Lesse vir beleggers: Wat om te weet én te verwag in die huidige ekonomie

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

In Dinsdag se artikel het Hannes du Preez van Prima Batebestuur vir beleggers ʼn blik gegee op die gebeure wat gelei het tot waar die ekonomie homself vandag bevind. Vandag se artikel fokus op die Zuma & Ramaphosa-era en hoe die belegger op die ekonomiese omstandighede van die dag moet reageer.

Die Zuma & Ramaphosa-tydperk word sover deur kwantumspronge in sosialisties-kommunistiese beleidsrigtings gekenmerk. Daar word obsessief gefokus op gelyke uitkomste deur die herverdeling van produksiefaktore en inkomste in elke samelewingsterrein, vanaf arbeid tot sport. Gesien saam met die skerp toename in nepotisme, bedrog, korrupsie en selfverryking in die owerheidsektor, skep dit ʼn ekonomiese omgewing en gevolglike beleggingsomgewing wat toksies is vir groei en werkskepping. Jaarlikse verdienstegroei van genoteerde maatskappye sover in hierdie periode was 3,7% p.j. – beduidend minder as die gemiddelde inflasiekoers van 6,2%, soos verteenwoordig deur die produksieprys-indeks. Die aandelebeurs het 6,2% p.j. opbrengs in die tydperk sedert 2009 gelewer. Ten spyte van die trae verdienstegroei was die prysprestasie van genoteerde aandele baie hoër as die verdienstegroei. Die gevolg is ʼn duur binnelandse aandelemark. Sien die onderstaande grafiek vir die duur p/v-verhouding van die Indeks van Alle Aandele.

lesse-vir-beleggers-pv-verhouding

Grafika: Verskaf.

Een positiewe beleidsaspek van hierdie periode is dat monetêre beleid steeds konserwatief en met dissipline toegepas word, met die gevolg dat die inflasiekoers onder beheer gebly het. Die geluide wat gemaak word oor die afskaffing van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se onafhanklikheid en gevolglike nasionalisering is kommerwekkend. Sou die staat beheer van die SARB oorneem en begin om meer geld te druk as wat die reële ekonomie benodig, soos wat die geval in Zimbabwe en Venezuela was, sal Suid-Afrika ʼn periode van hiperinflasie ingaan met katastrofiese gevolge vir ekonomiese groei en werkloosheid. Dit, saam met die grondbeleid van onteiening sonder vergoeding, sal veroorsaak dat dekades se welvaart in ʼn oogwink vernietig word deur finansiële en ekonomiese wetmatighede wat hulle op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal wreek. Dit is ʼn bewese feit dat skaars produksiefaktore, soos landbougrond wat ʼn beperkte natuurlike hulpbron is, onder die beheer en besit van ʼn kundige boer (entrepreneur) moet wees om arbeid en kapitaal in kombinasie te bestuur om sodoende die maksimum produksie van goedere en dienste uit hierdie grond te put.

In so ʼn scenario, waar die SARB genasionaliseer word met sy noodwendige nuwe invalshoek van goedkoop geld, en landbougrond sonder vergoeding gevat word, is ʼn Arabiese lente ook ʼn moontlikheid vir Suid-Afrika. Van die 9,2 miljoen werkloses (28%) in Suid-Afrika is 63% jeugdiges (5,8 miljoen). Hierdie werkloosheidsyfers is baie slegter as wat dié in lande wat deel van die Arabiese lente was. Die instelling van globale sanksies teen Suid-Afrika vanaf sekere G20-lande in hierdie scenario word weer ʼn moontlikheid.

