Leeuplesier is om die Curriebeker die eerste keer in twaalf jaar op jou tuisveld te wen. My gelukwense aan die stoere, vasbyt Leeu-ondersteuners wat deur dik en dun by hulle span gestaan het. (So terloops die President van Solidariteit, Steve Scott, val ook in die kategorie). Dan is daar diegene wat nie wou erken dat hulle Leeu-ondersteuners is nie maar nou met groot bravade meedoen aan die feesvieringe.
Terug na die Leeus.
Vir twee jaar het John Mitchel ‘n jong span sonder enige name gevat en stilweg in ‘n eenheid saamgesnoer wat vriend en vyand verras het met hulle prestasies. Die span het as ‘n eenheid vir mekaar gespeel en het op mekaar staatgemaak om die regte ding op die regte tyd te doen.
Die waarheid is in die halfeindstryd en die eindstryd onteenseglik aan almal wat in rugby belangstel en rugby ken, bevestig. ‘n Goeie span is altyd beter as ‘n klomp briljante individue (lees Springbokke).
As die Suid-Afrkaanse Rugbyraad nou regtig wil beplan vir die volgende Wêreldbeker oorwinning in London in 2015, dan moet daar ‘n ontleding gedoen word van dit wat binne die Leeus gebeur het.
Die afrigter speel ‘n belangrike rol in die prestasie van sy span en dit is opvallend dat die Wêreldbeker en die Curriebekerwenner en -naaswenner deur Nieu-Seelanders afgerig is. Na my mening is dit omdat die Nieu-Seelanders tans die wêreldleiers op die gebied van rugby is.
Ek dink nie Pieter de Villiers kan iets nuuts tot die Springbokke toevoeg nie maar die John Mitchells en Dawid Plumtrees van die wêreld kan.
‘n Terugblik oor die Curriebekerseisoen sê vir my dat die Leeus die verrassingspakkie was. Die WP het baie belofte getoon, wat maar net beloftes gebly het. Die Sharks was wisselvallig en die Bulle besig met spanbou. Die Pumas was ongelukkig om nie meer wedstryde te wen nie en die Luiperds sal maar altyd die melkkoei wees. Die middel van die spektrum word gevul deur die Cheetahs en die Griekwas. Hulle sal altyd kompetisie wees maar ‘n gebrek aan diepte sal altyd ook die meulsteen om hulle nekke wees.
Nouja, die rugbyseisoen vir 2011 het op ‘n hoogtepunt afgesluit en daar word uitgesien na volgende jaar. Die Leeus moet net een ding nooit uit die oog verloor nie en dit is dat jy net so goed is soos jou laaste wedstryd en “uneasy lies the head that wears the crown”.
Rugbygroete tot volgende jaar
Bloubul