Lesse te leer uit parleboendoe-debakel

eff-verwyder-03 staatsrede

EFF-LP’s word op 9 Februarie 2017 deur veiligheidsbeamptes uit die Nasionale Vergadering verwyder (Foto: Skermgreep uit regstreekse video)

Die skandalige gemors tydens verlede week se parlementsopening hou tog ’n paar lesse in.

Hoewel die EFF se optrede op geen manier goedgepraat kan word nie, het staatkundige vergrype heelwat vroeër die geleentheid geskep vir dié party se ontwrigtende optrede.

Dit het veral gehandel oor die Nkandla-sage, waar die parlement sy oorsigrol versuim het om die president verantwoordbaar te hou. Die uiteinde is dat Zuma en die parlement in die grondwetlike hof liederlik slae gekry het omdat hulle die Grondwet verontagsaam het.

Boonop het nóg die ANC nóg die parlement enige saakmakende regstellende optrede hieroor van stapel gestuur.

Suid-Afrika se posisie kan nie werklik met dié van die VSA vergelyk word nie. Daar word die president deur die kiesers, en nie die partye nie, verkies. Die president het ook heelwat meer magte wat normaalweg elders deur die lande se parlemente verrig word.

Van hierdie magte het die wêreld nou ook reeds deeglik kennis geneem ná die nuutverkose pres. Donald Trump ’n hele rits daarvan onderteken het. Die geldigheid van een daarvan word nou in die howe uitbaklei, wat toon dat die president se magte ook beperkings het.

Die konsep hieragter is dat die demokrasie alleenlik gesond kan bly as die verskillende regeerinstansies se magte beperk bly deur dit met ander magte te laat balanseer.

Ná Trump se verkiesing het die kiesers ’n regsomkeer gemaak. Terwyl Barack Obama aan bewind was, het die meeste Demokratiese kiesers geglo die president se uitvoerende magte moet aan min beperkings onderhewig wees. Die Republikeine was daarteen. Ná die verkiesing glo die meeste Republikeinse kiesers nou Trump moet grootliks vrye teuels hê – iets wat die Demokrate by voorbaat laat sidder.

In die geheel wil die kiesers nie die president se magte te onbeperk laat nie, veral as die Kongres nie saamstem nie. Net 32 persent glo die president moet desondanks kan voortgaan.

Zuma het vanuit Luthuli-huis die ANC in die parlement met afstandbeheer beheer. Hierdeur is die parlementêre oorsigrol en verantwoording soos deur die Grondwet vereis, basies tot niet gemaak. Zuma beskik ook oor buitengewone magte om aanstellings te doen, so kon ’n stelsel van patronaatskap tot stand kom.

Zuma kan egter nie die opposisiepartye ook so inbind nie, en dit het veroorsaak dat die parlement met die staatsrede eerder aan die parleboendoe van ’n piesangrepubliek herinner.

Weer sal die howe moet oordeel oor hoe grondwetlik juis dit is dat ’n president wat deur die konstitusionele hof tot orde geroep is, as president kan bly dien.

Selfs al is dit tegnies houdbaar, is dit prakties onhoudbaar, en sal die grense getoets word tot Zuma die aftog blaas.

Die chaotiese gebeure moet egter nie die aandag van die feit aflei dat Zuma steeds sy rasse-obsessie bly voortdryf nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Neewat ·

Wie in AFRIKA het al enige lesse geleer? Die regerings in Afrika lande maak net wat hulle wil. Dit is net ‘n duidelike bewys dat daar GEEN DEMOKRASIE in SA bestaan nie, dalk op papier maar glad nie in praktyk nie .. NIEMAND het ‘n sê behalwe die oordonderende meerderheid nie, en jy sal verwyder word as jou mening verskil, en agterna sal hulle hulle optrede en aksies regverdig. AFRIKA HET NOG NOOIT ENIGE LESSE GELEER NIE!

John ·

Die Grondwethof het reeds die tekortkominge in sy wetlike magte uitgespel. Malema se koor kan nie die grondwet reg skree nie. Dis hier waar Zuma telkens wen. En wie gaan die grondwet wysig? Niemand. Diegene wat hierdie grondwet geskryf het moet nou handeopsteek en erken hulle is uitoorle. Ons gaan die gevolge meer en meer aan die bas voel…

dirk L ·

Zuma se rassisme en die regering se regstellende aksie maak dit feitlik onmoontlik om ‘n toekoms te sien vir jong mense in minderheidsgroepe en ook die rede hoekom hulle in groot getalle elders gaan werk en nuwe lewens bou. Dit gaan oor magsug en hebsug – iets wat jy nooit uitgeroei sal kry op hierdie kontinent nie – die vierde industriele revolusie oftewel sneller groeiende tegnologie sal hierdie kontinent se ondergang wees – besluit self vanwaar jy dit wil aanskou

JAN ESTRUIS ·

Kom ons kyk verby Zuma 783 en ANC, nie die DA, COPE en EFF het vir my goeie leierskap gestel nie. IFP het weereens uitstekende volwassenheid en goeie leierskap getoon. As Zuma 873 nie meer is nie, dan gaan EFF dit voortsit. Malema het ‘n joernalis met minagting hanteer.
Praat hierdie optrede van die swak leierskap van DA, wie teveel na EFF vry en op die maat van EFF hul musiek te sakkie-sakkie, gaan dit vorentoe berou. Jan

Frans C ·

‘n Mens moet kyk na Zuma se agtergrond.Hy kom uit ‘n bevrydingsorganisasie wat bekend was vir magsmisbruike en deurtrek van korrupsie was.Dit is welbekend dat van die ANC se leiers in ballingskap in weelde geleef het,terwyl gewone Mk soldate krepeer het van ellende.

Die Party was ook nie skaam om ‘afvalliges’ dws diegene wat nie saamgestem het nie,met geweld deur hul eie veiligheidsstruktuur te onderdruk, of ander lande se weermag in te span om daarmee te help.

Dat Zuma dus nou die weermag en polisie inspan behoort vir enigeen wat boeke gelees het wat deur ‘afvalliges’ geskryf het niks te verbaas nie.Hierdie toedrag van sake was wel aan die sg onderhandellaars bekend maar is verswyg van die kieserspubliek.

Die kiesers wat deelgeneem het aan die belangrike referendums is ook nooit ingelig dat die ANC in die toekoms dalk mislukte kommunistiese beleide mag implementeer, wat tans tot die ondergang van Zimbabwe en ander state gelei het.

Dit is dus redlik duidelik agterna dat die kiesers soos in die verhaal van die rottevanger
betower agter die fluitspeler aangeloop het na ‘n bestemming wat niks meer as ‘n gekkeparadys blyk te wees.

John ·

Die IFP weet wie hom elke dag kos gee en snags sy huisie mooi oppas en by watter winkels hy goeie afslag kry… en wie vir die groot begrafnis eendag sal betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.