Lesse van staatsbestandheid vir Hongare

Deur János Jeney

Die Solidariteit Beweging vier sy 120ste bestaansjaar. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Toe ek onlangs op besoek in Suid-Afrika aankom, het ek net gesien wat ek verwag het: groot kontraste, chaos op die paaie, armoede, misdaad en beurtkrag.

Omdat ons soveel jare van tevore daar gewoon het, het ek geweet dinge was nie juis beter as voor Covid-19 nie. Hulle was egter ook nie veel erger nie. Jy het steeds winkelsentrums en winkels gehad wat ʼn mens in enige eerstewêreldland sou kry. Op die eerste dag het ek gesien wat ek verwag het, wat ek van Suid-Afrika geweet het.

Ek het eers in Kaapstad aangekom. Die deel van die stad waar ek destyds gebly het, het baie veiliger gelyk as waaraan ek in Suid-Afrika gewoond was, maar daar was niks buiten die norm nie. Selfs die taxi-staking het normaal gelyk, want ek het dit verwag. Met my aankoms in Pretoria het alles ook normaal gelyk: eerstewêreldse winkelsentrums, swak vervoer, elektriese heinings en vuil strate.

ʼn Mens kan dus sê dat dit dalk nie die ideale plek is om in wêreldklasprojekte te belê nie.

Kort nadat ek in Centurion aangekom het, het ek my eerste toer deur die AfriForum-hoofkantoor gekry. Dit sou die eerste instelling wees wat ek sou sien wat deur die Afrikanergemeenskap geskep is.

Van die eerste oomblik af was dit duidelik: dié instelling kan in enige eerstewêreldland wees. Of kan dit? Gemeet aan hoe die plek lyk, kan dit. Gemeet aan hoe dit gestruktureer is, kan dit teoreties enige plek wees – maar sóú dit nêrens anders gebeur nie. In die meeste eerstewêreldlande sal dié instelling deur die staat of dalk ʼn private belegger bedryf word.

Hier is dit deur die plaaslike Afrikanergemeenskap geskep.

Ek was beïndruk, maar die ware verrassing moes nog kom. Dit het gekom toe ek by Sol-Tech aangekom het. Ek het gesien hoe die studente opgelei is. Tydens my universiteitstudie in Hongarye het ek geleer dat ʼn mens nie op tegnologie kan staatmaak in opleiding nie, en dat ʼn mens moet weet hoe om alles met die hand te doen. Ek het presies hierdie konsep by Sol-Tech gesien, waar sweisers, werktuigkundiges en elektrisiëns opgelei word.

As ek na die opleiding kyk, kon ek net sien: hierdie mense sal die werk kan doen al kort hulle die beste en nuutste toerusting. Hulle vervang ook nie net onderdele nie, hulle maak dit reg. Om dinge te vervang eerder as om dinge reg te maak, is die norm in die meeste van Wes-Europa. In Hongarye is mense steeds geneig om dinge reg te maak. Dit kan wel weens ekonomiese redes wees, maar ek glo dat dit ook ʼn manier van leef is. Alhoewel dit iets is wat ʼn mens kan sê ons in gemeen het, sou ʼn mens nooit so ʼn instelling in Hongarye verwag nie, aangesien die meeste mense wat opleiding by ʼn tegniese kollege doen gewoonlik nie diegene is wat welaf is nie.

Ek het verneem dat die kollege wel voorsiening maak vir diegene wat dit nie kan bekostig nie: hulle ken beurse aan die studente toe. Aangesien 95% van die studente na ses maande werk kry, is dit baie minder van ʼn risiko as wanneer ʼn mens die nasionale gemiddelde van 40% sou neem.

Die volgende dag het ek die voorreg gehad om Akademia te sien, ʼn hoëronderwysinstelling wat deur die Afrikaners gestig is. Dit was toe dat ek die belangrikste ding besef het wat tot hul sukses lei: hulle leer in hul eie taal. Die studente wat by hierdie instellings opgelei word, kry gewoonlik werk. Al praat hulle nie hul eie taal by hul nuwe werkplek nie, help dit steeds dat hulle alles in hul eerste taal geleer het.

Dit is egter nie genoeg om ʼn kultuur te bewaar nie. Benewens onderwysinstellings het ʼn mens ook kulturele instellings nodig. Ek het ʼn toer van die Voortrekkermonument gekry, wat ek baie bly was om te sien is goed onderhou en dat dit die Afrikanergeskiedenis bewaar. ʼn Mens kan nie oorleef sonder om jou eie geskiedenis te ken nie. Die monument word egter nie deur die regering besit en in stand gehou nie, maar deur FAK, wat ek verneem ook deel van die Solidariteit Beweging is.

