Leer assebliéf lesse uit Britse mini-begroting!

Prof. Waldo Krugell (Foto: Verskaf)

Die meeste van ons het ʼn mening wanneer makro-ekonomiese beleidsidees rondgegooi word:

  • sal dit nie die ekonomie help om rentekoerse eerder te verlaag nie, of
  • as ons vir almal ʼn toelaag betaal sal mense daardie geld weer bestee en dit sal mos bydra tot ekonomiese groei en belastinginkomste, of
  • hoekom verlaag ons nie eerder belastingkoerse nie en dit sal dan lei tot investering en ekonomiese groei.

Elkeen het sy gunstelingplan vir die ekonomie!

Daar is natuurlik voorbeelde van hoe sulke idees op ander plekke, of in die verlede, al gebruik is en gewerk het (of nie gewerk het nie). Mense steur hulle egter nie veel daaraan nie. Die grappie lui, Geskiedenis is die grootste leermeester, maar ongelukkig kom niemand klas toe nie. Op die oomblik word daar les gegee in die Verenigde Koninkryk en met Suid-Afrika se eie mini-begroting om die draai in Oktober, is dit belangrik om op te let.

Brittanje se nuwe eerste minister, Lizz Truss, en minister van finansies, Kwasi Kwarteng, het verlede week een van daardie groot beleidsidees gevat en hulle mini-begroting daarop gebou. Die idee kom uit die Aanbodkant-ekonomie en die era van Reaganomics. Hulle mikpunt is 2,5% ekonomiese groei oor die medium termyn en die plan is om die ekonomie te stimuleer met belastingverligting en deregulering.

Die meer as ₤100 miljard-stimuluspakket bestaan uit belastingverligting van ₤45 miljard, saam met ʼn ₤60 miljard energie-noodpakket wat vir huishoudings verligting moet bring van die stygende koste van gas. Of dit gaan werk sal net die tyd leer, maar hoe dinge oor die langtermyn uitspeel kan maklik vergeet word as koste oor die korttermyn te hoog is.

Die markte hou niks van die plan nie. Omdat meer skuld uitgereik gaan word, is daar ʼn toename in die aanbod van effekte. Dit laat hulle prys val en die rentekoers op die instrument styg. Dit het weer twee gevolge. Aan die een kant wil beleggers wat reeds Britse staatseffekte besit dit verkoop, want pryse daal, en dit laat die rentekoerse nog verder styg. Aan die ander kant is die koerse van mense se huislenings gekoppel aan daardie rentekoerse.

Dalk voel Truss en Kwarteng ʼn bietjie soos ons destydse minister van finansies, Trevor Manual, wat in 1996 gesê het: “I insist on governing… I insist on the right not to be stampeded into a panic decision by some amorphous entity… called the market”.

Dit is egter presies wat gebeur het. Woensdagmiddag het dit duidelik geword dat pensioenfondse wat baie staatseffekte besit groot verliese ly en die Bank van Engeland het tot die mark toegetree en begin 30-jaar-effekte koop om effektepryse te stabiliseer en rentekoerse te verlaag. Dit is dieselfde Bank van Engeland wat verlede week nog rentekoerse verhoog het om inflasie te beveg wat nou gedwing word om weer kwantitatiewe verruiming toe te pas.

Op Twitter is daar sprake van die moontlikheid van ʼn pond-krisis. Ten minste het Brittanje nie groot buitelandse skuldverpligtinge in ʼn buitelandse geldeenheid nie, so die kans van ʼn balansstaatkrisis is klein. As die Bank van Engeland sê dat hulle alles sal doen wat nodig is om die effektemark te stabiliseer kan beleggers dink dat die Britse regering nie die staatskuld later gaan terugbetaal met belastinginkomste nie, maar dat hulle geld gaan druk.

Hulle hoef ook nie geld te druk soos in Zimbabwe nie, maar hulle kan net die inflasie-effek van die ekstra besteding toelaat. Dit sal die pond verder onder druk plaas.

Die lesse wat ons vir Suid-Afrika kan leer gaan oor hoe belangrik ʼn volhoubare fiskale posisie vir die markte en buitelandse beleggers is. Ons is in die proses om die staatsfinansies op ʼn meer gesonde voet te kry, die begrotingstekort te verminder en die vlak van staatskuld tot BBP te stabiliseer. Oor die laaste twee jaar was die fokus op die bestedingskant van die begroting en die bestuur van die staat se loonrekening.

Daar was egter ook belastingmeevallers te danke aan hoë kommoditeitspryse, goeie uitvoerverdienste en stewige maatskappywinste. Dit beteken daar is ʼn bietjie minder druk op die minister as in 2020 en die markte hou daarvan. Kredietgraderingsagentskappe se vooruitsig vir Suid-Afrika is stabiel. Onlangs het Goldman Sachs ook ʼn baie positiewe siening oor die staatsfinansies gepubliseer, maar dit berus daarop dat die minister kan aanhou om fiskaal konserwatief op te tree.

Die uitdaging is juis daardie “ekstra” geld. Die minister kan nie net meer sê daar is nie geld nie, en almal anders het baie idees oor hoe dit bestee kan word. Die grootste hiervan is die R350 Covid- toelaag en die idee om dit te omskep in ʼn meer permanente basiese inkomstetoelaag. Die ander groot vraagstukke is rondom dinge soos Eskom se skuld, reddingsboeie vir ander staatsbeheerde ondernemings, geld vir instandhouding van infrastruktuur, die benarde finansiële posisie van die meeste munisipaliteite, ensovoorts.

Om fiskaal konserwatief te wees beteken ook nie dat al hierdie eise geïgnoreer moet word nie. Om Eskom se skuldlas te verlig is die sleutel tot meer volhoubare elektrisiteitsvoorsiening en eindelik ekonomiese groei. ʼn Besluit met hulpbronne daar agter kan eintlik nie langer uitgestel word nie. Maar Brittanje se ervaring wys dat groot idees en stimuluspakkette die mark nie aanstaan nie.

Ons moet hoop vir ʼn baie vervelige mini-begroting!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Waldo Krugell

Waldo Krugell is ‘n professor van Ekonomie aan die Noord-Wes Universiteit. Hy stel belang in die ekonomiese nuus asook wat dit vir huishoudings en besighede beteken. Luister ook na sy potgooi: Die Ekonomie Minuut.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.