Lesse uit ander lande in stryd teen die virus

Mense kuier in ‘n kroeg in Stockholm, Swede. Foto: (AP Photo/David Keyton, File)

Terwyl meer as drie miljard mense die afgelope naweek oor die hele wêreld verplig was om tuis te bly weens streng afsonderingsmaatreëls wat deur regerings ingestel is, het mense in Swede uit hul huise gestroom om die heerlike lenteweer te geniet. Ná ’n lang, koue winter was die strate, restaurante en treine in Stockholm, maar ook die Sweedse platteland vol mense. Behalwe vir die lekker weer, was die rede hiervoor natuurlik dat die Sweedse regering tans ’n unieke strategie volg in die hantering van die koronapandemie. Skole in Swede is ook oop en mense gaan meestal soos normaal werk toe.

Sedert die koronavirus krisissituasies in, onder meer, China, die noorde van Italië, Spanje, New York en nog ander episentrums veroorsaak het, het al hoe meer lande begin om die snelle verspreiding van die virus met streng afsonderingsmaatreëls te beveg. Die beginsel is basies dat as ’n hele bevolking verplig word om vir twee, drie of vier weke tuis te bly, dié persone wat die virus reeds onder lede het, nie die virus verder aan mense buite hul huishoudings kan oordra nie. Die verwagte resultaat hiervan is dat die meeste mense wat die virus onder lede het, teen die tyd dat die afsonderingsmaatreëls opgehef word, gesond sal wees of – in die slegste gevalle – in die hospitaal sal wees of gesterf het. Die virus sal dus ná die afsonderingsmaatreëls baie stadiger versprei omdat daar min mense is wat dit kan versprei.

Vlae hang halfstok vir Covid-19-slagoffers by die monument vir die Onbekende Soldaat in Rome, Italië. Foto: (Cecilia Fabiano/LaPresse via AP)

Hierdie model wat in China, Italië, Spanje, Frankryk, dele van die VSA en nou ook in Suid-Afrika gevolg word, veronderstel dat mense by die maatreëls sal hou. Verder veronderstel dit ook dat byna almal wat die virus onder lede het tydens die tydperk van afsondering gediagnoseer en geïsoleer sal word. Dit is hoe die stad Wuhan in China die verspreiding daar grootliks tot ’n einde gebring het. President Cyril Ramaphosa se aankondiging dat mense oor die hele Suid-Afrika by hul huise vir die virus getoets gaan word, sluit sterk aan by die Chinese model.

Daar is natuurlik twee onbeantwoorde vrae. Eerstens of mense streng by die afsonderingsmaatreëls gaan hou en tweedens wat gaan gebeur nadat die maatreëls opgeskort word. Beide hierdie vrae hou sterk verband met die ingesteldheid van die burgers van ’n land, die kultuur van volkere, gesinsamestelling en sekerlik ’n regering se vermoë om eerder deur ’n vertrouensverhouding as brute mag te verseker dat mense wel die maatreëls nakom.

Die Amerikaanse sosioloog en politieke wetenskaplike Francis Fukuyama skryf in The Atlantic dat die onderskeid tussen lande waar strategieë om die verspreiding van die koronavirus te beperk, geslaag het en lande waar dit minder suksesvol was, grootliks met vertroue te make het. Volgens hom gaan dit nie soseer oor of ’n land ’n demokrasie of ’n outokrasie is nie, maar eerder of burgers hul regering vertrou het en gevolglik saamgewerk het om die verspreiding te beveg.

‘n Waarskuwingsteken in Marketstraat in Manchester, Engeland. Foto: (Martin Ricket / PA via AP)

Of die strategie in Swede uiteindelik gaan slaag, is onseker. Ook Engeland en Nederland het dieselfde strategie gevolg, maar het weens ’n skerp toename in die verspreiding van die virus strenger afsonderingsmaatreëls ingestel. Die redes waarom die strategie in Swede goed werk, is velerlei. Eerstens bestaan meer as 50% van gesinne in Swede uit slegs een persoon. Dit is van die hoogste ter wêreld. Daar is ook baie minder interaksie tussen persone van verskillende generasies in Swede. Verder het die Swede baie vertroue in hul regering en hulle hou streng by die ligte maatreëls wat tans geld, soos dat mense nie naby aan mekaar in treine moet sit nie en dat mense wat enige simptome van die virus toon, hulself moet isoleer. Swede se bevolking is baie gesond en wat tans gebeur, is dat die virus stelselmatig deur die bevolking versprei en dat mense só immuniteit daarteen opbou.