Dit was iets wat my beïndruk het, net soos die feit dat respek gegee is aan alle nasies wat in Suid-Afrika woon, selfs die Zoeloes teen wie die Afrikaners tydens die Groot Trek geveg het. Ander kulturele instellings wat ek gesien het, was die AfriForum-teater wat gereeld toneelstukke het. Dit is net so belangrik om kultuur te bewaar as onderwys. Ek was beïndruk deur die media – veral Pretoria FM en Maroela Media, albei goed gevestigde media-instellings.

Dit alles help niks as daar teen iemand in die werkplek gediskrimineer word, of hulle nie werk kry op grond van enigiets anders as kwalifikasie nie. Ek het ook die belangrikste instelling in dié verband gesien: Solidariteit. Ek het dit belangrik gevind aangesien dit beteken dat Afrikaners in alle lewensfases vir hul eie mense sorg. So selfs wanneer ʼn mens die skool en universiteit verlaat, het jy wel hulp as probleme by die werkplek opduik.

ʼn Ander wêreld

ʼn Mens kan sê dat ons hier in Hongarye ʼn heel ander situasie het, aangesien ons self die staat bestuur en die staat vir ʼn deel hiervan voorsiening maak – dit terwyl die ander deel, veral die media, ʼn selfonderhoudende besigheid is.

Alhoewel dit waar is vir Hongarye, is dit nie waar vir een derde van die Hongare wat buite die grense van Hongarye woon nie. Hierdie model wat deur die Afrikaners geskep is, kan ʼn les wees wat deur die lewende Hongaarse minderhede geleer moet word in die buiteland. In hierdie lande moet ʼn mens teen die regering veg om die Hongare instellings toe te staan, terwyl dit enige tyd deur die regering geneem kan word as dit deur die regering besit word.

Die Hongare wat as minderhede leef, het wel sekere instellings, maar baie hiervan is eintlik in staatsbesit, terwyl ander baie swakker is as dié wat deur die Afrikaners besit word. Nog ʼn kenmerk van die Afrikaner-instellings is dat hulle ʼn sambreelinstelling (Solidariteit Beweging) het wat deur die Afrikaners self besit word.

Die enigste instelling wat op die oomblik in die Beweging ontbreek, is skole. Van wat ek verstaan, word basies onderwys op ʼn voldoende vlak in staatskole verskaf. Ek glo egter dat dit gevestig sal word as die behoefte ontstaan, maar vir nou moet ʼn mens hoop dat die behoefte nie sal ontstaan nie. Dit sal egter die grootste aantal instellings wees wat deur enige samelewing nodig is.

Wat Hongare betref, sal die stigting van sulke instellings ewe belangrik wees. ʼn Mens kan sê dat die verskil tussen die Hongare en die Afrikaners is dat Hongarye bestaan. Dit is egter belangrik dat as ʼn mens ʼn kultuur van sy grond afbreek, dit sal ophou bestaan. Dit sal gebeur in die geval dat ʼn mens die Hongaarse minderhede uit hul ou lande verskuif na Hongarye of elders, en dit sal ook gebeur as ʼn mens die Afrikaners uit hul land verskuif.

Die les wat die Afrikaners dus geleer het, is dat die Hongaarse minderhede baie sterker sou wees as hulle sulke sterk instellings sou stig (met of sonder die hulp van die Hongaarse regering) en verkieslik deur ʼn sambreelinstelling bestuur word, terwyl die les van beide volke aan die wêreld in geheel sou wees: bewaar jou kultuur op jou eie grond, maak nie saak wat die plaaslike situasie mag wees nie, want dit is die enigste manier om jou eie mense te bewaar. As die Afrikaners sukses in Suid-Afrika kan behaal, kan enigiemand dit maak.

  • János Jeney is ‘n Hongaarse kartograaf en navorser in Boedapest. Sy navorsingsgebied is bevolkingskartering van linguatiese minderhede in die Karpatebekken. Hy doen navorsing oor die visualisering van minderhede op kaarte. Hy doen ook navorsing oor die gebruik van minderheidstoponieme, en hoe minderheidplekname in die verskillende lande gebruik word saam met die name in die amptelike taal van die land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dan het jy nog nie gehoor van die CVO skole nie!! Hulle vaar puik en is in staatsbesit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.