Lesse vir beleggers: JEB-genoteerde maatskappye se verdienstegroei bied insig

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Beleggers beleef ʼn onsekere tyd in die huidige ekonomiese klimaat. Vrae oor hoe hul beleggingsportefeulje se konstruksie moontlik kan verander om by toekomstige ekonomiese en politiese uitdagings en veranderinge aan te pas, duik gereeld op.

Wanneer die verdienstegroei van genoteerde maatskappye oor die langtermyn geanaliseer word, kry ons belangrike insig in die ekonomiese omgewing waarbinne dié maatskappye moet handel dryf gedurende verskillende periodes en tydperke.

Hannes du Preez van Prima Batebestuur bespreek in twee opeenvolgende artikels die verdienstesyfers van genoteerde maatskappye en statistieke wat met ekonomiese groothede verband hou binne drie historiese periodes, om vir beleggers ʼn blik te gee op die gebeure wat gelei het tot waar die ekonomie homself vandag bevind, asook waarheen dit op pad is – en hoe die belegger op die ekonomiese omstandighede van die dag moet reageer. Hierdie artikel fokus op die historiese agtergrond.

Ons moenie onsself daaraan skuldig maak om die syfers te manipuleer om binne ons heersende denkraamwerk oor hierdie sake te pas nie. ʼn Oopkopbenadering is nodig. Soos wat prof Ronald Coarse die analise van datasyfers treffend opgesom het: “If you torture figures long enough, it will confess.”

Die grafiek wat volg bevat finansiële en ekonomiese inligting van drie onderskeie periodes: Die PW & FW-periode vanaf 1980; die Mandela, Mbeki & Motlanthe-periode vanaf 1992; en die Zuma en Ramaphosa-periode vanaf 2009. Periode een is spesifiek gekies omdat die media en politici dit gereeld voorhou as die “donker dae van apartheid”.

lesse-vir-beleggers-verdienste-van-aandele

Grafika: Verskaf.

Die PW & FW-tydperk

In die PW & FW-tydperk was die jaarlikse verdienstegroei van die Indeks van Alle Aandele 12,5% p.j. en die gemiddelde inflasiekoers vir maatskappye 12,4%, soos deur die produksieprys-indeks verteenwoordig. Die gemiddelde prys-verdienste-verhouding (p/v) was 11,74 keer. Genoteerde maatskappye het in daardie periode daarin geslaag dat hulle jaarlikse verdienstegroei ten minste tred hou met inflasie. Die aandelebeurs het oor dié tydperk 16,7% p.j. opbrengs gelewer. Vir doeleindes van hierdie skrywe sluit die opbrengssyfers nie die herbelegging van dividende in nie. In hierdie periode was valutabeheermaatreëls op binnelandse- en buitelandse beleggers van toepassing, wat ʼn kweekhuiseffek in die plaaslike aandelemark geskep het. Hierdie kweekhuiseffek is geskep omdat binnelandse besparing uitsluitlik in binnelandse bates belê is en buitelanders deur die finansiële rand (kry minder VSA-dollar vir hul rand) moes gaan om hul geld land uit te vat. Dit is ook belangrik om te onthou dat ʼn streng konserwatiewe monetêre beleid vanaf 1989 onder die leiding van dr. Chris Stals hoë positiewe reële rentekoerse daargestel het om inflasie te bekamp. Inflasie het in die laaste gedeelte van hierdie periode dramaties begin daal en volhoubaar onder dubbelsyfers ingeskuif. Die streng monetêre beleid en internasionale sanksies het ʼn beperkende invloed op ekonomiese groei- en  verdienstegroeisyfers in hierdie periode gehad. Gemiddelde ekonomiese groei was 1,84% p. j.

Mandela, Mbeki & Motlanthe-tydperk

Ekonomiese groei was 3,1% p.j., wat ons insig gee in die moontlike groeipotensiaal van Suid-Afrika. Hierdie gunstiger ekonomiese omgewing is geskep deur die opheffing van globale sanksies, groot direkte invloei van kapitaal, ʼn vryemarkekonomie wat die nuwe regering geërf het voordat hulle daaraan kon verander, voorspelbare monetêre beleid en ʼn robuuste kommoditeitsiklus wat hoofsaaklik deur kommoditeitsvraag uit China gedryf is.

In hierdie tydperk was die jaarlikse verdienstegroei van die Indeks van Alle Aandele 15,3% p.j. en die gemiddelde inflasiekoers vir maatskappye 7,2%, soos deur die produksieprys-indeks verteenwoordig. Genoteerde maatskappye het in hierdie periode daarin geslaag om reële verdienstegroei van 8% p.j. te behaal. Die verhoogde reële groei in genoteerde maatskappye se verdienste het ʼn hoër p/v-verhouding van 14,54 keer in hierdie periode tot gevolg gehad.

Die aandelebeurs het oor dié tydperk 14,9% p.j. opbrengs gelewer. Interessant dat die opbrengs van die JEB in hierdie periode laer was as in die PW & FW-tydperk, ten spyte van hoër verdienste- en ekonomiese groei in hierdie periode. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die afskaffing van sekere valutabeheermaatreëls en die finansiële rand wat die kweekhuiseffek in die plaaslike aandelemark tot niet gemaak het.

