Leier van Al-Kaïda in Noord-Afrika gedood

‘n Skermgreep van Abdelmalek Droukdel uit ‘n militante video. (Foto: AP/ANA.)

Een belangrike stuk nuus wat verdwyn het tussen die opgesweepte emosies van betogings in die Weste asook Covid-19 wat nog steeds alles oorheers, is die dood van Abdelmalek Droukdel, die leier van Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM), deur Franse militêre magte in die noorde van Mali. Persone van sy binnekring is ook gedood en ’n ander belangrike Islamitiese leier verbonde aan die Islamitiese Staat (IS) is in hegtenis geneem.

Frankryk speel in Noord- en Wes-Afrika, en spesifiek in Mali, die rol wat die VSA in Irak en Afghanistan speel: dié van militêre moondheid wat die wankelrige amptelike regering help om ’n Islamitiese insurgensie te beveg.

Weens Covid-19, asook talle aandagafleibare nuusgebeure veral oor president Trump en ’n “regse gevaar”, het die stryd teen fundamentalistiese Islam in die bewussyn van talle mense na die agtergrond geskuif. Daar was min opspraakwekkende aanslae die afgelope tyd in die Weste self, wat veel te doen het met die militêre neerlaag wat IS in Irak en Sirië gely het toe almal teen hulle saamgestaan en die terreurgroep feitlik orals verdryf het.

Is, soos AQIM, is ook betrokke in die Sahel-streek waarvan Mali deel is, en die twee terreurorganisasies voer selfs ’n stryd teen mekaar oor wie die vaandeldraer van Islamitiese terrorisme is. Dis amper soos twee Mafiabendes wat sowel mekaar as die polisie beveg. Al-Kaïda het veral deur die aanslae van 11 September 2001 en hul leier Osama bin Laden berug geword. Maar nadat Islamiste onder die vaandel van IS Noord-Irak in 2014 beset en daarna ’n reeks opspraakwekkende terreurdade uitgevoer het, het IS die mees gevreesde Islamitiese terreurgroep geword.

Omdat Droukdel en AQIM streeksgebonde was en min met terreur in die Weste verbind word, is hulle minder bekend as IS, maar nie minder gevaarlik nie. Talle aanslae op Westerlinge en inheemse mense wat met hulle in verbinding staan, kan aan AQIM se adres gerig word, soos die aanslag in 2016 op ’n hotel in Ouagadougou, hoofstad van Burkina Faso, waarin tientalle mense dood is. Droukdel se bloedspoor strek egter baie verder terug. Hy is afkomstig uit Algerië, maar sy eerste ervaring as Islamitiese vegter was in Afghanistan waar hy as jong man in die laat 1980’s teen die Sowjetse troepe daar geveg het. Toe die burgeroorlog in Algerië in die 1990’s tussen Islamiste en die regering gewoed het, het Droukdel ook daaraan deelgeneem.

Net soos IS hulle de facto-staat in Noord-Irak en groot dele van Sirië opgerig en as basis vir wêreldwye terreur gebruik het, het AQIM en ander Islamitiese terreurgroepe vir ’n ruk die noordelike deel van Mali beheer en daar hul fundamentalistiese staat opgerig. Besonder skokkend was die skending van Timboektoe se historiese erfenis. Die verowering van Noord-Mali het moontlik geword omdat die Islamiste hulle aangehaak het by die Toeareg-rebellie in 2012. Die nomadiese volk van die Toeareg het die gebied waarin hulle woon (die woestynagtige noordelike deel van Mali) militêr verower en wou hul eie etniese staat Azawad daar oprig, maar hul eertydse Islamitiese bondgenote het hulle opsy gestoot en beheer oorgeneem. Hulle het van daar suid beweeg en was op pad na die hoofstad Bamako, toe Franse magte die insurgensie gestop en die verowerde gebiede weer onder beheer van die regering van Mali gebring het. Die Toeareg en ander stamme het in 2013 ’n wapenstilstandooreenkoms met die regering gesluit, maar dit is later weer verbreek.

Mali is ’n swak staat en militêr nie opgewasse teen die Islamitiese- en Toeareg-aanslag nie, en steun daarom sterk op Frankryk wat as voormalige koloniale moondheid die staat se integriteit verseker. Die konvensionele, territoriale herowering was relatief maklik en sonder noemenswaardige verliese vir die Franse troepe, maar die moeilike deel, net soos ook in Irak en Sirië, is om die terroriste self te beveg. Omdat die hele streek uit mislukte state bestaan, het ook Burkina Faso, Tsjad en Niger slagvelde van terrorisme en insurgensie geraak. Dan is daar ook nog Boko Haram wat vanuit Noord-Nigerië verskrikking saai.

Nietemin, die dood van Droukdel is ’n gevoelige terugslag vir AQIM. Alhoewel Islam-terreur nog lank nie oorwin is nie, is dit wel moontlik om dit ten minste terug te dwing soos in Irak en Sirië gebeur het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Nog niks van die ANC gehoor van ‘n week van rou, en die SA onderbroek vlag wat gaan halfmas hang nie. Kom daai verklaaring nog? Is die ou geskiet, of is hy dood aan Covid-19 omdat hy oop toon sandale gedra het?

JJB ·

Is ‘n beter Afrikaanse woord vir “insurgent” nie insypelaar nie? Ek voel heel ge-embaresseerd as on taal so verniel word :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.