Lesotho wil dalk die Vrystaat vat!

Foto: Google Earth

In Lesotho se parlement dien dr. Tsepo Lipholo op 12 Desember 2022 ’n mosie in dat groot stukke grond wat tans aan Suid-Afrika behoort, teruggegee moet word aan Lesotho. Dr. Lipholo is die leier van die Basotho Covenant Movement BCM, ʼn opposisieparty in Lesotho se parlement.

Die mosie lui dat Lesotho se parlement moet besluit om die hele Vrystaat, dele van die Noord-Kaap, dele van die Oos-Kaap, dele van Mpumalanga en dele van KwaZulu-Natal te verklaar as deel van die Koninkryk van Lesotho in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se besluit 1817(XVII) wat op 18 Desember 1962 geneem is.

As jy na die betrokke Verenigde Nasies-besluit van 1962 gaan kyk, is dit een van ’n reeks propagandabesluite wat daardie tyd deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies geneem is.

Die besluite is voorgestel en gesteun deur die Afrikablok-lande in die VN. In die besluite word gevra dat die verskillende Britse Kolonies in Afrika onafhanklikheid moet verkry. Die spesifieke besluit 1817(XVII) doen ’n beroep op Brittanje om aan Basoetoland sy onafhanklikheid te gee, maar sê niks spesifiek oor watter grond teruggegee moet word nie.

Die Algemene Vergadering se besluit voor hierdie Basoetoland-besluit gaan oor Kenia wat onafhanklikheid vra en die besluit 1818(XVII) ná hierdie besluit gaan oor Njassaland – vandag Malawi – wat ook onafhanklikheid vra. So, die besluit alleen gee nie regtig enige regte op grond aan Basoetoland nie.

Shaka Zulu (Foto: AFP)

Uit ’n geskiedenisoogpunt is daar ook vraagtekens oor die grondaansprake wat in die mosie gemaak word. Die Zoeloe-koning Shaka het die Basoeto’s die berge in gejaag lank voor die Voortrekkers in die binneland aangekom het. Daar was wel op ’n tydstip konflik tussen die Oranje-Vrystaat-regering en Basoetoland oor grond, maar grense is in ’n ooreenkoms van 1869 bepaal.

Daarom is die verwagting dat dr. Lipholo se mosie in Lesotho se parlement bespreek mag word, maar dat daar nie veel meer van gaan kom nie. Baie wind en lawaai, maar niks meer nie.

Dr. Lipholo se party het in Lesotho se verkiesing in 65 setels gestaan, maar kon net 4 112 stemme kry. Daarmee het sy party een setel in die parlement gekry. In sy verkiesingsveldtog was sy hooftema hierdie grond wat van Suid-Afrika teruggekry moet word. Noudat hy wel verkies is, het hy die mosie as ’n enkellidparty voorgestel vir bespreking.

Dat dit aanvaar sal word, is onwaarskynlik. In Lesotho self is daar bekommernis oor die voorstel en dat dit verhoudinge met Suid-Afrika kan vertroebel. Die interessante kwessie is dat daar al in Lesotho asook in ANC-geledere die gedagte uitgespreek is of Lesotho ekonomies nie beter af mag wees as ’n tiende provinsie van Suid-Afrika nie.

In die vorige eeu was die gedagte dat Lesotho, of destyds Basoetoland, wel deel van Suid-Afrika sou word. Sedert 1868 was dit ’n Britse Protektoraat wat vanaf Kaapstad geadministreer is. So is Betsjoeanaland, vandag Botswana, vanaf Mafeking geadministreer.

‘n Kaart van die Britse Ryk in die 19de eeu. Die dele wat in daardie tyd onder Britse beheer was, word in pienk aangedui (Foto: World History Archive/APF)

Brittanje het as koloniale moondheid in die negentiende eeu die een ná die ander gebied in Suidelike Afrika met geweld geannekseer en deel van die Britse koloniale ryk gemaak. So is die Kaap in 1806, Natalia in 1843, Basoetoland in 1868, Zoeloeland in 1879 en Swaziland en Betsjoeanaland, vandag Botswana, die een na die ander deel van die Britse koloniale ryk gemaak.

