Leë beloftes, vals belonings en die gebrek aan sosiale kapitaal

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Deur dr. Christo Pretorius

Die politieke wetenskaplike en ekonoom, Yoshihiro F. Fukuyama, bespreek in sy boek, Political order and Political decline, onder meer die uitwerking van wat hy noem laevertrouestelsels soos dit in Italië en Griekeland voorkom.

Hy steun veral op die navorsing van Robert Putnam wat ʼn ontleding van die Italiaanse Noord-Suid-kwessie gedoen het.

Die Noord-Suid-kwessie dui op die verskil in welvaart, doeltreffende regeringsinstellings en infrastruktuur tussen die Noorde en Suide van Italië.

Ondanks gelyke toegang tot bronne en magsinstellings is die Suide in vergelyking met die Noorde armer.

Putnam en ander navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die Suide se disfunksionaliteit aan ander oorsake toegeskryf moet word, waaronder oorgelewerde kultuurwaardes of sosiale kapitaal.

Van hierdie waardes of sosiale kapitaal is die beskermheer-kliënt-verhouding.

Judith Chubb stel dit so: “In ruil vir toegang tot bevoordeling deur die staat en volmag op plaaslike vlak, word die meerderheid in die parlement, ongeag beleid en agenda, ondersteun.”

Dit herinner aan die beskermheer-kliënt-verhouding wat reeds tydens die Romeinse heerskappy voorkom; ʼn verhouding tussen die maghebber en dienskneg wat op beheer, veral die beheer van bronne, gebou is.

Op die lange duur lei dit na die inrigting van die politieke speelveld aan die hand van persoonlikhede en die belofte van beloning in plaas van ʼn ideë-raamwerk en doeltreffende regering.

Hoewel nie in alle opsigte nie, toon die ontwikkeling en gang van die politieke orde in die suide van Italië tog ooreenkomste met gebeure in Suid-Afrika.

Die uitslag van die onlangse wantrouemosie teen pres. Jacob Zuma wys: Ondanks die klagtes van korrupsie en staatskaping, is die ANC onverbiddelik in sy steun ter wille van ʼn eenheidsfront en ingesteldheid dat mag ten alle koste behou moet word.

Wie die mag beheer, beheer die bronne en die nagenoeg 16 miljoen stemgeregtigdes wat van staatstoelaes afhanklik is.

Hierdie bronne is egter aan die kwyn; Suid-Afrikaners is aan die verarm, werkloosheid neem toe en die middelklas sal in die huidige tempo nie meer in staat wees om die belastinglas te dra nie.

Om die ramp te verbloem word die blaam verskuif na minderheidsgroepe. Wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder word as struikelblokke getipeer.

Wantroue word gesaai en vertroue tussen gemeenskappe aan flarde geruk met beskuldigings en valse beloftes.

Aan die hand van die Italiaanse Suide en wat Suid-Afrikaners tans beleef, kan gevra word:

Is die oorsprong van ʼn ondoeltreffende staatsbestel en die toenemende armoede nie te wyte aan ʼn gebrekkige waardesisteem, aan ʼn tekort aan sosiale kapitaal nie?

Die oorsprong van dié gebrek en tekort begin by ʼn sosiale orde waar die beskermheer sy kliënt versorg en die kliënt ongeag die persoon, ter wille van ʼn beloning, vir sy landheer stem.

Dit begin wanneer die staat ter wille van magsbehoud vertroue tussen gemeenskappe vernietig en gemeenskappe sosiale kapitaal verruil vir eie gewin.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Interessant dat Rome weer opdoem. Lees beslis meer oor die onlangs aangewese magtige sg Swart Pous (met menige voor hom) uit Venezuela en ook die hoof van die RK-Jesuite, met sy Marxistiese idees en Trump se grootste uitgesproke teenstander wat migrasie na Europa en elders aanmoedig. Die huidige ‘wit’ pous is ook ‘n Jesuit uit S-Amerika. Terwyl Rusland wegbeweeg van Marxisme, predik die Roomse Kerk nou, onder die dekmantel van Christelike waardes, ‘n nuwe wereldorde vir totalitere gelykheid; liefde/handevat tot in die slaapkamer om mense se sg minderwaardigheid op te hef met ‘geen-mure’ en veral geen witkapitaaloorheersing (klink bekend?). Die huidige pous glo die duiwel is bloot ‘n simbool en verklaar ander gelowe gelykstaande aan die Christendom. Volgens hom is die Vader nie instaat om die heeleal sonder evolusie te geskep het nie. Lees/kyk foto’s/ sien waar al ons en Trump se weerstand begin… en oor die begin van die einde; dis krities want ons moet ons situasie in konteks interpreteer. Ons gewetens word onderspeel. (Rekenaars word nou selfs met menslike dna gedokter om te heers… )
En ons dog dis die Zoeloe op ons stoep…

Mengelmoes ·

Noorde van italie se mense is ligter van gelaat. Oraloor in die wereld geld die verband tussen gelaat en produktiviteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.