Die sukses van die konserwatiewe monetêre beleid (positiewe reële rentekoerse) wat vanaf sy aanstelling op 8 Augustus 1989 tot 8 Augustus 1999 deur dr. Chris Stals gevolg is, het daartoe gelei dat die gemiddelde inflasiekoers met bykans 6% gedaal het. Sien onderstaande grafiek vir die daling. Kortom, genoteerde besighede het besigheid gedoen in ʼn ekonomiese omgewing waar vryemarkbeginsels nog gegeld het, hoër ekonomiese groei teenwoordig was, ʼn konserwatiewe monetêre beleid wat tot laer inflasie gelei het, groeiende buitelandse handel op die rug van stygende dollarpryse in kommoditeite en kapitaalinvloei vanaf die buiteland. Dr. Stals se aandeel in die verhoogde reële ekonomiese groei deur laer inflasie moet nie onderskat word nie. In die PW & FW-tydperk het inflasie 77,3% van nominale ekonomiese groei uitgemaak en in die Mandela, Mbeki en Motlanthe-periode slegs 57,7%.

lesse-vir-beleggers-inflasie-in-die-stals-era

Grafika: Verskaf.

Wat egter ongemerk op hierdie tydstip verby gegaan het, is dat die regerende party se beleidsdokumente ʼn sosialisties-kommunistiese aard gekry het met oordrewe fokus op gelyke uitkomste vir verskillende etniese groepe eerder as om gelyke geleenthede vir almal daar te stel, binne ʼn beleidsraamwerk wat op hoër ekonomiese groei fokus. Die regering se Heropbou- en Ontwikkelingsplan (HOP) het op ʼn breë basis gelykte uitkomste geteiken. Die skewe verdeling van inkomste en welvaart tussen etniese groepe is summier aan apartheid en bevoorregting van witmense toegeskryf. Die oordrewe fokus op gelyke uitkomste met die herverdeling van inkomste het die groei-inisiatiewe van die HOP verdwerg. Soos in die ANC se eie beleidsdokumente geskryf is: “The broader aim of this socio-economic policy is to establish a more equal society through reconstruction and development as well as strengthening democracy for all South Africans.” Dit was nie ʼn verassing toe die ANC in 1995 besluit het om die HOP met GEAR te vervang nie, omdat eersgenoemde nie genoegsame ekonomiese groei geskep het nie.

GEAR het nie die fokus op gelyke uitkomste deur hervedeling van inkomste vernietig nie, maar net op die agtergrond geplaas. Die eerste langtermyndoelwit is soos volg omskryf: “a competitive fast-growing economy which creates sufficient jobs for all workseekers.” Die ANC se vennote (Cosatu en SA Kommunistiese Party) het die beleid as “neo-liberal” afgemaak en oor tyd verwerp. GEAR was by verre die beste ekonomiese beleid wat die ANC op die tafel kon sit. Die vaardighede en ervaring van die kundiges wat die dokument opgestel het, was uitnemend.

lesse-vir-beleggers-verskillende-ekonomiese-ontwikkelingsplanne

Grafika: Verskaf.

Uit die tabel is dit duidelik dat die regering ʼn korttermynsiening oor ekonomiese beleid gehad het, wat veroorsaak het dat hulle nie nougeset en volhoubaar hul eie ekonomiese beleid kon volg nie. Hulle gee hul eie ekonomiese beleid slegs 3-5 jaar om groei te verhoog, voordat hulle dit weer verander. Dit blyk dat hulle in die onlangse verlede van verkiesing tot verkiesing hulle mislukking in die voorafgaande periode verbloem deur met ʼn “nuwe” populistiese beleid vorendag te kom.

Die sosialisties-kommunistiese beleidsrigtings het stelselmatig van die regering se ekonomiese beleidsprogramme besit geneem, soos wat ekonomiese groei gedaal het, veral vanaf 2007 na die sub-prima krisis in die VSA. Suid-Afrika se banksektor het nie direkte skade van die sub-prima krisis gely nie. Ander lande het pynlike herstrukturering beleidsinisiatiewe geloods om ekonomiese groei weer op koers te kry. Daar was wel indirekte negatiewe gevolge vir Suid-Afrika se betalingsbalans danksy laer ekonomiese groei wêreldwyd en kommoditeite se laer dollarpryse. Suid-Afrika het in hierdie periode bitter min nuwe kapitaalvorming gedoen of beleidsinisiatiewe wat ekonomiese groei volhoubaar sou verhoog geloods – dit is ʼn verspeelde kans. Die netto resultaat is dat die lande wat hierdie pynlike proses van herstrukturering gevolg het se ekonomiese groei na die sub-prima krisis nou hoër is as Suid-Afrika s’n.

Dalings in ekonomiese groei is nie deur die regering in konteks gesien nie. So byvoorbeeld is die baie negatiewe impak van die lae dollarpryse van kommoditeite op Suid-Afrika se ekonomiese groei in die periode na 2007 nie genoegsaam in laer groeisyfers verreken nie, met die uiters negatiewe gevolg dat vier populistiese beleidsplanne met sosialisties-kommunistiese DNA in die volgende 10 jaar die lig gesien het.

  • In die volgende artikel bekyk Hannes du Preez die Zuma & Ramaphosa-tydperk en hoe die belegger die pad vorentoe moet aanpak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Verbruikersake

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Celtis Africana ·

Baie insiggewende artikel dankie.
Die vraag kom onwillekeurig by n mens op of die besluitnemers werklik bewus is van die impak van hul sosialistiese beleid op die ekonomie en of hul eenvoudig salig onbewus is van die stremming?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.