Volgens Anders Tegnell, die hoofepidemioloog van die Sweedse regering, is hul strategie om ouer mense en ander weerlose burgers te isoleer terwyl die gesonde deel van die bevolking immuniteit teen die virus opbou. Daar is tans net meer as 4 000 gevalle van mense in Swede wat positief vir die virus getoets het, met sowat 150 sterfgevalle. Swede het ’n bevolking van 10 miljoen mense. In Oostenryk, ’n land met byna dieselfde grootte bevolking, waar baie streng afsonderingsmaatreëls ingestel is, het 9 200 mense reeds die virus, maar slegs 108 het gesterf.

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

Dit mag dalk wees dat hierdie verskil daarmee te make het dat Oostenryk redelik vroeg deur die verspreiding van die virus uit sy buurland Italië getref is en dat Oostenryk meer mense vir die virus toets as wat in Swede gebeur. Dit is egter belangrik om kultuurverskille te erken en die feit dat Swede nog altyd ’n kultuur van vrywillige samewerking in nasionale belang gehad het, mag dalk net die land se huidige strategie laat werk. In ’n peiling verlede week keur 80% van Sweedse burgers hul eerste minister Stefan Löfven se leierskap in die stryd teen die koronavirus goed.

Waarom het die Sweedse model nie in Brittanje en Nederland gewerk nie? Daar is verskeie redes. Beide Brittanje en Nederland is minder geïsoleerd as Swede en veral die Britse bevolking is minder gesond as die Swede. Daar is natuurlik ook groter kultuurverskille tussen die Britte, Nederlanders en Swede. In Nederland het die regering wel onder druk besluit om skole te sluit terwyl alle skole in Swede nog oop is. Die Nederlanders het egter nog nie ’n volskaalse afsondering afgekondig nie. Openbare vervoer gaan voort in Nederland en die meeste mense hou aan werk.

Verskeie Europese gesondheidsorgkenners het groot lof vir die Sweedse model. Die bekende Duitse dokter, Ansgar Lohse en Sir Patrick Vallance, hoof- wetenskaplike raadgewer vir die Britse regering, is dit eens dat die Sweedse model kan werk en natuurlik die minste negatiewe ekonomiese gevolge kan inhou. Die probleem is egter dat min lande weens hul bevolkingsamestelling, kultuurgewoontes en die vermoë van regerings om deeglike toetsing en behandeling uit te voer, daarin kan slaag om die Sweedse model te volg.

‘n Verlate hoofweg in Kaapstad Vrydagoggend. Foto: (AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Een van die belangrikste aandrywers van die verspreiding van die koronavirus het egter te make met sosiale gedrag en dit is ook hier waar ’n ernstige rooi lig vir Suid-Afrika flikker. In die Sweedse hoofstad Stockholm is ’n redelike groot Somaliese bevolking wat gekonsentreerd woon. Sover het die virus die Somaliese bevolking in Swede disproporsioneel getref in vergelyking met die res van die Sweedse bevolking.

En dit is natuurlik ook een van die hoofredes waarom die virus so vinnig in Italië versprei het. Kontak tussen familielede van verskillende generasies is baie hoog in Italië. Dit is nog ’n algemene tendens in lande soos Italië en Spanje dat families van verskillende generasies saam ’n woning deel of saam op een erf, hoewe of plaas ’n woning het. Die Italianers en Spanjaarde het ook ’n sterk sosiale ingesteldheid met die daaglikse fiësta en jongmense wat ná werk saamkuier. Nadat die eerste afsonderingsmaatreëls in Italië ingestel is, het baie mense, veral jongmense, dit verontagsaam en so is die virus binne dae deur families na die mees weerlose mense in die samelewing versprei. Ongelukkig het ons in verskeie Suid-Afrikaanse gemeenskappe dieselfde soort verontagsaming van maatreëls die afgelope paar dae beleef.