Net die twee Afrikaner-Boererepublieke, die Transvaal (ZAR) en Oranje-Vrystaat, wou nie lid van die Britse koloniale ryk word nie. Met die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog is hulle met geweld oorweldig en tot Britse kolonies gedwing.

In 1910 word die Kaap, Natal, Vrystaat en Transvaal saamgebind in die nuwe Unie van Suid-Afrika. In die nuwe Unie van Suid-Afrika se grondwet se bylae word daar na die drie Britse Protektorate (Basoetoland, Swaziland en Betsjoeanaland) verwys met die vooruitsig dat hulle later by die Unie ingeskakel gaan word. Verskeie eerste ministers daarna het dit sonder sukses probeer doen.

dr-hf-verwoerd

Dr. HF Verwoerd. Foto: Wikiwand.com

Dr. DF Malan het nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, nog ’n laaste poging aangewend om met Brittanje oor die inskakeling van al drie gebiede te onderhandel. Die Britte was nou nie meer gewillig nie. Waarskynlik omdat die Afrikaners van die Nasionale Party nou in Suid-Afrika aan die bewind was. Binne die gebiede was daar ook weerstand van sekere stamhoofde soos al hoe meer Afrikastate onafhanklik geword het.

Die VN-besluit waarna dr. Lipholo in sy mosie verwys, is 18 Desember 1962 geneem. Dit is meer as ’n jaar nadat Suid-Afrika ’n republiek geword het. Op daardie tydstip is reeds lankal deur die NP-regering aanvaar dat die drie protektorate nie meer deel van Suid-Afrika sal word nie.

In die 1962-VN-besluit word gevra dat Basoetoland onafhanklikheid van Brittanje moet verkry. Dit neem nog vier jaar tot Oktober 1966 voordat Basoetoland as Lesotho onafhanklik word.

Interessant het dr. HF Verwoerd as Suid-Afrika se eerste minister en Lesotho se nuwe leier, hoofman Leboa Jonathan, in September 1966 samesprekings in Pretoria gevoer oor verhoudinge tussen die twee lande. Albei partye het die samesprekings, wat baie langer geduur het as wat beplan is, as baie vrugbaar beskryf.

Die volgende dag, 6 September 1966, sou dr. Verwoerd as deel van sy toespraak in die parlement terugvoer oor die gesprek met Jonathan gee. Hy is egter voor sy toespraak in die parlement vermoor. ’n Maand later in Oktober 1966 het Lesotho onafhanklik geword.

Die geskiedenis van Suid-Afrika en die drie Britse Protektorate is wel ter sake vir die debatte wat tans oor grond in Suid-Afrika gevoer word.

Toe die grond in 1913 en weer in 1936 met wetgewing tussen swart en wit verdeel is, is die drie protektorate bygereken as deel van die totale grond beskikbaar. Hierdie gebiede is by die persentasie grond wat as sogenaamde grond aan swart mense moet gaan, getel. Toe die drie gebiede onafhanklik geword het, het die persentasies natuurlik totaal verander.

Verenigde Nasies (Argieffoto)

Die geskiedenis van Lesotho vertel ook iets van die dubbele standaarde van Brittanje en die Verenigde Nasies. In 1966 erken Brittanje en die VN Lesotho as ’n nuwe onafhanklike staat. Toe Suid-Afrika kort daarna die Transkei onafhanklik verklaar, weier Brittanje en die VN om dit te erken. Dit terwyl die Transkei en Lesotho basies presies dieselfde koloniale geskiedenis gehad het as aanvanklik Brits geannekseerde gebiede.

Verder was Transkei finansieel baie sterker as Lesotho en ook baie meer lewensvatbaar met sy vrugbare grond, baie riviere en ligging teen die see wat ’n hawe moontlik maak. Die enigste verskil was dat Lesotho sy onafhanklikheid van die Britte verkry het en Transkei van die Afrikaners.

Transkei se onafhanklikheid is as apartheid afgemaak wat groot druk op die verdere uitvoer van die beleid van onafhanklike tuislande in Suid-Afrika geplaas het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.