Lede van voormalige veiligheidsmagte vir die wolwe gegooi

Genl. Johan van der Merwe.

Advokaat Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, en luitenant-generaal Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het onlangs in ʼn verklaring bekendgemaak dat ʼn spesialiseenheid gestig is om gruweldade wat tydens die apartheidsera gepleeg is te ondersoek.

Generaal Johan van der Merwe, oudpolisiehoof, gee sy perspektief rakende hierdie komplekse tyd in Suid-Afrika se geskiedenis.

Agtergrond

Suid-Afrika was vir meer as drie dekades in ʼn bloedige revolusionêre aanslag gewikkel waar die ANC-SAKP-alliansie en ander revolusionêre organisasies gepoog het om die regering met geweld omver te werp. Umkhonto we Sizwe (MK), militêre vleuel van die ANC-SAKP-alliansie, het met die hulp van Sowjet-Rusland en ander kommunisties gesinde lande hulle lede militêr opgelei, maar het deurgaans ʼn onbeduidende faktor gebly wat deur die veiligheidsmagte van die RSA oorskadu is.

Die onvermoë van MK om op militêre vlak iets teen die veiligheidsmagte te vermag het daartoe gelei dat die ANC-SAKP-alliansie hulle tot ʼn “people’s war” gewend het waar die gewone bevolking ingespan is om deel van die verset teen die RSA-regering te word. In plaas daarvan om aanvalle op die veiligheidsmagte van stapel te stuur, is daar van sluipmoordaanvalle op die polisie gebruikgemaak en deur middel van terreuraanvalle gepoog om vrees by die burgerlike bevolking in te boesem om sodoende die doelstellings van die ANC-SAKP-alliansie te bevorder.

Een van die skokkendste terreurvoorvalle in die geskiedenis van Suid-Afrika het op 20 Mei 1983 plaasgevind. ʼn Motor met ʼn kragtige lading springstof het omstreeks vieruur die middag voor die Nedbankpleingebou in Kerkstraat, Pretoria, ontplof. Altesaam 19 mense is dood, onder wie 12 burgerlikes en sewe weermaglede. Altesaam 219 mense is erg beseer of vermink, onder wie 217 burgerlikes en twee weermaglede. Hoewel oudpresident Nelson Mandela in sy boek, Long Walk to Freedom, sy spyt oor die voorval uitgespreek het, het hy terselfdertyd gemeld dat die ANC dit aanvaar het dat voorvalle van hierdie aard in die loop van die gewapende stryd gaan plaasvind.

Daarna het verskeie ander terreurvoorvalle gevolg, onder meer die ontploffing in die Amanzimtoti-winkelsentrum op 23 Desember 1985, die aanslag op die Magoo’s Bar, die Ellispark-bomaanval en die voorvalle by die landdroshowe in Johannesburg en Krugersdorp. Talle weerlose persone, wat vroue en kinders insluit, is in die voorvalle gedood of vermink.

Die aard en omvang van die bedreiging teen die gemeenskap het lede van die veiligheidsmagte, en spesifiek die veiligheidstak van die polisiemag, genoodsaak om terug te veg en lede van MK en ander wat terroristedade gepleeg het, om die lewe te bring.

Ontbanning van die ANC en begin van onderhandelinge

FW de Klerk het gedurende die begin van 1990 besluit om die onwettige verklaring van die ANC en ander revolusionêre organisasies op te hef en met staatkundige onderhandelinge begin om ʼn nuwe bedeling tot stand te bring.

Tydens die aanvang van die onderhandelinge was die ANC gretig om algemene amnestie aan alle partye toe te staan. Kobie Coetsee en lede van die Nasionale Party wou egter politieke munt daaruit slaan en het geweier om dit te aanvaar. Daar moes egter voorsiening gemaak word vir die terugkeer van ANC-lede wat onwettige dade gepleeg het en die regering het ʼn vrywaringswet uitgevaardig waarvolgens daar aan hulle vrywaring verleen word. Soos die onderhandelinge gevorder het, het die ANC al hoe meer daarvan bewus geraak dat die Nasionale Party nie kon bekostig dat die onderhandelinge skipbreuk ly nie, wat hulle derhalwe uitgebuit het. Met betrekking tot die bogenoemde skryf Jacko Maree, voormalige parlementslid van die Nasionale Party, op 1 Augustus 2021 in Rapport:

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie het in 1995 gekyk na die amnestiebepalings wat in die WVK se konsepwet opgeneem is. Die ANC was toe, wat amnestie betref, in ’n baie gunstige posisie, want duisende ANC-verwante lede was alreeds met volle amnestie uit tronke vrygelaat. Onder hulle was 5 302 lede wat die land onwettig verlaat het; 4 709 lede wat opleiding ontvang het om die NP-regering omver te werp; en 7 380 uitgewekenes wat die land binnegekom het ongeag politieke misdade wat hulle in die buiteland gepleeg het. Wat ernstige misdade betref, het 1 016 lede amnestie gekry vir terrorisme en sabotasie en 564 vir moord en roof.

Daarbenewens het die Curren-komitee 246 ANC-lede met volle amnestie vrygelaat. Die ANC-lede is so mildelik met amnestie bedien dat gesê kan word dat die ANC algemene amnestie verkry het.

