Lesse te leer uit die Bell Pottinger-debakel

bell-pottinger-01

Foto: @our_DA/Twitter.com

Deur Peet Bothma

Die Bell Pottinger-debakel het weereens ʼn duidelike waarskuwing aan buitelandse maatskappye gestuur dat Afrika en sy mense nie op hul baadjies getakseer moet word nie.

Dié Britse skakelmaatskappy het homself waarskynlik blind gestaar teen die miljoene pond wat hy maandeliks sou verdien om as beeldpoetser vir die omstrede Gupta-maatskappye op te tree. Dit was per slot van sake ʼn uitstekende geleentheid om vastrapplek te kry in die lonende Afrika-mark waar die narsisme van politieke leiers deursigtige regering oorskadu.

Bell Pottinger is immers bekend vir sy internasionale skakelkontrakte met regerings en maatskappye.

Wat die maatskappy egter uit die oog verloor het, is dat daar steeds elemente in Afrika, maar veral aan die suidpunt is, wat etiese sakegebruik aanhang.

Die Demokratiese Alliansie se klagte teen Bell Pottinger by die Britse Openbare Betrekkinge en Kommunikasievereniging het gelei tot ʼn beslissing deur dié vereniging dat die maatskappy se lidmaatskap vir vyf jaar opgeskort is. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat dié bedryfsliggaam só ʼn verdoemende besluit neem.

Die vereniging het bevind dat Bell Pottinger ʼn onetiese mediaveldtog gegrond op rassespanning gevoer het. Die maatskappy het in plaas daarvan om die beeld van die Guptas se Oakbay-groep te verbeter, die aandag van hul vergrype afgelei deur op wit welgestelde individue en maatskappye in Suid-Afrika te fokus. Bell Pottinger het die begrip witmonopoliekapitaal in hul veldtog misbruik. Die vereniging sê dít het tot rassespanning gelei en kan selfs as ʼn belediging vir Suid-Afrikaners gesien word.

Die vereniging verdien ʼn pluimpie.

In die Suid-Afrikaanse media is daar selfs berig dat die Pottinger-skandaal ʼn vulletjie is teenoor die destydse inligtingskandaal van die vorige regering.

Soos te wagte was, het Bell Pottinger se grootste kliënte het die sinkende skip een vir een verlaat. Die jongste nuus is dat die reusebankgroep HSBC ook sý kontrak beëindig het. Een van die stigterslede van Bell Pottinger, Lord Tim Bell, het in ʼn televisieonderhoud erken dat die maatskappy die gebeure moontlik nie sal oorleef nie.

In die afgelope dae is berig dat Bell Pottinger nou in die mark is.

Al dié gebeure plaas ʼn vraagteken op die etiese standaarde wat deur die skakelbedryf toegepas word. Die vraag wat gedebatteer moet word, is hoeveel vryheid die skakelbedryf gegun moet word om inligting tot voordeel van sy kliënte te manipuleer. Dit is die publiek se goeie reg om in die lig van die Bell Pottinger-skandaal op deursigtige beeldpoets-projekte aan te dring.

Die debakel het hopelik tot gevolg dat die wêreld nie sondermeer alles wat vir die waarheid opgedis word vir soetkoek sal opeet nie.

Tweedens sal internasionale en plaaslike skakelmaatskappye in die vervolg twee keer dink voordat hulle aanvaar dat die Afrika-gehoor liggelowig is. Die maatskappye sal veral versigtig wees om geld na te jaag en ondeurdagte projekte van stapel te stuur.

En laastens is die uiters gevaarlike witmonopoliekapitaal-mantra van pres. Jacob Zuma en die ANC se rasverdelende uitsprake vol gate geskiet, en word dit met die agterdog wat dit toekom deur die internasionale gemeenskap bejeën.

Dit is waardevolle lesse vir die pad vorentoe.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Dit is eintlik skandalig om te vra hoeveel toegelaat moet word om inligting tot voordeel van n kliënt te manupileer! Die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid nie, punt. Sodra jy is grys areas in beweeg word alles grys.-

Kom Ons Boks ·

Daar het jy dit, internasionale bevestiging en kondemnasie dat wittes hier ‘n gunsteling sagte teiken is. Dat dit van ‘n Britse maatskappy afkomstig is verbaas ek dink ook niemand. Stadig maar seker seevier die waarheid wel. Pluimpie vir die DA (alhoewel ek nie DA stem nie). Idiote wat my probeer slim maak dat wit monopolie-kapitaal was en is SA se grootste euwel, kry vir julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.