Nog ’n land wat redelike suksesvol daarin was om die verspreiding van die koronavirus te verlangsaam sonder om die hele ekonomie tot ’n stilstand te dwing, is Suid-Korea. Dié land het byna op dieselfde tydstip as Italië hul eerste gevalle gediagnoseer. Wat Suid-Korea egter anders gedoen het, was om vinnig honderde duisende mense te toets en hulle net so vinnig te isoleer. Die Suid-Koreaanse regering het ook tegnologie gebruik om sowel mense wat met die virus gediagnoseer is, as persone wat met hierdie mense in kontak was, deur GPS- en ander tegnologie te volg en seker te maak dat die virus nie verder versprei nie.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat het sedert die afsonderingstydperk reeds talle klagte teen polisielede ontvang. Opod ondersoek nie klagtes teen die weermag nie. (Foto: Ian Landsberg/ANA)

Die realiteit wat elke land in die wêreld tans in die gesig staar, is dat die virus nie gekeer kan word nie. Volgens verskillende beramings gaan enigiets tussen 40% en 70% van die wêreld se bevolking uiteindelik die virus opdoen. Die vraag is net hoe die verspreiding vertraag kan word, die mees weerlose mense geïsoleer kan word (ten einde sterftes te beperk) en hoe totale ekonomiese ineenstorting verhoed kan word.

Suid-Afrika is nie Swede of Suid-Korea of Italië nie. Ons kan egter lesse by almal leer. Langdurige afsonderingsmaatreëls kan ’n ekonomie op sy knieë dwing en tot ’n diep resessie of selfs depressie wat vir jare kan aanhou, aanleiding gee.

Suid-Afrika het ook ernstige probleme met ’n groot deel van die bevolking wat in oorbevolkte woonbuurte in baie klein ruimtes saamwoon. Dieselfde mense het beperkte bronne en kan eenvoudig nie vir weke en weke aanmekaar in hul huise afgesonder leef nie. Die Suid-Afrikaanse kultuur druis ook in teen die idee dat mense sal saamwerk in ’n staat van langdurige afsondering.

Iewers sal ’n middeweg gevind moet word.

Amper geen motors ry op die N1-hoofweg in Gauteng nie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die beste sou wees dat Suid-Afrika op 17 April stelselmatig na normaliteit begin terugkeer. Dit sal vereis dat elkeen van ons ons sosiale gedrag moet aanpas. Die eenvoudige goed soos om afstande te handhaaf, jou hande te was, nie onnodig in openbare ruimtes te beweeg nie, ten minste tydelik nie mense fisiek te groet nie en om besonder moeite te doen om jou eie immuniteit te versterk, moet alles deel van ons daaglikse lewe raak.

Selfisolasie is baie belangrik vir enigiemand wat enige simptome van die siekte toon. Die regering en die privaat sektor sal ook moet saamwerk om meer mense vinniger te toets. Families, gemeenskappe en die regering moet saamwerk om weerlose bejaardes, siekes, mense met gestremdhede, haweloses en die armstes onder ons te isoleer, maar by te staan met voedsel en ander middele. Verder sal die regering harder moet werk om mense se vertroue te wen. Soveel van ons het met goeie rede bitter min vertroue in die Suid-Afrikaanse regering. Die regering sal mense moet oortuig dat hulle eerlik is en dat hulle planne kan werk.

Langdurige afsondering sal nie vir Suid-Afrika werk nie. Ons mense kan dit emosioneel en finansieel nie bekostig nie. Ons moet by ander lande leer en ’n plan beraam hoe ons na normaliteit gaan terugkeer. Stelselmatig, planmatig en met hoë vlakke van samewerking deur almal. Dit is ’n baie groot taak, maar dit is moontlik.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Al dié wonderlike maatreëls, reëls, planne en skemas werk nie in ‘n derde wêreld land nie, veral nie een met ‘n weermag en polisie wat sedert 1994 ‘n sagte hands off human rights benadering het nie.