Onder hulle was mense wat verantwoordelik was vir die Kerkstraat-bom en die aanslag op die Magoo’s Bar. Ook het ANC-lede wat vir 485 aanvalle op die polisie en 369 op gewone burgers verantwoordelik was en waarin 9 280 mense dood is (406 van hulle volgens die halssnoermetode) skotvry weggestap. Lede van die veiligheidsmagte, wat verantwoordelik was vir minder as 7% van die totale gevalle van politieke gruweldade, het geen amnestie verkry nie en moes aansoek by die WVK doen vir amnestie.

Dit is baie duidelik dat die ANC die Nasionale Party na willekeur gemanipuleer het om een of ander vorm van vrywaring aan hulle lede, wat onwettige dade gepleeg het, toe te staan, met die gevolg dat die ANC al hoe meer traag geword het om ʼn algemene amnestie te oorweeg.

Verwerping van algemene amnestie

Nadat die veiligheidstak “Operasie Vula” tydens die staatkundige onderhandeling oopgevlek het en 40 leiersfigure van die ANC in hegtenis geneem is, wat onder andere Mac Maharaj, Pravin Gordhan en generaal Siphiwe Nyanda ingesluit het, het ek Kobie Coetsee gaan spreek om hom te oorreed om die voorval te gebruik om die ANC te dwing om algemene amnestie toe te staan. Daar was verdoemende getuienis beskikbaar om al die beskuldigdes weens hoogverraad te vervolg. Coetsee het weereens op sy omslagtige en dubbelsinnige wyse verduidelik dat die voorval uit ʼn staatkundige oogpunt soveel voordele vir die Nasionale Party inhou dat hulle dit nie kan bekostig om toegewings ter wille van amnestie te maak nie. Die beskuldigdes is uiteindelik weens ʼn minderwaardige aanklag vervolg.

Aan die einde van die onderhandelinge het die ANC geweier om algemene amnestie te aanvaar.

Die ANC het egter ingewillig om die slotgedeelte van die tussentydse Grondwet soos volg te bewoord:

…Die aanvaarding van hierdie Grondwet lê die vaste fondament vir die mense van Suid-Afrika om die verdelings en tweespalt van die verlede, wat gelei het tot growwe skendings van menseregte, die verbreking van menslikheidsbeginsels in gewelddadige konflik en ʼn nalatenskap van haat, vrees, skuld en wraak, te oorbrug.

Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar ʼn behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ʼn behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ʼn behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.

Ten einde dié versoening en herstrukturering te bevorder, moet amnestie verleen word met betrekking tot dade, versuime en misdrywe wat met politieke oogmerke in verband staan en wat in die loop van die konflik van die verlede begaan is…

Die gevolg

Ondanks die feit dat ʼn grondwetkenner soos advokaat Gordon en verskeie advokate my verseker het dat waar ʼn daad met ʼn politieke oogmerk in verband staan en in die konflik van die verlede gepleeg is, amnestie toegestaan moet word en dat die betekenis van “politieke oogmerk” nie deur wetgewing verwring kan word nie, het dit tog gebeur. Al die gevalle waar amnestie aan voormalige lede van die veiligheidstak geweier is en waar daar tans vervolging oorweeg word, sou so ʼn daad volgens die gewone uitleg van die betekenis van “politieke oogmerk” binne die bepalings daarvan geval het.

37 lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC het tydens die amnestieproses om gesamentlike amnestie aansoek gedoen. Daar is aan hulle amnestie toegestaan, maar die openbare verset was só heftig dat die WVK gedwing is om die beslissing van die amnestiekomitee te hersien, waarna amnestie deur die hooggeregshof ter syde gestel is.

Ondanks die feit dat verskeie voormalige lede van die veiligheidsmagte reeds weens dade wat met ʼn politieke oogmerk verbandhou en in die konflik van die verlede gepleeg is vervolg is, is nog nie ʼn enkele lid van die NUK van die ANC vervolg nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blikkies

Dankie vie die inligting, nie dat ons nie bewus daarvan was nie, maar wat noem jy nou so ‘n persoon wat sy eie mense vir die wolwe gooi vir sy eie politieke gewin? maar eintlik ons onder die tafel uitverkoop het?

Chuck

‘All is fair in love & war’, lui die gesegde……..ons was in ‘n staat van oorlog en as Mandela kon beweer dat dit ‘fair game’was om straatbomme te plant, dan is ons gewese generaals ook daarop geregtig om te antwoord dat hulle moes doen waarvoor hulle opgelei was–die beskerming van hul land teen terroriste…..ten alle koste.

Joe

As lede van die “veiligheidsmagte” aanspreeklik gehou word vir misdadige gruweldade kan daar nie gese word dat hulle vir die wolwe gegooi word nie. Dis bloot regverdig. Veral as hulle hulle op n meerdere hogere waardes beroep het. Hulle het goed geweet hulle doen verkeerd.

James

Geen simpatie. Lekker oorgegee. Nou, 30 jaar later, ontsteld omdat die hoenders kom eiers uitbroei het.

Nici

Ja die NP was ‘n klomp arrogante over confident incompetents. Weet nie hoe om dit meer suiwer te stel nie.