Gemiddelde ekonomiese groei was sover 1,81% per jaar in die Zuma & Ramaphosa tydperk. Die ekonomiese groei sover in hierdie periode is nou selfs marginaal minder as in die sogenaamde “donker dae van apartheid”, toe ekonomiese sanksies deur die buiteland toegepas is. Die realistiese toekomsverwagting oor ekonomiese groei is tans uiters negatief. Tensy die regerende party ʼn Damaskus-oomblik beleef en na die GEAR-beleid terugkeer, gaan ekonomiese groei ʼn hersenskim in hulle toekomstige beleidsdoelwitte wees. Geen wonder dat maatskappye, boere en besigheidmense, veral in die primêre sektor, nie kapitaal in toekomstige uitbreiding belê nie. Die resultaat hiervan is dat, voordat die populistiese beleidsaksies soos onteiening sonder vergoeding, die mynbouhandves en nasionalisering van die SARB geïmplementeer word, dit klaar ʼn negatiewe invloed op ekonomiese groei uitoefen omdat beleggingsvertroue besig is om te taan. Soos Neal Froneman, hoof uitvoerende beampte van Sibanye-Stillwater dit stel: “SA will reach a point of no return if the government enacted damaging populist policies that destroyed hope of restoring investor confidence.”

Die een beleidsaksie wat deur die regerende party van stapel gestuur is wat blyk wringkrag te kry, is die poging om bedrog uit te roei. Vir doeleindes van ons groei-argument, kom ons aanvaar dat hulle 100% suksesvol daarmee is. Dit sal nie die ekonomiese groeikoers noemenswaardig verhoog nie, omdat fondse wat deur tenderpreneurs en diesulkes op Range Rovers en ʼn glanslewensstyl verkwis word, se bestedingsaard net na besteding op basies dienste vir armes sal verander. Geen nuwe produksiekapasiteit gaan in die binnelandse ekonomie geskep word nie. Die positiewe gevolg van die bekamping van bedrog en diefstal van staatsfondse sal wees dat arm en lae inkomste mense ten minste basiese dienste op voetsoolvlak ontvang om hul lewensstandaard te verhoog. Op ʼn indirekte manier sal hierdie beter allokasie van staatsfondse deur die vermenigvuldigers in die ekonomie ʼn klein bydra tot ekonomiese groei maak. Sou die regerende party die moontlike bestedingsbesparings wat uit bekamping van bedrog en/of groter finansiële dissipline kan voortvloei in belastingverlagings en/of vermindering van staatskuld en gevolglike laer rentelas omskep, kan ekonomiese groei volhoubaar verbeter.

Met die toksiese ekonomiese agtergrond, hoe moet ons bates daar uitsien?

  1. ʼn Groter blootstelling aan globale bates is ʼn moet. ʼn Minimum blootstelling van 35% behoort die mikpunt te wees.
  2. U kan jaarliks fondse tot u globale beleggings byvoeg – sien dit as ‘n tipe versekering wat u oor tyd koop teen die risiko van verslegtende binnelandse ekonomiese toestande en die rand.
  3. Probeer u bates en beleggings so likied en buigbaar as moontlik hou, sodat u gemaklik fondse globaal kan skuif as omstandighede dit noodsaak.
  4. Vir jongmense moet die totaal van u globale bates plus likiede binnelandse bates oor tyd 50% van u totale bates uitmaak.
  5. Vir ouer mense naby aftrede moet hierdie persentasie ten minste 35% wees met ʼn verdere doelwit om dit stelselmatig te verhoog na 50%, sou daar finansiële beweegruimte bestaan.
  6. Verlaag groot blootstellings aan binnelandse eiendom, veral strandhuise en eiendom wat u nie benodig in die voortbrenging van inkomste nie. Gebruik die inkomste uit die verkope van diesulke eiendom om ʼn doelwitpersentasie van globale bates te bereik.

Prima besef  dat beleggers dit moeilik sal vind om punt 1 tot 6 hierbo te implementeer, omdat beskikbaarheid van fondse en historiese besit van eiendomme nie oornag kan verander nie. In sulke omstandighede is ons boodskap eenvoudig – maak net ʼn begin hiermee!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

John ·

Lees gerus die Volksblad… sommer op die voorblad sien ons Dudu van SAL-faam ry nou weer saam op die Centlec-kragperdjie van die veelbesproke bankkrot-munisipaliteit dat dit klap; dit gaan net te lekker daar in die smerige stat eens die statige hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Om dus te hoop op skoon bestuur en die verbetering van die lewensgehalte van inwoners, is bloot net ‘n droom wat nou en dan verskyn in die gereelde stofstorms en dwarrelende vullis.

marco polo ·

Kortweg beteken dit verkoop die eiendom wat jy nie nodig het nie en vat soveel geld as wat jy kan uit die land uit.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Vermy skuld sover moontlik, rente vreet al jou geld op.

