Laster-‘Bond’ ʼn teleurstelling

Deur Paul Maritz

Daniel Craig by die premiere van die nuwe James Bond-rolprent “No Time to Die” (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Min dinge toon die verandering wat die Weste oor die afgelope halfeeu ondergaan het so duidelik aan soos die veranderinge wat James Bond-films ondergaan het. Tegnologie verbeter, aksietonele verskerp en die booswig se komplot om die wêreld te oorheers word toenemend meer kompleks.

Ongelukkig is nie alle veranderinge wat die wêreld ondergaan het positief nie, ten minste nie na my mening nie, en ook dít word in Bond as karakter en as era-merker in sy nuutste film raakgesien.

Die kyker weet dikwels wat hom of haar in hierdie films te wagte is: asemrowende tonele, aksie en geweld, en meer as een rendezvous met ʼn modelmooi dame wat toevallig in allerlei vorms van gevegkuns en die hantering van spesiale wapens opgelei is. Een ding wat histories nie deel van die repertoire was nie, was egter die opsetlike belastering van God se naam – ʼn nuwe element tot die Bond-karakter wat Christene, soos ekself en my vrou, ongelukkig wêreldwyd springmielies en al by teaters laat uitstap.

Die belastering van God se naam is in die eerste dekades van Hollywood onder geen omstandighede toegelaat nie, maar stelselmatig het Hollywood geliberaliseer, tot waar dit nou die standpunt huldig dat enigiets nou maar aanvaarbaar is. Dit is nie. Christene word dikwels met hierdie moeilike keuse gekonfronteer: Verlaat jy die teater terwyl die film nog aan die gang is, of sit en luister jy na laster wat opsetlik daar geplaas is om ʼn nuwe element tot hierdie karakter se persona te voeg? Ons het bederf geraak met filtrasieprogramme soos die “profanity filter” wat met die klik van ʼn knoppie al die lasterwoorde op Netflix kan verwyder, en het al daaraan gewoond geraak om maande lank reekse te kyk sonder om die naam van die Here te hoor wat as stop- of kragwoord gebruik word. Dit het tot gevolg dat sodanige laster dan selfs dieper sny wanneer ʼn mens dit in ʼn teater hoor.

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

Vir my is daar ʼn stuk persoonlike teleurstelling hierby. Dit is miskien skynheilig dat ek soveel van die vorige films gekyk het terwyl Bond hom so openlik met heelwat ander dinge besig hou wat ek ook nie volgens my belydenis mag goedkeur nie, en dit is ʼn moeilike vraag om te antwoord, want sy optrede kon nog nooit as eties goed hanteer word nie. Dit is egter die eerste keer wat opregte Christene so direk en so openlik, en dan ook so gedurig deur die hoofkarakter self met laster gekonfronteer word.

So wat dan nou gemaak? Sit ʼn mens maar en kyk toe omdat jou kaartjie so duur was? Vir baie is dit die pad van minste weerstand, om maar te bly sit. Daar is ander, en hierdie groep is besig om te groei, wat besef dat die opsetlike aanval van Hollywood op die Christelike geloof in so ʼn mate verhoog het dat selfs films wat vir die familie bedoel is (soos Ryan Reynolds se nuwe Free Guy-film), die verskriklikste lasterwoorde bevat. Vir hierdie groeiende groep raak filmteaters ʼn al hoe kleiner opsie, omdat ʼn mens maar net nie die risiko wil neem om weereens halfpad deur die fliek die teater te moet verlaat nie.

Die tragiek van die hele storie is dat dit met teaters sleg gaan, en dat ʼn mens hulle graag wil ondersteun, maar dat die opsetlike en juiste besluite van filmmakers ʼn mens toenemend van teaters af wegdryf. As elke Bond ʼn merker moet wees van waar die mensdom in daardie oomblik is, dan is die huidige Bond die toonbeeld van alles wat tans met die Westerse beskawing fout is, veral die feit dat hy vir die einste geloof waarop hierdie beskawing gebou is, aanstoot moet gee. Geen boom kan sy eie wortels afsny en hoop dat hy dieselfde vrugte sal oplewer nie. ʼn Duur les, maar een wat die Weste homself skynbaar ten alle koste op die hals wil haal.

Ek wonder nog steeds hoe die film eindig, maar ek wonder nie genoeg om dit ooit weer te kyk nie, selfs nie al word ek betaal nie.

  •  Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

piet ·

Ek vind dit interessant dat mense die godslasterlike taalgebruik wat tegnies uitgedoof kan word soos in tv-reekse enigsins verdra. Met ander woorde – hoe kan dit “oukei” vir jou wees as jy weet dat daar godslasterlike woorde bestaan maar jy verduur dit omdat jy dit nie kan hoor nie (tegnies word dit uitgedoof maar dis steeds deel van die oorspronklike klankbaan). Ek sou se dat as jy so sterk oor die saak voel behoort jy glad nie die materiaal te kyk nie want jy weet mos nou dat die betrokke media godslasterlike elemente bevat. Die blote feit dat jy dit kan uitdoof en nie kan hoor nie (jy sal in elk geval steeds in meeste gevalle uit die lippetaal kan aflei wat gese word) verander nie vir my die situasie nie.

Miskruier ·

Ek vloek, selfs die “f” as ek kwaad word maar haat dit as God se naam misbruik word.

Andries ·

Dankie vir die waarskuwing – nou weet ek om verby te hou.

Gerd Lourens ·

Goed gestel! En die vervaardiger probeer tog so polities korrek wees.
Ek het al die Bond-flieks tot waar Moneypenny vervang is. Sy is veronderstel om ‘n Engelse Roos te wees…
Dankie vir die tydige waarskuwing.

Porseleintjie ·

Dis hoekom die wereld is wat dit vandag is. God word nie meer gevrees nie.

Dries ·

Dankie Paul nou weet ek om nie dit te gaan kyk nie. Ek het eenkeer by die KKNK n opvoering van Pieter Toerien gekyk wat so walglik was. Ek wou uitstap maar my familie se toe hulle is te skaam. Ek het toe maar my weersin en disrespek gewys deur n sigaret aan te steek. Gou gou toe rook baie mense saam met my

Stephan ·

Ek stem saam- is nou net so erg met tv programme. Baie min om deesdae te kyk. Maar ons weet die dinge moet gebeur voordat Jesus terugkom.

Werner ·

Dankie vir die artikel. Dit sal gaaf wees om n databasis te hou van flieks se misbruik van die Here se naam. Op IMDB word dit nie eers altyd as “profanity” gemerk nie, so gewoond is die Amerikaners al daaraan.

Nici ·

Ongelukkig het die wereld in so ‘n put van duisernis geval dat ons as Christene ‘counter culture’ gaan moet lewe of ingesuig en opgevreet word. Om vandag jouself skoon te hou van al die gemors sal mens laat uitstaan as radikaal. Dit wat normaal was 50 jaar gelede is beslis nie meer die norm nie.

louw ·

Ja,Dis verskriklik .Die ergste is die afrikaanse boeke wat so hoog aanbeveel word wat ydelik gebruik bv.”kringe in Die bos” en die voorgeskrewe engelse boeke op skool wat so teen God laster.

Willem ·

As dit ‘n islamitiese gehoor was het daardie teater nou gebrand so erg is die moslems teen enige vorm van disrespek teenoor die naam van Allah en die profeet Mohammed. Die moslems is seker van die gelowigste mense wat ek al ontmoet het. Christene kan baie by hul leer oor respek vir God.

Casper ·

Selfs animasie prente, soos baby boss, pleeg laster. Selfs disney prente, Jungle cruise.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.