelyk. Jesus is dieselfde as Mohammed, as Buddha ens.

2.Afgodery is verbied.

Kommuniste verhef hulle leiers tot alwetende, alsiende “gode”, vir wie gebuig moet word. Verwys Stalin, Mao en nou Kim Jong Un.

4. Eer die Sabbat.

Die kommuniste het mense forseer om op die Sabbat te werk.

5. Eer jou Vader en jou Moeder.

Die kommuniste het kinders weg van hule ouers gevat na “her-opleidingskampe” as hulle nie luister nie. Verglyk ook vandag waar die regering die mag van ouers in skole wil beperk. deur die mag van die Beheerliggame in te perk.

6. Jy mag nie doodslaan nie.

Vergelyk hoe baie mense gesterf het omdat kommunisme net met geweld in stand gehou kan word.

8. Jy mag nie steel nie.

Hierdie gebod impliseer eiendomsreg, iets wat kommuniste glad nie aanvaar nie. Huidige belasting verbreek ook hierdie gebod.

9. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

So baie van kommunistiese ideologie is vals, of word voorgehou onder vlase voorwentsels dat boeke daaroor geskryf is.

10. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie

Die hele kommunistiese ideologie is gebou op die aktiewe verontagsaming van hierdie gebod. Kommunisme dring aan dat jou naaste nie iets mag he wat jy nie het nie.

Ek kan ook wys hoe kommunisme die ander twee gebooie ondermyn, maar dit is langer argumente en ek dink almal sal die punt nou verstaan. n Mens wat wil voorhou dat hy n Christen en n kommunis kan wees, verstaan duidelik nie die een of albei nie. Dit is onmoontlik.

Ek persoonlik dink ons sal n fout maak om kommunisme te probeer beveg deur te steun op “klassieke liberalisme” filosofie, aangesien dit net n Trojaanse perd is na kommunisme toe.

Dit sal baie beter wees om kommunisme te beveg met die Woord.

Johannes Meintjes ·

Pragtige sentimente. Ek beleef nie die Afrikaner, – in welke groepering ook al, – as tans nog in staat om hierdie besef van kommunisme en transformasie aftakeling te begryp, te ontleed en daadwerklik tot selfbestuur, selfbeskikking n uiteindelik, vir sommiges tot eie grondgebied, te bevorder nie. Op hierdie stadium bly ons die slagoffers van ongeregtige omstandighede wat deur ander bewimpel word. Mooi gedagteruilings, nietemin.

Disselboom ·

Die prentjie lyk nie mooi nie, en as die Afrikaanse Hoër Seunskool se koor en veelstemmigheid Nkosi sing terwyl die Voortrekkers 20 landsvlae (die ANC-ene) in Atterburyweg as geskenk aan die gemeenskap hys, wil-wil mens moedeloos word.

Maar daar is ander jongmense in hierdie land wat baie meer van die land, Afrikanerskap, geloof, kerk verstaan as hulle slapperige voorgeslag. Ons moet die pad vir hulle oopmaak, en die werk na vryheid toe aan die gang sit deur privaatskole aan die gang te sit, die kerklike verval te begin opruim terug na eenvoudige en eerbiedige geloof, en deur die voorbeeld te stel om stilweg net al hoe meer te doen en die selfbejammering te laat staan.

Die nuwe geslag is daar. Nog maar individue en hier en daar, maar daar is ‘n beroering onder ons jongmense wat die huidige geslag nog gaan beskaam.

Dirk Bosman ·

Die begrip transformasie is soos die begrip soewereinitet rekbaar.Toe die burgers vir Paul Kruger vra wat verstaan die Engelse onder soeweritet antwoord hy hulle se klim self op die skavot,sit die lus self om jou nek en nadat die toe styftrek is jy vry om te skop soos jy wil

Die begrip transformasie is rekbaar.Toe die burgers vir Paul Kruger vra wat bedoel die Ingelse met die woord soewereiniteit se hy.Die Ingelse se ons moet self op die skavot klim en nadat ons die tou self vasgetrek het en hulle die hefboom trek is ons vry om te skop soos ons wil.

Herman ·

Briljante skrywe.
Wat my verstand te bowe gaan is hoe die witmense so maklik geval het vir hierdie grappies en steeds wyer om hulle oe oop te maak. Kyk nou maar na ons unversiteit besture regoor die land. Hoe hulle net agteroor buig en en almal (Hulle eie mense en taal) verloen deur net agteroor te buig en in te gee. Behalwe Afriforum, waar is ons intelektuele? Ek sien hulle beslis nie meer in ons unversiteite nie? Waar is ons sake leiers wat hulle verstet teen BEE en al die ander variteite daarvan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.