NEE ·

Wat my verstom is dat die sogenaamde “kenners” wat derduisende fooie verdien nou wakker skrik met raad wat reeds te laat is. Eiendom in klein plekkies het oornag waarde verloor omdat voornemende kopers reeds wag om te kyk hoe die wind gaan waai. Plase en plotte is bykans onverkoopbaar. Al die biljoeners het reeds jare terug hul geld landuit gevat, maar veral gedurende die Zuma-jare. Die artikel sou ook meer sin gemaak het as duidelik raad gegee word oor waar om geld te bele, e.g. in aandele in maatskappye wat baie buitelandse blootstelling het. My raad: doen dit self deur ‘n belegging wat jy self bestuur in bv. easyequities teen minimale koste. Onthou net, doen navorsing, mens gee nie geld uit as jy nie weet wat jy doen nie – en glo my as finansiele raadgewers regtig so wonderlik was, sou al hulle kliente lankal miljoeners gewees het. Hulle kan nie maatskappy opbrengs voorspel nie, daar is te veel faktore wat ‘n rol speel, as voorbeeld dink Steinhoff. Maw, met ‘n baie goeie finansiele raadgewer wat objektief sake doen (nie ‘n maatskappy voorstoot omdat hy meer kommissie verdien nie) kan jy dalk effens meer verdien, maar op die einde vreet daai raad se koste jou groter belegging op. Doen self navorsing en bele in standvastige maatskappye. Deur betroubare platforms kan jy in $ bele in Apple, Google, Coca-Cola ens.. en jy kan begin met R 5 in plaasslike aandele (Sanlam / Old Mutual) en R500 vir $ beleggings.

marco polo ·

Jy vat die risiko, finansiele raadgewers vat die kommissie. Hulle sal jou laat bele waar hulle die meeste kommissie kry, beter om maar liewer self navorsing te doen.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Pasop vir die mense wat jou tans meer as 8% rente aanbied. Dit is hulle wat wegraak saam met jou hard verdiende spaargeld.

Gert ·

Wat bg, – met verwysing na markbeweging – in kort beteken, is dat jou pensioen se koopkrag die laaste tyd gekrimp het, selfs al het die bedrag in rande gegroei.

Dit is eintlik nou ‘n baie slegte tyd om ons swak rande ‘n lopsom in sterk geldeenhede soos bv die Amerikaanse dollar te bele. Maar sou die rand verder verswak, en die dollar bestendig bly, het jy steeds gewen.

‘n Ander opsie is om in ander ontluikende markte soos Indie te bele. Die rupees het tot op sy laagste punt ooit teenoor die dollar geval, en hoewel die rand teenoor die rupees verswak het, is rupees veel goedkoper as dollars, en bied dus vir ons swak rande steeds ‘n geleentheid, veral sou die Suid-Afrikaanse regering verder droogmaak, soos wat hulle met eiendomsreg wil doen.

Mense wie twee maande terug met sterker rande in fisiese goud en silver bele het, het reeds wins gemaak, al het hierdie metale in dieselfde tyd in dolar terme goedkoper geword. Die randwaarde daarvan het gestyg omdat die rand soveel verswak het. Kosbare metale se pryse se sal wel eventueel herstel, en is dus ‘n goeie belegging.

Daar is dus alternatiewe: jy hoef nie met jou swak rande juis in duur dollar gedomineerde markte te koop nie. Dit kan wel tyd neem voordat ontluikende markte herstel, so moenie vinngie winste verwag net omdat jy geld in bv Indie het nie. Terselfteryd kan die Amerikaanse aandelemarkte nie altyd bly groei soos die laaste tyd nie.

Eish ·

Ek dink dit is n uitstekende finansiële berig en goed geskryf dat ons gewone Piete dit ook kan verstaan.
Die helhool is toksies op alle vlakke van sy bestaan en gaan nie verbeter nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.